Die swaeltjie, die volstruis en die kiewiet…

Deur Gavin Ludick

Gavin Ludick.

Laat my toe om ʼn vergelyking te tref tussen ons mense en drie tipes voëls. Ek tref die vergelyking uit my persoonlike oogpunt en natuurlik is dit grootliks beperk, maar ek fokus graag op drie groeperings mense. Die drie tipes “voëls” in my beskrywing is die swaeltjie, die volstruis en die kiewiet.

Die Afrikaner is onseker oor hul plek en rol in en buite Suid-Afrika. Daar is verskeie redes en oorsake vir hierdie onsekerheid, maar elke tipe “voël” het tog sy bestaansreg.

Eerstens is dit die swaeltjies wat ʼn reisende voël is en met gemak groot afstande kan aflê, so ook is daar van ons mense wat die groot reis al aangepak het of besig is met die beplanning daarvoor. Daar is reeds massas Afrikaners wat weer eens getrek het na ander lande. Die redes hiervoor is uiteenlopend, maar ek fokus graag op diegene wat emigreer as gevolg van die omstandighede in Suid-Afrika. Hierdie mense sien hulself as die moderne “Trekkers” wat, soos Die Voortrekkers, hul mense wil neem na groener weivelde, na lande wat moontlik meer kan bied vir Afrikaners as ons eie land.

Ons moet versigtig wees om hierdie mense te kritiseer oor hul besluit om te trek, want wat anders doen hulle dan as ons voorouers? Ek ken verskeie van hierdie swaeltjies persoonlik en het opnuut besef hoe moeilik so ʼn besluit gemaak word – dit is ʼn totale losmaak- en ontwortelingsproses. Hulle sê vaarwel vir hul leefwyse, soms ook vir ʼn sekere vlak van lewenskwaliteit om ʼn veiliger toekoms vir hul gesinne en families te verseker in lande soos Australië, Engeland, Kanada en die VSA, om net ʼn paar te noem.

Foto: Pixabay

Die swaeltjies se trekkergees lei hulle om deur hierdie moeilike proses te gaan om hulself te hervestig. Hierdie besluite word meestal makliker gemaak deur oorsese maatskappye wat mense werf – mense met integriteit, hardwerkende, eerlike en opgevoede mense. As ek ʼn besigheid oorsee gehad het, het ek waarskynlik ook gevry na Afrikaners wat wêreldwyd op hoë vlakke hul stempel afdruk en goeie werk doen. Ek glo ook dat ons, wat agterbly, nie hierdie mense moet uitkryt as ons eie wat vlug en die res van ons sodoende verraai nie. Dit moet ʼn ongelooflike moeilike besluit wees om te trek, om jou land te groet, om familie en vriende agter te laat en as ʼn vreemdeling te gaan woon in ʼn vreemde land. Ek haal my hoed af vir hierdie swaeltjies en ek is hartseer dat die omstandighede in Suid-Afrika ons mense onveilig en onwelkom laat voel. Té gereeld praat die ANC-regering, die EFF en ander organisasies en individue oor die “ons” en “hulle”.

Die Afrikaner is steeds die muishond, die kolonialis, die vreemdeling, die buitestaander, die dief, die “hulle”. Afrikaners voel nie deel van die nuwe Suid-Afrika nie; leuens word wyd versprei oor ons grondbesit, eiendomsreg en bestaansreg as ʼn volk en dit skep ʼn persepsie by miljoene mense.. Onthou net, persepsie word realiteit… Dit breek ʼn mens se hart om te sien hoe die swaeltjies hul vlerke sprei en vêr wegvlieg – vermoënde mense wat Suid-Afrika ʼn beter land gemaak het.

Die tweede tipe voël is die volstruis. My vergelyking van ʼn groep mense met die volstruis het natuurlik te make met die kop-in-die-sand-benadering. Die gesegde, “Om jou kop in die sand te steek”, dui vir my op ʼn totale apatie en verwydering vanaf die realiteit in ons land. Daar het ʼn immigrasie na binne plaasgevind en ons mense – alhoewel hulle steeds hier bly – het onttrek uit die samelewing, uit rade en komitees en organisasies. Hoe hoër die heining om hul huise, hoe beter. As die yskaste vol kos is, die tuin mooi groen en die twee motors in die motorhuis, is dit genoeg. Kinders is in goeie skole en die huis is veilig. Daar ontstaan dan ʼn tipe kokon waarin ons mense leef. Selfverryking is die hoofdoel, die volgende verbetering aan die huis of die volgende vakansie is die belangrike sake van die dag.

