Die toekoms

(Gelewer by die FAK-ledevergadering in Oktober 2011)

Ons gesels baie oor die toekoms. Hieronder wil ek net na een aspek daarvan verwys. Dit hou verband met die onus wat daar op Afrikaners rus om groter onderlinge konsensus oor hulle rol vorentoe te kry.

Alhoewel dit gewis nie ’n goeie ding is om onsself aan die mees negatiewe toekomsbeeld op Suid-Afrika te verbind nie (dit lei dikwels tot onttrekking en padgee eerder as verbintenis en deelname), is dit ook so dat ons vandag voor uitsonderlike uitdagings te staan gekom het. ’n Bekende politieke ontleder verwoord dit so as hy onlangs in Rapport skryf dat “Suid-Afrika se toekoms besig (is) om voor ons oë te verkrummel” (Jan du Plessis, Rapport, 2 Oktober 2011). Hy verwys in hierdie verband veral na die ernstige vorme van staatsverval. In aansluiting hierby kan ook verwys word na die skokkende induiestorting van gemeenskapsinstellings onder veral die armes. Tradisioneel word dié instellings as ’n noodvalskerm tydens staatsverval beskou. Hulle induiestorting beteken dat letterlik miljoene mense in SA sonder enige vorm van institusionele beskerming gelaat word. Nóg die staat nóg ons gemeenskappe toon tans dat hulle ’n duidelike antwoord op hierdie situasie het.

Welke antwoord ons as Afrikaners ook al op hierdie toestand gee, ons sal dit nie kan doen sonder om groter onderlinge konsensus oor onsself en ons toekomstige rol te kry nie. Afrikaners is nog te veel daartoe geneig om in allerlei windrigtings uitmekaar te beweeg. Sonder ’n ewewigtige balanspunt waaromheen ons kan versamel, sal dié versplintering voortduur en sal ons nie ’n strategies sinvolle antwoord op ons toestand kan geen nie.

Alhoewel dit waarskynlik nie ’n gewilde ding is om te sê nie, is dit so dat apartheid, meer as 17 jaar na die formele beëindiging daarvan, steeds dié saak is wat voorkom dat Afrikaners so ’n ewewigtige balanspunt vind. Ons ervaar steeds ’n verlies aan koherensie, omdat ons steeds oor ’n saak verskil wat – hoe ongelooflik dit ook al mag klink – tot die verlede behoort.

So byvoorbeeld is daar Afrikaners wat ten diepste deur ’n nostalgie vir die apartheidsverlede gekenmerk word. Hulle is diegene onder ons wat eenvoudig nie kan aanvaar dat ons onsself vandag in radikaal nuwe omstandighede bevind en dat ons nie daarop met nostalgiese hunkeringe kan antwoord nie. Hierdie Afrikaners word deur die neiging gekenmerk om hulle toevlug tot allerlei onwerkbare skemas te neem. Omdat hierdie skemas tot mislukking gedoem is, word hulle in ’n bose kringloop van teleurstelling, ontnugtering en wrokkige onttrekking ingetrek.

Apartheid se invloed strek egter verder. Daar is ook diegene onder ons wat vanweë apartheid dit eenvoudig nie kan regkry om openlik na hulleself as Afrikaners te verwys nie. Laasgenoemde blyk onder meer uit die bewering dat daar nie iets soos Afrikaners is nie omdat dit nie gedefinieer kan word nie!; maar dit blyk ook uit allerlei versagtende woorde (soos die afskuwelike neologisme, ‘Afrikaanses’) waaragter Afrikaners hulself wegsteek; uit die toevlug wat hulle tot ’n begrippetaal neem waarin die gedagte van gemeenskap op die agtergrond geskuif en agter ’n beroep op dinge soos individuele regte of die keusevryheid van die onverbonde individu verdoesel word, ensovoorts.

