Doen wat jy kan, net waar jy is, met dit wat jy het

flip-buys-voorsitter-van-solidariteit-beweging-2018-08

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Dit is begryplik dat die swak regering, staatsverval, wydverspreide wetteloosheid en ekonomiese insinking in die land baie mense moedeloos maak. Daar is nie maklike oplossings vir hierdie nasionale probleme nie, omdat ons nie aan bewind is en iets aan hierdie krisisse kan doen nie. Die gevaar hiervan is dat mense nie meer hoop vir die toekoms sien nie, en dat hierdie toestand verlammend kan inwerk op pogings om Afrikaners se omstandighede te verbeter.

Hoewel dit so is dat Afrikaners nie in die magsposisie is om die land se groot probleme op te los nie, beteken dit nie dat ons net magtelose slagoffers van die omstandighede is nie. Ons geskiedenis bied genoeg bewyse dat goed georganiseerde Afrikaner-gemeenskappe wonderwerke kan verrig. Ons het die kulturele kapitaal om dit weer te doen. Die spreekwoord “ ’n Boer maak ’n plan”, beskryf die geheim van ons oorlewing oor die eeue in Afrika treffend.

Die sleutel tot sukses is egter dat die fokus moet val op dit waaraan jy wél iets kan doen, in plaas daarvan om moedeloos te raak oor dinge waaraan ons niks kan doen nie.

Ekonome noem die faktore wat buite ’n mens se beheer is “betafaktore”, en dié wat binne jou beheer is “alfafaktore”. Op ekonomiese gebied is betafaktore sake soos die stand van die internasionale ekonomie, die handelsoorlog tussen die VSA en China, en die wisselkoers. Daarteenoor bestaan die alfafaktore uit beheerbare sake soos hoe goed jy met jou eie geld werk en hoe produktief jy by die werk is.

Die ervaring wys dat wanneer mense en gemeenskappe die alfafaktore behoorlik bemeester, die onbeheerbare betafaktore mettertyd minder word en ’n kleiner invloed begin uitoefen.

Kom ons gebruik die misdaadplaag as ’n voorbeeld. As iemand sy alfafaktore begin beheer deur sy huis te beveilig, aktief by sy buurtwag betrokke te raak, en sy weerbaarheid verbeter, verklein die kanse dat hy en sy gesin die slagoffers van misdadigers kan word.

Hierdie beginsel geld vir elke lewensterrein. As elke mens sy en haar bes doen om hul gesondheid te verbeter deur rook en drank uit te sny, ’n gebalanseerde dieet te volg en matig te oefen, verminder die kanse op gesondheidsprobleme. Dieselfde beginsel geld vir alle ander gebiede: beheer jou alfafaktore, en die impak van die betafaktore verklein.

Hierdie beginsel geld natuurlik nie net vir enkelpersone nie, maar ook vir gemeenskappe. Hier is baie gemeenskappe in die land wat wag vir die regering om vir hulle huise, werk en dienste te gee. Hulle gaan vir altyd wag, want geen regering ter wêreld kan alles vir almal doen nie.

Afrikaners moet ’n “alfagemeenskap” word, wat deur goed georganiseerde gemeenskapsorganisasies self verantwoordelikheid neem. Dit beteken nie dat ons nie die regering aanspreeklik moet hou vir hul wanbestuur nie, maar dat ons ook nie op die staat moet staatmaak nie.

Ons moet die feit in die oë kyk dat staatsbestuur vinnig besig is om te misluk, en dat selfbestuur die enigste volhoubare oplossing is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

lewies ·

Nahum 1-3 : Nineve se verwoesting het ’n belangrike boodskap vir vandag: die belangrikheid om jou geloof aan jou kinders oor te dra. Nineve se bekering het nie lank gehou nie, nie omdat die mense van daardie tyd nie opreg was nie, maar omdat hulle die kennis van die ware God nie aan hulle kinders oorgedra het nie. Ná ’n eeu was Jona, die profeet uit die see, grootliks vergete. Die ware godsdiens het gekwyn en gesterf, en die ou heidense praktyke het teruggekom.

Jan Jooste ·

Flip, jy slaan die spyker absoluut op sy kop. Die alfabenadering stem ook volledig ooreen met ons Christelike wêreldbeskouing, waar elkeen individueel verantwoordelikheid neem vir sy lewe. Jy praat nou tot leierskap wat broodnodig is in die Afrikanergemeenskap. Voorspoed.

skurweberg ·

As staatsbestuur misluk sink nie net ‘n deel van ons land nie maar in totaliteit. Dit is die implikasie van 1 Tim. 3:1-2 Daarom is die keuse van jou tema en inhoud voortreflik!

Gemaskerde Sopbeen ·

As hierdie landjie en sy insittendes net kon leer om onstlae te raak van hulle “betafaktore” sou hulle baie minder “alfafaktore” gehad het om te probeer regop hou en geld aan te spandeer!!!

