Herroep die Wet op Gelyke Indiensneming

Thulas Nxesi, minister van werkverskaffing en arbeid, asook die nasionale ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Deur dr. Anthea Jeffery

Die Wet op Gelyke Indiensneming (GI) is nie slegs onkonstitusioneel nie, maar ook nadelig vir die meeste Suid-Afrikaners, en behoort herroep te word.

Thulas Nxesi, minister van werkverskaffing en arbeid, asook die nasionale ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), sê daar is tot dusver min transformasie in die werkplek sedert die Wet op Gelyke Indiensneming meer as 20 jaar gelede van krag geword het.

Nxesi baseer sy stelling op die 19de jaarverslag van die Kommissie vir Gelyke Indiensneming (KGI/CEE) wat vroeër die week uitgereik is. Volgens hierdie verslag is swart verteenwoordiging in topbestuursposte 76% in die openbare sektor, en 12% in die private sektor, terwyl wit mense 70% van hierdie senior poste beklee.

“Ons gaan van nou af baie streng optree,” sê die minister. Sy doel is ʼn wysigingswet wat deur die parlement bespoedig moet word sodat die staat gelyke indiensnemingsdoelwitte in elke sektor kan instel. Ondernemings wat sonder ʼn grondige rede nie aan hierdie doelwitte voldoen nie, sal die risiko loop om vervolg te word.

Instellings wat nie hieraan voldoen nie, sal ook deur ʼn huidige onaktiewe voorwaarde van die Gelyke Indiensnemingswet wat binnekort ingestel gaan word, belet word om besigheid met die staat te doen. Volgens Nxesi, sal hierdie wet die staat die mag bied wat dit nodig het.

Dog, die GI-wet, wat die minister van voorneme is om strenger toe te pas, is vol gebreke. Dit is ook teenstrydig met verskeie bepalings van die Grondwet, onder meer sy kernbeginsel van nierassisme.

Deel 1 van die Grondwet identifiseer nierassisme uitdruklik as ʼn kernbeginsel van postapartheid-Suid-Afrika. Dit waarborg ook die oppergesag van die Grondwet en bepaal enige wetgewing wat strydig met sy bepalings is, is ongeldig.

Wat ook hier van toepassing is, is die gelykheidsklousule (Deel 9) wat onbillike diskriminasie op grond van ras (en ander redes wat gelys is) verbied en bepaal dat enige diskriminasie weens gelyste redes onbillik is, tensy die teendeel bewys kan word. As uitsondering op hierdie algemene bepalings, laat die klousule toe om regstappe te doen om diegene wat weens onbillike diskriminasie benadeel is, te bevoordeel en so die uitvoering van gelykheid te bevorder.

ʼn Derde klousule (Deel 195) vra vir ʼn openbare administrasie wat wyd verteenwoordigend is van alle Suid-Afrikaners. Dog, die klousule stel dit ook duidelik dat hierdie doel nie ander behoeftes mag troef nie.

Indiensnemingspraktyke in staatsbeheerde instellings moet dus gebaseer word op vermoë, objektiwiteit en billikheid. Dit moet ook die doeltreffende en ekonomiese gebruik van bronne verseker.

Die wet maak geen melding van rassedoelwitte, of die rasseklassifikasie wat hierdie noodgedwonge sal vereis nie. Dit onderskryf ook nie die GI-wet se doel ten opsigte van demografiese verteenwoordiging nie – die idee dat elke rassegroep in die arbeidsveld streng volgens sy kwota in die ekonomies aktiewe bevolking (EAB) moet weerspieël word.

Hierdie bepaling is uiters onprakties – veral in Suid-Afrika se huidige situasie.

