Dis US en ander politiek korrektes wat Afrikaans ‘laat doodgaan’

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch

’n Groot deel van die openbare gesprek oor en rondom Afrikaans en die Afrikaners word gewy aan die vraag rakende taal- en minderheidsregte enersyds en inklusiviteit en nie-rassigheid andersyds.

Dié naweek was dit weer so toe ’n aantal swaargewig-Suid-Afrikaners behoorlik van mekaar verskil het op die reünie-konferensie van die 61 Suid-Afrikaners wat 30 jaar gelede in Dakar met die ANC/SAKP gaan praat het.

Aan die een kant, luidens koerantberigte oor die saak, het die skrywer Breyten Breytenbach en dr. Theuns Eloff (oudrektor van die Noordwes-Universiteit en tans direkteur van die FW de Klerk-Stigting) gestaan. Die ander kant is verteenwoordig deur die twee broers Essop en Aziz Pahad, asook oudregter Johann van der Westhuizen en dr. André Odendaal.

Terloops, ’n mens moet nie verbaas wees oor laasgenoemde groep se houding nie. Die gebroeders Pahad was in die struggle-tyd lid van die SAKP, terwyl Odendaal as akademikus aan die Universiteit van Wes-Kaapland geen geheim van sy simpatie vir die kommunisme gemaak het nie. Van der Westhuizen se positiewe houding teenoor die ANC was ook al lank bekend.

Afgaande op die berigte oor die gesprek het Breytenbach hom verwoestend skerp uitgelaat oor diegene wat Afrikaans “laat doodgaan”. Hy het gesê dis nie die ANC wat dit doen nie, maar die Universiteit van Stellenbosch (waarmee hy waarskynlik ook die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat in gedagte gehad het). Hy het sulke mense – soos sy gewoonte is – buitengewoon fel as “gekke, lafaards en verraaiers” en “kruipers” beskryf.

Breytenbach se prinsipiële standpunt was die gedagte dat Suid-Afrika se krag in sy diversiteit lê, maar dat dié diversiteit nie van só ’n aard mag wees dat minderheidsgroepe hul identiteit moet prysgee nie.

Volgens die gebroeders Pahad, Van der Westhuizen en Odendaal moet daar eerder op inklusiviteit en nie-rassigheid gekonsentreer word. Aldus die waarskynlik sterk vereenvoudigde weergawe in die berig.

Dié standpunte vorm terselfdertyd die essensie van die gesprek oor die posisie van Afrikaans in die openbare lewe, met inbegrip van die voertaal op universiteit en skool.

Die een groep meen die taal- en minderheidsregte wat deur die Grondwet verleen en deur verskeie internasionale konvensies bevestig word, moet gewoon nagekom word. Dié mense sê om op ’n billike plek vir Afrikaans aan te dring, beteken nie dat daar vir vóórregte vir die taal gevra word nie. Wat gevra word, is waarop die taal en sy sprekers gerégtig is, en basta.

Die ander groep meen deur op regte vir Afrikaans aanspraak te maak, word nie-Afrikaanssprekers (lees: swart mense) uitgesluit. Só kom dit neer op ’n soort bedekte voortgesette apartheid, iets wat volgens sommige in elk geval die bedoeling is van die Afrikaans-voorstanders.

Geen mens by sy volle verstand kan in ons land met sy spesifieke geskiedenis nog ’n situasie voorstaan wat sekere mense – wit of swart, Afrikaans of anderstalig – doelbewus uitsluit en ’n soort apartheid wil voortsit nie. Afgesien van die intrinsieke immoraliteit daarvan, sou dit, gegewe die politieke werklikhede, buitengewoon onverstandig wees. Daarmee gee jy eenvoudig ’n pragtige argument op ’n skinkbord aan die Afrikaans-teenstanders.

Maar die Engels-drywers se houding berus in die algemeen op verskeie valshede.

Om mee te begin kom hul houding in die praktyk neer op die bevoordeling van Engels. En afgesien van die feit dat Engels (o ironie) nog veel meer as Afrikaans ’n koloniale en imperialistiese taal is, het die bevoordeling van dié taal ook uitsluiting en eksklusiwiteit tot gevolg.

Volgens die 2011-sensus is Afrikaans die huistaal van meer as 6,855 miljoen Suid-Afrikaners, en sowat 16 miljoen wat Afrikaans as hul tweede taal beskou. Daarteenoor staan die byna 5 miljoen wat Engels tuis praat. Slegs Zoeloe en Xhosa het meer moedertaalsprekers as Afrikaans.

Van die Afrikaanssprekendes is 50% bruin, 40% wit, 9% swart en 1% Asiër. Bowendien beskou sowat 16 miljoen Suid-Afrikaners Afrikaans as hul tweede taal. Hieruit blyk dat Afrikaans verreweg die mees nie-rassige taal in die land is.

Interessant genoeg, Engels is die enigste taal wat deur meer wit mense (1,6 miljoen) as swart mense (byna 1,17 miljoen) en bruin mense (946 000) tuis gepraat word. Daarby is slegs die helfte van die land se bevolking in staat om ’n gesprek op Engels te voer.

Die Engels-drywers voer gereeld aan dat almal in Suid-Afrika Engels verstaan. Dié taal is dus die aangewese lingua franca wat meer as Afrikaans geskik is as onderrigtaal op skool en universiteit.

Bogenoemde syfers loënstraf dié bewering en wys dat Afrikaans geen millimeter vir Engels agteruit staan nie.

Tog bly dit ’n feit dat sommige studente of kinders feitlik geen woord Afrikaans verstaan nie. Is dit dan nie waar dat Afrikaanse klasse op ontoelaatbare diskriminasie teen sulke mense neerkom nie?

Op sigself is die antwoord ja. Wat daarteenoor staan, is die feit dat veral bruin plattelanders byna nooit met Engels in aanraking kom nie. Diskrimineer eksklusiewe of hoofsaaklik Engelstalige klasse dan nie teen húlle nie?

Waarom sou diskriminasie teen nie-Afrikaanssprekendes dan verkeerd wees, maar diskriminasie teen Afrikaanssprekendes in orde? Om dit maar reguit te stel: Dit getuig van skynheiligheid.

Maar daar is nog ’n argument. Die stelsel van fluistertolkdienste op Stellenbosch en Potchefstroom het gewys dat daar volledig voldoen kan word aan die behoeftes en regte van nie-Afrikaanssprekendes sonder om die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal te beperk.

Met ander woorde, jy kan Afrikaans én inklusief wees.

Engels-drywers het met allerlei bewysbare drogredenasies gekom om dit te kritiseer. Dit sou dan te duur wees (op Potchefstroom kos dit ’n minimale bedrag teen die volledige universiteitsbegroting gemeet).

Ook het ’n beweging soos Open Stellenbosch beswaar gemaak omdat Afrikaanssprekendes die tolkdiens nie nodig het nie en dus bevoordeel word. Dis rassediskriminasie, is gesê.

Wel, die ervaring op Potch is dat die swart studente oorwegend baie positief op fluistertolkdienste reageer en baat daarby vind. Dit lyk oorwegend na ’n klein groepie amokmakers op Stellenbosch wat protesteer – en die feit dat die Stellenbosse universiteitsowerheid se knieë so maklik geknak het, herinner ’n mens aan ’n jellievis.

Breytenbach se stelling hierbo – dat dit nie die ANC is wat Afrikaans laat doodgaan nie, maar die US (en ander politiek korrektes) – is volkome in die kol. Die omgang van verskeie Afrikaanse organisasies met die ANC wys dat die beweging respek het vir beskaafde vasbeslotenheid.

Die US-owerheid en sy meelopers sal goed doen as hulle hier agter onder hul nek af voel. Hulle roep daardie ding ’n ruggraat.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
CJ

Ag, asseblief! Breyten Breytenbach se oënskynlike veg vir Afrikaans! Dit gaan nie oor taal nie! Soos Leopold duidelik uitwys, is die feite oorweldigend! Maar feite tel nie. Dit gaan oor politieke mag en vergelding! Daar was nog altyd ruggraatloses onder ons wat guns by die magshebbers soek. Ons moet dit as ‘n tragiese feit oor onsself aanvaar en dit verreken in ons toekomsplanne. Die dag wat die Afrikaner aan politieke oorheersing onderwerp is, het die doodsklok vir Afrikaans begin lui, maak nie saak wat die taalfeite en -waarheid is nie. Dat Breyeten en die Dakar-besoekertjies dit nie kon voorsien nie,… Lees meer »

Eish

Intussen moet die kinders studeer te midde van die ontwrigting. Die gemiddelde Afrikaanse persoon met kinders op universiteit ervaar die situasie as nog n aanslag op die Afrikaanssprekende. Meeste gemiddelde Afrikaanssprekendes het al goed deurgeloop onder regstellende aksies, die krimpende ekonomie en misdaad. Water vloei die pad van minste weerstand. Mag Akademia spoedig ontwikkel in die Afrikaanse universiteit wat ons met verwagting na uitsien en waar jy nie in n hewige stryd moet toetree om basiese regte nie. Mag die keur van Afrikaanse akademici wie se harte op die regte plek sit, daar doseer.

Gerhardus Petrus Padda

Kan n minderheids taal en kultuur oorleef deur inklusief te wees?

Nee dit kan duidelik nie en daar is baie redes en “proxies” uit die geskiedenis wat dit vir ons bewys.

Die taal en kultuur van “empire” kan inklusief wees.

Elkeen sal maar moet kies wat is vir hom belangriker in die lewe.

Terloops, die Christelike gemeenskappe of “ecclesia” in die Nuwe Testament was enklawes teen die wereld.

Koos1

Ek was altyd onder die indruk dat ons in SA die wêreld se beste grondwet het, maar die grondwet word gebruik om die minderheidgroepe pakslae te gee!

Allesverloren

Stellenbosse sakelui het ‘n keuse vir Engels gemaak. Jy sien dit oral by hul plase, wynkelders en restaurante. Ook orals in die dorp. Die probleme het begin by ‘n beleid van meertaligheid en veeltaligheid. Die situasie het nou onomkeerbaar verander. Afrikaans sit nog net as versiering op universiteitsgeboue.