Grondwet-debat: Politieke probleme met transformasie

Grafika: www.mieliestronk.com

Toe ek die naweek die Sondagblaaie se voorblaaie bekyk, dink ek instinktief aan wyle Z.B. du Toit se puik ontleding in sy seminale boek, Die Nuwe Toekoms: ‘n Perspektief op die Afrikaner by die Eeuwisseling. In die eerste twee hoofstukke voer hy aan dat demokrasie bloot net nie wil wortel skiet buite die Weste nie. Menigte sogenaamde demokrasieë het bloot nominaal in hul demokratiese bona fides geword en leef voort in ‘n pseudo-vorm waar geknoeide verkiesings bloot vir die skyn daarvan gehou word. Om meer hedendaagse voorbeelde te gebruik, bied The Economistse Demokrasie-indeks van 2011 ‘n gebiedende blik op die stand van (of wêreldwye gebrek aan) demokrasie. Luidens die indeks se bevindinge woon slegs 11,3% van die planeet se bevolking in volwaardige demokrasieë (‘n skamele 25 lande) waar, onder meer, hofuitsprake en die onafhanklikheid van die regbank voorrang geniet. Hierdie lande is by uitstek Westers met onder andere Nederland, die Skandinawiese lande, Nieu-Seeland en Australië wat die top-10 uitmaak.

Luidens die Indeks lê Suid-Afrika op ‘n skaflike 28ste plek. Dit behaal goeie punte vir die integriteit van verkiesingsprosesse, maar lae punte vir politieke onverdraagsaamheid, leemtes in waardestelsels en gebrekkige leierskap. Jeff Radebe, minister van justisie, en ander ANC-grootkoppe het telkens die laaste ruk melding gemaak van die feit dat die Grondwet die regering se transformasie-doelwitte kniehalter en verander moet word. Maar transformasie in sy verskeie gestaltes kan nie nóg strenger sonder verdere staatskapasiteit, menslike kapitaal of ‘n oorgang na totalitêrisme kan geskied nie. Die eerste twee is erg gebrekkig in Suid-Afrika terwyl die derde die doodskoot vir Suid-Afrika as ‘n demokrasie en beleggingsbestemming sal wees. Probleme met die eerste twee kan ook later tot die derde se verwesenliking lei.

Myns insiens is Grondwetlike veranderinge nie die probleem nie. Die Grondwet magtig die staat in art. 25.2 (a) om grond in “openbare belang te onteien” – ‘n wollerige frase wat wyd vertolk kan word en enige betekenis kan aanneem. Regstellende aksie en sy gepaardgaande wetgewing is al ou nuus en word al hoe strenger toegepas. Insgelyks het elkeen ‘n reg op behuising, maatskaplike sekerheid, gesondheidsdienste, onderwys en dergelike ander noodsaaklikhede. Elkeen het egter nie ‘n reg op werk nie en die Grondwet lê nie ‘n plig op enigeen om hul werk na behore te doen en vir hulself te sorg nie. Hierdie wetgewing en Grondwetlike bepalings is ‘n droom vir enige regering met transformatiewe doelwitte en min opposisie, so wat is fout? Die antwoord lê in die politiek, en ekonomie as uitvloeisel van politieke besluite, nie by die Grondwet nie.

Die ANC se eie gebrek aan politieke wil en moed lê aan die wortel van sy eie mislukkings op die gebied van transformasie. Eerstens, deurdat die ANC vennote met ‘n militante vakverbond en ‘n geswore kommunistiese party is, skiet hy homself en Suid-Afrika in die voet wat buitelandse belegging en die werking van die vrye mark betref. Weens die drieledige alliansie se aandrang op minimum lone en “waardige werk” is beleggers en sakelui sku vir grootskaalse beleggings in Suid-Afrika. Hulle hou die Asiatiese Tiere soos Singapoer en ook Sjina as voorbeelde vir hul beleidsrigtings voor. Ann Bernstein van die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemerskap bied egter oortuigende kritiek hierop in ‘n meningsgartikel in Sondag se Sunday Times. Sy voer aan dat die Asiatiese Tiere en ‘n hele paar ander groter ontwikkelende lande in hul opgang enige werk verwelkom het solank mense net kon begin werk. Fabriekslyne het immers ‘n ontsnappingsroete vir vroue gebied wat van landbou-indiensneming en patriargale diskriminasie op die platteland wou wegkom. Later het hierdie fabriekswerkers hulself bewys, hul vaardighede verbeter en dit het tot groter kollektiewe ekonomiese sukses gelei. Suid-Afrikaanse werkers is egter minder produktief en kos meer as elders in Afrika en die ontwikkelende wêreld. Volgens Cosatu se logika is hierdie aanvanklike stappe tot sukses onaanvaarbaar en die ANC sien dit dan ook as politieke selfmoord. Die gevolg is dat Suid-Afrika die hoogste werksloosheidskoers van al die groot ontwikkelende lande het met 25%. Sjina staan op 6,1% en brandarm lande soos Sri Lanka op 5,7%. Luidens die nuutste syfers deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings het werkloosheid onder die wit én swart bevolking boonop meer as verdubbel sedert 1994. Waarheen het daardie werksgeleenthede dan heengegaan as dit nie van wit na swart oorgeplaas is nie? Die logiese antwoord is dat hulle nou weg is en niemand beter af is nie… regstellende aksie en transformasie ten spyt.

