Etnisiteit as die olifant in die vertrek

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder. (Argieffoto: DoC)

Afrika se grense is uniek. In die wêreld is dit die kontinent met die meeste liniaalreguit lyne as grense tussen state. Hierdie lyne is in Europa by die Berlynkonferensie van 1884 deur die Europese moondhede op kaarte getrek in die verdeling van Afrika tussen hulle. Die Afrika-inwoners het natuurlik geen seggenskap oor die grense gehad nie. Dit was deel van die negentiende-eeuse Europese “stormloop vir Afrika” of “scramble for Africa”.

Hierdie koloniale stormloop het kunsmatige lande geskep met talle verskillende volke en tale in een land. Afrika sukkel tot vandag toe nog om die regte nasiebouresep vir hierdie lande te kry. In die sestigerjare was die slagspreuk in hierdie nuwe onafhanklike Afrika-state “For the nation to live, the tribe must die”. Vernietig etnisiteit en kulturele verskille sodat ’n nuwe nasie tot stand kan kom.

In Suid-Afrika is dit ook die benadering.

“Etnisiteit is ’n apartheidsbegrip wat deur die Nasionale Party-regering gebruik is om swart mense kunsmatig in stamme te verdeel. Gelukkig, sedert 1994 met die totstandkoming van die reënboognasie, bestaan dit nie meer nie. Ons is nou almal net Suid-Afrikaners.”

Dit is die huidige polities korrekte standpunt wat deur ANC-politici en sommige joernaliste gebruik word. As jy daarvan verskil, word jy by die markplein van openbare debat opgehang.

Prins Mangosuthu Buthelezi reageer só daarop: “Our ethnicity was not invented by apartheid, only used by it. I did not create Zuluness. Zuluness created me and it will last long after I am gone.”

Dan verduidelik hy dat hy nog nooit ’n probleem gehad het om homself as Zoeloe én Suid-Afrikaner te sien nie. Die begrippe bots nie.

As jy Suid-Afrika deur nét ’n reënboogbril bekyk, waar etnisiteit geen rol speel nie, gaan jy baie sake nie verstaan nie.

Thabo Mbeki het in sy tyd as president geïrriteerd opgemerk dat ministers bykans altyd direkteurs-generaal as hoofde van hulle departemente uit dieselfde etniese groep as hulself verkies het.

Waarom was die eerste besoek van Ramaphosa, nadat hy in 2017 tot nuwe ANC-leier verkies is, aan die Zoeloekoning? Omdat etnisiteit steeds in Suid-Afrika ’n rol speel.

Al die ANC-leiers sedert Albert Luthuli was Nguni’s, Zoeloes of Xhosas. Ramaphosa is ’n Venda. Om dit nog meer ingewikkeld vir Ramaphosa te maak, is daar vir die eerste keer geen Zoeloe tot die ANC se topses-leiers verkies nie.

Hoekom is minister Cele as minister van Polisie nie tydens die vorige kabinetskommeling afgedank nie? Ministers Bheki Cele én Zweli Mkhize is prominente Zoeloe-ministers in die kabinet. Na die bewerings rondom gesondheidskorrupsie kon Ramaphosa nie vir Mkhize as minister behou nie. As hy beide Mkhize en Cele as Zoeloe-ministers afdank, sou dit as ’n berekende anti-Zoeloe skuif gesien word. Etnisiteit red Cele.

Die Julie-onluste het in KwaZulu-Natal en in Gauteng begin. Armoede is as rede aangegee. Gewoonlik versprei sulke onluste vinnig landswyd. Waarom het die onluste nie na byvoorbeeld Limpopo of Noordwes versprei waar mense baie armer as in KwaZulu-Natal is nie? Het etnisiteit ’n rol gespeel? In KwaZulu-Natal is meer as 80% inwoners Zoeloesprekend en in Gauteng is Zoeloe steeds die grootste taal.

Ramaphosa se opdrag dat die onluste dadelik moet ophou, het geen effek gehad nie. Is dit toevallig dat toe die Zoeloekoning die volgende dag dieselfde opdrag gee, die onluste gestop het? Onthou hoe die vorige Zoeloekoning se ondeurdagte opmerkings oor buitelanders tot xenofobiese aanvalle op buitelanders gelei het.

Professor David Welsh skryf in ’n artikel “een van die merkwaardigste intellektuele verskynsels van die na-oorlogse wêreld is hoe sowel liberaal- as Marxistiese geleerdes die duursaamheid en krag van etnisiteit onderskat het.”

