Europese minderheidsregte weer onder die soeklig

Europese Unie-vlae op 21 Junie 2023 naby die Barlaymont Europese Kommissie-gebou in Brussel, België. (Foto: Jakub Porzycki/NurPhoto via AFP)

ʼn Paar gebeure in Europa en omgewing, laat weer die kwessie van minderheidsregte, insluitend territoriale aspirasies, onder die soeklig kom.

Hieronder tel die selfmoord-bomaanslag van Koerdiese separatiste in Turkye, die Nagorno Karabach-tragedie in Azerbaidjan, en ʼn versoek van die Spaanse regering dat naas Spaans, ook Katalaans, Baskies en Gallies as amptelike tale van die Europese Unie (EU) verklaar word.

En moet ook nie sommer van die opkoms van rugby in Ierland in hierdie konteks vergeet nie.

Hoewel hierdie gevalle baie in gemeen het, is daar ook aan elke groep se geval ʼn uniekheid gekoppel wat nie buite rekening gelaat moet word nie.

Nagorno Karabach

Die geval van die enklawe Nagorno Karabach (waaroor meer hier gelees kan word), handel dit oor ʼn beduidende Christen-Armeense bevolking wat in ʼn enklawe, wat deur die Moslemse Azerbaidjan omring is, gewoon het. Hulle het ook ʼn nie-erkende eie regering gehad, maar is nou in effek uitgedryf en het na Armenië gevlug.

Die Armeense geskiedenis is egter self een van stryd om behoud, en die huidige grondgebied is net ʼn klein deeltjie van die oorspronklike hartland. Armenië maak daarop aanspraak dat dit die oudste Christenland ter wêreld is (dit word deur Ethiopië uitgedaag), en het nie net grondgebied aan Turkye afgestaan nie, maar is vroeg net meer as ʼn 100 jaar gelede in Turkye aan ʼn groot volksmoord onderwerp. ʼn Armeense eenheid van die Ottomaanse weermag is byvoorbeeld die Swart See ingedryf om te verdrink. Baie Armeniërs bevind hulle nou in diaspora, waaronder in Frankryk en die VSA.

Op sy hoogtepunt het Armenië uit twee hoofgebiede bestaan, naamlik die oorspronklike hartland in die noordooste van Turkye en die huidige Armenië. ʼn Tweede gebied is teen die Middellandse See gevestig waar dit ʼn tipe eenheid saam met ʼn paar kruisvaarderlande gevorm het, en onder andere noue betrekkinge met die Franse koningshuis gehad het. Armenië was deel van die Sowjetunie en het na die val van die Berlynse muur uiteindelik weer onafhanklikheid herwin. Armeense terroriste van ASALA (die Armeense geheime leër vir die bevryding van Armenië) het Turkye ʼn hele ruk lank aangeval, veral lugdienste en ambassades.

Dit wat van die oorspronklike Armenië oorgebly het en taamlik arm is, moet nou ook nog sowat 120 000 vlugtelinge wat alles verloor het akkommodeer.

Turkye

Die aanval van die Koerdiese separatiste in Turkye staan in dieselfde historiese konteks van die Armeense lot aan die hand van die Turke.

Koerdistan is met die trek van landsgrense van die aardbol gevee. Koerde het hulle toe in Turkye, Irak en Iran bevind. Daar is ook heelwat in Sirië. In Iran, Turkye en Irak is hulle tradisioneel aan erge onderdrukking onderwerp.

Die Koerde praat ʼn Indo-Germaanse taal, die groep waartoe ook Afrikaans behoort. Hulle is egter ook meestal Moslems, die oorheersende godsdiens van die “gasheerlande”. In Turkye is hul stede se name verturks, en hul taal verbied. In Irak het die destydse despoot, Saddam Hoesein, onder meer gifgas teen die Koerde ingespan, maar is skuldig bevind en gehang vir massamoorde op Sjiïtiese Moslems nog voor hy vir die massamoorde op Turkye verhoor kon word.

Met die Amerikaans-geleide aanval op Irak, is ʼn de facto-selfregerende gebied vir die Koerde in die noordooste geskep, en dit het ook in die nuwe grondwet van Irak neerslag gevind. Radikale groepe gebruik soms hierdie “Koerdistan” as basis om aanvalle in Turkye uit te voer, en ook nou het Turkye gereageer deur lugbombardemente op teikens in die Koerdiese streek uit te voer.

Turkye, wat graag lid van die EEG wil word, het intussen sy beperkings op Koerde in die land verslap, en na wat berig word, het van die Koerdiese stede hul Koerdiese name herwin. Die EU se handves van minderheidsregte skryf egter die nakoming van hierdie regte om lidmaatskap te kan verkry voor. Turkye meen hy het die voorwaardes nagekom, en maak nou rug styf omdat hy steeds nie as lid toelaat word nie.

Dat Turkye steeds ontken dat die volksmoorde op die Armeniërs en Koerde plaasgevind het, bly ʼn struikelblok. Boonop het ook die Aramese Christen-minderheid en die sigeuners hierdie lot te beurt geval.

Spanje

Tydens die Franco-diktatuur in Spanje is minderheidsregte erg onderdruk.

Daar was op ʼn tyd byvoorbeeld ʼn verbod op die praat van Baskies. Na sy afsterwe het die Baske en Kataloniërs heelwat meer regte, en ook streeksoutonomie gekry. In Oktober 2017 het Katalonië egter groter outonomie opgeëis na ʼn referendum gehou is. Die Spaanse howe het egter die referendum as ongrondwetlik verklaar (omdat dit nie die ganse Spanje ingesluit het nie) en groter onafhanklikheid ook ongrondwetlik verklaar.

Die Katalaanse president, Carles Puigdemont, en verskeie ander wat tronkstraf ontduik het, het in die buiteland gaan woon. Puidemont is nou, ses jaar later, steeds ʼn lid van die Europese parlement, en woon in Brussel in ballingskap.

Die Galliese bevolking in Spanje is minder bekend, maar hulle tel vir sowat vier miljoen siele. Hulle praat ʼn Keltiese taal, met naaste verwantskap aan Iers en woon in die noordweste van Spanje, ook in Portugal, en geniet gebiedsoutonomie in Spanje.

Die wind het egter skielik anders gedraai. Die huidige Spaanse (waarnemende) premier, Pedro Sánchez, se regering het eers die “kabinet” van die EU, die Europese Kommissie, genader om te vra dat Baskies en Katalaans, saam met Spanje se Gallies, as amptelike tale van die EU aanvaar word. Die versoek is eers op ys geplaas om verder te ondersoek.

Die EU het reeds 24 amptelike tale, wat getolk en vertaal moet word, en ʼn peperduur proses is. Ironies het Engels een van die amptelike tale gebly nadat die Verenigde Koninkryk uit die EU geBrexit het, onder meer omdat Engels ʼn bykomende amptelike taal in Ierland en Malta is.

Op die oomblik word egter wyd bespiegel of Sanchez se versoek so edel is. Die Spanjaarde kan dalk in Januarie volgende jaar weer verkiesing moet hou as die deurmekaarspul met koalisies wat na die verkiesing in Julie vanjaar ontstaan het, nie uitgepluis kan word nie. Die steun van die Baskiese en Katalaanse partye kan hom ʼn regeerbare meerderheid besorg. Intussen word die olyftak na onder andere Puidemont uitgehou.

Puidemont het egter voet neergesit. So iets kan net oorweeg word as hy en sy ondersteuners amnestie verkry. De Standaard meen dat so ʼn amnestie nou “dichterbij” kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.