Foto: Pixabay

Ons móét ook die volstruis verstaan en die rede vir die kop-in-die-sand-taktiek. Weer eens voel die Afrikaner gemarginaliseer en word uitgejou as rassiste en vreemdelinge. Swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en hoë belasting maak dit met tye ondraaglik hier in Suid-Afrika. Werkloosheid onder Afrikaners styg ook drasties weens hierdie onregverdige en, volgens my, onwettige prosesse. Hoe lank gaan daar nog gekyk word na die kleur van jou vel? Dit is mos nou ooglopende, omgekeerde rassisme.

Die ekstra geldjies in die bank of die volgende lening moet aangewend word op beveiliging van ons huise, want dit is nie veilig in Suid-Afrika nie. Ons betaal belasting, maar kan nie op die polisiediens staatmaak nie – private veiligheidsmaatskappye is nodig om ons huise te beskerm; ons staatshospitale en klinieke is haglik en gevaarlik, dus is mediese fondse nodig vir ons gesondheid. Die aanwending van ons belastinggeld is ʼn onderwerp waaroor ons heel dag kan gesels. As die volstruise dan hul koppe in die sand steek, neem ons hulle kwalik? My pa het vertel dat daar ʼn gesegde was in die weermag: ‘Kyk voor jou, die army kyk agter jou…”, nou wie kyk deesdae agter ons? Dit is om hierdie rede dat hierdie inwaartse immigrasie plaasvind.

Weer eens breek my hart as ek hierdie volstruise sien, want hulle word dringend benodig op kerkrade, skole se beheerliggame, buurtwagte, burgerlike organisasies en vir algemene deelname aan die samelewing. Die Afrikaner is armer sonder die volstruise – ons het hulle broodnodig. Daar is definitief ʼn groot groep Afrikaners wat ʼn verskil kan maak op alle vlakke van die samelewing as hulle hulself diensbaar sal stel vir die vind van oplossings van ons vele uitdagings hier in Suid-Afrika. Die hopeloosheid onder ons mense is ʼn groot oorsaak van burgerlike verlamming wat die deur ooplaat vir ongewenste elemente wat ons manier van leef wil vernietig.

Dit bring my by die derde en laaste groep, die kiewiete. Daar is twee elemente van die kiewiet wat vir my uitstaan. Ons almal weet van die vreeslose beskerming van ʼn nabygeleë nes wanneer mens deur ʼn veldjie stap. Die kiewiet beskerm sy/haar nes met eiertjies ten alle koste en sal, sonder ophou of vrees, aanval, neerduik op ʼn bedreiging en ʼn verskriklike bohaai opskop.

Foto: Diego Delso/Wikimedia

Die tweede belangrike feit is dat die kiewiete nie hul neste maak in hoë bome of op kranse nie, dit is op die grond en nie afgesonder op verafgeleë plekke nie. Die mense wat ek as kiewiete sien, is nie blind vir die gevare en uitdagings in Suid-Afrika nie, maar hulle stel hulself bloot aan die samelewing en is totaal deel daarvan. Natuurlik is dit nie so veilig soos om jou nes hoog in ʼn boom te maak nie, maar dit is die kiewiet se manier. Volgens my benodig ons meer van hierdie tipe “voëls” in hierdie tyd waarin ons onsself bevind in ons geliefde land. Die kiewiete neem deel aan sake van die dag, hulle lees gereeld die nuus en is betrokke. En gewoonlik is dit ook dieselfde kiewiete wat dien op kerkrade, oudskoliere-verenigings, buurtwagte, wat geldinsamelings doen, ensovoorts. ʼn Mens slaan mos die donkie wat die hardste werk ook die hardste… Die kiewiete raak ook dan soms in die proses moeg en moedeloos oor die ander “voëls” se apatie en onttrekking.

Of jy nou ʼn swaeltjie of volstruis of kiewiet is, êrens moet daar mos gemene belange wees? Die tye waarin ons nou leef is definitief gevaarlik, verlammend en dit skep groot kommer oor die toekoms. Hoe gemaak dan? Ons almal kan mos nie “swaeltjies” wees nie? Dis onmoontlik. Die “volstruise” moet ʼn hand uitsteek na die “kiewiete” en help waar nodig. Selfs die “swaeltjies” het ʼn groot rol om te speel, want daar is altyd een voet in Afrika, familie wat agterbly, vriende en selfs beleggings en dan natuurlik ons voorvaders se bloed wat oor die grond gegiet is om vir ons ʼn toekoms te bied.

Ons moet ons oë oopmaak vir die behoeftes en geleenthede om ʼn verskil te maak oral rondom ons. Daar is ʼn reuse-verantwoordelikheid op elke liewe Afrikaner om deel te raak van die oplossings vir ons vele uitdagings hier aan die suidpunt van Afrika. Ons moet versigtig wees om as een tipe “voël” die ander te kritiseer en te oordeel, want ons het álmal nodig om te oorleef as ʼn volk en kultuur.

Die skep van hoop is noodsaaklik en met klein oorwinnings sal ons groot stappe neem na ʼn beter bestaan in Suid-Afrika. Ons moet vrees verdryf en vashou aan die Liefde van ons Here, want soos in 1 Joh. 4:18 staan, verdryf ware liefde enige vrees. Ons moet vashou aan die Liefde wat ons sal beskerm en lei met die nodige wysheid om ons groot taak aan te pak.

Ek haal my hoed af vir die “swaeltjies” se trekgees, pionierskap en moed om te vlieg, maar ek vra hulle om nie van ons te vergeet nie. Ek verstaan hoekom die “volstruise” soms die kop in die sand bêre, maar ek smeek hulle om hul koppe op te lig en, al is dit op klein skaal, betrokke te raak! Ek het diepe waardering vir die “kiewiete” wat hul nes op die grond in die oopte maak en wat dit met die hart van ʼn leeu beskerm.

Laat ons ook ophou om op eiers te loop wanneer daar gepraat word oor ons geloof, taal, kultuur en ons plekkie in die son. As dit nie die Here se wil was nie, sou ons nooit in Afrika beland het nie. Tye is moeilik en uitdagend, maar die Afrikanerbloed wat deur ons are bruis is die staal wat nodig is om sterk te staan en trots te wees. Kom ons hou vas aan Matt. 6:26 wat sê: “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle Hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”

Iemand het ook eenkeer gesê dat die Here die voëls voer, maar Hy gooi nie die kos in hul neste nie. Kom ons rol ons moue op en spring aan die werk. Staan sterk en wees trots om ’n Afrikaner te wees met ʼn toekoms in dié land.

  • Gavin Ludick is ʼn projekbestuurder by die Afrikanerbond.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boerinmurgenbeen ·

Dagsê Gavin, jy het dit baie mooi gestel.
Mag die stukkie skrywe wyer onder ons Afrikaner volk versprei word.
Eendrag maak mag, die dag as ons Afrikaner volk weer ons samehorigheids gevoel gekry het sal dit baie mooi wees.

OW ·

Goeie skrywe in teorie maar ons probleme bly prakties.”Kyk voor jou die Army kyk agter jou”Het ons dit nie lank genoeg gehad nie?Dit is een van die redes hoekom ons leierloos vandag is.Jy praat van 1Joh 4:18 en ek dink dit is waar die Kerklike organisaies hulle stem moet laat hoor om die Regering tereg te wys waar hy die pad byster raak.Ek lees van artikels oor die onderwerp maar mens sien en hoor bittermin dat dit in die praktyk plaasvind.Ek lees van Moderatore van Kerke wat uitvoerende poste is wat bestuur betref en wat besig is met funksionele werk.As jy jou uitgee vir uitvoerende werk dan hou jy jou besig met uitvoerende werk.Hierdie is maar een van talle voorbeelde.Ons sit met enorme bestuursprobleme in die land en daar is nie ‘n kitsoplossing op die horison nie.

annie ·

Dit is natuurlik so dat swaeltjies weer terugkeer na hul modderhuisies wanneer die klimaat verander en die huurders uitskop wat daar oorwinter het en probeer ‘n volstruis se nes te na kom. Jou dokter sal jou lyding in die annale aanteken. Probeer ‘n kiewiet op die kerkraad kry… Die Afrikanerbond klink soos die dominees van destyds toe die trekboere die pad noord gevat het en die kerkbydraes opgedroog het. Desyds is hul ander name toegevoeg.

Therese ·

Komplimente aan Gavin Ludick met hierdie skitterende artikel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.