Einde van ʼn pad met Universiteit van die Vrystaat

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Deur Dr. Heinrich Matthee, ‘n voormalige navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat.

Geagte prof. Jansen

Bedanking as navorsingsgenoot

Ek werk en woon tans in Nederland as politieke ontleder vir verskeie instansies in die bedryf asook as akademikus. Ek is op die oomblik onder meer ʼn navorsingsgenoot aan die Universiteit van Amsterdam sowel as aan die Universiteit van die Vrystaat.

Die meeste van my werk in die buiteland is in Nederlands of Engels. Die Universiteit van die Vrystaat se voormalige taalbeleid het beteken dat ek graag die klein deel van my akademiese navorsing wat in Afrikaans gedoen is daaraan wou koppel.

Ek was juis besig om stukke wat ek verlede jaar kon plaas in die Al-Jazeera Centre for Studies of die Nederlandse Gasunie aan te pas en by te werk vir moontlike publikasie in Afrikaans. Ek het intussen ook in beleidspublikasies in Engels my band met die Universiteit van Vrystaat vermeld, die laaste keer in die South African Monitor se “Zuma’s Hybrid Regime, the Economy and Sustainable Communities” (2015).

Die nuwe taalbeleid wat op 11 Maart 2016 goedgekeur is, maak nou Engels die hooftaal van opvoeding en administrasie, en skaal Afrikaans se posisie af. Ek kan my nie vereenselwig met hierdie voorbeeld van politieke onderdanigheid deur ’n universiteit wat akademiese outonomie behoort te handhaaf nie. Ek kan my ook nie vereenselwig met die benadeling en verontregting van ’n gevestigde Afrika-taal soos Afrikaans en sy sprekers nie.

Ek bedank hiermee as navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Ek beëindig hiermee ook enige navorsingsuitsette of bemarking ten bate van die Universiteit van die Vrystaat. Dit is ongelukkig die sterkste manier om my afkeur oor hierdie beleid te toon.

Politieke agterryers

Die nuwe taalbeleid is ’n duidelike voetval voor die eenparty-dominante politiek van die dag. Akademiese outonomie en ’n klem op goeie opvoeding en navorsing moes hier tweede viool speel. Enigeen wat in akademiese instellings werk, weet dat die effek van groepdruk, kantoorpolitiek, selfsensuur en hernieude politieke inmenging dan akademiese vryheid verder sal uithol. Van akademiese outonomie op tweede viool is dit ’n kortpad na akademiese gehalte op die tweede rang. Die uitbou van akademiese outonomie by universiteite en die opbou van ’n Afrika-taal tot akademiese taal is in meeste Afrika-lande seldsaam, indien nie afwesig nie. Albei hierdie seldsame prestasies in Suid-Afrika word deur die nuwe taalbeleid eenvoudig weggedruk. Wat sal in die plek daarvan kom?

Kulturele- en taaldiskriminasie

Benewens my hoofbeswaar is daar uiteraard ook andere: Die taalbeleid sal jong Afrikaanssprekende studente en akademici benadeel. Hul grondwetlike reg op opvoeding in hul moedertaal, gelees binne die konteks van artikels 29 tot 31 van die grondwet, word aangetas.

Die kultuurdomein waaruit die Universiteit van die Vrystaat oor jare van sy beste akademici en bydraes ontvang het, word na die hoek geskuif. ʼn Mens kom op kongresse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, of Litnet Akademies uitstekende navorsing teë. Die Universiteit sou dit moes koester, maar verkies om die water na daardie voedingsbodem geleidelik af te sny.

Die medepligtigheid van sommige Afrikaanssprekende akademici aan hierdie aantasting is iets wat hulle voor ernstige gewetenskwessies stel. In die naam van veeltaligheid word een taal, Engels, tot hooftaal verhef, ook al beteken dit dat die meerderheid studente die voordele van moedertaalopvoeding moet ontbeer.

Die hele gees van die taalbeleid weerspreek goed-gedokumenteerde internasionale beste praktyke en regte rondom diversiteit en moedertaalopvoeding by universiteite. Onder die vaandel van brugbou verswak dit die een bewese akademiese brug tussen Afrika en Wes-Europa, naamlik die brug van Afrikaans.

Ek sou kon byvoeg oor Afrikaanse filosowe wat in Nederland in hul moedertaal gewoon die gesprek met Nederlandse filosowe in ʼn vereniging kon voortsit. Ek sou kon verwys na seminare aan die Universiteit van Leuven in Vlaandere oor politiek en die sakelewe, waar al die verrigtinge in Nederlands en Afrikaans kon plaasvind. Of na die bande van kuns en kultuur.

Na akademiese agterryers ?

Maar dan: Die hoofoorwegings by hierdie beleid was nie gekoppel aan akademiese vryheid en gehalte, pedagogiese wysheid of kulturele waardering nie; dit was politiek gedrewe. Met ʼn blik op die toekoms, kan ʼn mens eintlik die “Free” laat val en maar bly by die “State University”.

