Geloftedag: Aan ons kinders sal ons sê …

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se toespraak by die Melbourne Geloftefees.

Dirk Hermann.

Aan ons kinders sal ons sê:

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring, en dat ons ʼn huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê …

Aan ons kinders sal ons sê.

Wat sê ons aan ons kinders?

16 Desember 2021. Wat het ek te sê aan Afrikaners duisende kilometers van hier? Is daar ʼn band, of het die groot blou oseaan ons band verbreek? Is daar iets groters as die oseaan wat bind? Iets groters as bloot die plek waar ons bly?

Iets oor oseane en oor geslagte. Iets om aan ons kinders te sê.

Tydens Solidariteit se onlangse besoek aan Europa was Straatsburg, die setel van die Europese parlement, een van ons bestemmings. Die stad is sowat 2 000 jaar oud. Op sy beurt is die Straatsburg Katedraal 1 000 jaar oud.

Hierdie indrukwekkende katedraal is oor ʼn tydperk van 400 jaar gebou. Daar is oor nege tot tien geslagte aan die katedraal gebou. Diegene wat begin bou het, het geweet hulle bou aan iets vir die geslagte wat nog moet kom. Hulle was die rentmeesters vir die volgende geslagte. Iets wat hulle aan hulle kinders kan sê.

Die katedraal word as ʼn gotiese meesterstuk beskryf. As jy daar instap, voel jy die grootsheid aan. Kleurryke loodglasventers vertel die verhaal van Genesis, die paradys, die sondeval en die verhaal van Noag. Die Romeinse keisers hou die gebeure deur die vensters dop en bokant hulle word die lewe van Christus uitgebeeld.

Die toring reik 142 m die lug in en was vir langer as 200 jaar die hoogste struktuur in Europa. Die preekstoel is ʼn kunswerk met beelde van Christus, Moeder Maria, die apostels en die kruisiging. Die orrel speel sy lofprysing al sedert 1260. Om 12:00 elke dag lui ʼn 17 m hoë klok 12 keer. Drie koningsfigure verskyn en buig voor baba Jesus. Die kerkklokke weeg 12 ton, die grootste in Europa.

Duisende mense het vir langer as 400 jaar aan dié meesterstuk gebou. Kunstenaars, argitekte, ambagslui, houtwerkers, glaswerkers, klokmakers, projekbestuurders, finansiële bestuurders en soms ook soldate, politici en andere was by die bouwerk betrokke. Elkeen het sy rol gehad.

Maar wat dryf jou om iets te bou waarvan jy nie die volheid in jou lewe gaan beleef nie? Dit moet iets groters as jyself wees; iets wat oor geslagte heen strek.

Die loodglaswerkers het vensters geskilder en gemaak; die klokmakers het ʼn klok gebou; die bouers ʼn muur; almal saam ʼn katedraal.

Daar was egter iets groters wat gebou is en wat oor geslagte heen strek – die Westerse beskawing. Die Europeërs was almal bouers van ʼn beskawing waarvan ons vandag nog die ontvangers is. Later is die Westerse beskawing nog verder deur die Reformasie geslyp. In 1524 het die stadsraad die katedraal aan die Protestantse geloof toegeken. Calvyn het ook daar gepreek.

Dit is iets veel groter as ʼn oseaan. Dit is iets wat ook ons aan mekaar bind. Iets wat so deel van ons is dat ons dit nie eens besef nie.

Dit is iets wat vir ons kinders gesê moet word.

Daar is egter nog wat ons saambind.

Van Straatsburg is ons na Amsterdam. Martin Bosma het ons daar ontvang. Martin voltooi nou sy doktorsgraad oor die invloed van Nederland op die vroeë ontwikkeling van die Afrikaner.

Ons stap toe Amsterdam plat. Martin wys ons waar Jan van Riebeeck gewoon het. Ons stap in Van Riebeeck se voetspore na die VOC-gebou. Martin neem ons na die Franse Protestantse kerk. ʼn Groot deel van die gemeente is destyds as Franse Hugenote na die Kaap gestuur. Hy wys vir ons die weeshuis van waar weesmeisies na die Kaap gestuur is om die vrouebevolking aan te vul. Hy wys waar die eerste Vryburger gebore is. Die eerste Vryburgers is die werklike geboorte van die Afrikaner. Ons kon dus fisiek die geboortehuis van die Afrikaner sien. Hy wys ons waar Paul Kruger as banneling aangekom het. Honderde duisende mense het hom ontvang. Die Nederlanders was begeesterd deur die Boere, verduidelik hy.

Ek kan duidelik sien hoe die skarnier van die Westerse beskawing na ons hier aan die suidpunt van Afrika gedraai het. Iets waarvan ek en jy ook deel is.

Ons is die erfgename van geloof, begrippe soos roeping, werk, verantwoordelikheid en van ons siening oor onderwys, geregtigheid en orde.

Ek sien die momentum van die Westerse beskawing nog in Wes-Europa. Wes-Europeërs leef nog in die erfenis van die Westerse beskawing, maar ek sien nie dat hulle hierdie erfenis jaloers in beskerming neem nie. Die momentum is besig om sy momentum te verloor.

Ek sien hulle ry hulle fietse, eet hulle kasies en drink ʼn biertjie in die straatkafee.

Ek hoor egter min van beskerming en kultuuroordrag. Wes-Europa het tot groot mate sy geloof verloor. In Genève is Calvyn se stoel in ʼn museum en Calvyn Bier die enigste oorblyfsels van die Reformasie.

Identiteit en tradisie in die ryk kulturele erfenis is byna verbode. Die Europese Unie het onlangs ʼn gids van 30 bladsye uitgereik waarin personeel ontmoedig word om van Kersfees te praat en aangemoedig word om eerder van vakansietyd te praat. Christelike name en die gebruik van terme soos “dames en here” of enige ander verwysing na geslag moet vermy word. ʼn Hele lys van verregaande voorstelle word in die dokument gemaak

Die leier van die Katolieke Kerk, pous Franciskus, het die leierskap van die Europese Unie se voorstelle oor sogenaamde inklusiewe kommunikasie met ʼn “Nazi-diktatuur” vergelyk. Hy noem dit ʼn ideologiese kolonisering van die Europese kontinent.

Iets is fout in Wes-Europa. Die Europeërs dink dat baie van dít wat hulle ontvang het, uit hulleself tot stand gekom het en selfverdiend is. Hulle dra dit nie meer oor nie en dink nie meer oor dít wat oorgedra is nie.

Dit is wat gebeur as jy nie meer vir jou kinders vertel nie.

Die Franse Hugenote, die Duitse wesies, amptenare van die kompanjie, soldate en matrose het met die Westerse erfenis hier aangekom.

Die Vryburgers het die gesig na Afrika gedraai. Toe trek ons. Ons word Afrikaners, hoewel ons nie as Afrikaners hier aangekom het nie. Westerlinge uit en in Afrika.

Toe iemand ʼn oom vra tot hoe ver hulle gaan trek, antwoord hy: Tot anderkant uit.

Die trek vorm ons erfenis. Aangrypende gebeure vorm ons.

Dingaan en Retief sluit ʼn wettige traktaat, maar die towenaars word doodgemaak. Die moorde by Bloukrans en die Boesmansrivier volg. Die groot kindermoord: 185 kinders, 41 mans, 56 vroue en 250 diensbodes is vermoor. ʼn Strafkommando word uitgestuur. ʼn Gelofte word afgelê en die Slag van Bloedrivier vind plaas.

Daar word toe weer getrek. Weer oor die Drakensberge, kaalvoet as dit moet. Die Gelofte en die erfenis trek saam.

Dit is 2021 en Afrikaners hou Geloftedag. Klein feeste in die platteland, ʼn groot fees by die Voortrekkermonument en duisende kilometers ver in Melbourne, en almal is saamgebind.

Party Afrikaners het weer getrek. Nie oor die Drakensberge nie, maar oor die oseaan.

Die Gelofte en die erfenis trek saam. As jy trek, trek jy nie weg van dít wat jy gevorm het nie. Dit bly deel van jou.

Afrikaners het ʼn band. Ongeag of dit in Melbourne, Sydney, Perth, Dallas, Londen, Johannesburg, Pretoria of Kaapstad is, ons het ʼn besonderse band – iets groters as net onsself; iets wat oor geslagte strek.

Daardie band is ons s’n en ons moet en mag dit nie verbreek nie. Dit is ʼn erfenis wat ons ontvang het. Dis nie ons s’n om weg te gee nie.

Dit is die moeite werd om dit te koester. Daar is min plekke in die wêreld waar ons groot erfenis nog gekoester word.

Selfs al is jy in Melbourne, koester dít wat ons ontvang het. Hou die naelstring. Help Afrikaners aan die suidpunt van Afrika om ruimte en plek te skep waar ons gesamentlike erfenis gekoester kan word. Bly geborge aan die gemeenskap wat ons gevorm het. Help om die gemeenskap te bou. Dit bly deel van my en jou. Kom ons help almal saam om daardie deel van ons elkeen steeds sterk te hou.

Wees ook ambassadeurs vir ons erfenis waar jy ook al is. Elke Afrikaner in die buiteland is ʼn ambassadeur met sy eie unieke netwerk. Ons het die wonderlikste internasionale netwerk wat nog nie naastenby ontgin is nie.

Afrikaners moet dít wat hulle ontvang het, oppas. Ons is die rentmeesters vir ʼn volgende geslag. Dit is nie ʼn klakkelose, onkritiese aanvaarding van alles uit die verlede nie; dit volg eerder die Paul Kruger-benadering van neem uit die verlede wat goed is en bou daarop.

Ons moet weer geslagmatig dink. Ons moet dinge aanpak, dinge wat groter as onsself is, vir geslagte wat nog kom.

Solidariteit dink só geslagmatig. As Christene praat ons ook van verbondsmatig. Ons kan dit doen omdat ons God se historiese verbondsgetrouheid sien, en daarom kan ons met sekerheid ook vashou aan sy toekomsbelofte.

Omdat ons geslagmatig dink, kan ons ʼn Sol-Tech in onsekere omstandighede bou vir ʼn geslag wat nog kom. Omdat ons geslagmatig dink, kan ons ʼn nuwe universiteit, Akademia, bou. Omdat ons geslagmatig dink, kan ons die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum bou, want ons weet daar moet nog ʼn Afrikaanse skoolstelsel van wêreldgehalte in die toekoms wees. Dit is instellings wat vorm en oordra. Dit is wat ons erfenis van geslag tot geslag bewaar.

Kom ons neem dít wat goed en mooi is, bou daarop en dra dit oor, waar ons ook al is.

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring, en dat ons ʼn huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag en dat ons aan ons kinders sal sê …

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jr ·

Ek is saam met julle vandag my mede boere volk. Ek neem herkenning en verantwoordelikhheid om hierdie Gelofte nooit te laat sterf en seker te maak my kinders en kleinkinders vat die Gelofte voorentoe vir ewig. – van die Engelse boer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.