EU se kompromis oor migrante

Vlag van die Europese Unie (Foto: Elias/Pixabay)

Die regerings van die lidlande van die Europese Unie, verteenwoordig deur hulle ministers van binnelandse sake, het tydens ʼn beraad in Luxemburg op strenger reëls vir asielsoekers besluit.

Dit het nodig geword weens die grootskaalse migrasie uit die globale Suide onder die dekmantel van asiel. Die getalle migrante wat oor die Middellandse See vanaf Noord-Afrika en die Midde-Ooste na Europa beweeg, neem die afgelope tyd weer sterk toe.

Die strydpunt is al ʼn geruime tyd dat alle migrante in drie lande langs die Middellandse See aanland, naamlik Spanje, Italië en Griekeland. Min asielsoekers wil daar bly, want dit is eerder arm lande, maar dit is ʼn soort wagkamer wat al hoe voller raak. Die bestemmings is die welvarende en liberale lande in die middel soos Duitsland, Frankryk, Nederland, België asook Brittanje (en in ’mate ook Skandinawië) wat in die meeste gevalle verwelkomend is weens hul links-liberale regerings. Die Oos-Europese lande is geen gewilde bestemmings nie en doen ook alles in hul vermoë om massamigrasie te keer.

Die EU-leiers probeer al ʼn geruime tyd onsuksesvol om die migrante gelyk tussen die lidlande te versprei terwyl hulle hul aansoek om asiel afwag, wat jare kan neem en waarna baie min in elk geval weer terug gestuur word.

Die kompromis wat nou onderhandel is, maak op papier die maatreëls strenger: asielsoekers uit lande wat as veilig beskou word en wat ʼn geringe kans staan dat hulle aansoek toegestaan word, kan nou in kampe op die grens gehuisves word waar hulle aansoeke relatief spoedig hanteer sal word. Teoreties is dit dan makliker om hulle terug te stuur as tans, waar hulle in stede woon en dikwels nie meer opgespoor kan word nie. Boonop wil die lande van herkoms hulle mense dikwels nie terugvat nie.

Die ander reëling gaan oor die verspreiding binne die EU. Die lande in die Suide wat die ingangspoorte is, is oorvol en sukkel om die finansiële las van die asielsoekers te dra. Die welvarende lande het reeds vrywillig (maar dikwels teen hulle eie burgers se wil) meer mense ingeneem as wat hulle moes, terwyl die Oos-Europese lande hand en tand baklei teen die inneem van migrante in hulle lande.

Aangesien hulle nie geforseer kan word nie, is daar nou ʼn afkoopboete van 20 000 Euro per aansoeker wat nie geneem word nie bepaal. Hongarye en Pole het egter die bepaling verwerp. 20 000 Euro per kop klink baie, maar dit is net ʼn breukdeel van die koste wat een asielsoeker in die lang jare wat hy sy aansoek afwag, veroorsaak.

Selfs hierdie kompromis vir strenger reëls sal waarskynlik vorentoe weer afgewater word. Die Europese Parlement, wat ʼn linkse meerderheid het, sal heelwat veranderinge vra. Enkele lidlande sal die reëls uitlê soos dit hulle pas. Veral Duitsland, weens sy vrygewige versorging van asielaansoekers die gewildste bestemming, se linkse regering sien dit as ʼn beginselsaak om niemand die deur te wys nie en om niemand terug te stuur nie, al het hulle nie aanspraak op asiel nie.

Ter wille van ʼn ooreenkoms het die Duitse regering die kompromis aanvaar en kon ook geen uitsonderings vir minderjariges en vroue beding nie. Dit het weer gelei tot spanning binne die koalisieregering en ook binne die Groenparty, vir wie die “een wêreld sonder grense” ideaal deel van hulle DNS is.

ʼn Heel ander vraag, wat lande soos Hongarye en Pole vra, is natuurlik hoe die EU hulself kan aanmatig om oor die kern van state se soewereiniteit, naamlik hulle grensbeheer en wie hulle in hulle land wil toelaat, te wil besluit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Die Europese lidlande moet streng optree en die onwettige immigrante terug stuur afrika toe ,hoe meer immigrante hulle lande binnekom hoe slegter gaan die toekoms vir hulle raak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die EU moet die ANC aanstel as konsultante. Hulle ken van syfers en teikens stel.

Treurwilger ·

Wat ‘n nagmerrie vir die minderheid Europeërs wat hul Westerse kultuur en standaarde nog koester.
En hoe belaglik dat lande van herkoms die ekonomiese vlugtelinge dikwels nie wil terugneem nie!
Hoe verduidelik hul regerings dit aan amptenare in Europa?
Totdat gewetenlose mensesmokkelaars nie op heterdaad vasgetrap en toegesluit word nie, het ek egter nie veel simpatie nie.
Die EU se jarelange onbeholpenheid hiermee is verstommend.

houopkruip ·

Die vestiging van die EU was die grootste tragedie wat Europa getref het (soos die Unifikasie in SA 1910).
Gelukkig kon Britanje wegbreek (ja, op die korttermyn nie so goed nie maar op die lang termyn ongetwyfeld die beste besluit).
Goed so vir Pole en Hongarye vir hul vasbeslotenheid om hulle nie te laat voorskryf deur die liberale, onbevoegde von derLeyde en kie nie.
Stadig maar seker kom die mense tot hul sinne (Italie, ens).

Marthinus W ·

Dit lyk vir my asof die Oos-Europese lande nou die kitaar slaan in Brussel. En hulle is nie vreeslik demokraties nie. Sommige lande kla ook oor die groot aantal Oekrainers wat hulle moet voed. Hulle wil graag die oorlog in Oekraine beeindig sien, sodat die Oekrainers kan teruggaan huistoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.