Gelykheid, menswaardigheid en regstellende aksie

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Deur prof. Pierre du Toit

Daar is onlangs berig (Dirk Hermann in Rapport, 30 September 2018) dat die regering beoog om maatreëls oor die teikens vir regstellende aksie nog strenger te maak, en om wat neerkom op rassekwotas in te stel. Hierdie kwotas sal deur die regering self besluit word, en boonop ook met strafmaatreëls afgedwing word.

Die vraag is of sodanige uitbreiding van die Wet op Billike Indiensneming voldoen aan die vereistes van grondwetlikheid.

Dit is tyd dat ons weer kyk na wat die Grondwet die staat en ander werkgewers toelaat om in die naam van regstellende aksie te doen of nie te doen nie.

Een benadering is om te kyk na die kernwaardes van die Grondwet self, naamlik menswaardigheid, gelykheid en vryheid, en hoe die drie waardes bymekaar inskakel.

Die insigte van die werk wat prof. Lourens du Plessis van die Universiteit Stellenbosch (US) reeds in 1997 geskryf het is uiters belangrik, en het tot dusver nog nie plek gevind in die debat en beleid oor regstellende aksie nie.

Wat hy sê is dat dit hoogs betekenisvol is dat hierdie drie waardes konsekwent in die 1996-Grondwet in dieselfde volgorde verskyn: eerste dié van menswaardigheid, daarna die gelykheid, en dan vryheid. Dit, volgens hom, plaas hierdie drie waardes in ’n duidelike rangorde, wat ter sake is vir die hantering van die spanning tussen gelykheid en vryheid, en waarmee albei hierdie waardes begrens word.

Gelykheid en vryheid moet albei voldoen aan die vereistes van menswaardigheid. Beleide en maatreëls om vryheid en ook gelykheid uit te brei, moet tegelykertyd ook waardigheid van die mense wat hierdeur geraak word versterk, of ten minste nie aantas nie.

Hierdie soort beperking op vryheid is algemeen bekend. Vryheid van spraak is ’n reg wat elke dag in die openbare media uitgeoefen word. Enigiets kan geskryf of gesê word, maar binne perke – haatspraak, laster en naamskending is almal uitsprake wat kwetsend is en mense se waardigheid aantas en word dienooreenkomstig beperk.

Dieselfde behoort te geld vir die beginsel en praktyk van die uitoefening van, en bevordering van gelykheid. Om ’n persoon in die naam van regstellende gelykheid bloot op grond van ras in ’n pos aan te stel, ongeag haar/sy bekwaamhede, en waar die nuut aangestelde dan heeltemal misluk omdat hy/sy net nie opgewasse is vir die betrokke pos nie, is om gelykheid bo menswaardigheid te stel. Die betrokke persoon se waardigheid word selfs afgetakel deur, om by wyse van spreke, te moet swem in water wat te diep is.

So ook word ’n mens se waardigheid aangetas deur haar of hom van ’n aanstelling te diskwalifiseer bloot op grond van geslag of velkleur. Die feit is dat sodanige persoon nie self sy of haar ras of geslag kon kies nie, en ook nie sy of haar ouers en huisgesin nie. Al hierdie eienskappe is buite die beheer van elke individu, is toegeskrewe deur die noodlot, en dit ontneem die waardigheid van die persoon indien die samelewing toelaat dat dit teen hom of haar tel.

Enige bepaling wat regstelling in die naam van die bevordering van gelykheid wil toepas deur die stel van rasse- en of geslagskwotas wat die toekoms van mense bind aan sulke aangebore hoedanighede, is daarom dan ook ’n direkte ondermyning van mense se waardigheid.

Dit is ook die moeite werd om weer te kyk na waarvoor die begrip “menswaardigheid” staan. Dit is ’n aanspraak teen die samelewing wat deur enigiemand opgeëis kan word, ongeag sosiale stand, ongeag historiese bagasie en los van enige optredes wat gemeet word aan huidige maatstawwe, gedragskodes en standaarde.

Dit is ’n reg wat los staan van aangebore eienskappe, prestasies, ontbering of enige amptelike beoordeling. Dit is ’n reg wat setel in die erkenning van menswees, los van enige bykomende kwaliteite, self ongeag sulke kwaliteite.

Selfs mense wat diep onregte gepleeg het, soos moordenaars, het nog steeds die reg op lewe, en die reg om nie gemartel te word nie, om sodoende die laaste grein van hul eie menswaardigheid te kan behou. Die verloorders onder apartheid kan sekerlik aanspraak maak op hierdie reg, en net so veel kan die eertydse wenners onder apartheid dit ook doen, ongeag hoeveel daar is om oor skaam te wees.

  • Pierre du Toit is emeritusprofessor aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jerry ·

Regstellende aksie het dit ten doel om gelykheid en menswaardigheid van swartmense te herstel. Witmense is glad nie ter sprake nie mbt gelykheid en menswaardigheid nie. Deur regstellende aksie vat die staat doodeenvoudig die gelykheid en menswaardigheid weg by witmense en oorhandig dit aan swartmense. Die staat sien nie bevoegdheid of kwalifikasies as n vereiste vir die herstel van swartmense se waardigheid nie. Hulle sien die onwaardigheid van n witpersoon as die waardigheid van n swartpersoon. Hulle glo in hulle diepste denke dat die onreg van die verlede net reggestel kan word deur dit te vervang met dieselfde onreg teenoor witmense. Regstellende aksie is blatante omgekeerde diskriminasie wat verskans word in NDR transformasie programme, burgerlike menseregte instellings en wetgewing. Deur te dink dat onbevoegdheid n swartpersoon wat in n toppos aangestel is se menswaardigheid aantas is wensdenkery. Zuma is n goeie voorbeeld van n persoon wie se menswaardigheid nie deur onbevoegdheid aangetas is nie. Inteendeel, hoe meer onbevoeg, hoe meer menswaardig het dit Zuma laat voel en laat lyk in sy mense se oe! N skande volgens westerse denke is n prestasie volgens Afrika denke. Afrika denke is gebaseer op implimentering van die teenoorgestelde van implimentering van westerse denke. Dit is hoe Afrika, kolonialisme beveg het en dit is hoe die ANC transformasie toepas en dit is hoe hulle kolonialisme in Suid Afrika beveg en gaan vernietig. Ons mense en ons akademici verstaan duidellik nie waarmee hulle te doen het nie totdat regstellende aksie hulle in die maag tref!

marco polo ·

Jerry, ek stem selde saam met jou, maar hierdie keer slaan jy die spyker op die kop.

Willem ·

Jy praat van Zuma met wie se optrede selfs die vergewingsgesindes onder ons nie kan versoen nie. Maar dan het CR tot dusver ‘n muis gebaar.

Leon ·

As mens nie verstaan wat reg is nie , dan sal dit maar knor gaan om die verkeerde raak te sien. So dankie Prof du Toit vir die insig en wysheid met ons gedeel, dit gee mens soveel meer perspektief.

Paul ·

Baie dankie vir hierdie wysheid. Wanneer, indien ooit, sal ons in die land, veral die regslui en regering, wat ons daaglikse handel en wandel bepaal, hieraan voldoen en dit self uitleef in hul uitsprake en rigting wat hulle gee?

Eish ·

Ja née Jerry, dit moet ek jou gelykgee, jou insigte oor dié onderwerp is daar waar die ” tyre” die teer slaan en nie woordgimnastiek uit n lugverkoelde kantoor nie!

Leon ·

So asof die ANC politici wat vir die gemors waarin hulle ons laat beland het en die kommentators hier onder nie in lugverkoelde kantore sit nie.

Vaalseun ·

Baie dankie vir die insigte, Pierre. Die probleem met hierdie drie begrippe is dat die toepassing daarvan subjektief gedoen kan word want daar is nie ‘n universele objektiewe maatstaf vir enigeen van hulle nie. NP van Wyk Louw het gesê dat die idee van gelykheid gaan nog baie moeilikheid veroorsaak. Dit kom uit in jou verwysing na die moordenaars se “laaste grein van hulle eie menswaardigheid.” Hoeveel greine het menswaardigheid (dignity), of gelykheid (equality) of vryheid (freedom)? Wanneer ons die moordenaar straf, neem ons greine van sy menswaardigheid, gelykheid en vryheid weg, maar in teenstelling met watter maatstaf van “vol” greine? Is die vol grein van menswaardigheid voor sy vonnis gemeet aan sý status vóór die misdaad, of aan Zúma s’n, en moet dit dan ná die vonnis minstens nie laer as Oscar Pistorius s’n wees nie, om aan die vereiste van gelykheid te voldoen?
Leef ‘n welaf persoon in ‘n ryk woonbuurt meer menswaardig as ‘n arm persoon in ‘n plakkerskamp, vanweë die ongelykheid in inkomste en bates? En as die welaf persoon se rykdom die resultaat van vryheid van beweging, ondernemerskap, versameling en toepassing van kennis en vakmanskap is van haar/homself en/of hulle voorsate? Is die menswaardigheid van ‘n bomplanter gelyk, of hoër as die van sy slagoffers ná die ontploffing? Hulle lewens of geskende liggame se menswaardigheid kan nooit weer herstel word nie. Prof. Lourens se stelling dat gelykheid en vryheid ondergeskik is aan menswaardigheid skep ‘n probleem.

Wessel ·

Geen wonder dit gaan so beroerd in die land nie, ons waardestelsel en inlgesteldheid oor hierdie sake, ook die interpretasie daarvan laat veel tewense oor, dan kritiseer ons nogal ook die regdenkendes. Ek het ‘n idee ek weet hoekom ek hier by die huis sit en beterweterig kommentaar lewer.

John ·

Miskien moet meer gese word oor etiese waardes en waar dit vandaan kom. Christene en Jode het definitiewe riglyne wat op Skrif gestel is ook ten opsigte van nie-gelowiges maar dit word deesdae geminag. Indien godsdiensbeginsels verskil, sal sienswyses en optredes verskil. Baie papier en baie woorde se niks. Die vraag is: Wie dien jy?

Geronimo ·

Die grondwet het myns insiens ten doel gehad om die speelveld vir almal gelyk te maak. Ongelukkig kan sommige mense dan nie meeding nie en hulle benodig regstellende aksie om hul onvermoë en minderwaardiheid te omseil.

Chris ·

Die grondwet is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Dit kan geïnterpreteer word soos dit die ANC pas. Selfs Roelf Meyer het gesê dat dit slegs ‘n raamwerk bied waarin besluite gemaak kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.