Entstowwe – verpligting kan nie vertroue vervang

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Afvaardiging van die Solidariteit Beweging het Hongarye onlangs besoek. Dit was ʼn ongelooflike skakelgeleentheid en daar is goeie bande gesmee.

Hongarye word geag as een van die sukseslande as dit by inentingsprogramme teen Covid-19 kom. Die land se inperkingsmaatreëls is basies opgehef, mense dra nie meer maskers nie en die angstigheid oor die virus is weg. Die getal nuwe infeksies is weglaatbaar klein. Hulle sê newe-effekte van die entstof is minimaal. Die land het sy ekonomiese groeivooruitskattings positief aangepas.

Mense in Hongarye is oor die algemeen positief oor entstowwe, en die inentingsprogram in die werkplek en elders is vrywillig. Die enkele mense wat nie die entstof geneem het nie, voel ook nie dat daar teen hulle gediskrimineer word nie. Die land was suksesvol, nie omdat inentings verpligtend was nie, maar omdat daar vertroue en sekerheid was. Die blote feit dat daar vryheid van keuse is, is onderliggend aan vertroue.

In Suid-Afrika is daar steeds hoë vlakke van weerstand teen die inentingsprogram. ʼn Mens sou kon argumenteer dat dit verbasend is, veral in die lig daarvan dat daar reeds sowat 2,4 miljard dosisse entstof in die wêreld toegedien is en dat Covid-19 in die entstofsukses-lande ʼn harde hou toegedien is. In Suid-Afrika is daar egter ʼn onderliggende probleem met vertroue. Suid-Afrikaners het in groot getalle hul vertroue in die regering verloor. Die kombinasie van onsekerheid tesame met gebrekkige vertroue lei tot skeptisisme oor entstowwe.

Verpligting sal dit nie regstel nie, maar eerder vererger. Die paradoks is dat vryheid van keuse nodig is vir ʼn suksesvolle inentingsprogram, want ironies genoeg vergroot dit deelname – teenoor verpligting wat weerstand verhoog.

Behalwe die wenslikheid van vryheid van keuse is daar ook ʼn regsdebat wat gevoer word. Die plig van die werkgewer om ʼn gesonde werkplek te vestig en die grondwetlike reg van die werknemer ten opsigte van, onder meer, liggaamlike integriteit, moet gebalanseer word. In ʼn land met hoë vlakke van onsekerheid en wantroue word hierdie regsdebat net soveel meer gekompliseerd.

Solidariteit het ʼn eksterne regsopinie van advokaat K.G. Kemp gekry om te help om duidelikheid oor hierdie omstrede kwessie te kry. Die vertrekpunt is dat werknemers die grondwetlike reg het om entstowwe te mag weier. Werkgewers kan nie ʼn kombersbenadering volg en entstowwe verpligtend maak nie. Dit sal onregmatig wees en Solidariteit sal nie huiwer om ʼn werkgewer hof toe te vat wat dit sou doen nie.

Die departement van indiensneming en arbeid het op 11 Junie 2021 ʼn aanwysing gepubliseer wat riglyne aan werkgewers gee oor, onder meer, hoe om met die vraag oor verpligte inentings om te gaan. Die aanwysing poog om ʼn balans tussen die onderskeie regte te vind. Die aanwysing deel die uitgangspunt dat werknemers die reg het om entstowwe te weier en dat ʼn kombersbenadering nie aanvaarbaar sal wees nie.

Die aanwysing maak wel voorsiening daarvoor dat werkgewers in die drie weke vanaf 11 Junie 2021 werkplek-analises moet doen. Risiko-ontledings moet gedoen word, vakbonde moet gekonsulteer word en dan moet bepaal word of daar uitsonderings is waar entstowwe wel verpligtend kan wees.

Volgens dié aanwysing moet die werknemers se spesifieke gesondheidstoestande en hul reg op liggaamlike integriteit en vryheid van godsdiens, geloof en opinie selfs in hierdie uitsonderings in ag geneem en gerespekteer word. Die werkgewer moet die werknemer behoorlik inlig oor die voordele van die entstofprogram. Indien die werknemer steeds weier, bepaal die aanwysing dat die werkgewer moet kyk na alternatiewe om die werknemer te akkommodeer. Dit kan insluit ʼn alternatiewe pos wat nie inenting vereis nie, strenger protokol, werk van die huis af of ander alternatiewe vorms van akkommodering by die werk.

Dit is betekenisvol dat die aanwysing nie voorsiening maak vir ontslag indien ʼn werknemer sy/haar keuse uitoefen nie. Dit is ook betekenisvol dat die opstellers van die aanwysings die oorspronklike bewoording wat wel voorsiening gemaak het vir ontslag nadat al die alternatiewe uitgeoefen is, verwyder het. Dit is ook reg so; veral in die Suid-Afrikaanse konteks sal dit verkeerd wees as iemand ontslaan word omdat hy/sy ʼn keuse uitgeoefen het. Die aanwysings is egter vaag en daar kan verwag word dat howe nog in die toekoms uitsluitsel hieroor sal moet gee.

Dit is egter belangrik dat verpligte inentings in die werkplek nooit die reël in die werkplek mag wees nie, en die regsposisie daaroor is baie duidelik.

Dit blyk ook dat daar onder werkgewers nie veel sinnigheid is vir verpligte inenting nie. Een van Suid-Afrika se grootste werkgewersorganisasies, Neasa, het reeds aangedui dat hulle teen verpligte inenting gekant is. In die mynbedryf blyk dit ook dat daar redelike konsensus vir vryheid van keuse is. Die departement van basiese onderwys het ook aangekondig dat onderwysers nie verplig sal word om ingeënt te word nie. Werkgewers moet tans risiko-analises doen om te bepaal of inenting in hul werkplekke verpligtend moet wees. Hulle het nog sowat twee weke tyd daarvoor en om met vakbonde te konsulteer. Byna geen werkgewer het al met sulke analises begin of met Solidariteit gekonsulteer nie. Dit blyk dat werkgewers oor die algemeen besef dat verpligte inentings net weerstand sal verhoog en teenproduktief sal wees.

Daar is ʼn regstreekse verband tussen mense se onsekerheid en weerstand teen die inentingsprogram, en wantroue in die regering. Daardie vertroue gaan nie herstel nie. Indien die regering ʼn suksesvolle inentingsprogram in Suid-Afrika wil sien, moet die privaat sektor en burgerlike samelewing op groot skaal toegelaat word om by die aankoop, verspreiding en toediening van entstowwe betrokke te wees.

Om wantroue weg te verplig, sal nie werk nie en ons almal besef dit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Regtigegtig ·

Verstaan glad nie waarom die inenting goed gepraat word nie, oral om my raak mense baie siek en gaan dood na hul die inenting ontvang het, maar stories word dood gesmoor. Dit kan net die Bose en sy werker wees wat hier agter sit.

OW ·

Ek kan nie met jou saamstem nie.As jy enige tekens en simptome toon kan jy nie die entstof ontvang nie.Dit is standaard vir enige siekte,wat inenting vereis.Die vaksines word oa voorberei waar lewendige verswakte virusse geneem word om teenliggame te vervaardig na toediening.Daar is miljoene lewens oor die afgelope 100 jaar gered deur vaksines en dit is beslis nie die bose se werk nie.

Regtigegtig ·

Hulle het geen simptome gehad voor hulle die inenting gekry het nie, vier weke later is hulle nou dood siek. So inenting het nie verhoed dat hulle dodelik siek raak nie. Ek deel maar net wat ek sien by my ma ouetehuis gebeur. Ek hoor wat jy se oor inenting van ander siekte( wat oor jare beproef is voor dit vir mense gegee is) wat oor jare sukses het en stem saam. Ek se maar net wat die inenting met die bejaarde mense by my ma se ouetehuis toe.

katara ·

Watter mense is dood van inentings? Ek ken maklik 30 mense wat inentings gekry het want ek is ‘n gesondheids werker en NIEMAND was eers siek nie.
Asseblief, kan jy vir ons die inligting deurgee dat ons hierdie bose inentings proses kan stop.

Regtigegtig ·

Ek ken nog nie iemand persoonlik wat dood is aan die inenting nie maar my niggie se dogter van 26 het die inenting gekry in Engeland want sy werk daar en sy het n beroerte gehad, haar een kant van haar gesig is nou verlam, hoop dit sal weer reg kom met tyd.

katara ·

Regtigegtig, hoe lank na die inenting het sy die beroerte gehad en het sy enige onderliggende siekte toestande gehad? of was sy op die pil? Daar is baie goed wat ook ‘n beroerte kan veroorsaak. Ek se nie dis onmoontlik dat dit die inenting was nie. MAAR.
Jy het ‘n 16 % kans om bloedklonte te ontwikkel agv Covid-19, ons sien nou daagliks mense wat bloedklonte kry wat Covid-19 positive is.

Alisia ·

Ek is jammer maar ek sal dit ook nie vat nie. Ek weet self van mense wat niks makeer het nie, die entstof gevat het en dan dood is of baie ernstig siek is.

katara ·

Ek is self ‘n gesondheids werker en het al die inenting gekry, ek ken maklik 30 mense wat die inenting gekry het wat NIKS oorgekom het nie. As julle weet van mense wat dood is agv die inenting moet julle dit rapporteer, want dan moet ons die proses stop sit.

katara ·

Ek glo dat mense moet ophou om hierdie voor die regering se deur te gooi. Die inentings word nie eers hier gemaak nie. Ons moet oor hierdie ding kom waar mense dink hulle weet beter as mediese werkers en dokters omdat hulle ‘n Youtube video gesien het. Het die mense nie meer verstand nie?

Regtigegtig ·

Ons het 3 dokters in ons familie en hulle is nie baie slim nie, het goed soos papegaaie geleer en as goed nie 1,2,3 genommer is nie kan hulle dit nie uitpluis nie.So moet as nie jou hoop op medisie sit nie. Ken jou eie liggaam en kyk self mooi na hom en besluit self oor jou liggaam, jy is die een wat moet saam jou liggaam leef.

katara ·

Ek is jammer regtigeggtig, ek werk al 15 jaar in die mediese wereld en ek het al sulke dokters teegekom, MAAR, die oorgrootte meerderhied dokters is NIE so nie. Ek sit eerder my geloof in mense wat gaan swot het en die geleertheid het. Ek werk immers saam met die mense en beleef hoe hulle mense wat ek gedink het gaan sterf, red. so ek is nie so sinies soos jy nie.

groenboer ·

Kom ons aanvaar argumentsonthalwe daar is ‘n risiko verbonde aan die entstof. As genoeg mense die entstof neem, stop ons die pandemie, danksy diegene wat die entstof geneem het. Dié wat geweier het, geniet dan ook al die voordele, maar sonder die risiko – hulle het in effek gerieflik hulle eie risiko oorgedra aan diegene wat wel ingeënt is.

Nou ja, dalk niks daarmee verkeerd nie, maar dan is dit dalk ook heeltemal reg dat dié wat die entstof weier, ook toegang geweier word tot openbare ruimtes waar hulle ‘n risiko vir ander inhou? So, geen toegang vir hulle tot openbare hospitale nie, hulle bly uit staatsgeboue, hul kinders woon nie ‘n staatskool by nie, ens.

Op daardie manier word almal toegelaat om self te besluit watter risiko hulle wil loop, niemand word in enigiets ingeforseer nie en ons kan almal in vrede leef.

katara ·

Groenboer,
Ek hou baie van hierdie idee. Dan word niemand gedwing nie, maar diegene wat nie die entstof wil he nie kry ook nie voordele sonder risiko nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.