Geen grondwet kan ’n regering dwíng om goed te regeer

FW de Klerk (Foto: RODGER BOSCH/AFP)

Oudpresident FW de Klerk rus eindelik in sy graf. Sy afsterwe het die verwagte histerie van links (“rassis!” en “apartheidsapologeet!”) en regs (“volksverraaier!” en “uitverkoper!”) tot gevolg gehad. Gelukkig was daar darem ook beskaafde reaksies, onder meer van mense wat polities met hom verskil het.

Ek het FW vir die eerste keer in 1977 ontmoet, toe ek ’n doktorale student in Nederland en hy ’n veelbelowende jong Volksraadslid vir die kiesafdeling Vereeniging was. Hy het Nederland besoek, en as vryskutkorrespondent vir die Naspers-dagblaaie het ek ’n onderhoud met hom gevoer. Ek kan nie meer onthou wát hy gesê het nie. My herinnering aan die índruk wat hy gemaak het, is wel lewendig.

FW het sy woorde uiters versigtig en presies gekies. So asof hy geen millimeter van die destydse NP-ortodoksie wou afwyk nie. Om sy reaksie te toets, onthou ek, het ek onder meer oorwegings wat téén NP-beleid gepleit het aan hom voorgehou. Elke keer was hy ultra-ortodoks. Premier John Vorster sou trots op hom gewees het.

Later, toe hy al minister was, het ons paaie verskeie kere gekruis. Hy was altyd daardie versigtige en presiese formuleerder van ’n rigting wat 100% in ooreenstemming met die partyleiding was.

Dit het my, wat gewoond was aan ’n intellektueel vrye debatvoering, waar jy by wyse van spreke honderd keer in ’n gesprek met iemand saamstem en honderd keer verskil, nogal gefrustreer. Ek kon nie werklik ’n behoorlike gesprek, een van gee en neem, met hom voer nie. Ek begryp dit wel. FW was ’n ambisieuse man, en dit bevorder nie juis jou kanse in die politiek as jy alte openlik met ’n joernalis praat wat jy nie so goed ken – en dus vertrou – nie.

My verbasing oor die moed wat hy dus ná sy bewindsoorname in 1989 aan die dag gelê het, was groot. Soos ek dit verstaan, was dit deels te danke aan sy morele beginsels, maar ook aan die feit dat die regering se politieke beweegruimte teen 1990 byna tot nul gereduseer was.

Die onomstootlike waarheid is dat die regering teen die tweede helfte van die jare tagtig geen idee gehad het hoe om uit die toenemende opstande in die townships te kom nie.

Afsonderlike ontwikkeling – die konsolidasie en ontwikkeling van die “Bantoe-tuislande” – was teen dié tyd ’n klaaglike mislukking. Die tuislande (net 13% van Suid-Afrika se oppervlakte) was veels te klein om die miljoene swart mense volhoubaar te huisves, en dat hulle soos ’n stukkende lappieskombers op die kaart uitgesprei gelê het, het ’n suksesvolle staatsbestaan eenvoudig onmoontlik gemaak.

In sowel John Vorster as PW Botha se tyd het die regering gespartel met allerlei niksseggende nuwighede (onthou jy nog die “konstellasie van state”, om maar ’n enkele voorbeeld te noem?), sonder dat dit ’n omvattende oplossing ’n aks nader gebring het. Teen so ongeveer 1985 was die harde waarheid dat die regering intellektueel bankrot was.

Daarmee saam was die beleid van afsonderlike ontwikkeling ’n mislukking. Die groot vraag was: As dit dan so is, wat moet in die plek daarvan kom?

Die trauma wat die Anglo-Boereoorlog en die daaropvolgende verengelsingsbeleid op die Afrikaners gehad het, het dié volk – begryplikerwys – bang gemaak om die politieke beheer uit sy hande te gee. En die ANC/SAKP se afdrywing in die rigting van kommunisme en aanwending van naakte terrorisme het ons mense ook nie geneë gemaak om die totale mislukking van apartheid te erken nie.

Toe FW dus einde 1989 die bewind oorneem, is hy met ’n onoplosbare dilemma gekonfronteer. Enersyds het die hoeksteen van sy regering se beleid – afsonderlike ontwikkeling – misluk, en andersyds was die ANC/SAKP duidelik daarop uit om Suid-Afrika in ’n kloon van die Sowjetunie te omskep.

Dit was asof die land in ’n doodloopgang was: Omdraai kon nie, en daar vóór was slegs granietmure te sien. Sou ons deur die drukgang van die geskiedenis papgedruk word?