Liberale het voorspel dat mense se etnisiteit sal verdwyn soos hulle met tyd moderner word. Marxiste het voorspel etnisiteit gaan verdwyn soos werkers oor etniese grense teen die besittersklas saamstaan. Die afgelope vyftig jaar was sestig tot sewentig persent van die mense wat in konflikte binne state dood is, as gevolg van etniese botsings. Daarom word etniese verskille in die meeste lande as ’n ernstige werklikheid hanteer. Daar word aanvaar dat dit gevaarlik is en tot konflik kan lei as dit nie reg bestuur word nie.

ANC-leiers ignoreer dit en praat ligtelik oor kulturele diversiteit. Volgens hulle is etnisiteit in Suid-Afrika ’n skadelose toeristeaantreklikheid – niks meer nie. Ons het dit nou weer in September as Erfenismaand gesien. ANC-leiers het die afgelope maand mooi toesprake oor ons kulturele en etniese verskeidenheid gehou. In hulle besluite is hulle egter besig om presies die teenoorgestelde te doen. Hulle probeer ons etniese, kulturele en taalverskeidenheid met ’n tipe Engelse monokultuur vervang. Die huidige geveg oor Afrikaans as uitheemse of inheemse taal op universiteitsvlak bevestig dit terwyl daar basies geen Afrikaanse staatsuniversiteit meer oor is nie.

Tydens ’n gesprek met ’n Mosambiekse leier het ek na die Afrika-slagspreuk “For the nation to live, the tribe must die” verwys.

Sy interessante reaksie was dat, sedert state in die laaste vyftig jaar in Afrika onafhanklik geword het “everything died, but the tribe.”

Terwyl ons in April 1994 ’n “reënboogverkiesing” in Suid-Afrika gehou het, het die Hutus en Tutsi’s – na 30 jaar se mislukte nasiebou – mekaar in Rwanda uitgemoor. Etnisiteit moet ernstig bestuur word, nie geïgnoreer word nie. Dit is hier waar ’n debat oor selfbeskikking, oor die desentralisering van mag en oor ware federalisme ter sake is. Etnisiteit kan slegs na harmonie bestuur word en vrede bring in ‘n atmosfeer van akkommodasie – nie in ‘n atmosfeer van gedwonge assimilasie nie.

Nigerië het die probleem probeer oplos deur die staat in steeds meer en kleiner federale state op te deel. Waar Nigerië in 1960 met drie streke begin het, is dit in 1967 na 12 federale state verander. In 1987 is Nigerië in 19 federale state verdeel en in 1996 na 36 state. Taal, kultuur en etnisiteit speel ’n groot rol by die afbaken van federale state se grense, hoewel dit nie polities so deur hulle erken word nie.

Na Ethiopië se burgeroorlog oor Eritrea het die land in 1994 ’n nuwe grondwet gekry. Daarvolgens is Ethiopië in 9 etniese of taal federale state opgedeel. Die grense van die state is met die taal en kultuur van die inwoners as riglyn getrek. Dit het nie al Ethiopië se probleme opgelos nie, maar het groter stabiliteit en ekonomiese groei gebring.

Uit al bogenoemde is dit duidelik dat Suid-Afrika nog baie van hierdie lesse sal moet leer. Die vraag is of ons dit op die kort verstandige onderhandelingsweg gaan leer, of op die lang konflik- en geweldsweg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Ditsem, dr. Mulder. Om ‘n trotse Afrikaner of Zoeloe te wees het tog niks met rassisme te make nie? Die Afrikaner is net soos die Duitsers te skaam om hul kultuur te handhaaf en dit uit te bou. So het die ANC en sy meelopers ook “Politieke korrektheid” gebruik om regverdige kritiek as rasissme af te skiet. Die resultaat: S.A. is ten sterwe toe siek, want niemand wil vir die Keiser vertel dat hy naak is nie.

Meinung ·

Ai, lekker pitkos, lekker om te lees en enorm interessant. Dankie doktor Mulder. As ons darem net meer van jou soort in die politiek kon hê, sou dinge veel minder soos ‘n stampkarwedstryd in die liewe land van ons kon wees.

Hendrik ·

Die federale staat oplossing is ooglopend vir probleme in Suid-Afrika. Die korrupte staat met al die wetgewing is natuurlik die grootste probleem en daarna om die dienslewering in die nie-selfregerende gebiede te herstel.

Erika ·

Jy moet mekaar defnitief respekteer

To make a diffrence it musnt be one sided only…..
Those who make the loudest noise about others are usually most likely the ones likely to be racists
No one person here would Exist /Born without uour forefathers contribution ..coming here in southren africa

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.