Groenruimtes en die stryd teen misdaad

Deur Zel-Marí Gelderblom

Argieffoto (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Ek hou daarvan om in ʼn groen, boomryke buurt te stap – al die sypaadjiegras netjies gesny en daar is struike wat oor hoë mure loer met die belofte van ʼn lushof aan die anderkant. Daarteenoor kan ʼn vergroeide en onversorgde onbeboude erf my ongemaklik laat en vinniger laat verbystap.

Dié teenoorgestelde reaksies het my laat wonder oor die verhouding tussen groenruimtes (of die gebrek daaraan) en misdaad, aangesien dit voorkom asof groenruimtes ʼn positiewe impak op misdaadvoorkoms kan hê, terwyl vergroeide ruimtes tot hoër misdaad kan lei.

Prof. Gregory Breetzke van die Universiteit van Pretoria se Departement Geografie, Geoinformatika en Meteorologie het dieselfde vraag gevra. Hy was daarom verlede jaar deel van ʼn span navorsers wat die uitwerking van stedelike groenruimtes op misdaadsyfers in Suid-Afrika ondersoek het. Die studie het bevind dat geweldsmisdaad met 1,2% afgeneem het vir elke 1%-toename in totale groenruimtes, en eiendomsmisdaad met 1,3%.

Toe- of vergroeide ruimtes kan ʼn omgewing skep wat as onveiliger beskou word, en dit kan moontlik bydra tot ʼn toename in sekere soorte misdaad. Oorgroeide gebiede kan byvoorbeeld bedekking en beskutting bied vir misdaadaktiwiteite, wat onwaarneembare onwettige gedrag vergemaklik, byvoorbeeld vandalisme of dwelmgebruik.

Toegegroeide ruimtes kan ook ʼn persepsie van verminderde toesig skep. Dié persepsie kan tot ʼn omgewing bydra waarin misdaadaktiwiteite meer kan voorkom. Verwaarloosde of toegegroeide ruimtes kan ook tot ʼn gevoel van wanorde en verval in ʼn gemeenskap bydra, wat vrees vir misdaad onder inwoners kan verhoog en wat selfs tot ʼn selfversterkende siklus van verhoogde misdaad kan lei.

Hierdie verskynsel word deur talle AfriForum-buurtwagte en -takke waargeneem, wat slaapsluipers uit oorgroeide ruimtes moet verwyder, of bepaalde ruimtes moet ontbos en selfs uitheemse bome moet verwyder sodat misdadigers nie meer daar kan skuil nie.

Voordat ons mismoedig raak, is daar egter ʼn groen randjie vir hierdie kwessie.

Oscar Newman het reeds in 1972 die konsep van “verdedigbare ruimte” verduidelik. Hierdie konsep, wat elemente bevat van sowel ʼn teorie van misdaad as ʼn stel van stedelike ontwerpbeginsels, het in die 1970’s gewild geword namate stedelike misdaadprobleme voortdurend begin kop uitsteek het. Dié ontwerpkonsepte is ook in talle gemeenskappe in die Verenigde State en regoor die wêreld in werking gestel.

Newman verklaar dat ʼn verdedigbare ruimte ʼn model is wat misdaad in residensiële gebiede kan beveg. Newman het opgemerk dat baie van die openbare ruimtes in behuisingsprojekte deur misdaad geteister, gevandaliseer en vuil was, terwyl privaat ruimtes baie beter onderhou is. Hy het aangevoer dat dit moontlik was om ʼn omgewing op so ʼn wyse te ontwerp sodat misdaadvlakke kan daal en die gedrag van sowel inwoners en potensiële oortreders beïnvloed kan word – wat dus tot laer misdaad kan lei.

Newman het ook aangevoer dat dit moontlik is om woongebiede só uit te lê dat inwoners dié gebiede beter kan beheer. Dit was ook moontlik om ontwerpe te skep wat potensiële misdadigers ontmoedig of afskrik. Daar is vyf sleutelkonsepte in sy ontwerpteorie: territorialiteit, toesig, beeld, milieu en veilige aangeleë ruimtes. Dit kom daarop neer dat inwoners eienaarskap van ʼn gebied neem wanneer dié gebied goed versorg is, en op dié wyse dan toesig hou.

ʼn Groenruimte kan dus deur omgewingsontwerp help om misdaad te voorkom. Omgewingsontwerp beklemtoon die belangrikheid daarvan om ruimtes te skep wat misdaadaktiwiteite ontmoedig en veiligheid verbeter. Groenruimtes wat goed belig is, maklik sigbaar én toeganklik is, kan misdadigers afskrik. Groenruimtes verbeter sosiale interaksie en gemeenskapsbetrokkenheid, wat lei tot verhoogde sosiale kohesie en dat sterker gemeenskapsbande en verhoogde toesig deur inwoners as afskrikmiddels vir misdaadaktiwiteite dien.

Frances E Kuo het ook ʼn studie onderneem en bevind dat inwoners wat in “groener” omgewings woon ook laer vlakke van vrees en minder aggressiewe en gewelddadige gedrag aanmeld. Hoe groener ʼn gebou se omgewing, hoe minder die misdade wat aangemeld word.

Dan is daar natuurlik ook verskeie studies wat aangedui het dat ʼn gevoel van eienaarskap en verantwoordelikheid bevorder kan word deur ʼn gemeenskap by die beplanning en instandhouding van groenruimtes te betrek. Gemeenskapsbetrokkenheid kan lei tot verhoogde waaksaamheid teen misdaad. AfriForum staan elke jaar ʼn hele maand af aan die plant van bome en die gemeenskap word ook hierby betrek. Die AfriForum-tak in Swellendam het vanjaar inheemse geelhoute (Podocarpus-spesies) en witoliene (Buddleja saligna) by die Swellendam Hospitaal en Huis AA Tomlinsen geplant.

Die boomplantmaandprojek sluit elke jaar by Nasionale Boomplantweek aan om die publiek oor die belangrikheid van bome in te lig en aan te moedig om inheemse bome te plant. Met elke boom wat in hierdie maand deur ʼn tak geplant word, word die omgewing groener en dus veiliger. AfriForum se takke regoor die land maak ook hul gemeenskapsruimtes gereeld netjies deur gras te sny en ruig bosse te snoei.

Ek glo dat elke boom wat geplant word, of elke bos wat deur vrywilligers in gemeenskappe verwyder word en gras wat in oop velde gesny word teen die aanslag van misdaad help – en dit op sekere plekke selfs hokslaan. Ek moedig jou dus aan om ʼn oomblik te neem en om jou rond te kyk en self te bepaal hoe hierdie twee teenoorgestelde omgewings jou laat voel.

  • Zel-Marí Gelderblom is die koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum. Sy het ʼn meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela Universiteit behaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.