Geloftedag: ‘Ons toekoms is in ons eie hande’

Hieronder volg ʼn effens verkorte weergawe van Ernst Roets, adjunk‑  uitvoerende hoof van AfriForum, se Geloftedag-toespraak wat in Potchefstroom gelewer is.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf

Die eer om die Gelofte van 1838 te herdenk is nie ’n eer wat ’n individu toekom nie. Dit is ’n eer wat ’n hele gemeenskap, ’n hele volk toekom.

In die stryd waarmee ons vandag gekonfronteer word, is dit nodig om ’n oomblik te neem om terug te kyk na die Gelofte van 1838, om daaruit die nodige lesse te leer wat vir ons nodig is om ons eie stryd aan te durf.

Hoewel ons stryd uniek is, is ons nie uniek daarin dat ons in ’n stryd is nie. Sedert die aankoms van Jan van Riebeeck was daar nie een generasie Afrikaners wat nie in een of ander stryd gedompel was nie.

  • Jan van Riebeeck het sy eie, unieke stryd gehad toe hy sy Gelofte in 1654 afgelê het.
  • Adam Tas, ons eerste aktivis, het sy eie, unieke stryd gehad toe hy in 1706 in die Kasteel se Swart Gat gegooi is weens sy protesoptrede teen die regering.
  • Piet Retief het sy eie, unieke stryd gehad toe hy in 1837 in sy Manifes geskryf het dat hy “geen vooruitsig vir vrede of geluk” vir sy kinders onder die Britse regering het nie.
  • Sarel Cilliers het sy eie, unieke stryd gehad toe hy in 1838 die Gelofte van Bloedrivier geskryf het.
  • Paul Kruger het sy eie, unieke stryd gehad toe hy in 1899 verklaar het dat die Britte nie stemreg wil hê nie, maar dat hulle sy land wil hê.
  • NP van Wyk Louw en ons ander taalreuse het hul eie, unieke stryd gehad toe hy in 1937 Miskien ook sal ons sterwe geskryf het.
  • So kan ons voortgaan oor Republiekwording, die oorlog op die grens, die ANC se terreurdade, die onderhandelings vir ’n nuwe Suid-Afrika en natuurlik die unieke stryd wat met die Nuwe Suid-Afrika saamgekom het.

Hoewel ons dit nie graag wil erken nie, moet ons besef dat ons vandag weer in ’n oorlewingstryd is. Ons is weer in ’n situasie waar baie ontleders sê daar is nie veel hoop nie. Ons moet egter twee goed besef. Eerstens is ons nie uniek daarin dat ons in ’n stryd is nie. Sedert 1652 was daar nog nie een generasie Afrikaners wat nie in ’n stryd gedompel was nie. Tweedens moet ons besef dat, hoewel die feit dat ons in ’n stryd is ons nie uniek maak nie, is ons stryd besonders uniek. Ons stryd is anders as die stryd was ons ouers en hulle ouers voor hulle en hulle ouers voor hulle gehad het.

Ons stryd is in ’n stryd om idees en ’n stryd teen tyd. Dit is ’n propagandastryd en ’n stryd met praktiese uitdagings op grondvlak.

Dit is ’n stryd waarin die regerende party en sy alliansievennote ’n nasionale demokratiese rewolusie met staatsmag dryf, met die doel om ten alle koste soveel as moontlik mag in die staat te setel. Dit is een waar alles in die stryd gewerp word om jou en sy ondersteuners te oortuig dat jy blameer moet word vir al sy mislukkings.

Daar is geen beter voorbeeld vir die vergestalting van hierdie stryd as die gronddebat nie.

Foto ter illustrasie: Pixabay

In die tyd waarin ons leef is daar geen groter dwaling, geen groter mistasting, geen groter leuen as die beskuldiging “wittes het grond gesteel” nie. Daar is drie maniere hoe wit mense – of kom ons sê eerder Afrikaners – grond gekry het.

Die eerste is deur die besetting van leë grond. En as jy dink dat dit ’n mite is, dat dit iets is wat ons opgemaak het, sal jy moet verklaar hoekom die kommissietrek van 1834 verklaar het dat daar baie oop grond is waarop die Voortrekkers hulle kan vestig, waarom Voortrekkerleiers in hul dagboeke daaroor geskryf het, wat die gevolg van die groot Xhosa-selfmoord van Nongqawuse en die verwoestende uitbreidingsoorloë van die Mfecane was. Jy sal ook die feit moet ontken dat dit slegs moontlik is om op 30% van Suid-Afrika se oppervlak te oorleef as jy nie die tegnologie het om ’n boorgat te grou nie.

Die tweede is deur onderhandeling, ruiltransaksies of die aankoop van grond. En as jy wil aanvoer dat dit ’n leuen is, sal jy verby die dosyne traktate moet kom. Jy sal swart historici soos Credo Mutwa en Magema Fuze en swart leiers soos Mosioua Lekota, die Koning van Swaziland en verskeie ander tradisionele leiers en konings as leuenaars moet afmaak.

Die derde is die mees omstrede, maar die minste beduidend en dit is verowering. En as jy glo dat verowering in die 1800’s ’n vorm van onderdrukking of diefstal was, dan verklaar jy as’t ware dat Zoeloes, Xhosas, Sotho’s en vele ander ook onderdrukkers en kriminele was, aangesien dit standaardpraktyk in daardie tyd was. Om die waarheid te sê, die grootste stuk grond wat deur die Voortrekkers verower was, was dié van Mzilikazi, wat sy grond verkry het deur swart stamme te verdryf, wat tot die Mfecane gelei het, wat tot die dood van tussen een en twee miljoen swart mense gelei het. Die verowering deur Mzilikazi word as ’n geldige metode van verkryging van grond beskou. Die verowering van Mzilikazi deur die Voortrekkers behoort dan oor dieselfde kam geskeer te word.

En die enigste kriteria waarop jy kan aanvoer dat die verowering deur Mzilikazi geldig was, maar die verowering van Mzilikazi ongeldig was, is as jy aanvoer dat die Voortrekkers wit was en dus nie aanspraak kan maak daarop om in Afrika te woon nie. As dit jou argument is, moet jy jou aan aansluit by die regse groepe in Europa wat aanvoer dat swart mense nie in Europa welkom is nie en dat hulle terug moet gaan na Afrika. Jy kan nie standpunt inneem vir die regte van swart mense in Europa en terselfdertyd aanvoer dat wit mense nie welkom is in Afrika nie. Dit maak van jou ’n skynheilige, ’n fariseër.

En ek gebruik die woord fariseër doelbewus. Want dit gaan nie bloot daaroor dat daar vir ons gelieg word nie. Dit gaan oor ’n vaskleef aan ’n politieke ideologie wat ’n godsdiens geword het.

Karl-Marx

Karl Marx. Foto: En.wikipedia.org

Dit is ’n godsdienstige verknogtheid aan ’n slagoffermentaliteit, aan ’n ideologie van entitlement. Die profete is Marx en Lenin. Die geloofshelde is Stalin, Mao en Castro. Die godsdienstige teks is die kommunistiese manifes en vryheidsmanifes, die geloofsbelydenis is die Grondwet (of ten minste die manier hoe dit deur hulle vertolk word) en die sendingopdrag is transformasie ter uitvoering van die nasionale demokratiese rewolusie.

Dit is ’n godsdiens wat voldoen aan die definisie van ’n sekte, omdat dit afhanklik is van kettery. Vir hierdie sekte om voort te bestaan is dit noodsaaklik dat die volgende waarheid nie net onderdruk moet word nie, maar aggressief beveg word:

Nie almal wat misluk, is in die steek gelaat nie. Nie almal wat arm is, is beroof nie. Nie almal wat struggle, was onderdruk nie.

Dit is ’n godsdiens wat op hiërargie geskoei is. In die eerste plek is daar ’n hiërargie van erkenning. Waar jou identiteit bepalend is vir die mate van erkenning wat aan jou slagofferskap verleen moet word. Hoe bleker jou gelaatskleur is, hoe laer is jy op die hiërargie. Terselfdertyd is daar ’n hiërargie van vergifnis. Hoe hoër jy op hierdie hiërargie is, hoe vinniger word jy vergewe vir jou gruweldade. Hoe laer jy is, hoe meer word jy van boosheid beskuldig en hoe meer word jy verkwalik vir ander se swaarkry, ongeag of daar ’n verband tussen jou optrede en die ander se swaarkry is.

Die gevolg is die Wet van Transvaal. Dit is ’n nasionale demokratiese rewolusie waarin jy swaarder en swaarder belas word, sodat die staat versterk kan word, sodat die staat se meganismes gebruik kan word om nog meer by jou te vat en nog meer aalmoese aan die regerende party se ondersteuners uit te deel. Die armes word met sosiale toelae in ’n strik gevang, die middelklas met regstellende aksie en posreservering, die elite met kaderontplooiing en swartbemagtigingskontrakte.

Dit is ’n stryd wat ons nog nooit tevore ervaar het nie. En dit wat ons by ons voorouers geleer het oor hoe om te stry, is nie genoeg nie, want hierdie stryd is anders. En as ons hierdie stryd wil wen, sal ons dit op ’n ander manier moet stry.

Maar ek het slegte nuus. Ons sal moet maak soos wat Jim Collins sê en die harde werklikheid in die gesig staar. Die harde werklikheid is dit: Die vooruitsig lyk nie goed nie. Voor ons by die positiewe kom, kom ons staar die harde werklikhede in die gesig.

Swakheid

Die staat is aggressief besig om hom te versterk deur mag in hom te sentraliseer.

Glo dit of nie, maar ons probleem is nie dat ons ’n klein volk is nie. Ons is ’n groot volk… maar ons is ’n klein minderheid, wat wyd verspreid is, in ’n groot land, onder ’n regering wat toenemend misluk en wat toenemend sondebokke soek om vir sy eie mislukkings te blameer.

Die aanduidings is dat dinge – ten minste op kort termyn – slegter sal gaan.

As jy in ’n loopgraaf lê en steeds glo dat jy nie in ’n stryd is nie, is jy gedoem om te vergaan. As jy besef dat jy in ’n stryd is, maar nie die wilskrag en die deursettingsvermoë het om hierdie stryd tot die einde te stry nie, is jou lot nie veel beter nie.

Dawid en Goliat

Maar, ek het goeie nuus…

Jordan Peterson het gesê daar is twee tipes mense wat geboelie word: Dié wat nie kan terug veg nie en dié wat nie wil terug veg nie.

Die vraag is dus of ons bereid is om aan ons eie kant te wees en of ons in staat is om daarvoor standpunt in te neem. Is dit enigsins die moeite werd om hierdie stryd aan te durf?

En hier is die goeie nuus. In die navorsing vir sy boek, David and Goliath: Underdogs, Misfits and the Art of Battling Giants het Malcolm Gladwell hierdie waarheid ontdek:

Dit wat jou opponent sterk maak, is presies dit wat hom swak maak.

Dit wat jou swak maak, is presies dit wat jou sterk maak.

Strategie

Daar moet ’n passing wees tussen wie ons is, waar ons energie gesetel is, hoe die speelveld lyk, wat ons wil bereik en waar ons gekortwiek word.