John ·

… met wat jy het… is die kruks van die saak. Wanneer Afrikaners se fondse opraak is daar nie eers geleentheid om vir die Egiptenare te gaan werk nie want hul eie mense word voorgetrek. Of moet hulle hul eie bang mense, raadop en moedeloos begin uitbuit: Kom ons begin ‘n onderneming en laat ons bang broers dwing om maar van ons gebruik te maak. Dit sal soos ‘n bom werk. En die geldjies rol in… ja, dra by, ons sal julle beskerm. Die Vader sien alles en weeg alles op. En Hy is regverdig. Grootdoenerigheid uit ‘n magtige posisie maak die Vader nie bang of buig sy arm nie. Afrikaners se ondergang word dikwels deur die misbruik en onderdrukking van die naaste en slinkse planne vir eie voordeel, bewerk.

Josef ·

Ja, Hy is regverdig en Hy sal wraak neem. Hy tel elke woord wat jy so ligtelik skryf. Elke oortreding van die negende gebod. Dink mooi oor hoe jy ander oordeel.

Petrus ·

Ek twyfel of ek en my kinders as gemarginaliseerde randfigure hier wil bly woon. Die betafaktore sal dit onmoontlik maak.

Oumatjie ·

Ek stem saam, beveilig jou huis, wees paraat, selfs net dit kan n groot verskil maak. Dankie ook aan Afriforum

Deon ·

Buitelanders in vlugtelingskampe praat van ‘n naderende burgeroorlog. Hulle ken die tekens want hulle is al daardeur in hul tuislande. Indien wittes vasgevang word in ‘n burgeroorlog, waar kan ons aanmeld vir beskerming? Lyk my ons is uitgelewer aan die genade. Die Suidlanders het ‘n noodplan, maar is daar ander planne. Ons glo steeds alles sal regkom, maar ons kan ook vinnig uitgemoor word, totaal onvoorbereid. Ek is nie oor myself gepla nie, maar wat van jong kinders en ouer en sieklike mense?

Kerneels ·

Deon, ons is eintlik magteloos. Jy is op jou eie. En tog is dit maklik om noodplanne in plek te kry.

Twee woordjies ·

Hierdie berig kan met twee woorde opgesom word: Emigreer eerder.

Kobus ·

Of emigreer of die westelike deel van die land moet afstig. Kaapstad en Stellenbosch is uitgesluit en kan maar deel bly van SA.

Peet ·

Perfek opgesom.
Met wat jy het? Ons like dit en ons wil dit hê!
Hoekom werk daarvoor?
Groete

Delarey ·

Alhoewel dit nie goed gaan in die “natuurlike” in SA nie is baie Afrikaners geestelik op ‘n baie goeie plek waar hulle terugdraai gedraai het en hulle afhanklikheid erken.

Westerse lande bied goeie geleenthede maar is in ‘n morele en geestelike moeras.

Kom ons vertrou en doen wat ons kan met wat ons het.

Soos ek al dikwels gesé het die wiel draai beslis.

Maria Haring ·

Emigreer? Ja, tot op jou knië, bid vir volk en vaderland. Dan doen jy iets vit jouself en eie. Maar weghardloop soos ‘n sleg hond!
Alles wat nog oor is, selfrespek, op ‘n skinkbord weg te gee? ” ek hou van ‘n man wat sy man kan staan” Dankie Flip.

Petrus ·

Eerder weghardloop na die buiteland as gejag te word deur die massas. My kinders verdien beter, my liewe suster. Ek wil ook nie sien hoe die regering my stadig verarm nie.

Frik ·

Mentally is ons nie so lekker nie. Kyk na die selfmoord, drank, aanrandings en gesinsmoord. Êrens is daar groot skroewe los. Dit moet stress wees.

Met respek ·

Afrikaners is nie ‘sak en as’ mense nie. Sukses is vir meeste Afrikaners ‘n gegewe. Dit snel deur ons are waar ons ons ookal bevind want ons rol ons moue op en werk. Daarom ‘trek’ van ons weer, want ons weet ons sal suksesvol wees maar ons trek vir ware veiligheid (nie verdedigende veiligheid met ‘n pistool onder die kopkussing nie), vrede en vryheid want DIS wat die geskiedenis ons leer, nog altyd in Afrika ontbreek. DIS waaroor die lewe gaan, nie hierdie voortsleurende worsteling vir oorlewing wat sommiges dink “lewe” is nie. Die oplossings deur sogenaamde Afrikaner organisasies gebied, skiet te kort. Dit sê: Kom ons skraap vir ons op hierdie vullishoop gedeeltes skoon, dan woon ons almal lekker saam daar. Wat hulle nie sê nie is die wind kom nogtans van voor en daarmee saam nog vullis en walms. Is die verwagting nou wragtag dat ons vir ewig ander se vullis optel en hulle betaal om dit te kan doen? Waar is jou selfrespek dan? Ons nageslag verdien beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.