Leo Strauss het in verskeie van sy werke aangetoon hoe politieke skrywers vanuit die verlede dikwels van ’n verdoeselde skryfstyl gebruik gemaak het om te voorkom dat hulle ten prooi van hulle vyande val. As jy hierdie skrywers wil begryp, het Strauss gesê, moet jy leer om hulle tussen die reëls te lees.

’n Mens kan verstaan dat dit in uiters vyandige omstandigede verstandiger is om jou oogmerke te verdoesel eerder as om ewe braaf daarmee op jou mou rond te loop. Die vraag is egter of bogenoemde Afrikaners vandag nie onwetend Strauss se punt oordryf nie. In weerwil van die feit dat die omstandighede steeds gunstig is om openlik te sê wie en wat ons is (en ’n mens dus nie nodig het om Afrikaners slegs tussen die lyne aan te tref nie), kry sommige dit eenvoudig nie reg nie. Alles word eerder agter ’n rookskerm van skaamte, ontkennings en wegpraat versteek.

Hierdie gebrek aan direktheid lê ons aan bande en voorkom dat ons ’n verbeeldingryke antwoord op die uitdaginge van ons tyd kan gee.

Gelukkig is dit nie van alle Afrikaners waar nie. Inteendeel, ’n mens sien ’n groot groep Afrikaners wat vandag daarin slaag om ’n ewewigtige balanspunt anderkant die versmorende opposisie tussen nostalgie en selfontkenning te vind. Ons kan in ʼn effens gewysigde aansluiting by Carel Boshoff na hulle as die ‘derde Afrikaner’ verwys.

Die kenmerkende van hierdie Afrikaners is dat hulle ’n duideliker beeld op die uitdagings van die tyd het. Hulle weet bykans instinktief dat ons as Afrikaners te midde van die verswakkende staat toenemend vir onsself sal moet intree. Of as ’n mens dieselfde punt te midde van al die risiko’s daaraan verbonde in heel optimistiese taal kan giet: Hierdie Afrikaners weet bykans instinktief dat die terugtredende staat juis vir ons nuwe geleenthede skep. Want, sê hierdie Afrikaners, state is per definisie dinge wat ons aan bande lê. As hulle terugtree, maak dit ruimtes oop. Binne dié oop ruimtes kan gemeenskappe toenemend hul eie ding doen. (’n Jong lid van die FAK-direksie beskou dit selfs as die wese van die begrip ‘vryheid’).

Hierdie Afrikaners weet dit nie net nie. Hulle doen dit ook. Hulle skep in die wêreld daarbuite konkrete ruimtes waarbinne ons ons eie ding kan doen. Vanaf die kunste in haar groot verskeidenheid van vorme tot en met dinge soos die akademiese wêreld word toenemend vir die eie ingetree, dit alles sonder die verwagting dat ’n groot staat vir ons moet sorg.

Ek sluit met ’n laaste kenmerk van hierdie groep Afrikaners. Op die vlak van die breë politieke lewe gaan die soeke na ’n ewewigtige balans waarna hierbo verwys is, gepaard met die soeke na ’n ewewigtige verstandhouding tussen die verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika. Nóg die nostalgiese houding nóg die selfontkennende houding is daartoe in staat. Inteendeel, beide is eerder daartoe geneig om hulle van die soeke na enige sodanige verstandhouding te onttrek. Diegene wat weet dat Afrikaners vandag vir hulself sal moet intree, wat ook weet dat dit oor die brug van sodanige verstandhouding moet geskied. Elke selfdoenner is immers (en in weerwil van die klem op die self) ten diepste van ’n netwerk van andere afhanklik. Sy selfdoen kan daarom ook slegs by wyse van ’n verstandhouding met andere beslag kry.

Dit is ook hierdie Afrikaners wat ’n antwoord op ons apartheidsverlede het. Apartheid en alles wat dit in die gemoed van ons mense verteenwoordig word nie hanteer deur jouself aan nostalgie oor te gee of in selfontkenning te vlug nie. Dit word eerder hanteer wanneer ’n demokratiese – en bygesê, eg volwasse – toestand van wedersydse erkenning die verhouding tussen almal reël.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae