Die waarheid oor regstellende aksie

hande regstellende aksieDie Financial Mail het op 15 Junie 1973 ‘n artikel gepubliseer oor die grootskaalse bevolkingsverskuiwings in die navolging van die apartheidsbeleid van afsonderlike ontwikkeling. Dit is geskryf deur John Kane-Berman en het gebruik gemaak van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) se navorsing om ‘n parallel te trek tussen hierdie verskuiwings en kwasjiorkor en ander siektes van minderbevoorregtes.

Die artikel se voorblad was geïllustreer met ‘n kleurfoto van ‘n sterwende baba. Dit was bedoel om te skok en dit het. Premier John Vorster se ekonomiese adviseur het die tydskrif in ‘n brief beskuldig dat die foto vervals is. Dit was egter in die Charles Johnson-gedenkhospitaal naby Nqutu geneem in wat tans KwaZulu-Natal is.

‘n Aanbod is gemaak om die ekonomiese adviseur en die betrokke ministers en amptenare te neem om die babas, die bedjies en die vullishope rondom die hospitaal te sien. Die besoek het nooit gebeur nie en die Financial Mail en die SAIRV het voortgegaan om die gevolge van gedwonge verskuiwings te ontbloot totdat daardie beleid uiteindelik gestaak is.

Verlede week het die SAIRV weer die verband tussen beleide en sterwende kinders uitgewys – die verband tussen rasgebaseerde regstellende aksie en die regering se onbevoegdheid. Eise is weer gemaak om die ‘bewyse’ te lewer. Van die onomstootlike bewyse kom van die regering en die regerende party.

In 2009 het Matthews Phosa, toenmalige ANC tesourier-generaal, gekla dat die plaaslike regering nou in ‘hoësorg’ is weens die foute wat hy met regstellende aksie gemaak het. In 2011 het Sicelo Shiceka, toe die minister van samewerkende regering, gesê plaaslike owerhede word gesien as ‘onbevoeg, ongeorganiseerd en belangeloos.’ President Jacob Zuma het die openbare diens as ‘lui en onbevoeg’ beskryf.

Om egter te sê die Bloemhof-babas het weens ‘onbevoegdheid’ gesterf, is nie genoeg nie. Daar is geen dispuut dat die rassistiese beleide van apartheid verbetering en herstel nodig het nie. Dit word ook nie betwyfel dat swart mense weens hul ras materieel benadeel is nie. Ras is egter ’n tweesnydende swaard. Die sterk emosies wat rondom ras aangestook word, maak dit die perfekte dekmantel wat gebruik word om wanbedrywe weg te steek. Dus misbruik politici die beleid van regstellende aksie as goedkeuring vir die heel ontoepaslike aanstellings wat in die naam van “rassetransformasie” gemaak word.

Ons kritici kap terug dat die beleid eenvoudig net behoorlik toegepas moet word. Dit is naïef. Ons het ‘n uiters korrupte regering en as jy hom die mag gee om met sy wanbedrywe en skadelike ideologie agter “rassetransformasie” weg te kruip, sal hy dit doen. Jy kan nie die beleid van sy gevolge skei nie, selfs wanneer dit onbedoeld is en weens misbruik ontstaan. Kritici moet ook ophou om die leuen te herhaal dat Suid-Afrika se beleid van regstellende aksie ontwerp is om die swartste van die twee gelykgekwalifiseerde kandidate te kies.

Die huidige beleid moet liewer daarop ingestel wees om te sorg dat amptenare vir hul bestaande kennis en ondervinding aangestel word en nie vir hul potensiaal om uiteindelik “die bevoegdheid te behaal” sodat hulle vorentoe hul werk kan doen nie. Dit laat die verkiesing van ongekwalifiseerde mense eksplisiet toe en dit is eenvoudig nie regverdig teenoor die gemeenskappe wat die prys daarvoor betaal nie.

Die omvang van die onkunde oor die beleid en sy gevolge is verlede week geïllustreer toe ’n prominente joernalis die scenario geskets het van twee gelykgekwalifiseerde ingenieurskandidate wat om ’n pos meegeding het. Een het sy opleiding aan ‘n privaatskool ontvang en die ander aan ‘n townshipskool. Die joernalis was van mening dat die townshipkandidaat die werk behoort te kry en dat dit ‘n goeie en regverdige beleid vir Suid-Afrika is.

Dit is egter ‘n verkeerde begrip van die beleid soos dit in Suid-Afrika toegepas word. Wat die fout erger maak, is dat die regering dikwels die pos ongevul laat, liewer as om ‘n wit kandidaat aan te stel. Nog ‘n fout is om te dink dat alle gegradueerdes van ‘n privaatskool wit is wanneer dit verkeerd is. Die feit is dat ‘n arm wit student wat met groot nadele daarin slaag om as ‘n ingenieur te kwalifiseer, oor die hoof gesien sal word ten gunste van ‘n swart ingenieur wat uit ‘n ryk gesin kom en aan ‘n privaatskool opgelei is.

Hierdie foute word vererger omdat Suid-Afrika ’n groot tekort aan veral ingenieurs in die privaatsektor het en dat enige gekwalifiseerde ingenieur ongesien sy ras deur die openbare sektor opgeraap moet word. As ‘n ingenieur uit ‘n wit skool sy kwalifikasies wil aanwend vir die opheffing van ’n uiters arm landelike munisipaliteit met ineenstortende infrastruktuur, moet dit nie die wet wees wat aan die mense van daardie munisipaliteit sê dat hulle hom nie mag aanstel nie.

Maar om hierdie debat rondom “wittes” te sentreer, is verkeerd – dit gaan nie net oor hulle nie. Oor die algemeen vaar wit Suid-Afrikaners goed. Hul werkloosheidsyfer is ongeveer 6%, wat dit belaglik maak om voor te stel dat wittes “ons werk [d.w.s. swart poste] wil oorneem.” Ironies genoeg slaag die huidige model van regstellende aksie besonder effektief daarin om wittes te bemagtig deurdat hulle hul tot entrepreneurskap wend (soos die SAIRV voorheen uitgewys het). Ons het sover gegaan om te sê dat as enigeen sedert 1994 deur regstellende aksie bemagtig is, dit hoofsaaklik die wittes is.

Ons kritiek op die huidige beleid van regstellende aksie is gebaseer op voorbeelde waar die slagoffers van die beleid swart is. Aantygings dat die kritiek rassisties is, ignoreer dit. Net so onjuis is die idee dat ons probeer om swart vooruitgang te kniehalter. Dit sal juis die model van ’n mark wat deur groei gelei word ondermyn – iets wat die SAIRV al dekades lank uitwys. Dit is ook absurd om te beweer dat ons kritiek op regstellende aksie ’n aanval op die bevoegdhede van swart mense is.

Die SAIRV se dapper teenkanting teen die apartheidsbeleid het berus op die vanselfsprekendheid dat daar niks inherent in ’n persoon se ras is wat sy vermoëns bepaal nie. Ons kritiek probeer ook nie die sosio-ekonomiese vooruitgang sedert 1994 ontken nie. Ons kommer is juis dat te veel mense die slagoffers van ‘n wrede en onverskillige, verwaarlosende stelsel is – een waarsonder veel meer bereik kon gewees het.

Die feit dat beskuldigings van rassisme so wyd rondgestrooi word, bevestig ons stelling dat die rassebasis van die beleid uitgebuit word om sy wanaanwending te verdoesel. In baie gevalle moet deurdringende vrae gevra word oor ons kritici se verpligting tot ‘sosiale geregtigheid’ wanneer hulle beleidsalternatiewe swartsmeer, terwyl hulle ten volle bewus is dat die arm mense die slagoffers van die status quo is.

Watter soort ingesteldheid maak dat iemand veragtelike en rassistiese skeldtaal gebruik teen ’n idee wat gemik is op ’n verbetering van die armes se lot? Uit die omvang van hul skeldtaal blyk dit dat hulle weet ons is reg, maar dat hulle sukkel om daarmee vrede te maak. Te dikwels is hierdie kritici mense wie se eie kinders nooit blootgestel sal word aan die toksiese water van onbevoegde openbare hospitale nie.

