Ethiopië: burgeroorlog oor Tigray?

Ethiopiese vlugtelinge wat uit Tigray gevlug het. (Foto: Ebrahim HAMID / AFP)

Ethiopië, ’n land in Oos-Afrika met naastenby 100 miljoen mense, se etniese balans was nog altyd moeilik om te hanteer. Die grootste volke is die Oromo-stam met sowat 35%, die Amhare met 28% en die Tigray met 7% van die totale bevolking. Daar is ook konflikte met die buurlande, wat ook met die grense wat etniese groepe skei, te doen het. Dat Ethiopië dit sedert die afskeiding van Eritrea in 1994 kon regkry om as eenheid behoue te bly, is op sigself merkwaardig.

Die Grondwet van 1994, wat ná die omverwerping van die wrede kommunistiese leier Mengistu Haile Mariam in 1991 uitgewerk is, het die land ’n federasie met etnies gebaseerde state gemaak. Dit is vir Afrika, met sy ontkenning van etnisiteit en die klem op “nasiebou” ’n lofwaardige uitsondering. Die reg tot afskeiding word uitdruklik in die Grondwet genoem, maar die slegte voorbeeld van Eritrea, sedert sy “vryheid” ’n mislukte staat en ’n uiters beperkende diktatorskap, het die deelstate dalk oortuig dat die gesamentlike Ethiopië, in die konteks van Afrika een van die meer suksesvolle state, die beter opsie is.

Die Amhare was tradisioneel die elitevolk onder die lang bewind van die keiser Haile Selassie en ook die kommunistiese diktator Mengistu. Met die omverwerping van Mengistu het die Tigray, ’n relatiewe klein volk, ’n wesenlike rol gespeel. Die langdurige leier Meles Zenawi, wat van 1995 tot 2012 regeer het, was ’n Tigray en het sleutelposisies in die weermag en administrasie met sy volk se mense gevul. Die regerende party, die Ethiopian People’s Revolutionary Democratic Front (EPRDF), het bestaan uit verskeie etniese- en streekpartye, waarvan die Tigray People’s Liberation Front (TPLF) die belangrikste een was.

Onder Meles se opvolger, Hailemariam Desalegn, het die invloed van die Tigray en die TPLF begin taan. Die Oromo-volk, die grootste volk van Ethiopië, maar wat polities aan die agterspeen gesuig het, het in opstand gekom en sy regverdige deel in die land se politiek geëis. Abiy Ahmed van die Oromo Democratic Party (wat ook deel van die ERDF-alliansie is) was in 2018 die eerste Oromo wat die pos van eerste minister beklee het, as toegewing aan sy volk en om die eenheid van die land en van die regeringsparty te behou.

Abiy het Ethiopië begin hervorm en demokratiseer. Die Tigray as dominante volk en die TPLF as hul party het verder invloed verloor en hul mag was nou net beperk tot hul eie etniese deelstaat. Talle prominente Tigray-regeringslede is afgedank as deel van ’n skoonmaakproses teen korrupsie (en teen die ou magselite). Abiy het selfs ’n nuwe party gestig wat die ERDF vervang het, en waarvan die TPLF nie meer deel is nie. Hy wil selfs die 1994-Grondwet vervang met ’n nuwe een, wat wegdoen met die sterk klem op selfbeskikking. Die Amhare het op hul beurt warm geword vir Abiy en sy nuwe party en wil ook graag die dominasie van die Tigray agterlaat. Die magsoorname deur die Amhare en Oromo-volk en die verwydering van die Tigray volg die ou beginsel van Afrika: “Nou is dit ons stam se beurt om te skep.”

‘n Tydelike skuiling vir Ethiopiese vlugtelinge wat uit Tigray gevlug het. (Foto: Ebrahim HAMID / AFP)

Die wrywing tussen die partye binne die alliansie en tussen die etniese groepe het tot ’n uitbarsting gekom toe die TPLF in hul deelstaat teen die wil van die sentrale regering ’n verkiesing gehou het. Dit was ’n openlike uitdaging van Abiy se gesag en hy het die weermag gestuur om die TPLF te straf nadat hulle ’n weermagbasis binne die Tigray-streek aangeval het (wat hulle egter ontken). Die aanval op Tigray is aangekondig as beperkte strafekspedisie, maar daar is aanduidings dat daar reeds ’n burgeroorlog aan die gang is met honderde mense wat gedood is, soldate sowel as burgerlikes.

Ethiopië se federale karakter gaan so ver dat die deelstate hul eie weermagte het, en Tigray se weermag bestaan juis uit gedugte soldate wat hulle nie sommer laat onderwerp nie. Die sentrale regering het reeds Tigray ekonomies geïsoleer en betaal geen fondse meer oor nie, terwyl Tigray al hoe meer praat van afskeiding.

Eritrea, die noordelike buurland, met wie Ethiopië eers in 2018 vrede gemaak het en waarvoor Abiy die Nobelprys vir vrede ontvang het, is ’n verdere rolspeler. Die Eritreërs en die Tigray is aartsvyande omdat in die oorlog tussen Ethiopië en Eritrea van 1998 tot 2000 dit veral Tigray-soldate was wat teen Eritrea geveg het, aangesien die dispuut oor die grens tussen die state veral hulle streek betref. Die Tigray het daarom ook die vredesluiting met Eritrea as verraad gesien. Daar is bewerings dat Eritrea reeds by die konflik betrokke geraak het deur Tigray ook vanaf die noorde aan te val en sodoende in ’n tweefrontoorlog in te trek. Tigray het na bewering in weerwraak ’n vuurpylaanval op die Eritrese hoofstad Asmara se lughawe van stapel gestuur.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.