Gee Afrikaans ’n veilige en sinvolle plek aan die universiteitswese

stellenboschIs dit werklik gepas om in ’n diverse land soos Suid-Afrika nie vir enkele Afrikaanse universiteite voorsiening te maak nie?

Dít is die vraag wat die FAK aan prof. Adam Habib, rektor van Wits, vra na aanleiding van sy oningeligte en ideologies gedrewe uitlatings oor die bestaan van Afrikaanse universiteite.

Habib voer in ’n onderhoud met die media aan dat:
1) Afrikaanse kampusse teen die grondwet indruis;
2) die blote bestaan daarvan die diversiteit van die land bedreig; en
3) Afrikaanse kampusse daarvoor sorg dat studente hulself isoleer en dus nie aan openbare sake deelneem nie.

Niks kan egter verder van die waarheid wees nie.

Eerstens, oor Habib se grondwetlike argument kortliks die volgende: Alhoewel die grondwet na alle waarskynlikheid nie die Afrikaanse universiteite genoegsaam bestendig nie (die grondwet moes ten minste vir twee Afrikaanse universiteite voorsiening gemaak het), maak dit – en daarvan dra Habib kennelik geen kennis nie – ruim voorsiening vir onderrig in die taal van eie keuse. Ook in die tersiêre onderwys!

Verskeie grondwetkenners, waaronder proff. Koos Malan, Francois Venter en Marinus Wiechers, het reeds in ’n groot aantal werke hierdie punt in die verlede beredeneer. Onder die meeste kenners van die grondwet bestaan daar na alle waarskynlikheid volledige eenstemmigheid hieroor.

Tweedens, wat presies verstaan Habib onder diversiteit? Die wyse waarop Habib oor diversiteit nadink, is skokkend naïef. Onder die vaandel van ‘diversiteit’ strewe hy ’n toestand na waarin elke spoor van die veelheid van kulture en tale op universiteitsvlak juis uitgevee word!

Trouens, indien sy voorstelle deurgevoer word, sal – anders as wat hy met sy gebruik van die begrip ‘diversiteit’ in die vooruitsig stel – ’n verstikkende (eentalige) eenvormigheid op die universiteitswese afgedwing word. Dit is ’n kunsmatige eenvormigheid waarbinne slegs die stem van die meerderheid gehoor word, terwyl die kleiner gemeenskappe – in hierdie geval die Afrikaanstalige gemeenskap met sy byna sewe miljoen sprekers – eenvoudig geminag en weggestoot word.

’n Werklik plurale opvatting van die universiteite beteken vandag dat daar sinvol voorsiening vir die veelheid van kulture en tale aan ons universiteite gemaak word, sonder om die noodsaak van Engels te ontken.

Verskeie voorbeelde wêreldwyd kan van so ’n plurale benadering genoem word, soos die Universiteit van Helsinki, wat ter wille van diversiteit ook klasse vir die Sweedse minderheid in Sweeds aanbied. Alhoewel die Finne en die Swede hulself uitstekend in Engels kan handhaaf, ervaar hulle nie hul moedertale as ’n hindernis om gestalte aan diversiteit te gee nie. Inteendeel, dit is juis die wyse waarop gestalte daaraan gegee moet word.

Derdens, wat van ‘deelname’, vra Habib. Verhinder ’n Afrikaanse kampus nie ook deelname aan die sake van die land nie? Maar ook hier is Habib ideologies gedrewe (eerder as iemand wat met historiese insig die saak hanteer).

Ons gaan uit van die histories verantwoorde standpunt dat ‘deelname’ nie deur die miskenning van tale en kulture moontlik gemaak word nie. Inteendeel, deelname word juis moontlik gemaak wanneer die veelheid van tale en kulture sinvol erken word.

Kortom, wanneer hulle erken word, kan taal- en kultuurgemeenskappe met selfvertroue aan die sake van die groter wêreld deelneem; wanneer hulle egter misken word, onttrek hulle – en word die voorwaardes vir deelname so vernietig.

Ook wat hierdie punt betref word Habib se standpunt deur ’n volledige spanning gekenmerk: terwyl hy deelname wil bevorder, vernietig hy juis die voorwaardes daarvoor. Hierdie voorwaardes kan slegs herstel word as Afrikaans ’n veilige en sinvolle plek aan die universiteitswese gegee word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Paul Maritz ·

Kom ons kyk na die term “Reënboognasie”. Semanties is hierdie woord nie werklik ‘n kopkrapper nie, ‘n nasie wat, soos ‘n reënboog, baie kleure afsonderlik maar gesamentlik huisves, waarbinne beide hierdie eenheid maar ook verskil waardeer en bevorder word. Dit sou dus in praktyk beteken dat elke “kleur” wat tipies die bevolkingsgroep, taalgroep, of geloofsgroep verteenwoordig, op sy eie kan funksioneer en groei, solank as wat die geheel steeds deur hierdie groei bevorder en vereer word. Grondwetlik is hiervoor voorsiening gemaak op verskeie plekke. In die geval van ‘n Afrikaanse universiteit is Artikel 29(2) die bepalende teks, siende dat hier gestel word: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amtelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.”
Die rede vir hierdie tipe toelatings deur die Grondwet is sodat elke “kleur” van die reënboog werklik kan floreer. Digkuns, navorsing, studie en redevoering, behoort dus in die taal van keuse te geskied, juis omdat ons Grondwet dit toelaat. Om dus, soos verskeie akademici onlangs gedoen het, aan te voer dat alle universiteite slegs in een taal onderrig moet gee, of dat die taal van die meerderheid by daardie instelling onderdruk moet word, is blatant ongrondwetlik, en onderdruk hierdie ideaal van ‘n Reënboognasie tot so ‘n mate dat die jeug geen ander opsie het as om hierdie front af te lag nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.