Dit is treffend dat die regering ons nie self verlede week aangevat het nie, maar vol vertroue was dat die strydbyl deur verskeie mense in die burgerlike gemeenskap en die media opgeneem sal word. Dit is ’n slegte voorbode in ’n land waar die wurggreep van politiese korrektheid en strawwe selfsensuur nou ’n groot bedreiging vir vryheid inhou.

Die Amerikaanse akademikus Noam Chomsky het dit so opgesom: “Die slim manier om mense passief en gehoorsaam te hou, is om streng beheer uit te oefen oor die spektrum van aanvaarbare menings, maar om elke lewendige debat binne daardie spektrum toe te laat.”

Wat ook besonder treffend was, is hoe baie van ons kritici staatgemaak het op teoretiese voorbeelde van wat regstellende aksie “behoort” te bereik. Hierteenoor het ons praktiese voorbeelde aangewend van wat dit in werklikheid bereik. ’n Kollega het opgemerk dat, soos baie wittes in die vorige dekades, dit lyk of hulle weier om te erken dat die naakte feite van dooie babas dalk eg kan wees.

Die feit dat baie swart mense sonder regstellende aksie vooruitgegaan het, kan nie betwyfel word nie; ook nie dat die voordeel van die beleid gewerk het nie. Maar selfs diegene wat daarby gebaat het, moet hul persoonlike voordeel opweeg teen die groot prys wat die meerderheid arm mense betaal vir ’n openbare diens wat toenemend verswak. Die prys word nie net betaal in die vorm van dooie babas nie, maar ook in ons patetiese groeikoers, ons onpeilbaar swak onderwysstelsel en ons werkloosheidskrisis.

Terselfdertyd bied ons alternatiewe voordele aan ’n baie groter aantal arm mense as wat die geval is met die huidige eng benadering tot bemagtiging en ontvangers van regstellende aksie. Dit is moeilik om te verstaan waarom hierdie meer inklusiewe voorstel nie omarm word nie.

Gegewe hoe moeilik dit is om ’n openhartige bespreking van die huidige beleid te hê, stem ons ook saam met die siening dat hierdie beleid nie net reggemaak kan word daardeur beter toe te pas nie.

Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (GEB) verskil van regstellende aksie (en SEB) in twee sleutelaspekte. Die eerste is dat dit nie rasgebaseer is nie, maar liewer die sosio-ekonomiese omstandighede in ag neem vir die aanwys van sy ontvangers. As jou ouers meer as ’n sekere ekonomiese drumpel verdien, sal jy nie onder dié beleid kwalifiseer nie. Dit teiken dus juis die ware agtergeblewenes en laat min ruimte vir onverdienstelike aanstellings.

Ten tweede fokus dit nie op die ouditering van die uitkomste van die transformasiebeleid nie, maar verskaf dit eerder die insette wat nodig is om armes te bemagtig: skool- en tersiêre opleiding en entrepreneuriese ontwikkeling. Op hierdie boustene en teen die agtergrond van snel ekonomiese groei kan miljoene uit armoede bevry word.

Die bewyse van die afgelope week toon dat baie kommentators steeds die noodsaaklikheid van beter regstellende beleide verwerp. Of ras die uitgangspunt vir regstellende aksie moet bly, is ’n uiters belangrike kwessie wat grootliks die sukses van alle bemagtigingstrategieë sal bepaal.

Ons mikpunt was om die aandag te vestig op die impak van die huidige beleid op arm en kwesbare gemeenskappe en om ’n debat te begin oor die noodsaak van verandering. Sonder ware verandering is dit onwaarskynlik dat groei-, investering- en werkvoorsieningsvlakke sal verbeter. Korrupsie en wanbestuur sal voortduur, indien nie toeneem nie. Voorbeelde soos Bloemhof s’n sal toeneem. Op hierdie ontstellende prognose is die bewyse ongelukkig in ons guns.

Ondanks die soms veragtelike skeldtaal op my SAIRV-kollegas die afgelope week sal ons nie terugdeins van ons taak om die doodsgreep te beveg wat rassenasionalisme en nadelige politiese korrektheid op ons land het nie. Indien enigiets, het die afgelope week ons net meer vasberade gemaak.