Suid-Afrika se eenparty-oorheersde staat word egter nie gekenmerk deur ’n respek vir pluralisme nie, hetsy polities of akademies. Sien my Zuma-studie hierbo, en onlangse artikels hieroor deur dr. Theuns Eloff en prof. André Duvenhage op Litnet. Die regering se rekord oor skoon administrasie of dienslewering raak verbysterend sleg.

By só ’n State University wat oop is vir politieke inmenging stry dan later enkele eilande van uitnemendheid voort; telkens ontstaan egter weer spreidende moerasse van laer gehalte en ʼn broeierige kampuskultuur. Daaruit word weer allerlei nie-akademiese verskynsels gebore.
Buitelandse akademici ken ongelukkig talle soortgelyke voorbeelde in Afrika. Dalk ontwikkel die toekoms anders, maar dit lyk tans na die waarskynlikste toekomsscenario vir die Universiteit van die Vrystaat. Tot onnodige nadeel van Afrikane, ook die Afrikaanstaliges en Afrikaners onder hulle. En tot verdriet van almal, ook myself, wat die mense van Suid-Afrika veel beter gun.

Nuwe ligpunte

My advies aan alle Afrikaanstaliges is nou om sover moontlik te help bou aan ander opvoedingsinstellings waar akademiese vryheid weer eendag in Afrikaans kan blom, soos Akademia.

Vir van hulle sal dit nie moontlik wees nie. Maar, in een van daardie ironieë van die geskiedenis, sal juis die naam “Vrystaat” in die Universiteit van die Vrystaat mense bly herinner aan vryheidsidees wat bestaan.

Ook dít is deel van die geskiedenis van Afrika, en veral van die geskiedenis van die Vrystaat: Mense wie se individuele, akademiese, kulturele of ander vorme van vryheid afgeskaal of misken word, sal dit elders weer gestalte gee. Soms selfs beter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese van Schalkwyk

Dr. Heinrich Matthee,

Dis ‘n kwade dag in die verloop van ons alma mater se geskiedenis, maar ek het groot respek vir sulke beginselvaste optrede. Was daar maar meer akademici van u kaliber. Alle voorspoed vorentoe.

Alle volbloed oud-Kovsies se harte bloei vir daardie instelling. Dit blyk egter dat groot getalle Afrikaanssprekende akademici en studente al tot so ‘n mate beïnvloed is dat hulle Engels verkies, of bloot nie genoeg omgee nie.

JC

Geagte Dr, Dankie vir u artikel, dis uitnemend!Die geveg vir Afrikaans se voortbestaan by UV is egter nog laaank nie verby nie. Afrikaanses SAL hul grondwetlike taalregte moet afdwing in die Vrystaat Hoe Hof, en moontlik in die HHA en die KH. “watch this space”. Indien daar dan howe toe gegaan moet word om ons saak te laat hoor en ons taal te vindikeer; by gebrek aan beskerming van minderheidsregte (waarvan Afr deel van is) binne die konteks van meerderheidsregering wat tans heers; SAL ons dit dan doen. Enigiets vir ONS TAAL! Die allermooiste taal in die wereld! MOET NOOIT… Lees meer »

JC

Geagte Dr, Dankie vir u artikel, dis uitnemend!Die geveg vir Afrikaans se voortbestaan by UV is egter nog lank nie verby nie. Afrikaanses SAL hul grondwetlike taalregte moet afdwing in die Vrystaat Hoe Hof, en moontlik in die HHA en die KH. “watch this space”. Indien daar dan howe toe gegaan moet word om ons saak te laat hoor en ons taal te vindikeer; by gebrek aan beskerming van minderheidsregte (waarvan Afr deel van is) binne die konteks van meerderheidsregering wat tans heers; SAL ons dit dan doen. Enigiets vir ONS TAAL! Die allermooiste taal in die wereld! Moet nooit… Lees meer »

Wynand

Baie baie dankie vir hierdie skrywe! Dit gee weer hoop en ek hoop die mense wat Afrikaans probeer afskaal lees dit en verstaan die skade wat hulle berokken. maar ons sal weer uitstyg soos wat U tereg gese het – en met vlieende vaandels oor die volgende hekkie kom.
baie dankie!

Johann Marx

Jonathan Jansen klap hande hieroor….net NOG ‘n Afrikaanssprekende wat hy nie hoef uit te staan nie. Hy voel ‘n veer vir Afrikaans….want dis nie sy taal of sy kultuur nie. So, wat soek hy in daardie amp? Dieselfde by PUK. Dan Kgwadi word aangestel….en dan word hy aangeval omdat hy nie die Afrikaanssprekendes se taal en kultuur beskerm nie? Waarom sal hy? Dis nie sy taal of sy kultuur nie? Die grootste probleem by Kovsies en Puk is nie die taal of die kultuur nie….dis die persone wat in amps-posisies sit wat daarop uit is om Afrikaans en Afrikaanse kultuur… Lees meer »