Om dit te doen moet ons vasstel waar ons energie lê. Ons dryf is ons strewe om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig te wees, om ’n beter toekoms vir ons kinders agter te laat. Glo dit of nie, ons dryf is in ons kulturele identiteit gesetel. Ons energie is nie om Suid-Afrika of die staat sterker te maak nie. Ons energie is ook nie bloot om ons taal te laat oorleef nie. Ons energie is om ons mense te laat floreer.

Ons moet dus aanvaar daar is sekere goed wat sal verval en dat ons pogings om dit in stand te hou nie sal slaag nie. Ons moet ons afvra of dit vir ons moontlik is om Suid-Afrika – of ten minste die Suid-Afrikaanse staat – as geheel te red. As ons besef dat dit nie nodig is om die staat te red vir ons om ons kinders volhoubaar, vry, veilig en voorspoedig te maak nie, moet ons onsself afvra of ons ons enigsins daarop moet toespits. Natuurlik wil ons baklei om Suid-Afrika ’n beter plek te maak, maar ons spits ons daarop toe in soverre as wat dit ons strategiese doelwitte bevorder.

As ons sê dat ons sinvol as Afrikaners aan die suidpunt van Afrika wil voortbestaan op ’n wyse wat volhoubaar vry, veilig en voorspoedig is, dan moet ons onsself afvra wat ons kan doen om dit te bereik en wat ons nie moet doen nie.

Ons kan ons strategie in twee oorhoofse bane opsom: Mobilisasie en kommunikasie.

Vader Kestell het gesê: “’n Volk red homself”. Ons doen dit deur die moue op te rol, hand aan die ploeg te slaan en verantwoordelikheid vir ons eie toekoms op te neem. Ons moet organiseer, ons moet slim te werk gaan en ons moet ons suksesse op mekaar laat bou.

Ons moet hierdie waarheid besef:

Ons wen met ons optrede, nie met ons argumente nie.

Maar dit beteken nie dat ons die argumente met die badwater kan uitgooi nie. Want ons moet besef dat ons bowenal in ’n stryd om idees is. Dit is ’n stryd waarin korrupte idees wat in die wêreld nog altyd tot katastrofe gelei het, as die oplossing voorgehou word en waarin daar aggressief geveg word om ons idees en dit wat vir ons voortbestaan nodig is, te diskrediteer. Ons moet mense oorhaal om by ons stryd aan te sluit, om saam met ons te bou vir ’n beter toekoms. Ons moet dieselfde doen as wat elke generasie van ons voorouers gedoen het, en dit is om ons kultuur en ons kulturele identiteit te herverpak en te moderniseer.

Hoe doen ons dit? Die politieke wetenskaplike Samuel Huntington en die sosioloog Robert Nisbet het antwoorde hierop gebied. Huntington het gesê daar is twee goed waaraan enige kultuur moet voldoen om aanloklik te wees. Die kultuur moet met invloed en welvaart geassosieer word. Dit beteken eerstens dat ons daarop toegespits moet wees om ons invloed te versterk. Dit beteken tweedens dat ons suksesvol moet wees. Huntington se verwysing na welvaart beteken nie dat ons materialisties moet wees nie, maar dat ons optrede op gesonde bestuursbeginsels moet berus en dat ons uitnemend sal wees.

Nisbet het gesê dat mense by ’n groep aansluit wanneer die institusionele en intellektuele funksies van daardie groep relevant is vir die manier hoe hulle hul eie lewe inrig en ook vir hoe hulle daardie groep se verhouding tot die groter samelewing sien. In kort kom dit daarop neer dat mense met ’n bepaalde identiteit assosieer as dit vir hulle relevant is en as dit waarde toevoeg. Ons moet dus die goeie uit ons Afrikanerskap behou, maar dit ook herverpak op ’n manier dat Afrikanerskap vir jong Afrikaners relevant sal wees en dat dit vir hulle waarde sal toevoeg. Ons doen dit deur Afrikanerskap te laat kenmerk deur sukses en invloed.

Menslik gesproke moet ons aanvaar dat alles staan en val by die kombinasie van ideologie en demografie. Dit is op hierdie twee temas waarop ons mobilisasie en ons kommunikasie veral toegespits moet wees.

Afrikaners word demografies minder en word ideologies gesproke toenemend vir alles blameer.

Ons sal dus vinniger moet werk aan demografiese oplossings en ideologiese oplossings. Demografiese oplossings behels ons konsentrasiestrategie, wat die versterking en beskerming van ankerdorpe waar Afrikaners reeds gesentraliseer is insluit, sowel as die uitbou van nuwe oplossings, soos Orania.

Ons hoef nie vir mense te vra om hulle goed te pak en te trek nie. Hulle gaan in elk geval in een of ander stadium trek. Die gemiddelde Amerikaner trek 11 keer in sy lewe. Ek weet nie wat die gemiddeld onder Afrikaners is nie, maar ek het in my 33 jaar op hierdie aarde al agt keer getrek, waarvan twee trekke tussen provinsies was. Ons taak is om deeglik voorbereid te wees met ons konsentrasiestrategie en om deeglik daaroor te kommunikeer.

Ons gaan ook meer kinders moet kry. Ons gaan groter waardering vir ons kinders moet toon en veral groter ondersteuning aan ma’s van jong kinders in hul alledaagse take, maar in besonder by die werk. Dit geld soveel te meer vir enkelma’s wat die wêreld alleen aandurf om vir hulle kinders ’n beter toekoms te skep.

Die helde van ons tyd is nie soldate of aktiviste of politici of regeringsleiers nie, maar ons vrouens, die ma’s van ons kinders en van ons gemeenskap se kinders. En ons moet meer doen om dit vir hulle te wys en om hulle te ondersteun.

Ideologiese oplossings behels dat ons die stryd om idees nie net moet erken nie, maar aktief daaraan moet deelneem. Om die stryd om idees te wen is nie bloot iets wat die lewe meer gerieflik sal maak nie. Dit is ’n noodsaaklike voorvereiste vir ons voorbestaan. As ons die stryd om idees verloor, verloor ons, punt. Dit behels die samebinding van ons eie mense rondom gedeelde idees. Dit vereis nie dat almal oor alles moet saam stem nie.

Inteendeel, dit vereis dat ons onderling meningsverskille moet verwelkom en robuuste debatte moet voer, want slegs daardeur toets ons ons eie idees en versterk ons onsself in die groter stryd om idees. NP van Wyk Louw het immers gesê dat die sirkulasie van gedagtes vir ’n volk net so belangrik soos die bloedsomloop vir die liggaam is.

Dit behels ook dat ons ’n hand van vriendskap moet uitreik, veral na behoudende swart denkers, wat deur politici geteiken word weens hul standpunte. Ons sal ons eie stemme met beter argumente, beter inhoud moet versterk, maar terselfdertyd ook simpatieke stemme in ander gemeenskappe moet ondersteun. Dit behels ook dat ons internasionale meningsvormers sal moet bereik en beïnvloed, om ten behoewe van ons ook standpunt in te neem oor dit wat vir ons belangrik is. Ons sal ook ons vriende en familie wat geëmigreer het nie as verraaiers moet sien nie, maar as vennote wat in ’n unieke situasie is om bewusmaking te doen en menings te beïnvloed oor wat in Suid-Afrika aan die gang is.

Slot

’n Ontleding deur die Solidariteit Navorsingsinstituut het bevind dat daar in die onlangse jare ’n “babaploffing” onder Afrikaners plaasgevind het. Ons het gehoor dat Afrikaners skielik meer kinders kry. Ons weet dat ons nog nie genoeg kinders kry om die vervangingskoers van 2,1 kinders per vrou te oorskry nie, maar ons beweeg in die regte rigting. Ons kan dus gerus wees dat daar ’n toekoms vir Afrikaners is, omdat daar Afrikaners vir die toekoms is.

Daar was nog nooit ’n generasie wat die waarborg aan hul kinders kon gee dat daar geen bedreiging bestaan het nie, geen generasie wat nie rede tot wanhoop gehad het nie.

Nou moet ons besef dat ons kleinkinders eendag vir ons gaan vra wat ons gedoen het om die fakkel wat deur ons voorouers aan ons gegee is nog helderder te laat brand voordat ons dit aan hulle oorhandig het. Gaan ons met vrymoedigheid daardie vraag kan antwoord, met die wete dat ons ’n voorbeeld gestel het sodat dié wat na ons kom na ons kan opsien en geïnspireer kan word uit dit wat ons vir hulle gedoen het?

Ek sluit af met die woorde van Theodore Roosevelt. Mag ons in die stryd wat ons vir ons kinders aanpak, altyd aan die volgende woorde herinner word:

“Dit is nie die kritikus wat belangrik is nie; nóg die mens wat uitwys hoe die sterke struikel of waar die man van die daad dit beter kon doen. Die erkenning kom dié een toe wat werklik in die strydperk staan, wie se gesig met stof en sweet en bloed besmeer is; wat moedig worstel; wat foute begaan, wat keer op keer tekort skiet, want geen poging kom sonder foute en tekortkominge nie; maar wat werklik daarna streef om die dade te doen; wat grootse geesdrif toon en grootse toewyding; wat homself vir ’n verdienstelike saak uitput; wat aan die einde ten beste die oorwinning van hoë prestasie ken; en wat op die ergste, as hy misluk, ten minste misluk terwyl hy aansienlik waag, sodat hy nooit sy plek sal inneem naas daardie koue en verleë siele wat nóg oorwinning, nóg mislukking ken.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

John ·

Versoening en handevat met ‘n dwarrel… want dit is wat plaasgevind het toe DeK & M Argitekte se bouplanne goedgekeur is. Kyk net na die sluwe bewoording van die stembriefie en jy sal weet hierdie is die gedagtes van ‘n verwronge brein.
Nou sit ons 25 jaar verder met daai argitektoniese wonderwerk. Hulle het selfs vergeet om trappies na binne en ‘n voordeur te ontwerp want ons moet nou soos Tarzan van ouds met toue na binne swaai of traplere gebruik. Miskien moes die’ skrywe met ‘n aanhaling uit die Bybel afgesluit gewees het, soos: Aan die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg…
En die Vader het alles daarna gereed gemaak sodat ons net kan begin werk… nie net in vyeblare sit en wag vir ander en dan hul swoeg en sweet vir onsself opeis nie…

Wimpie ·

N baie nugtere en wyse benadering van n mens wat bereid is om in n “warm”stoel te sit.Ek wens jou voorspoed en die nodige energie toe om jou werk te kan doen.

Gemaskerde Sopbeen ·

Min van daardie stryders wat jy noem was in ‘n “selfgemaakte stryd” soos die hedendaagse Afrikaanssprekende blanke nie……….wat om een of ander rede geglo het ALLES kan met redenasie en onderhandeling reggestel word. Nadat Sarel Cilliers die gelofte gelees het, het ‘n Landman vir hom gevra, “nou wat as ons nageslagte nie hierdie gelofte nakom nie?” waarop Cilliers geantwoord het: “Dan sal God hulle oorgee aan die vyand teen wie Hy ons nou gaan beskerm!!” En is dit nie presies wat gebeur het nie? Ons het die vyand oor onsself aangestel as heersers, en moan nou omdat ons mishandel word?

humor ·

Dankie baie goed. Mens is geneig om te vra maar hoe??? Maar ons sal ook nooit die “hoe” ontdek as ons nie waag om die eerste tree selfs in die donker te gee nie. Ek sou graag wil he dat die spreker ten minste ook na die WOORD as oplossing verwys het,want as ons dit nie as verwysingsraamwerk het nie, waaraan meet ons onsself. In morele verval is daar geen vertrekpunt nie en is ons gedoem tot n aaklige mislukking.

Johanna Botha ·

Baie dankie ons het meer sulke mense nodig …vas van beginsel !

Abie ·

Baie lank laas so n stuk nugtere en beslis logiese denke gelees.
Dit is behaalbaar en al wat nou oorbly is om die afrikaners te mobiliseer en te motiveer. Ek ondersteun Ernst se siening

Dirk Breytenbach ·

Dankie vir ‘n goed gestruktureerde en genuanseerde ontleding van die betekenis van die Gelofte. Vir die eerste keer in my lewe kan ek nou ‘n ingeligte besluit neem oor die werklikheid en toepassing van die belofte sonder om skuldig te voel. Nou is ek vry om self te besluit hoe om die onderneming van my voorouers aan God sinvol uit te leef. Wat belangrik is, is om dit volgens jou eie oortuiging deel van jou bestaan te maak en dit nie bloot te ignoreer of irrelevant te beleef nie. Vir diegene hierbo wat geweld subtiel as ‘n oplossing voorhou, of in ‘n moeras van wanhoop vasgesteek het, dis nie haalbaar nie. Ons as ‘n volk is baie dieper in die moelikheid as wat ons wil besef maar ons het die menslike kapitaal (intellek, middele, jeug en ondervinding) om ons eie toekoms te bepaal vry van uitgediende ideologiee en rasgedryde sentimente, binne SA. Dis nou ‘n minuut voor twaalf en diegene asook hul leiers wat hulself as Afrikaners sien moet nou mobiliseer of in die geskiedenis verdwyn, ons hoef nie te verstar en in die verlede te leef nie. .

lewies ·

“WAT IS DIE WAARHEID?” As die wortel van ons benarde situasie in SA gedissekteer word, kom ‘n mens telkens agter dat die realiteit van die “erfsonde” steeds so deel is van ons lewe en bestaan dat hierdie “WAARHEID” nooit geignoreer mag word nie. “VERKEERDE BESLUITE” was en sal altyd die grootste vyand van die mensdom bly. Dit geld nie net vir die politiek van die dag nie, maar ook in ons persoonlike lewe. Een “VERKEERDE BESLUIT” het die hele mensdom in sonde gedompel, “EEN VERKEERDE BESLUIT” het Dawid in die grootste krisis van sy lewe laat beland, “EEN VERKEERDE BELUIT” het Moses se ideaal om Israel die land Kanaan binne te lei, verydel.

So bevind ons volk, maar alle volke in SA en die wereld hulle onder die juk van die skuldlas van die sonde. “DIT IS DIE WAARHEID”.

Die WAARHEID is ook, dat die volk met sy leiers wat die eerste gaan wees om die geheim te ontrafel en toe te pas sodat die “REGTE BESLUITE ” geneem kan word. Sal as oorwinnaars triomfeer. Dit is die ” ENIGSTE WAARBORG” vir die hier en die nou, maar ook vir geslagte wat kom.

Mag julle ‘n geinspireerde wysheid en versiendheid van bo ontvang om elke besluit te te oordink en tot Sy eer toe te pas.

Fryingfrog ·

Baie dankie, Ernst vir ‘n goed-gefundeerde en inspirerende boodskap! Die opskrif sou egter moes lui: Die toekoms is in God en in ons eie hande. Dit is immers God wat die mag uitdeel aan wie Hy wil – tot voorspoed of tot straf van dié wat onder daardie mag gebuk gaan. My beskeie mening is dat God tans met ‘n tweesnydende swaard in SA werk: nié vir die welsyn van enige volk in SA nie.

MTSteyn ·

Of dalk is die gebruik van hierdie tweesnydende swaard wel tot voordeel van die Afrikaner. Ek reken dat Weenen eers moes plaasvind voordat Bloedrivier kon plaasvind. Die dood van Retief voor die oorwinning van Pretorius. Die smart voor die oorwinning; in daardie volgorde.

Die Afrikaner is in die smeltkroes, en dit is die beste plek waar ons kan wees.

Andre ·

Welgedaan Ernst!!!

Jy ‘versit berge’ hoewel jy nog relatief jonk is!

Ons ondersteun jou 200%!

“Gee hulle hel!”

ha …. ha …

Paul ·

Dankie Ernst, julle sal hierdie inligting baie wyd moet versprei, deurlopend die mense op die werklike gebeure en omstandighede attent maak. CR en die ANC is daarop uit om in alle velheid disinformasie teen die Afrikaner te versprei, die aanslag verskerp by die dag. CR herhaal die selfde boodskap in sy toesprake en optredes en dit is dat die grond van hulle afgevat is.

Dat hulle volgelinge dit moet glo is vir hulle van kardinale belang, want dit is hul reddingsboei in belang van die ANC se voorbestaan, so mobiliseer hulle die menigte, ons sien hierdie daagliks op die nuuskanale en beriggewing op die Internet, maar dit weet julle.

Dus moet julle ook verseker vir CR en die ANC wys dat julle die disinformasie, ook op grondvlak, met hand en tand beveg, sodat hulle bewus daarvan is dat hulle nie vrypas het om die geskiedenis te verdraai en plooi soos dit hulle pas om die grondgryp te regverdig nie.

Paul ·

Ek sal graag CR se Kersboodskap en veral sy Nuwejaarsboodskap aan die ‘volk’ wil hoor.

RG ·

Stem saam, baie goeie ontleding en boodskap, dankie. Verstaan ook dat dit ‘n Gelofte boodskap is maar dink tog dit was die gulde geleentheid om ook ‘n 10 punt strategiese plan uit te spel vir hierdie stryd. In ons dorp is daar daagliks tekens van hoe die ANC, EFF en BLF hul lede mobiliseer. Hulle is georganiseerd met ‘n LIST OF DEMANDS, 20 daarvan om presies te wees, waarvoor ons belasting betalers sal moet opdok. Hulle het ons Munisipaliteit en Sakelui onder hul beheer en die skarrel om aan hul DEMANDS te voldoen om te verhoed dat hul nie weereens hul dreigemente uitvoer en ons dorp kaap nie. Wat het ons? Ons het nog nie eers ‘n T-hemp of ‘n Beret nie (tong in die kies). Geniet julle vakansie, opreg bedoel, julle het dit voorwaar verdien.

Pieter Rossouw ·

Daar is dele van Ernst se toespraak wat buitengewoon verhelderend is, met name die gedeelte langs Oom Karl se foto en kort daaronder! Maar kyk daarenteen tog weer na die laaste sin van die paragraaf net onder die tweede foto van die artikel:
“Jy sal ook die feit moet ontken dat dit slegs moontlik is om op 30% van Suid-Afrika se oppervlak te oorleef as jy nie die tegnologie het om ’n boorgat te grou nie.”
Wat na my oortuiging bedoel BEHOORT te word (en genoeg lesers sal dit met my oneens wees), is die volgende:
“Jy sal ook onbegrip moet toon vir die feit dat dit op slegs 30% van Suid-Afrika se oppervlak moontlik is om te oorleef sonder die vermoë om êrens vandaan genoeg water aan te voer, byvoorbeeld deur middel van boorgate of kanale.” (Overgezet zijnde: Oorlewing was vir die volkere wat na bewering “eerste” in die binneland was, op verreweg die grootste deel van die grond ONMOONTLIK!)
Die gepubliseerde sin is egter nie net dubbelsinnig nie, maar is deur ’n verkeerde volgorde van bysinne en woorde en deur die ontkennende vorm, selfs vir drie vertolkings vatbaar! Allewêreld Maroela EN Ernst Roets: Het niemand nog nooit van geen (on-)kundige proefleser nie gehoor nie, of is ek reg??

marco polo ·

Pieter, mens se ‘het niemand nog ooit…’ As jy taalgebruik wil kritiseer, moet jy dit darem self reg gebruik.

Therese van Schalkwyk ·

Pieter Rossouw

Vryheid van spraak en al daai dinge, maar om darem vir Maroela en die skrywer van hierdie skitterende stuk voor stok te kry, terwyl 99,9% van die lesers die betrokke sin sonder sukkel korrek verstaan het, is ‘n bietjie dik vir ‘n daalder.

Andre ·

Pieter

Ons het die ‘boorgate grou’ volledig verstaan.

“‘n Goeie begryper het ……!”

Pieter Rossouw ·

@marco polo: Ek het op jou humorsin gereken. Jammer, ek sal nie weer nie!
@Adre: Jy mis die crux daarvan: Wat bewys word deur die verbeterde sin, word verdoesel deur die onverbeterde een! Die uitbreiding van “boorgate grou” is maar ’n bygedagte, terwyl ek tog besig was.

JAN ·

Baie goeie skrywe Dankie Ernst.
Wetenskaplik gesproke:
Om te vergewe doen mens vir jouself om jouself te bevry van ander se invloed. Versoening is deur meer as een party ter wille van gemene saak / taak. Bande bind pleks van bande sny. Doelgerigte Uitreiking .
Geen volk het ooit ontstaan anders as ekonomiese redes nie. Eie arbeid maak mens vry. = selfbeskikking . Dink aan Orania onder andere. Emmigrasie is ook baseer op jou eie arbeid – jy sal wragtag alles self moet doen om te oorleef soos in Orania.
Orania is bloot die binnelandse opsie.
Eensaamheid is erger as die dood daarom is dit wreed en sadisties om te verstoot isoleer sensuur Bind asseblief bande van vriendskap en vreugde.
Dis liefde gekenmerk deur getrouheid.

rassie ·

Jy is heeltemaal reg dat die jonger geslag nie die hedendaagse nuwe en totaal anderse uitdagings op dieselfde wyse kan aanpak as wat die ouer geslagte hul uitdagings probeer hanteer het nie.

Anders gaan julle in dieselfde slaggate trap as die ouer geslag.

Die oorgrote meerderheid van Afrikaners van my geslag het wel aktief in die strydperk van die destydse idiologie en praktyk gestaan, kompleet met “stof, sweet en bloed” en ken dus beide die gevoel van “oorwinning” en van “mislukking”

Baie van ons was jonk, vol energie, goed vertrouend op die ouer geslag van destyds se insigte, vooruitskouings en praktiese oplossings. Ons was trots op die selektiewe en soms aangepasde gedeeltes uit die geskiedenis wat op skool en universiteit as waarheid voorgehou is. Ons was vas oortuig deur die bevestiging deur ons Afrikaner kerk en selfs die kapelane op die grens van die korrektheid van alles daarvan volgens Gods Woord, die Godgegewe doel van die Afrikaner in Afrika ens ens en was dus bereidwillig om alles in die stryd te werp.

Die groot les uit die Afrikaner se geskiedenis is na my mening dat kort-termyn “Afrikaner sukses” nie noodwendig ook langtermyn “Afrikaner sukses” beteken nie.

Iewers het ek gelees dat Afriforum en Solidariteit klem plaas op aspekte soos wettigheid, morele aanvaarbaarheid in groter Suid-Afrikaanse verband, praktiese werkbaarheid, volhoubaarheid ens.

Dit is goeie “nuwe” vertrekpunte wat destyds ontbreek het en dus onder huidige omstandighede tot langtermyn “sukses” mag lei.

Sterkte met ‘n groot taak.

Paul ·

Erns, na ek jou gelees het, kan ek oor ‘n tien meter hoë muur spring, die adrenalien wérk met my.

Nouja ·

Die opskrif is baie gepas: “Ons toekoms is in ons eie hande.” Met ander woorde, MY toekoms is in my EIE hande. Met daardie stukkie eksistensialisme kan ek heelhartig saamstem. My toekoms en oorlewing is dus nie bepalend of ek aan n groep, volk of gemeenskaplike entiteit behoort nie. Dankie Ernst.

Anton X ·

Dis ‘n goeie skrywe en ‘n mondvol, en ek besef volgens die kommentare dat dit moeilik gaan wees om almal tevrede te hou. Daars altyd een stroom op. Soos ek wat teen die einde teleurgesteld was met die hand wat ons moet uitreik na behoudende swart denkers. Liewe Vader, ons veg om oorlewing. Hoekom nie ‘n hand uitreik na ons eie nie. Van hand uitreik sit ons waar ons sit. Ons het nog niemand gehaat nie. Nog net gegee.
Begin asb ‘n webtuiste waar ons klein besighede kan adverteer, en mekaar ondersteun. Besighede wat vrygestel is van SEB, maar geen punte daarvoor ontvang nie. Ek het kliente wat my gelos het, want hul kry geen punte van my, dus lyk hul telkaart nie so goed nie.
Klein besigheid in plakkerskampe is miljoene werd. Dis hoogtyd dat ons ook tussen onsself besigheid doen. As jul iets wil doen en ‘n begin maak, dit kan van more af begin werk.

Charl ·

Die Afrikaners moet terugkeer na God toe. Baie van ons (let wel ek se “ons”. Ek oordeel nie iemand spesifiek nie – ek was vir lank een van die “ons”) het vir lank nie die Gelofte nagekom nie. Baie Afrikaners braai en drink eerder op die dag.

Materialisme en hoogmoed is nog ‘n probleem. Ek sien daagliks hoe Afrikaners neerkyk op hul volksgenote. Moenie geld aanbid nie!

Riena ·

Ons sal die volk moet aanspoor om meer kinders te kry. Alles kan uitgewerk en beplan en selfs gedoen word, maar as ons nie `n nageslag het nie, eindig alles in die niet. Sonder dat selfs een skoot geskiet word.
Kry meer kinders!

Andrea ·

Ons sal eers moet planne in plek hê hoe ons n toekoms vir daai kinders kan verseker. Ja, ek weet andee volke het dit nie só gedoen doen, en doen dit steeds nie só nie, daarom is ons in die meerderheid. Maar ek sal nooit my kinders aanmoedig om kinders te hê voordat hul nie vir daardie kinders kan sorg nie. Ek wil nie hê dat hul dalk in n plakkerskamp opeindig nie. So kom ons praat eers oor die pad vorentoe. Kom ons kry daai konsentrasiegebiede in plek so gou moontlik. Nie oor die volgende 20, 30 jaar nie, maar vinnig, nou!

AW ·

@Andrea Stem Saam !!
Ek werk vir 32 jaar in die Gemeenskap, Blankes het Kinders, Maar is nie instaat om Finansieël na daardie kinders om te sien Nie!!
in die laaste 10 jaar as dit nie meer is …. ek sien gereeld blanke mense bedel en een van die mees bekenste “opskrifte” op hul plakkaat is….”have children to feed”

So twee maande gelede sê ek aan n moeder met twee kinders ….”gaan na die Welsyn en vra vir hulp”

Natuurlik was ek nou die “monster”…. Hoe kan ek so iets voorstel…..

al hoe meer blanke kinders raak betrokke met Misdaad…. Drank…. Dwelms…

en dan nie te praat van swangerskap….
Die swanger Kind gaan na haar baba Kind omsien?

Dan ook die aantal blanke kinders wat skool verlaat en of Graad 12 druip….

DC ·

Verfrissende gedagtes. Onthou net. Idees is nog nie werkbare oplossings nie. Die tyd raak min om momentum vir heropbou te skep… Al is dit tot enkele areas beperk. Dis bly n bron v kommer dat almal wegskram om soos die Voortrekker n streep te trek vir oorlewing. Gaan kyk gerus weer fyn na Pretorius se strategie en die gebeure na Bloedrivier itv die Dingaan vs Panda opset. Baie is vandag steeds toepaslik. Berei voor v oorlog as jy v jouself veiligheid en voorspoed in Afrika wil bewerkstellig.

Rudie Booyens ·

Die eer om die God van die Gelofte, die God van die wonderwerk van 16 Desember 1838, se lof te verkondig, kom verseker ‘n innig dankbare volk toe.
Ons kyk steeds met verwondering en aanbidding terug! Wat ‘n God!!
“Daar is geen God wat só kan verlos nie!”
Daniel 3:29.
Ons kan met hoop en vertroue saamwerk aan ‘n nuwe toekoms in SA.
“Die wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid.” Psalm 125:1

Leon ·

Uitstekende gedagtes Ernst. Die vraag moet gevra word. Wanneer word die anc regering se najaag van die NDR oogmerke, in teenstelling van die letter en gees van die 1994 skikking en grondwet, dan as onlegitiem gesien? Veral met betrekking tot die betaling van belasting.

Belastinginkomste in die hande van ‘n eie Volkstaat kan baie selfbesikking doelstellings befonds.
Dit stuit my teen die bors dat ek gereduseer word tot tweedeklas burger deur anc wette maar steeds die onwettige staat befonds.

FM ·

Goeie realiteitsboodskap Ernst.Ons sal moue moet oprol en vir mekaar in die bresse moet tree. Dankie vir jou werk. Jy laat jou nie afsit nie. Ons sal moet aanhou om aan te hou. Sterkte. Ons is met julle.

Stanley Oberholster ·

Liewe dierbares. Ons toekoms is volkome in die Here se Hande. Geen haar sal van ons kop val sonder Sy wete nie. Indien ons Hom waaragtig dien, glo en vertrou en ernstig bid, kan en sal Hy vir ons deurdra.

CG ·

Ernst. Indien Solidariteit nie verskriklik vinnig gaan wakker skrik nie, gaan bitter min mense oor vyftig jaar nog jou toespraak in Afrikaans kan lees. Dié wat dit wel sal kan doen, sal maar net hulle hande kan aaamslaan oor die stomsinnigheid! Soos gewoonlik word die bedreiging uitstekend verstaan, maar die “oplossing”…. (Dankie tog vir die reuse voorwaardse stap – vir Solidariteit – wat uiteindelik besef die hele land kan nie gered word nie en dat daar gekonsenteer moet word). Maar o wee! Die “ankerdorpe”! Dit is nou mos oa Durban en in die helfte dirpe word Afrikaners se getalle minder en in almal – uitgesluit Orania – word die Afrikaners elke dag ‘n kleiner minderheid. Wat sou jy van Piet Retief in 1837 gedink het indien hy oortuig sou wees die oplossing vir die Oosgrens is konsentrasie in ankerdorpe EN ‘n nuwe oplossing ( die Groot Trek). Net so onsinnig is Solidariteit se “EN” – plan vandag!! 2.1 kinders per vrou.? Dit is die vervangingskoers vir ‘n normale bevolking – nie een waarvan derduisende mense emmigreer nie. Intussen vermeerder die res van dis bevolking steeds teen ‘n tempo van meer as 3 kinders per vrou, plus immigrasie Julle voorstel vir meer kinders sonder dat julle ‘n werkbare plan het, is om dit baie sag te stel, onverantwoordelik. Die oplossing is radikale konsentrasie in wat in ‘n volkstaat moet ontwikkel. 20 “konsentrasies” is maar net ‘n rondskuif van die minderheid.

Jerry ·

Bemarkingstrategie! Die werklike strategie is om die vuur te stook teen alle vorme van diskriminasie en uitsluiting van die Afrikaner en deur Afrikaner belange teen hierdie aanslae te verdedig met lidmaatskapfooie, met bewusmakingsveldtogte en hand en tand hofsaakgevegte, net om dan op spesifieke tye, spesifieke hofsake te verloor soos bv die hofsaak oor Afrikaans as onderrigtaal by universiteite, ten einde die belang soos taal wat die Afrikaner hom ontse word in die breer SA samelewing, vir die Afrikaner beskikbaar te stel by akademia, Soltech en ambagopleiding instellings. So word belange soos taal wat uitgesluit word uit die breer Suid Afrikaanse samelewing van diversiteit en vermenging, dan eksklusief beskikbaar gestel aan die Afrikaner vir afsonderlike ontwikkeling. Op die ou einde van die dag sal Afrikaner belange slegs beskikbaar wees en beskerm kan word by Solidariteit/AfriForum en sal die blaam daarvoor voor die deur van die ANC/EFF gele kan word, want dit is mos wat die ANC/EFF veroorsaak het, maar wie dan eintlik reg in die hande van Solidariteit/AfriForum gespeel het. Die aanslag teen die Afrikaner dien dus as regverdiging vir Afrikaner eksklusiwiteit van afsonderlike ontwikkeling en selfbeskikking! So bring jy dan n Afrikanersakeryk tot stand! Dit is daarom dat Ernst se dat dit op korttermyn slegter sal gaan. Die ANC/EFF aanslag en Solidariteit/AfriForum se strategie gaan die Afrikaner op korttermyn eers in ellende dompel voordat Solidariteit/AfriForum gerat sal wees om met tyd alle Afrikaner belange te beheer en te bestuur! Boemerang dit, langtermyn ellende!

Marthinus Willemse ·

Die probleem met Theodore Roosevelt, is dat hy geen ooghare gehad het vir die ware Amerikaners – die Indiane – nie. Hy het doelbewus begin met `n program van Amerikanisering, om Engels as die enigste taal te behou. In 1919 skryf hy, “We have room for but one language here and that is the English language, for we intend to see that the crucible turns our people out as Americans and not as dwellers in a polyglot boarding house.”

Linguis Peter Farb sê die Amerikaniseringsbeweging het sy toppunt bereik in die 1930’s, maar die gevolge daarvan word vandag nog gevoel. “The crime of Americanisation is that it convinced those whose tongues were stigmatised that they were deserving of the stigma.” (Klink dit bekend?)
[Peter Farb: Word Play: What happens when people talk, 1977, Londen: Hodder en Stoughton, bl 153.]
Roosevelt het dus met Amerikaanse volke soos die Navaho, Lakota, Sioux, en ander gedoen wat die ANC tans met die Afrikaner doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.