Die EAB verwys na mense tussen die ouderdom van 15 en 64 jaar wat óf in diens is óf werkloos is en na werk soek. Dit sluit dus ongeveer 10 miljoen mense wat werkloos is, in. Hierbenewens is ongeveer die helfte van alle Afrikane jonger as 25 jaar en beskik nie oor die nodige ondervinding vir bestuursposte nie. Verder het slegs 5% van Afrikane wat 20 jaar of ouer is, universiteitsgrade, al is sodanige kwalifikasies dikwels nodig of aanbevelenswaardig vir senior poste.

Die demografiese verteenwoordiging wat deur die GI-wet vereis word, is verreweg strenger as die breë verteenwoordiging wat deur die Grondwet omskryf is. Hierbenewens is die wet se oproep tot breë verteenwoordiging beperk tot die openbare administrasie en kan nie die afdwinging van rasgebaseerde kwotas op private ondernemings regverdig nie.

Die konstitusionele geldigheid van die GI-wet is nog nooit direk in die Konstitusionele Hof getoets nie. Hoe dit ook al sy, Nxesi se vasberadenheid om streng rasgedrewe doelwitte op ondernemings af te dwing, is ʼn teken dat dit tyd geword het vir so ʼn uitdaging.

Van toepassing hierop is ʼn 2004-uitspraak van die Konstitusionele Hof in die Van Heerden-saak. Met hierdie uitspraak (of daar verskillende pensioenregulasies vir voor-1994- en post-1994-parlementslede geld wat teenstrydig is met die gelykheidsklousule) het die hof die eenvoudige bewoording van Deel 9(5) verwerp. Dit dui daarop dat diskriminasie wat op ras en ander gelyste redes gebaseer is, “onbillik is, totdat die diskriminasie as billik bewys is”.

In plaas daarvan dat die hof op hierdie bepaling ag slaan, is daar beslis dat regstellendeaksiemaatreëls nie as onbillik beskou kan word nie omdat dit “gemagtigde remediërende maatreëls” is. Gevolglik is daar slegs drie “toetse” waaraan die geldigheid van bogenoemde gemeet kan word, naamlik 1) of benadeeldes geteiken word; 2) of dit ontwerp is om hulle te bevoordeel; en 3) of dit die doelwit van gelykheid bevorder.

Die hof het tot dusver nog nooit gepoog om hierdie “toetse” op die praktiese uitkomste van rasgebaseerde maatreëls toe te pas nie. Sou dit gebeur, sal die GI-wet op al drie terreine faal.

Eerstens is dit so dat die meeste GI-begunstigdes uit die mees bevoordeelde groep binne die swart bevolking kom – met ander woorde die sowat 15% met die beste vaardighede en (dikwels) beste politieke bande. Soos ander regstellendeaksie-ingrypings oor die wêreld heen, help die GI-wet slegs ʼn relatief klein elite binne die voorheenbenadeelde groep (wat Indië die “romerige bolaag” noem).

Tweedens het die GI-wet beduidend gefaal om die benadeelde swart meerderheid te bevorder. In plaas daarvan het die streng aandrang op gelyke indiensneming in die openbare sektor – byvoorbeeld, in die 76% Afrikaan-verteenwoordiging op topbestuurvlak, ten spyte van die beperkte bron van persone met die nodige vaardighede en ondervinding – doeltreffendheid in byna elke sfeer ondermyn.

Voorbeelde is legio: 80% van staatskole is disfunksioneel; 85% van alle staatsklinieke en -hospitale kan nie aan die basiese norme en standaarde voldoen nie; 87% van Hop-huise (Heropbou-en Ontwikkelingsprogram) is swak geboude hoërisiko-strukture; miljarde liter onbehandelde rioolwater word daagliks in riviere gestort weens wanfunksionerende munisipale rioolaanlegte; noodsaaklike infrastruktuur kan nie uitgebrei of verbeter word nie omdat die staat (in die woorde van die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel) “nie die kapasiteit het om projekte van die grond af op die been te bring nie”; en omdat noodsaaklike finansiële kontrole aanhoudend verontagsaam word, aangesien ongeskoolde persone reeds in kernposte aangestel is.

