Die antieke Ateners het in die jaar 621 voor Christus ʼn wetgewer met die naam Drako gevra om ʼn geskrewe regskode op te stel. Wette was destyds net mondelings, en die reg was nie ewehandig toegepas nie. Die Drakoniese kode was veronderstel om ʼn gestandaardiseerde en deursigtige stel wette te wees, toeganklik vir alle burgers ongeag hulle sosiale status.
Die antieke Grieke was egter geskok toe hulle die wrede strawwe van die Drakoniese kode sien. Drako se wette het die doodstraf byna vir alle oortredings voorgeskryf, selfs vir geringe misstappe. Hy het geglo dat swaar strawwe enige misdaad sal afskrik. Dit was so erg dat verdrukkende wette vir die afgelope 2 700 jaar al as “drakonies” beskryf word.
Dit was nie ʼn wonder dat die strawwe van die Drakoniese kode minder as ʼn eeu later deur die wyse Ateense staatsman Solon drasties versag is nie.
Daar was oor die eeue vele verdrukkende wette en wrede strawwe in baie verskillende lande en beskawings. Tog was dit eers in die twintigste eeu toe meer as ʼn miljard mense vir dekades deur ʼn drakoniese stelsel verdruk is. Hierdie stelsel was die kommunisme, wat vandag nog lande soos China in vele opsigte ʼn soort opelug tronk maak. Die vraag is hoekom kommunisme en marxistiese sosialisme orals waar dit toegepas is tot verdrukking en armoede gelei het?
Hemel op aarde
Die rede hiervoor is dat die utopiese sosialistiese ideale om “hemel op aarde” te skep, in hel op aarde eindig.
Die sosialistiese aandrang op gelykheid, lei noodwendig tot die einde van vryheid. Dit is mos nie moontlik om alles vir sekeres te gee, sonder om alles van ander af weg te vat nie. ʼn Samelewing kan of vry en ongelyk, of gelyk en onvry wees, maar nie albei nie. Sosialiste sien gelykheid nie as ʼn gelyke wegspring nie, maar as gelykop by die wenpaal.
Die verdrukking kom in by die sosialistiese staat wat die rol van “groot gelykmaker” speel, deur met wette of wapens van die “rykes” te vat, en met groot gebaar vir hulle ondersteuners uit te deel asof dit hulle s’n is. In sosialistiese lande is gelykheid nie gelyke vryheid nie, maar “gelyke knegskap”.
Waar Christene die armes ryker wil maak met mededeelsaamheid, wil sosialiste die “rykes” armer maak met herverdeling. Die gevolg hiervan is nog groter armoede. Die produktiewe deel van die samelewing produseer minder, want die vrugte van hulle arbeid word deur die staat gesteel. Die onproduktiewes werk nóg minder, want hulle kry wat hulle wil hê mos gratis.
Na die val van kommunisme in die vroeë negentigs, het die wêreld van sosialisme af begin wegbeweeg. Suid-Afrika het egter in die teenoorgestelde rigting beweeg, omdat die ANC steeds aan sosialisme vasklou.
Die regering gee dikwels hulle drakoniese wette mooi name, soos die wet op “billike indiensneming”, of nasionale gesondheidsversekering, of die nuwe onderwyswetgewing wat onderwys kamtig meer “toeganklik” sal maak.
In die praktyk is dit egter drakonies, omdat dit op gedwonge herverdeling met staatsmag of ontneming van ouers se demokratiese inspraak neerkom. Hulle planne met onteiening sonder vergoeding het ook ten doel om “gelykheid van grondbesit” te bevorder, al weet ons nou wat die uiteinde van so ʼn drakoniese wet sal wees.
Die goeie nuus is dat vryheid op die lange duur nog altyd sosialisme oorwin het, omdat sosialisme nie ʼn werkbare stelsel is nie. Voorstanders van vryheid het dekades gelede al die Koue Oorlog gewen. Daarom moet ons nie optree as verloorders nie, maar die saak van vryheid met mag en mening bevorder.
Met alle respek, mnr. Buys, is julle nie maar ook sosialisties nie? Kom ons kyk: Vakbond, selfregering, gemeenskapsfederalisme, sambreel vir kultuurorganisasies, opleiding. Wanneer julle heeldag help, red en herbou is julle deel daarvan. Nie dat ek teen sosialisme per se is nie. Maar jou eie mense se vryhede word ook ingeperk. Net julle lede deel in die werklike voordele. Die res staan buite die klub se hekke.
Vryheid moet mooi bekyk word want die onderdrukking van die Afrikaners word sodoende bewerkstellig en uitgebou wat werkloosheid en armoede vestig. Die aanhoudende aanspreek van Afrikaners oor hul glo wrede bestel, wat maar eintlik minder as 50 jaar geduur het, maar groot ontwikkeling en geleenthede geskep het waarop die ANC se louere nou rus, so asof hul dit bereik het, is ‘n drogbeeld en wreed. Ons kerke help dit aan deur aan die gemeentes die idee voor te hou dat as ons weer sou probeer om ‘n beter bestaan te bewerk, die hel op ons wag. Net Afrika mag in Afrika voorspoedig wees en die ander (buiten die gunsgenote van Afrika) móét daarvoor sorg dat dit gebeur.