Geloftedag

Geloftedag

Geloftedag. Argieffoto.

Vandag om twaalf uur sal ʼn sonstraal weer op die granietsenotaaf in die Voortrekkermonument skyn. Daardie ligstraal is verteenwoordigend van die gelofte wat bykans 180 jaar gelede afgelê is en vandag steeds in stand gehou word. Op 16 Desember 1838 het 470 Voortrekkers ʼn mag van minstens 10 000 Zoeloes verslaan. Dié oorwinning sou nie moontlik gewees het sonder Goddelike ingryping nie. Op die voorafgaande paar dae het die Voortrekkers daagliks ʼn gelofte afgelê dat indien God hulle sou help, hulle en hulle nageslag daardie dag soos ʼn sabbatdag sou herdenk en die eer van die oorwinning aan God sou gee.

Vandag kom Afrikaners steeds op verskillende plekke bymekaar om daardie gelofte te betaal. Dit is sekerlik een van die vakansiedae wat die beste bywoning geniet. Die versoeningsfeeste wat op dieselfde dag aangebied word, het sedert die ontstaan daarvan in 1994 in partypolitieke byeenkomste ontaard met bywoners wat hoofsaaklik gelok word deur ʼn gratis kospakkie of T-hemp.

Geloftedag is die een dag in die jaar waarop Afrikaners hul onderlinge verskille op sy skuif en saam hulde bring aan die brawe manne wat onder leiding van Andries Pretorius geveg en met God se hulp die oorwinning behaal het. Skeptici sal aanvoer dat dit nie die gelofte was wat daardie dag die oorwinning gebring het nie, maar die Voortrekkers se gebruik van vuurwapens. Ons moet egter nie vergeet nie dat die Britse weermag met duisende opgeleide soldate en selfs beter vuurwapens ook teen die Zoeloes geveg het. Die meeste Britse soldate het egter in dié gevegte omgekom. Tydens die Slag van Bloedrivier, met veel minder mans en meer primitiewe vuurwapens, is slegs drie Voortrekkers gewond en niemand dood nie.

Ons belangrikste verantwoordelikheid, naas die bywoning van Geloftedienste, is om seker te maak dat die volgende geslag kennis dra van die wonderwerk van 16 Desember 1838. Die gelofte wat Sarel Cilliers en die trekkers afgelê het, is bindend ook op die nageslagte. Ons moet egter onthou dat vandag se jeug nie vanself opgewonde gaan raak oor iets wat amper 180 jaar gelede gebeur het nie maar dat hulle van kleins af moet leer waarom 16 Desember so ʼn spesiale dag is. Hulle moet weet dat hulle trots kan wees op die waagmoed van Andries Pretorius en die ander trekkers, hulle moet weet dat daar baie is om op trots te wees in die Afrikaner se geskiedenis en hulle moet weet dat hulle voorouers ʼn Goddelike ingryping eerstehands ervaar het. Dit is egter elke ouer se verantwoordelikheid om seker te maak dat sy en haar kinders die verhaal ken.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

James Kemp

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Ansie Geldenhuys ·

Ai, ons was ook met ‘n Geloftedagdiens teenwoordig en verbaas oor hoeveel mense dit bygewoon het. Ons moet – in die tye waarin ons leef – gebed ons tweede asemhaling maak.
Dankie dat ons nog ‘n geleentheid gegun word om hierdie groot belofte te onthou en aan ons kinders bekend te maak.

Ben ·

Stem saam, elke ouer se plig. Omdat ons nie onse deel van die gelofte gehou het nie, het God dit toegelaat dat die selfde nasie waarteen hy ons beskerm het, ons vandag regeer. As ons, ons verootmoedig en terug draai na God toe, en ons hou by ons gelofte sal hy ons weer in ere herstel. Kom ons doen en kyk wat gebeur. Ons het niks om te verloor nie, ons het al klaar alles verloor. Daag julle uit.

foxi ·

Nee Ben…met respek gesê……ons het NIE alles verloor nie. Niemand kan ons geloof….hoop en liefde van ons wegvat nie. As ons terugsit en net niks doen vaarvoor ons geveg het nie…..sal ons net mismoedig word en net alles oorgee aan die vyand. Opgee……nee……nie ons afrikaanse volkie nie. Dit is wel so dat ons as volk nie n geweldadige volk is nie……ons is nie so opgevoed nie. Ek glo nogsteeds dat ons, ons gelofde hou teenoor onse skepper al lyk dit nie so nie. God se hoeër hand is oor Sy geliefde kinders nog al die pad. Al wat die afrikaner volk moet doen….is om God te vertrou en nie net terugsit en moedeloos word nie! Die HeiligeGees is alomteenwoordig en ek het nog nie een oomblik getwyfel dat GOD ons verlaat het nie! Gelofdedag sal nooit wegval van onse volk nie!!

jean ·

Die kinders stel nie belang……hulle is nie meer hier. Sou ons almal maar weer Sy aangesig soek met so ‘n gelofte, dink ek almal se kinders sou nog hier wees…….

Ferreira ·

Ja maak soos die voortrekkers en vat jou goed en trek! Hier is nie meer ‘n toekoms nie!

Gerd Lourens ·

Ek het spesiaal Orania omgery om die Geloftedag-vieringe by te woon.

Ds Kobus de Kock (kerkdiens) en Prof Koos Malan (feesrede) het beide besielende boodskappe vir die Afrikaner oorgedra.

foxi ·

Ek wil ook net nog n mening byvoeg. Kyk hoe is ons Geloftedag by Voortrekkerhoogte…..lieflike oop blou hemel en rustig….tog hartseer waar almal bymekaar is, gesprekke oor geloof en hoop.
Gaan kyk nou op Noordwes waar Zuma is…..donderstorm……tent uitmekaar geruk!
Wat vertel dit vir ons? Is dit toevallig?
Alle eer en lof aan onse Hemelse Vader…….Amen.

Nicolene ·

Ons is in die buiteland en gedenk die dag soos ‘n Sabbat. Ons kyk na die uitsending vanaf die Voortrekker monument en probeer so ons kinders deel daarvan maak.

John ·

Die Afrikaners word die heeltyd gekap en die skuld gegee vir alle probleme en ons en ons eiendom staan dan glo in die pad van hul vooruitgang, maar die witmense in SA word deur ‘n navorser (op PressReader.com se eie oorsigtelike nuusblad) op ‘n skamele 5 milj gereken teenoor ‘n geskatte byna 72 milj swartmense. Die getal Kleuringe, Sjinese en Indiers is ook ‘n ope vraag aangesien daar in hul geledere ook onwettige immigrante is wat nie aan sensustellings deelneem nie. En vergeet nie van die grenspendelaars nie. Die regering moet begin beplan vir hierdie massa mense wat groot eise gaan begin stel. Die vingertjie kan nie die heeltyd soos ‘n verroeste weerhaan op ‘n kerktoring, in ons rigting bly vassteek nie.

Rupert Ashford ·

Jy sien reeds die gevolge. Baie jare gelede is al voorspel RSA se groot probleem gaan rondom watervoorsiening wees. Toegegee dit is tans droog ook.

Heleen ·

My kleinkinders gaan beslis ons geskiedenis hoor. ..van ouma…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.