Die Stem – Ons moet kreatief dink

vlag suid-afrika

Argieffoto.

Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see, oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee, deur ons ver-verlate vlaktes met die kreun van ossewa ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika. Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra: Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika

Net soos twee jaar gelede is “Die Stem” weer in omstredenheid gehul. Die keer is dit nie weens die patriotiese sing van “Die Stem” nie, maar omdat die EFF dit gebruik as deel van die voorwaardes vir samewerking met ander partye, na afloop van die plaaslike regeringsverkiesing. Getrou aan sy vorige standpunte is politieke kommentators, soos Max du Preez, sterk ten gunste daarvan en uitgesproke oor die weglaat van “Die Stem” uit die nasionale volkslied omdat diegene wat dit sing, “nostalgies sou wees oor die verlede.” Ander Afrikaanse kommentators het in die verlede die standpunt ingeneem dat die sing daarvan rassisties is en ʼn hunkering na apartheid. So eenvoudig is dit egter nie.

CJ Langenhoven het die woorde van “Die Stem van Suid-Afrika” in 1918 geskryf. In sy bewoording reflekteer dit die geskiedenis van die Afrikaner en veral die tydsgees van swaarkry, afhanklikheid van God en diepe patriotisme. Sedert 2 Mei 1957, tot 1994, was “Die Stem van Suid-Afrika” die volkslied en het dit tot in 1997 die status gedeel met “Nkosi Sikelel ‘iAfrika”, toe ʼn nuwe hibriede  volkslied aangeneem is. “Die Stem van Suid-Afrika” kan hoegenaamd nie vergelyk word met ander “struggle” liedere wat in die onlangse geskiedenis ʼn meer onheilspellende betekenis verkry het nie.

Nelson Mandela skryf in die voorwoord tot die publikasie, Nasionale Simbole van Suid-Afrika, “Die nasionale volksliedere, “Nkosi Sikelel ‘iAfrika” en “Die Stem van Suid-Afrika”, die Nasionale Wapen en die Nasionale Vlag is die manifestasie van ʼn begeerte om nasionale konsensus te bereik.” Ons vergeet altyd gerieflikheidshalwe dat 1994 en dit wat daarop gevolg het, ʼn groot historiese kompromie was. Geen party het alles behaal wat hulle wou hê nie, maar alle partye was in staat om tot ʼn groot mate hul minimum vereistes te verseker. Dit was ʼn kwessie van neem en gee.  Om dan nou in 2016 die geykte standpunte te herhaal, dat Afrikaans maar moet sneuwel ter wille van versoening en nasiebou, dat “Die Stem” moet sneuwel ter wille van politieke oorlewing, is kortsigtig en sal beslis nie bydra tot nasiebou of versoening nie.

Daar is gewis ander meer kreatiewe maniere waarop moontlike spanning ontlont kan word. Ierland is ʼn land wat net soveel konflik, indien nie meer bloedige konflik as Suid-Afrika nie, gehad het. “Amhrán na bhFiann” (“The Soldier’s Song”) is die nasionale volkslied van die Republiek van Ierland. “God Save the Queen” is die nasionale lied van Noord-Ierland. ʼn Oplossing moes gevind word. Die pragtige “Ireland’s Call” is in 1995 as opdragwerk deur Ierse Rugby gekomponeer om te sing by internasionale sportgeleenthede. Sedertdien word dit gebruik deur hokkie, krieket, rugby, korfbal en verskeie ander sportkodes. Dit is die kreatiewe manier om eenheid te bereik, nie om te verwag dat een groep voortdurend die minste moet wees en ter wille van die groot geheel maar moet skik nie.

Hoe gou vergeet ons nie van die afgrond waar ons in 1994 gestaan het nie? Deur realisme is die ongekende aangedurf. Suid-Afrika het ʼn sosiale akkoord met mekaar gesluit. Ons grondwet, nasionale vlag en volkslied is van die min gedeelde erfenisse en het hul beslag gekry uit ʼn geskiedkundige proses van kompromie en onderhandelinge, wat gevolg het na ʼn tyd van groot historiese verdeeldheid en vyandigheid. Die nasionale volkslied wat in 1997 aanvaar is en sedertdien in gebruik is, moet gesien word as ʼn kompromisvoorstel en het strofes van beide “Nkosi sikelel’ iAfrika” en “Die Stem van Suid-Afrika” in 5 verskillende amptelike tale saamgevoeg. Vir 19 jaar is dit nou reeds die amptelike lied van Suid-Afrika en is dit reeds goed gevestig in die nuwe demokrasie van die land. Die huidige weergawe bevestig die afhanklikheid van God (eerste strofe), die beroep tot vreedsame naasbestaan (tweede strofe), die beskrywing van ons land (derde strofe) en die saamstaan as nasie (vierde strofe).

In ons 22ste jaar van demokrasie het ons reeds te min gedeelde geskiedenis en erfenisse in Suid-Afrika. Niemand kan dit in 2016 ongedaan maak nie.

In die huidige tydsgewrig moet met groot omsigtigheid gehandel word in die aanwending en gebruik van “Die Stem”. As kultuurskat moet Afrikaners verseker dit kry nie ʼn onnodige politieke konnotasie nie, maar aan die ander kant is dit deel van Afrikaners se geskiedenis en moet dit as sulks gerespekteer word. Dit kan nie en mag nie ʼn plaasvervanger word vir die amptelike volkslied nie. “Die Stem van Suid-Afrika” het nie meer daardie status nie.

Om weg te neem, is nie die antwoord nie. Om te vra of die betekenis van die woorde nog sinvol is, is nie die antwoord nie. Om een geskiedenis te vermy in ons nasionale lied, is ʼn groot prys om te betaal, want die geskiedenis het ons gevorm. Ons kan met nuwe en kreatiewe denke byvoeg tot die Suid-Afrikaanse kultuurskat. Dit is waaruit ons inspirasie moet put.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

34 Kommentare

Christo ·

Ek moet se hierdie Afrikaner generasie is die mees lamsakkigste klomp wat die geskiedenis nog opgelewer het.

Etienne du Toit ·

Die Stem is bykans al openbare kultuurerfenis wat ons oorhet. Dit moet ten alle koste behoue bly.

Lance ·

Ag maklik skrap die hele damn ding en skryf iets anders wat makliker sing…op die deuntjie van jan-pierewiet !

Rynhardt ·

By Kodesa was geonderhandel dat die Afrikaner sy kultuur moet verloor,insluitende alle simbole.Die volkslued wat ons vandag het,is nie meet my vilkslued nie,maar n Anc-volkslied!Die stem maak ongeveer 10sekondes daar an uit.Ek sing die volkslied vir 22jaar nie,net so ook weier ek om die SA vlag te swaai,want dit is die “profetiese vlag van Kodesa”.Hoekom?Ons mense het nie vir daai vlag gestem nie.Daai vlag bestaan uit die Anc- kleure,groen,geel en swart.Rooi is die kleur van EFF wat Anc se vryheidsmanifes ondersteun en teen die stem uitvaar!Blou verteenwoordig die DA wat Anc se Vryheidsmanifes steun,almal Anc-faksies wat op vlag uitgebeeld word!Ons moet realisties wees.SA as land met sy omstrede volkslied, verteenwoordig lankal niks van ons Afrikaner/ Boervolk meer nie.

poot ·

Rynhardt.
Dis nou nie dat ek aanklank vind by die vlag nie, maar waar krap jy die simboliek van die vlag se kleure uit. Genade…..die EFF het nie eens bestaan toe die nuwe vlag die lig gesien het nie.
Net so kan ek seker sê dat die rooi, wit, blou en groen sy afkoms kry van die ou “transvaal vlag”. Die vierkleur soos baie hom ken.

John ·

Maxie doen ons eintlik ‘n groot guns. ‘n Stukkie uit die Afrikaners se volkslied doen geen doel nie. Langenhoven het seker al ‘n paar keer in sy graf omgedraai. Ek was so bly toe hulle nie die gedeelte, ‘… ek sal sterwe ek, vir jou… ‘ook gebruik het nie. Die regering kan selfs die VSA of die Indiese volkslied aanhef vir al wat dit my skeel. My stem en my stem behoort aan my hart alleen.

Daan ·

My siening is dat as die stem verwyder moet word uit die volkslied, moet die landsvlag ook vervang word. Die vlag simboliseer die samevoeging van die verskulende groepe, maar nou wil mense dit weer uitmekaar dryf.
Is dit nasie bou of nasie afbreek?

Doris ·

Hoekom moet daar nou weer gekla word oor ons Volkslied ,los die Stem van Suid-Afrika uit want hy beteken baie vir ons wat gaan nou die volgende wees want dit klink of alles pla.

JoeV ·

Die skrywer van die stuk het dit verkeerd op so baie vlakke.
Dit klink of die skrywer van mening is dat die Afrikaanse mense wat die stem sing gestop moet word om versoening te veroorsaak. Meenings dat daar GEEN vorm van versoening met Afrikaanse mense onder nie-Afrikaans sprekende mense is nie, bestaan,en kan moontlik bewys word deur navorsing in die verband te doen.
Dit will ook blyk onduidelik te wees aan die skrywer dat die rede vir die gedeelde geskiedenis wat afwesig is na 20 jaar nou juis ‘n skraler kans het met die hernude aanval op sy eie kultuur in onlangse gebeure op professionele sowel as sport en kulturele vlak.
Dit blyk ook amper asof die skrywer hom verhewe oor die by wie versoening gekry moet word, so assof die vergewers dalk nie in staat is of belang stel om dit te doen nie.
Werklik GEEN omsigtigheid benodig vir die gebruik van die stem nie, dit hoef nie die amptelike volkslied te varvang nie, maar as die waarde daarvan meer weeg, wel, dit kan moontlik uit volle bors gesing word by enige geleentheid waar waardes ooreenstem, indien sulke geleendhede in die toekoms toegelaat word.

Jammer, is tegnies, funksioneer op berekenbare feite lank voor die sosiologiese effek van media propeganda vat kry. Statestiek kan ook gebruik word om opinies te vorm wat van waarde is.

Veritas ·

Voordat daar enigsens gedink word aan ‘n nuwe volkslied, moet ons eerstens die waarde daarvan bepaal. Sovêr dit my aangaan, het ‘n volkslied absoluut geen waarde nie. Dit is net nog ‘n lied, net nog ‘n stukkie waardelose bagasie wat enige volk met hom moet saamsleep en in die geval van Suid-Afrika, net nog ‘n verdelende faktor. Die stukkie van die Stem wat in ons ‘Volkslied’ verskuil is, beteken vir niemand enigiets nie so-ook die res van die lied. Ongelukkig verwag die geskiedenis en politieke protokol dat elke land oor soiets moet beskik. As ons dan moet verander aan die volkslied, wil ek voorstel dat dit iets beskryf waarby elke burger kan aanklank vind. Iets soos ‘n korrupte staatspresident, klipgooi, braaivleis en roti, papsakke, maagde as geskenke, ‘stif upperlip’ souties en dies meer.

Róoinek ·

Ek het groot respek vir Malema hy kyk na sy mense en se ‘n ding soos hy is nie soos die Afrikaner wat so hard probeer om polities korrek te wees en hulle alewige jammer ek leef houding patetiese klomp as jy my vra

Joann ·

Soos ons vadere vertrou het leer ook ons vertrou o Heer,met ons land en met ons nasie sal dit wel wees God regeer. Pragtig ne? Maar doen ons dit?

poot ·

Joann
Daar vat jy dit so raak. Ons vergeet wat ons voorouers vir ons nagelaat het.

Johann Marx ·

Het julle opgelet……as jy die nuwe vlag vat en die swart en goud uithaal…wat bly oor? Jip. DIE VIERKLEUR!! Ek sê maar net….

Ernest ·

Hoe lyk dit my dat jy nie eers weet hoe die “nuwe vlag” saamgestel is nie..?? Jy is in vir ‘n verrassing….. het jy geslaap toe die dinge gebeur het ? Nee wat…..doedoe maar verder…..ek kan net lag..!!!!

Basson ·

Lees bietjie wat op Twitter aangaan oor hierdie saak – hierdie is maar net die begin om die wig in te dryf om alles wat Afrikaans en wit is te vernietig. (Die sielkundige breinspoeling om die koppeling tussen apartheid en totaal nie-verwante aangeleenthede te bewerkstellig is in volle swang – deel van die strategie om wit Afrikaanses te ontman.)

Die ekonomiese verarming / vernietiging planne is goed op dreef met BEE / BBBEEE ens, volgende fase is die kulturele en geskiedenis wat ‘vertaal’ moet word.

Basson ·

Sin afgesny :

….wat ‘vertaal*’ moet word om (1) die wit bevolking psigologies te onderdruk (‘n onderwerp op sy eie), (2) die NDR te bevorder.

*Vertaal : om dit wat kultuur ens is te vertaal as ‘dit was alles apartheid simbole’ ens.

Bloues ·

“Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra, ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir jou Suid Afrika”……… Nou gaan dink mooi. Sal jy hierdie nakom. Ek sal nie, onder GEEN omstandigheid nie. So met die sing van daardie gedeelte sal ek ook gaan sit en nie saamsing nie! Ek weet dit is nie deel van die volkslied tans nie.

Sarie ·

Ten minste het ons ons eie volkslied geskryf Hulle het hul gedeelte afgekyk by ander Afrikalande. N Sekulêre land wat n gosdienstige lied sing Wat n grap. Het nog nooit daardie deurmekaar lied gesing nie.

Hendrik ·

Gaan die mense by die sportgeleenthede nog die volkslied sing as hulle Die Stem uitlaat?

Gert Gouws ·

Ja……. Hulle gaan die hele Stem Sing …. Totdat die kranse antwoord gee … gee … gee

Hendrik ·

Ek dink die skrywer heg te veel waarde aan die “ons” demokrasie waar daar diskrimenerende ras wetgewing is wat teen minderhede ingestel is. Witmense ontrek stukkie vir stukkie uit die “demokrasie” soos ons gemaginaliseer word. Ons sing net Die Stem word gesing by ons kultuur saamtrekke. Die analiste dink die res van die wit bevolking sing by die huis die “anthem”net soos die mense in die stadions. Die mense in die stadions is net eenvoudig vreesbevange om te sit tydens die nie-Stem gedeeltes omdat hulle bang is hulle word gekenmerk as rassiste en nie deel van die demokrasie nie. Kom ek se sommer nou reguit dat ek voel niks vir die nie-Stem gedeelte van die “anthem” en dit is nie ‘n volkslied.

Patriot ·

Uit die kommentare het iemand tereg opgemerk dat die huidige geslag “afrikaanses” lamsakkig, ens. is. Geen kultuurgoedere of dit wat lief en dierbaar behoort te wees en gekoester moet word, is vir baie van die kommentators hierbo van belang nie-hulle is grys mense met geen patriotisme of toekomsvisie nie. Ek begryp glad nie wat JoeV. probeer kwytraak nie en sommige v.d. ander laat mens besef: die meeste van hulle is bloot dooie visse wat saam met die stroom afdryf. Ek stem 100% met Jan Bosman saam. Kyk maar net na die Amerikaners; hoe passievol hulle hul volkslied sing! Ek sal ook nooit die ondervinding kan vergeet van hoe dit was om DIE STEM saam met volksgenote te sing nie-oggend na oggend toe die Weermag nog ‘n WEERMAG genoem kon word tydens ons opleiding, het die sing van DIE STEM nostalgiese koue rillings langs jou ruggraat afgestuur. DIE STEM is onlosmaaklik deel van ons geskiedenis; geen plaasvervangende volkslied kan ooit sy plek inneem nie!

Joann ·

Bloues ons seuns wat grensdiens gedoen het en party nie weer huis toe gekom het,het die gedeelte van die Stem ONS SAL LEWE ONS SAL STERWE,goed nagekom

Volkslied ·

Ek stem saam dat ‘n Afrikaanse gedeelte in die volkslied moet bly maar ek weet nie wie die Afrikaanse gedeelte gekies het wat tans deel van die volkslied is nie. Dit is regtig niksseggend. Van die ander gedeeltes in Die Stem het meer waarde. Verander die Afrikaanse gedeelte.

Minx ·

Hulle kan gerus dink aan Dozi se ou ryperd in Zulu – ons sal maar die Stem sing saam Steve lol

Uys ·

Die Stem is die Volkslied van SA.
Laat die Volk toe om Die Stem te sing as die wil.
Nkosi……….. is ook n volkslied. Laat die toe om dit te sing wie ook al wil.
Die land kort n Nationale lied wat in Ingels gekryf is vir almal om te sing wie wil.
Haal die Stem uit Nkosi uit hy hoort nie daar nie.

Chris ·

Liewe hemel Jan, van wat se demokrasie praat jy?! Is jy dan blind? Dis geen demokrasie nie! Dis meerderheidsoorheersing. Verder daar bestaan nie iets soos n Suid-Afrikaanse volk nie. Daarom is daar duidelik nie n SA volkslied nie. Dis n staatslied. En dié is n klug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.