Ondoeltreffende openbare dienste het ook ʼn groot kopseer vir beleggers geword. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) is hierdie ondoeltreffendheid lank reeds as een van die grootste hindernisse om sake in Suid-Afrika te doen, geïdentifiseer. Verminderde beleggings het, soos voorspel, groei vertraag en werkloosheid en armoede vererger.

Derdens het die GI-wet op die koop toe maar min gedoen om die bereiking van gelykheid aan te moedig. Inteendeel, inkomste-ongelykheid (soos aan die Gini-kwosiënt gemeet) het sedert 1994 toegeneem – hoofsaaklik omdat die GI-wet (asook die SEB) die ongelykheid binne die swart meerderheid vergroot het deur ʼn klein groepie te help om vooruit te beweeg, terwyl 10 miljoen werklose mense steeds hulpbehoewend is.

Die GI-wet is nie slegs onkonstitusioneel nie, maar benadeel die meeste Suid-Afrikaners. In plaas daarvan om die wet strenger toe te pas, behoort Nxesi ernstig te wees oor die herroeping daarvan. Vaardighede, groei en werkgeleenthede is die sleutel tot vooruitgang en moet eerder aangemoedig en nie verder ondermyn word nie.

Bykomende nierassige en doeltreffende maniere om armes te help, kan maklik beraam word, soos die IRV se voorgestelde strategie vir ekonomiese bemagtiging van benadeeldes reeds getoon het. Maar die eerste en noodsaaklikste ding om te doen, is om die ongeldige en ondoeltreffende GI-wet oorboord te gooi en dit nie nog strenger toe te pas soos wat die minister voorstel nie.

  • Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die IRV, is die skrywer van People’s War: New Light on the Struggle for South Africa. Die boek is in alle toonaangewende boekwinkels beskikbaar en ook as e-boek in verkorte en bygewerkte formaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Is daar ‘n korrelasie tussen die prestasie van privaat- en staatsondernemings en die geforseerde indiensneming van sekerre groepe in die ondernemings? Vra maar net….

John

Ons verwoede buite-beheer-bevolkingsgroei wat die ANC doelbewus skep, selfs in nooi (grensbeheer zero) en ‘n onvermoè om werk te genereer ooreenkomstig verwagtinge en beloftes, plus skugter buitelandse beleggings, sal vergrype eerder aanmoedig. Die minister dui die pad aan wat eerder volgehoue woede by miljoene voorspel, wat nie in wit poste aangestel kan word nie, omdat daar eenvoudig nie genoeg oor is nie. Chaos, misdaad, moorde… Verkeerd bly verkeerd.

Jerry

Opposisiepartye het toegelaat dat die staat en SOE’s sonder stamp of stoot deur die ANC getransformeer, geplunder en genasionaliseer word wat die ANC verryk het, belastingbetalers verarm het en die ekonomie verlangsaam het. Opposisiepartye sal nou ook toelaat dat privaatmaatskappye getransformeer, geplunder en genasionaliseer word en die ANC verryk word, belastingbetalers verder verarm en die ekonomie verder verlangsaam. Die skaal van die demokrasie en grondwet swaai alles wat die ANC as n meerderheid teiken, in die ANC se guns. Solidariteit se private selfbeskikking is uiteraard nou ook in gedrang en heel moontlik die teiken vir verskeie redes, onder andere ook… Lees meer »

Dr Phil

“All animals are equal, but some are more equal than others…” George Orwell.
Die agbare mini-ster moet weer ‘n slag “Animal Farm” gaan lees, dan sal hy sien waarop hy en sy mede-kommies die land afstuur! (Maar julle sal die boodskap van die verhaal waarskynlik nie snap nie…)

barend v d westhuizen

ja die staat diens het dalk al meer swart hoofte aan gestel maar hoeveel is bevoeg om die werk te doen daar om is alles in so n gemors laat mense net poste kry wat die werk kan doen