My opregte en erkentlike dank gaan aan die baie mense wat ons met boodskappe van ondersteuning aangemoedig het. Julle is almal baie dapper om veral in die openbaar vir ons op te staan. ’n Gemene tema wat deur hierdie boodskappe loop, is dat die SAIRV gewys is op ’n belangrike en voorheen onnoembare waarheid – een wat dit duidelik stel wat nodig is om ons land om te draai. Ons sal voortgaan om duidelike alternatiewe vir die status quo aan te bied in die hoop dat, met verloop van tyd, dit sal help om ’n beter en baie meer welvarende Suid-Afrika te skep.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Eugene ·

‘n Ander fantastiese voorstel van die SAIRV is die koeponstelsel, bv ‘n behoeftigde persoon kry ‘n koepon vir mediese sorg van R x per maand of geval en daardie persoon kan dan die diens gaan kry by ‘n staats of sekere privaatinstellings. Dit behoort die instellings wat swak diens lewer uit te skakel.

Eugene ·

‘n Ander fantastiese voorstel van die SAIRV is die koeponstelsel, bv ‘n behoeftigde persoon kry ‘n koepon vir mediese sorg van R x per maand of geval en daardie persoon kan dan die diens gaan kry by ‘n staats of sekere privaatinstellings. Dit behoort die instellings wat swak diens lewer uit te skakel.

Frik Lotz ·

Regstellende aksie se rakleeftyd is lankal verby. Dit diskrimineer teen minderhede en dis tyd dat dit beïndig word. Dankie ook aan VF Plus dat hul gekant is teen regstellende aksie.

Frik Lotz ·

Regstellende aksie se rakleeftyd is lankal verby. Dit diskrimineer teen minderhede en dis tyd dat dit beïndig word. Dankie ook aan VF Plus dat hul gekant is teen regstellende aksie.

Deon ·

Wat die Landbou onteining en 50/50 plan betref, is die Boere nie nou meer gereed vir ‘n voorstel van basies koop gronde, stig maatskappy, en beset ‘n Volksrepubliek. Kan Boere besluit om hul plase te verkoop vir R1 aan die TLU SA en dat die nie-winsgewende maatskappy die betrokke plase op ‘n 99 jaar huurpag verhuur aan die vorige eienaar met ‘n geregistreerde Kontak? Kan die TLU SA hul grondwet aanpas dienooreenkomstig? Kan hul ekonomie van skaal bedinging doen vir saad, kunsmis, implemente, toerusting, voertuie, plaasbeveiliging, ens? Met so ‘n groot kollektiewe waarde by gunstige stamlandbanke lenings aangaan en grondgebied konsolideer en selfs begrens/omhein? As die regering die gebied probeer vat dat dit die grootste privaateiendom is wat wereldbelang sal trek? Wat sal kan bekostig om vergrype te appeleer, wereldhof toe te vat, VN, TV en koerantadvertensies plaaslik en oorsee te plaas? Om ‘n privaatsekuriteitsmag kan bekostig vir verdediging? Slimmer mense kan die plan verfyn.

Deon ·

Wat die Landbou onteining en 50/50 plan betref, is die Boere nie nou meer gereed vir ‘n voorstel van basies koop gronde, stig maatskappy, en beset ‘n Volksrepubliek. Kan Boere besluit om hul plase te verkoop vir R1 aan die TLU SA en dat die nie-winsgewende maatskappy die betrokke plase op ‘n 99 jaar huurpag verhuur aan die vorige eienaar met ‘n geregistreerde Kontak? Kan die TLU SA hul grondwet aanpas dienooreenkomstig? Kan hul ekonomie van skaal bedinging doen vir saad, kunsmis, implemente, toerusting, voertuie, plaasbeveiliging, ens? Met so ‘n groot kollektiewe waarde by gunstige stamlandbanke lenings aangaan en grondgebied konsolideer en selfs begrens/omhein? As die regering die gebied probeer vat dat dit die grootste privaateiendom is wat wereldbelang sal trek? Wat sal kan bekostig om vergrype te appeleer, wereldhof toe te vat, VN, TV en koerantadvertensies plaaslik en oorsee te plaas? Om ‘n privaatsekuriteitsmag kan bekostig vir verdediging? Slimmer mense kan die plan verfyn.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.