Tweedens word ons die reg op regverdige administratiewe optrede in die Handves van Regte in die Grondwet gewaarborg. Dit beteken basies dat ons ‘n reg het op ‘n doeltreffende staat. Helaas lê dit aan die wortel van menigte van Suid-Afrika se kwale. In weerwil van ‘n besteding van nagenoeg 6% van die bruto binnelandse produk aan onderwys, bly die resultate (ondanks goeie openbare skakelwerk deur die department van basiese onderwys) swak. Die skoolstelsel lewer ‘n bitter klein groep van skoolverlaters op (vergeleke met die groep wat in gr. 1 begin) en ‘n breukdeel slaag wiskunde en wetenskap en kry universiteitstoelating. Is dit die Grondwet se skuld? Of eerder sommige onderwysers wat bloot lui is en kinders wat nie hul deel doen nie? Geen Grondwetlike veranderinge gaan hierdie probleme oplos nie.

Dieselfde geld grondhervorming. Wit boere bied hul grond aan om verkoop te word, maar die staatsprosesse sloer só dat opkomende boere later of nooit hul grond bekom nie en wit boere nie betyds of ooit vergoed word nie. Daar is duidelik ‘n reuse vertrouens- en kontraktuele breuk tussen die staat en al sy mense. Hierdie “transformatiewe” toedrag van sake lei daartoe dat wit boere nie hul aktiwiteite uitbrei en meer werkers aanstel nie. Dit is regressie, nie transformasie nie.

Die swak staatsprosesse in Suid-Afrika lei voorts daartoe dat menslike en institusionele kapitaal, wat voorvereistes vir ordelike en suksesvolle transformasie is, nie voldoende gekweek word nie. Die land se gebrekkige onderwysstelsel lewer byvoorbeeld nie matrikulante op wat in die arbeidsmark opgeneem kan word nie. Die burokratiese proses om sake in Suid-Afrika te doen, is eweseer ‘n groot kopsorg. Terwyl die Ekonomiese Vryheidsindeks van 2010 Suid-Afrika ‘n volle 10 (die hoogste punt) vir sy (private) banksektor toeken, kry die land ‘n skamele 3,72 vir die burokratiese kostes om sake te doen. As hierdie eenvoudige prosesse nie eers behoorlik vloei nie, hoe wil die regerende party verder in die ekonomie inmeng en die staat ‘n groter rol laat speel? The Economist gee onlangs ‘n passende antwoord hierop: “State capitalism works well only when directed by a competent state. Many Asian countries have a strong mandarin culture; South Africa and Brazil do not.”

Die ANC kan nie Suid-Afrika se probleme alleen oplos nie, grotendeels weens die ideologiese spanning binne die drieparty-alliansie. Hy wil dit egter nie erken nie en soek ‘n ander sondebokke: Die wittes, Afrikaners, die bruines, die vrye mark, en nou ook die Grondwet. Hulle beskuldig die Grondwetlike Hof van menslike feilbaarheid, maar doen nie ‘n bietjie navel gazing en peil hul eie foute nie. Staat, met die ANC aan die stuur, het die Grondwet se transformatiewe inwerkinstelling belemmer. Die Grondwet is net ‘n stuk papier en selfs met veranderinge gaan die strukturele vraagstukke in die politiek en ekonomie soos lae vaardighede, vervoer-bottlenekke, rigiede arbeidswetgewing, armoede, korrupsie en burokratiese romslomp en onbevoegdheid steeds die land kenmerk en vooruitgang beduiwel.

Du Toit was allig reg dat demokrasie ook nie in ‘n Afrika-staat soos Suid-Afrika sal oorleef nie…

Lees ook Johan Kruger se bydrae oor dié belangrike kwessie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae