Frankryk: Macron se party verloor hulle meerderheid

Emmanuel Macron. (Foto: AP Photo/Francois Mori, Pool)

Frankryk se president, Emanuel Macron, het ’n terugslag gely deurdat sy La Republique En Marche (LREM)-party sy volstrekte meerderheid in die Franse parlement verloor het.

Parlementslede het al verskeie kere van die party weggebreek, maar nou het hulle ’n nuwe linkse beweging gestig wat dalk nog meer lede sal kan trek. Macron was in 2017 die groot, nuwe ster aan die Europese hemel en die hoop van die elite en die hoofstroom nadat hy die presidentsverkiesing in April en Mei teen die verregse kandidaat Marine Le Pen van die Front National (nou Rassemblement National) gewen het en die groot meerderheid Franse agter hom verenig het.

In Juniemaand dieselfde jaar het die parlementsverkiesing ook plaasgevind. Op die golf van sukses het sy kitsbeweging En Marche (In Beweging), later herdoop tot La Republique En Marche (die Republiek in Beweging), ’n wegholoorwinning behaal. Dié party het wel in die eerste ronde op 11 Junie net sowat ’n derde van die kieserstemme gekry, en in die tweede ronde op 18 Junie net sowat die helfte. Maar omdat Frankryk ’n kiesafdelingstelsel het, wat die sterkste party bevoordeel, het LREM ’n allemintige meerderheid van 314 setels uit 577 gekry. Saam met sy alliansievennoot, die Mouvement Démocrate (Modem), was dit 361 setels.

Marine Le Pen. (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

LREM het egter die probleme van enige kitsbeweging: ’n sameflansing van verskillende politieke kampe en ’n oormaat aan onervare, deels té idealistiese politici, wat wonderwerke van Macron verwag, asook politieke opportuniste wat hul seile na die wind span en vinnig van party verander as dit vir hulle voordelig is. So het LREM al hoe meer verteenwoordigers verloor wat nou as onafhanklikes in die parlement sit, of by ander partye aangesluit het. LREM is as breë links-liberale beweging gestig (Macron self was lid van die Sosialistiese Party maar besigheidsvriendelik en ontnugter met die party se al hoe verdere swaai na links), maar het in vele opsigte geen duidelike beleid gehad nie en doelbewus vaag gebly om ondersteuners nie te vervreem nie. Macron het ná sy verkiesing met sy ekonomiese hervormings egter te veel na die kant van die welvarendes uitgereik volgens sekere van sy ondersteuners.

Sedert die parlementsverkiesing in 2017 het 26 parlementslede reeds van LREM weggebreek. Onlangs het 17 van hulle ’n nuwe faksie met die naam Écologie, Démokrati, Solidarité gestig, wat die aantal partye in die parlement nou op nege te staan bring. Daarmee het LREM net nog 288 lede in die parlement, een kort van ’n volstrekte meerderheid. Danksy hul alliansievennoot, die Modem, kan LREM verder regeer. Daar bou egter druk op vir ’n ontbinding van die parlement en vervroegde verkiesings.

Die wegbreek kom op ’n slegte tyd, want die tweede ronde van die munisipale verkiesing is net sowat ’n maand weg. Die tweede ronde is die uitklopronde, waar daar waar geen kandidaat die volstrekte meerderheid gekry het nie, tussen die wenner en die naaswenner gekies word. Die eerste ronde van die munisipale verkiesings het op 15 Maart vanjaar plaasgevind, kort voor die instelling van die grendelstaat.

Edouard Philippe. (Foto: Benoit Tessier/Pool via AP)

In die eerste ronde was die teleurstelling met LREM reeds sigbaar nadat hulle taamlik swak gevaar het. Die tweede ronde is toe uitgestel en onlangs is afgekondig dat dit nou op 28 Junie vanjaar sal plaasvind. Onder die omstandighede van die grendelstaat kan geen behoorlike verkiesingsveldtog plaasvind nie en is dit beperk tot die internet.

Die koronapandemie het ook die Geelbaadjie-proteste eers op die lange baan geskuif en daarmee vir Macron ’n bietjie rus op dié front gegee. Die griewe is egter nog lank nie opgelos nie. Macron se messiasbeeld het lankal skade gely deur die uitdagings van die praktiese politiek. Die Franse is ook geen maklike volk om te regeer nie en kom vinnig in opstand.

Terwyl Macron se aansien en outoriteit taan, styg die gewildheid van sy eerste minister, Edouard Philippe. Dalk sal hy vir Macron met die volgende verkiesing as presidentskandidaat uitdaag. Intussen bly Le Pen ook ’n teenstander om mee rekening te hou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kers55 ·

Mr Biehl, hierdie is n uiters lui artikel, die tipe skrywe wat klink asof dit vertaal is vanaf n middelman webblad. Hierdie tipe politieke sprong is organies en voorspelbaar in Frankryk en dien as absoluut geen beduidende weervoorspelling vir Macron en sy party nie.

Raadslid ·

So beweeg hulle meer links, meer liberaal, die afgrond in.

Burgermeester ·

Die hele wêreld is besig om in ‘n klomp linkse polities korrekte liberaliste te ontaard.

Therese ·

Wanneer die staatshoof van Frankryk sy meerderheid kwyt is, en die wegbrekers boonop ‘n nuwe beweging stig, is dit inderdaad ‘n “beduidende weervoorspelling vir Macron”.

‘n Leser sou kon aflei dat ene “Stomp” se ‘skerp’ aanmerking oor die puik artikel dui op ‘n linkse ontsteltenissie oor die verloop van gebeure.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.