Haatspraakwetgewing en die kerk

Argieffoto

Argieffoto

Deur Dr. Johan van Staden

De kerk moet weer smoel krijgen, word deesdae in Nederland gesê. Dit geld natuurlik onverdund ook in Suid-Afrika – die kerk móét ’n openbare gesig, stem en teenwoordigheid hê. ’n Kerk sonder ’n smoel is gedoem tot irrelevansie.

Teen hierdie agtergrond het die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika (NHKA), saam met sy vennote in die Tussenkerklike Raad, die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), ’n voorlegging by die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling ingedien waarin beswaar aangeteken word teen die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak. Daar is meer as voldoende gronde om te versoek dat die wetsontwerp in sy huidige formaat geskrap word, of ten minste grondig hersien word.

Hoewel die skepping van haatmisdade deur die wetsontwerp om verskeie redes problematies is, is dit veral die bepalings oor haatspraak wat pla. Die Grondwet omskryf haatspraak onder meer as die aanstigting van dreigende geweld of die aanhitsing om leed te veroorsaak, met spesifieke verwysing na ras, etnisiteit, geslagtelikheid en godsdiens. Die kerk kan nie anders nie as om heelhartig saam te stem dat hierdie soort optrede geen grondwetlike beskerming durf geniet nie. Die wetsontwerp brei egter kommunikasie wat nie deur die Grondwet beskerm word nie aansienlik uit. Dit bepaal dat enige persoon wat opsetlik so kommunikeer dat dit ’n ander persoon beledig, minag of belaglik maak, gebaseer op een van 17 gronde (teenoor die Grondwet se vier!), skuldig sal wees aan ’n strafregtelike oortreding. Die wye en vloeibare definisie van leed in die wetsontwerp maak dit eweneens veels te maklik om aan te voer dat ’n misdryf begaan is. Haatspraak word uiteindelik so breed omskryf dat dit heeltemal moontlik is dat die verkondiging van enige geloofsoortuiging gekriminaliseer kan word indien dit iemand aanstoot gee, of selfs net kán gee.

Die kriminalisering van kommunikasie wat as normaal beskou kan word in ’n vrye en robuuste demokrasie, plaas ons op ’n gevaarlike koers van willekeurige beoordeling wat uiteindelik selfs tot die algehele onderdrukking van vrye denke en spraak kan lei. Die Grondwet, die Gelykheidswet, ander bestaande wetgewing sowel as die gemenereg (byvoorbeeld strafregtelike laster en crimen injuria), bevat in elk geval voldoende middele om die sake wat die drakoniese wetsontwerp in die visier het sinvol te bereg.

Met dít gesê moet ons daarteen waak om op sleeptou geneem te word deur allerlei wilde gerugte.

Histeriese mededelings op sosiale media is dikwels gebaseer op braaivleisvuurpraatjies, voorstedelike legendes en storielyne in derderangse Amerikaanse rolprente. Die reg op godsdiensvryheid, wat die verkondiging van die kerk in al sy vorme insluit, word beskerm in die Grondwet as opperwet van die land – ook teen enige ongrondwetlike pogings om die kerk te muilband.

James Kennedy in Stad op een berg: De publieke rol van protestantse kerken beskryf die ontwikkeling van ’n staatskerk na ’n straatkerk op ’n wyse wat herinner aan die geskiedenis van die NHKA. ’n Straatkerk, anders as ’n staatskerk, het ’n verantwoordelikheid om vreesloos en onafhanklik te getuig – ook teenoor die owerheid; ’n straatkerk praat oor reg en onreg – ook met die owerheid; ’n straatkerk bid – ook vir die owerheid; ’n straatkerk dien – ook saam met die owerheid; maar ’n straatkerk is eerstens verantwoordbaar aan God.

Elke gelowige behoort dus eenvoudig daarin te volhard om die genade, barmhartigheid en vrede van Jesus Christus so wyd moontlik te verkondig en uit te lewe – en om volgens die eise van God se Woord en sonder vooroordeel met eerbied en respek met alle mense om te gaan. Hiervoor het ons geen ekstra wetgewing nodig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae