Europese referendums: eendag in Suider-Afrika?

stem

Grafika: PaliGraficas/Pixabay.com

In die Noord-Italiaanse streeksreferendums in Veneto en Lombardye het sowat 90% van die kiesers op 22 Oktober gekies vir meer outonomie. Hulle het in ’n niebindende raadgewende referendum gekies dat die streeksregerings met die sentrale regering onderhandel vir meer plaaslike outonomie. Die stempersentasie in Veneto was 57%, in Lombardye sowat 40%.

Veneto en Lombardye is noordelike streke in Italië wat onderskeidelik die stede Venesië en Milaan insluit. Hulle is die tuiste van byna ʼn kwart van Italiaanse burgers. Identiteite gekoppel aan streeksdialekte en die eie taal van byvoorbeeld Veneto, asook ’n bewussyn van eie republieke lank gelede, speel ’n rol in Noord-Italië se politiek. Tog draai die veldtogte vir groter outonomie in Noord-Italië, maar ook in Skotland en Katalonië, ook om ekonomiese en politieke oorwegings.

Ekonomiese en kulturele proteksionisme

Die twee noordelike streke word redelik goed bestuur en lewer onderskeidelik byna 10% en 20% van Italië se bruto nasionale produk. Baie Noorderlinge is ontevrede met die ondoeltreffende nasionale burokrasie wat hulle belastinggeld bestee aan die belastingontduikende suide van Italië, soos hulle dit beskou.

Volgens die nasionale statistiekdiens ISTAT was die noordelike provinsies, wat ook die semi-outonome Suid-Tirool insluit, se gemiddelde BNP in 2015 byna dubbel in vergelyking met die suide s’n. Sowat 55% van die bevolking in die suide is armlastig of byna so, in vergelyking met byvoorbeeld 15% in noordelike streke. Noorderlinge voer aan hulle streke stuur 54 miljard euro meer belastinggeld na die sentrale regering in Rome as waarvoor hulle dienste terugkry.

In ʼn tydperk van globalisering ding die streke ekonomies mee met rolspelers uit China en Indië. Baie streeksleiers wil dus meer van hul eie bronne plaaslik belê. Hulle wil ook meer streeksbeheer oor immigrasie, omgewingsake en opvoeding verkry. Dit geld meermale ook vir streke en groepe in Afrika.

Politieke motiewe

Tegnies gesproke is die referendums onnodig hiervoor. Die Italiaanse grondwet laat elkeen van die 20 streke toe om deur dialoog met die sentrale regering hul bevoegdhede uit te brei. Emilia-Romagna, ʼn ander noordelike streek, het juis onlangs so ʼn proses begin.

Luca Zaia, die president van Veneto, en Roberto Maroni, sy eweknie in Lombardye, beweer egter hulle pogings tot dialoog met die sentrale regering is geïgnoreer. Hulle is albei van die Lega Nord (Noordelike Liga) en wil die referendumsteun gebruik in onderhandelinge met die sentrale regering.

Hulle teenstanders voer aan dat die Liga die referendums veral gebruik om noordelike steun te behou terwyl dit in die suide ʼn veldtog voer met die oog op verkiesings in 2018.  Die Liga is in alliansie met die sentrumregse Forza Italia van oudpremier Silvio Berlusconi. Die 81-jarige Berlusconi steun wel groter outonomie, al is dit maar om steun te kry vir sy moontlike hertoetrede tot die politiek.

Tussen federalisme en afstigting

Ana Cento Bull dui aan dat die Liga tydens 1984-1995 en Berlusconi se eerste koalisieregering federalisme gesteun het. Onder Umberto Bossi het die Liga tot 1999 afstigting gesteun, maar as ’n beleid om druk op die interne Italiaanse orde te plaas. Daarna het dit vir meer as ’n dekade magsafwenteling en fiskale federalisme gesteun om alliansies te bou en groter kiesersteun te probeer kry.

Sedert 2013 het die Liga onder Matteo Salvini lank geneig na sesessie-aansprake, maar wyer uitgedra. Salvini het ook die Katalaanse en Skotse onafhanklikheidskampe gesteun en ’n EU met meer magte vir die nasionale state en streeksowerhede voorgestel.

Deesdae soek die Liga egter alliansies en is sy aansprake groter outonomie vir alle streke in Italië. Daarmee ry dit ook op die golf van wyer burgerlike ontevredenheid met Italiaanse regeringsbeleid.

Sosiale en “linkse” identiteitspolitiek

Die steungroepe vir groter outonomie se dryfvere is divers. Dit blyk uit studies van Anthony Pierucci en meningspeilings dat net minder as 50% van Noorderlinge eerder ’n pragmatiese vorm van federalisme steun, teenoor sowat 25% wat deur taal en kultuurbelange gemotiveer word, en sowat 19% wat die anti-Rome- en anti-Suide-standpunte van die Noordelike Liga steun. Sulke pragmatiese oorwegings sou ook in Afrika-lande ’n sterk rol speel.

Die Noordelike Liga het ná dekades wel die politieke taboe rakende streeksidentiteite gebreek. In streke soos Toskane en Emilia-Romagna het die Kommuniste reeds voorheen ’n baie sterk plaaslike identiteit aan hulle werkersgemeenskappe verskaf.

Baie linkse groepe het mettertyd meer pro-federalisme en beskerming van eie streekstale gesteun. Die Vyfster-beweging van Beppo Grillo steun ook deesdae dikwels die Liga tydens referendums.

Net soos in Katalonië en in Skotland, gee identiteitspolitiek in Noord-Italië baie aandag aan sosiale, ekologiese en inklusiewe temas wat ideologies aansluit by baie groepe in Suider-Afrika. Paolo Coluzzi noem dan ook in ’n studie oor mikronasionalismes in Italië “desentralisering en outonomie, begelei deur ’n sterk kulturele toegewydheid en etnies-linguïstiese gewete enersyds, en deur ’n internasionalistiese, progressiewe en ekologiese visie andersyds, kan net bevorderlik wees vir die beter beskerming van minderhede en hulle kulture en vir die opbloei van kulture in sowel die plaaslike as die staatstaal”.

Referendums in Suider-Afrika?

Selfs raadgewende referendums kan duidelik kleiner groepe en streke mobiliseer en ook hulle saak internasionaal bekendstel. Referendums oor ’n beleidskwessie, wette of ’n grondwet kan in demokratiese ordes in Europa klein volke en gemeenskappe beskerm, ’n beleid legitimeer en groot politieke verskille vreedsaam besleg.

Beter praktyke vir referendums het al uitgekristalliseer: duidelike reëls, twee duidelike alternatiewe in die kiesvraag, en ’n neutrale stembusarena wat nie beïnvloed word deur ’n groter mag nie. Referendums onder verspreide groepe sal egter anders georganiseer word as onder streekskonsentrasies soos in Skotland, Katalonië en Noord-Italië die afgelope twee jaar.

Die aard van politieke ordes sal ook die welslae van referendums raak, soos duidelik blyk uit die verskil tussen die genoemde drie Europese referendums. Referendums in hibriede halfdemokratiese ordes soos Suid-Afrika kan byvoorbeeld ’n tweesnydende swaard vir klein groepe wees. Tensy dit met respek vir groepsregte en ander burgerregte geskied, kan regerings en vyandelike faksies dit gebruik om sulke gevestigde regte nog verder uit te hol.

Afrika se geskiedenis is egter vol politieke wisselordes. Die Joroeba in Nigerië oorweeg byvoorbeeld tans ’n referendum vir hul etniese groep. Stede in Afrika se toekoms kan volgens kenners ook ’n heel ander pad inslaan as die landspolitiek om hulle heen. Plaaslike demokrasie kan baie vorms aanneem.

Die informele en formele gesagsliggame van dorpe en stede, so ook streke vanaf die Wes-Kaap tot Katanga, sowel as kleiner volke is almal belangrike rolspelers in Afrika se ordes. Dit is baie moontlik dat hulle in die toekoms kan poog om deur referendums hul aansprake nasionaal en internasionaal te bevorder.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Hendrik ·

Miskien sal daar eendag eendag etniese referendums gebeur as die perde horings kry. Hoekom sal sal die huidige regering outomonie/selfbeskikking gee aan Afrikaners wat regtig die ruggraat van die ekonomie is? Dit sal finansieele selfmoord wees en dit is wat in Zimbabwe gebeur het toe die wittes uitgeskuif is. Die meerderheid Afrikaners word gevange gehou en werk saam anders verloor hulle hul eiendom/gerieflike lewe en saterdagmiddag rugby en braai. Ek glo nie dat die meeste van Afrikaners wil outonomie he nie.

Sebastiaan ·

Insiggewende en goed beredeneerde artikel. Afrika blyk nog vêr van erkenning vir streke en gemeenskappe te wees, maar ‘n mens weet nooit wanneer die gety draai nie. Dankie Heinrich!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.