En toe gebeur iets wat eintlik nie anders as ’n wonderwerk beskryf kan word nie: Die Berlynse Muur val. Binne enkele weke word al die kommunistiese diktature in Sentraal-Europa verdryf en in liberale demokrasieë omskep.

Vir Suid-Afrika het dit twee gevolge gehad. Enersyds het die ANC/SAKP se magspolitieke en ideologiese borg ineengestort en het dit die kans op die instelling van ’n kommunistiese diktatuur laat verdwyn. Andersyds was die laaste ekskuus van die regering om apartheid in stand te hou daarmee heen.

Opeens het ’n deur aan die einde van die doodloopgang oopgegaan. Die vraag was: Sou FW die kans aangryp? Wel, hy het. En sy beroemde toespraak van 2 Februarie 1990 was die gevolg.

’n Mens kan baie sê oor die onderhandelings wat tot 1994 met die ANC/SAKP gevolg het. Byvoorbeeld: Was Roelf Meyer (wat op my altyd ’n naïewe indruk gemaak het) die regte man om die regering se onderhandelingspan te lei?

Dit was geen maklike keuse nie. Jy wil nie iemand aanstel wat vantevore alles weggegee het nie, maar ook nie iemand wat só rigied is dat die onderhandelings misluk en die oorlog hervat word nie. Een ding was seker: Daar was eenvoudig geen pad terug nie.

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Die ANC/SAKP se “rolling mass action” het sake vir die regering ook uiters moeilik gemaak – soos die bedoeling inderdaad was.

Die uiteindelike uitkoms was min of meer ’n kompromis. Op papier was dit ’n pragtige grondwet, ’n voorbeeldige liberaal-demokratiese stelsel wat goed vergelyk met die stelsels wat in die wêreld se beste demokrasieë geld.

Wat FW-hulle (en eintlik geld dit ook vir Nelson Mandela) nie mooi besef het nie, is dat geen grondwet, hoe fantasties ook al, ’n regering kan dwíng om goed te regeer nie. Geen dokument kan voorkom dat die kiesers ’n korrupte dwaas soos Jacob Zuma aan die spits van sake stel nie.

Eintlik kon ons al in 1990 geweet het: Ongeag die presiese uitkoms van die onderhandelinge, ’n ANC-regering gaan aan die bewind kom; een wat ’n mislukking gaan wees.

Dit is presies wat gebeur het. Die regering is ideologies bankrot, intellektueel onvrugbaar, organisatories niks werd.

Maar dan: Kon ons dit in 1990 tot 1994 voorkom het? Ons het seker maar almal ons oortuigings daaroor. Ek self dink nie so nie. Maar dit onthef geen Suid-Afrikaner om in sy eie omgewing hande uit die mou te steek en minstens daar ’n verskil te maak nie. En ons kan bid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Groen Ghoen ·

‘n Effens ander perspektief: Die rol van die Broederbond en FW De Klerk se broer Wimpie asook die Intelligensiedienste in die verloop van die sage verdien myns insiens veel meer aandag. Lees gerus Chris Louw se “Boetman die swaneswang van die verligtes.” Dit bly tog jammer dat FW De Klerk sy steunbasis as blote stemvee gebruik het en vir hulle gewetenloos vir die wolwe agtergelaat het.

Andries ·

Dit is jammer daar was nie iemand soos Pieter Mulder in roelfie se plek nie – mens mag mos maar wonder . .

James ·

Dr. Scholtz – wanneer skryf jy vir ons weer bietjie oor Trump?

Treurwilger ·

Jip.
Die skreiend onregverdige manier waarop Trump bv. voorgehou is as ‘n Covid-massamoordenaar, terwyl sterftesyfers onder Biden ignoreer word deur die media.
Dis maar een voorbeeld van media-manipulering van die nuus.

anniekiewiet ·

Waarvoor kan ons bid, wonder ek net.
30 jaar gelede het ek nie veel van politiek verstaan nie, maar vandag weet ek die broederbond het die leisels vasgehou en die rigting bepaal. Ja, Afrikaners verag en verwens De Klerk en kie, al is hulle nie altyd seker hoekom nie. Dalk moes die land oopgestel word vir n sg demokrasie, maar om ons mooi land op n goue skinkbord aan die korruptes te oorhandig het, was die grootste teleurstelling wat kon gebeur.

Althes ·

Dis maklik om te sê ons land op ñ goue skinkbord te gee vir die korruptes, maar ja ons het nie meer daardie beheer gehad nie. Bid en vertrou op ons Hemelse Vader het wonderwerke al verrig in ons land. Stuk vir stuk val die korrupte en verdelende politici. Nog van hul sal val. Die geveg is die Here s’n en by Hom is als moontlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.