Funksionering van die landbouwaardeketting

(Foto: TLU SA/Facebook)

Die noodsaaklikheid van ’n doeltreffende landbouwaardeketting word gereeld deur verskeie rolspelers belig. Die wyse waarop elke rolspeler ’n bepaalde funksie moet uitvoer, is van kardinale belang om uiteindelik voedsel op die verbruiker se tafel te kan sit. Versteur die ketting op enige plek en onmiddellik is daar ’n blokkasie in die vloei van voedsel.

Ten einde hierdie waardeketting te laat funksioneer, is daar verskeie organisasies wat deurlopend vir daardie omgewing wat op hulle van toepassing is, kyk hoe die proses so effektief as moontlik kan werk.

Die landboubesighede affilieer vrywillig by Agbiz waar daar namens hulle gepoog word om, onder meer, die mees gunstige beleidsomgewing daar te stel. Hier sal ons die landboumaatskappye, finansiële instellings, risiko-onderskrywers, insetmaatskappye, ensovoorts vind.

Die georganiseerde primêre landboustrukture het basies twee bene, naamlik die bedryfsorganisasies en die algemene sakeorganisasies soos TLU SA (Transvaalse Landbou-Unie van SA) en ook ander. By dié bedryfsorganisasies vind ons al die kommoditeitsorganisasies soos byvoorbeeld Graan SA, die RPO, Aartappel SA, Katoen SA, en so meer. Die bedryfsorganisasies fokus elk op hul unieke kommoditeit deur die primêre produsente by te staan met produkontwikkeling, ontginning van markte en die uitbou van die beeld van die produk.

Die algemene sakeorganisasies se krag is gesetel in hul lede wat in die struktuur deur middel van hul inspraak die beleid bepaal. Dit het teweeggebring dat daar wel bepaalde beleidsverskille bestaan. Hierdie verskille is gewoonlik nie gesetel in die praktiese aspekte soos veiligheid nie, maar is grootliks gesetel in die ideologiese aspekte, soos vervat in die regering se transformasieagenda.

Vir TLU SA is dit belangrik om ’n eerlike ontleding te maak van waarmee die ANC spesifiek besig is en wat die gevolge vir Suid-Afrika en sy mense is. Duidelik is hul hooffokus om die mag wat verkry is, te behou en te sorg vir die kaders rondom die vuur. Hul stelling van ’n beter lewe vir almal is so ver van die waarheid verwyder as wat kan kom en die tydbom van werkloosheid en armoede wat onder hul beleid jaarliks net styg, is binnekort iets wat gaan ontplof. Met beloftes, veral as dit op leuens gebaseer is, kan mens ook net so ver kom!

Die situasie is tans baie gekompliseerd in Suid-Afrika. Tydens vraetyd, toe TLU SA by die parlement oor artikel 25 van die Grondwet se beoogde verandering – sowel as later oor die Onteieningswet – ’n mondelingse voorlegging gemaak het, is die wenkbroue gelig oor die soort vrae wat gestel is.

Wanneer parlementslede die uitgangspunt huldig dat welvaart as ’n gegewe beskou word en dat ons dit net gelykop moet verdeel en almal dan gelukkig sal wees, besef ’n mens hoe ver die wêrelde van mekaar verwyder is. Die kommer vergroot indien dit ervaar word dat daar geen begrip is van wat produksiefaktore is nie. Hoe dit bestuur moet word tot by winsgewendheid, is dalk iets vir ’n ander plek. Dat hulle salarisse betaal word uit die belasting ingevorder van daardie ondernemings wat wins maak, is daar ook nie noodwendig die nodige begrip nie.

Die landbouwaardeketting is ’n ekonomiese proses en dit is noodsaaklik dat elke deel daaruit wins moet maak. Ideologiese teikens en doelwitte kan net slaag indien dit die ekonomiese toets slaag. Gereeld word Suid-Afrika, maar ook die landbouomgewing, uitgedaag met politieke planne en teikens. Die vraag wat dus gevra moet word, is of die markkragte hierdie politieke of ideologiese teikens sal aanvaar?

Dit is die verantwoordelikheid van die georganiseerde landboustrukture om te beding vir ’n gunstige omgewing waarbinne landbou suksesvol kan wees. Die ideologiese aanslag sny diep en die prys daarvan word daagliks ervaar met landbougrond wat uit produksie gaan as gevolg van die wyse waarop die ANC-regering volhard met grondoordrag wat nie die toets slaag nie.

Meelewing en betrokkenheid is van kardinale belang. Wanneer boere met ’n spesifieke kommoditeit boer, behoort hulle by daardie kommoditeitsorganisasie aan te sluit. Dit kan tog nie werk om op die kantlyn te staan en kritiek te lewer, terwyl daar ’n geleentheid is om in ons eie organisasies wel voldoende inspraak te kan hê nie.

Wanneer ek ’n bepaalde saak by die duiweklub wil oplos, sal dit my niks baat om by die skaakklub my versugtinge te gaan deel nie. Nog erger is om op sosiale netwerke te fokus, met kritiek oor almal en alles sonder om enigsins met ’n oplossing na vore te kom. Met ’n irrasionele regering maak dit die uitdaging net baie groter om wel insette te kan lewer om by die beste ekonomiese omgewing te kan uitkom.

Die gevaar bestaan natuurlik dat organisasies begin om primêr te baklei vir hul eie voortbestaan en dat bedinging vir die lede later sekondêr begin raak. Daarom is lede-inspraak so belangrik om die koers te bepaal. Elkeen van hierdie georganiseerde landbouorganisasies moet besef dat hul bestaansreg daarin gesetel is dat hulle net ’n meganisme is tot ’n doel – om die lede se belange voorop te stel.

TLU SA skakel graag met hierdie onderskeie bedryfs- of kommoditeitsorganisasies en erken die rol wat elkeen moet speel. Dit is daarom dat TLU SA in sy standpunte die verhouding met al die kommoditeite soos volg bewoord:

  • Bedryfsorganisasies word deur TLU SA as ‘n deel van die georganiseerde landboufamilie beskou. Die onderskeid tussen die algemene sakeorganisasies soos TLU SA en die onderskeie bedryfsorganisasies is gesetel in die werkterreine wat vir elk gedefinieer is.
  • TLU SA moedig sy lede aan om lid te word van die spesifieke bedryfsorganisasie wat diens lewer in sy spesifieke boerderyvertakking.
  • Die belangrikheid van die bedrywe lê grootliks daarin dat hulle fokus op die nodige produkontwikkeling, bemarking, navorsing, ensovoorts, terwyl die algemene sakeaspekte soos arbeid, veiligheid, eiendomsregkwessies, watersake, energie, AgriSEB, ensovoorts, gelos word vir, byvoorbeeld, TLU SA.
  • Hierdie werkafbakening is belangrik om te verhoed dat daar nie enige misverstande ontstaan nie. TLU SA respekteer elke bedryf in sy outonomiteit.
  • Die benadering wat TLU SA volg ten opsigte van die bedrywe, behels dat hulle versoek word om te affilieer as ‘n spesiale kategorielid. Dit behels dat hulle volwaardige sitting in die algemene raad sowel as by die kongres sal hê.
  • Die onderskeie bedryfsorganisasies sal sodoende in die posisie wees om toegang tot TLU SA se inligting te bekom. Dit kan aangewend word om net nog beter keuses te kan maak in die beste belang van landbou.
  • Die onderskeie bedrywe spesialiseer op ander sake as landboubeleidsake en moet waak daarteen om hulself so te posisioneer dat hulle deur hul optrede in die praktyk, maar ook deur implikasie, landbou-politieke keuses maak.

Dit gaan van ons boere self afhang in hoe ’n mate daar vir die volhoubaarheid van landbou geposisioneer en beding word. Benut die gevestigde strukture en maak seker deur deelname en betrokkenheid dat die strukture wat reeds oor wyd gevestigde netwerke beskik, telkens in belang van die boer keuses maak en optree.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.