Hipersoniese missiele en kernoorlog

(Foto: Russian Defense Ministry Press Service via AP)

Vrese dat hipersoniese missiele die moontlikheid van ’n kernoorlog met rasse skrede verhoog, kring uit. Hipersoniese missiele kan teen ’n spoed van 5 000 kilometer per uur (oftewel Mach5) – of selfs vinniger – beweeg. ’n Wapenwedloop in die ontwikkeling van hipersoniese missiele woed reeds ’n geruime tyd met Rusland, China en die Verenigde State van Amerika (VSA) wat die vernaamste mededingers uitmaak. In dié wedloop, soos in verskeie ander deesdae, sukkel die Amerikaners om gelyke tred met China en Rusland te hou.

Die Amerikaanse Lugmag se AGM-138A Air-launched Rapid Response Weapon (ARRW), ’n teenvoeter vir Rusland se Tsirkon hipersoniese missiel en China se DF-17 konvensionele missiel (toegerus met ’n hipersoniese sweefaandrywer (glide vehicle), is weliswaar goed op dreef, maar sal waarskynlik eers teen die einde van 2021 ’n eerste volwaardige toets ondergaan. Intussen het Rusland aangekondig dat die Tsirkon byna gereed is om aangewend te word. China se D-17 konvensionele missiel kan teoreties vinniger as Mach5 beweeg. Daar word verwag dat die Amerikaners se ARRW-missiel teen meer as Mach7 sal beweeg (terloops, die VSA se Defense Advanced Research Projects Agency, oftewel DARPA) voorsien dat Mach20 eindelik behaal sal word).

Indien die leiers van groot moondhede (spesifiek: die VSA, China en Rusland), met inbegrip van waarnemers en deskundiges oor kernwapens, toenemend knies oor die gevaar wat hipersoniese missiele vir kernoorlog inhou, wát is die vernaamste vrese? Die verwagte akkuraatheid en spoed van hipersoniese missiele verminder die reaksietyd van die tweede slaanaanvalsmagte van kernwapenstate (hierna: kernstate) met rasse skrede.

Die tweede slaanaanvalsmagte van kernstate verwys na die vermoë van ’n kernstaat om ’n eerste slaanaanval met genoegsaam kernwapens te oorleef om ’n vergeldingsaanval te loods. Indien die reaksietyd van kernstate deur hipersoniese missiele verminder word, kan ’n toekomstige aanvaller aangespoor word om ’n voorkomende aanval (pre-emptive attack) te loods. Sodanige aanval het uitsluitlik ten doel om die tweede slaanaanvalsmagte van ’n kernstaat te vernietig en, derhalwe, om die moontlikheid van ’n vergeldingsaanval uit die weg te ruim. Die vrees oor die uitwerking van hipersoniese missiele op die reaksietyd van kernstate word in der waarheid deur twee aannames gerugsteun. Die eerste aanname is dat die spoed en vlugheid (veral betreffende die vlakbaan) van hipersoniese missiele dit haas onmoontlik vir missielverdedigingstelsels maak om dié missiele te onderskep.

Die verwagting bestaan dat beide teenwoordige en toekomstige missielverdedigingstelsels ondoeltreffend sal wees om hipersoniese missiele te onderskep. Die tweede aanname is nou verweef met die eerste een: die ondoeltreffendheid van missielverdedigingstelsels tesame met die vermindering in die reaksietyd van kernstate, bevorder die moontlikheid van ’n voorkomende aanval – kortom, die tweede slaanaanvalsmagte van kernstate kan vernietig word alvorens dit afgevuur kan word.

(Foto: Joshua Armstrong/U.S. Air Force Academy via AP)

Elk van hierdie aannames is onjuis. Waarom is dít die geval? Kom ons kyk eerstens na die probleem wat hipersoniese missiele vir missielverdedigingstelsels inhou. Om aan te voer dat missielverdedigingstelsels nóg vandag nóg in die toekoms doeltreffend sal wees, is eintlik niksseggend. Missielverdedigingstelsels kon nog nooit daarin slaag om sekerheid aan kernstate te besorg dat sukses onder alle omstandighede en gedurende elke situasie gewaarborg kan word nie.

Die donker geheim van missielverdedigingstelsels is dat selfs die beste van dié stelsels somtyds misluk. Voorts kan enige ontwikkeling in die doeltreffendheid van missielverdedigingstelsels eenvoudig ondermyn word deur óf meer missiele af te vuur óf missiele teen ’n laer vlakbaan af te vuur. Ook kruismissiele bied ernstige uitdagings vir missielverdedigingstelsels. Soos vantevore in die kernera, bestaan daar vandag verskeie maniere om missielverdedigingstelsels te fnuik en om te verseker dat kernwapens hul teikens bereik. Dít sal in alle waarskynlikheid nie in die toekoms verander nie. Trouens, hoe meer state onverpoosd arbei om missielverdedigingstelsels te ontplooi, hoe meer sal ander kernstate poog om dit te fnuik. Hoewel hipersoniese missiele die doeltreffendheid van missielverdedigingstelsels selfs meer ondermyn, is dit derhalwe niksseggend, aangesien die doeltreffendheid van dié stelsels nog altyd deur onsekerheid gekenmerk is.

Die tweede aanname is moontlik meer ernstig: indien missielverdedigingstelsels nie werk nie, en hipersoniese missiele die reaksietyd van kernstate drasties verminder, word die moontlikheid van ’n voorkomende aanval dan nie aansienlik groter nie? Hoegenaamd nie. ’n Voorkomende aanval (en, by implikasie, ’n kernoorlog) word slegs moontlik indien ’n toekomstige aanvaller oortuig is dat al die tweede slaanaanvalsmagte van ’n ander kernstaat vernietig kan word. Waar daar twyfel bestaan dat een of ’n paar kernwapens ’n toekomstige aanvaller se voorkomende aanval sal oorleef, sal ’n toekomstige aanvaller ontmoedig word om ’n aanval te loods. Die belangrike vraag om te vra, is of kernstate wél hul tweede slaanaanvalsmagte ontrefbaar vir ’n voorkomende aanval kan maak?

(Foto: Alexei Druzhinin, Sputnik, Kremlin Pool Photo via AP)

Vandag, soos vantevore in die kernera, is dit betreklik maklik vir kernstate om hul tweede slaanaanvalsmagte te versteek en aan te wend. Dié wapens is lig en kan maklik verskuif en versteek word. Voorts bestaan daar byna oneindige maniere om te verseker dat dié wapens hul teikens bereik. Benewens die meer tradisionele maniere om kernwapens aan te wend – dit is, deur middel van interkontinentale ballistiese missiele (IKBM), kernduikbote en bomwerpers – kan kernwapens óók hul teikens deur onkonvensionele maniere bereik. Daar bestaan verskeie onkonvensionele maniere waartoe kernstate hulle kan wend, met die aantal maniere wat slegs deur die vindingrykheid van kernstate beperk word. Een van dié maniere is om kernwapens op vragmotors vanaf naburige lande in te ry. Torpedo’s wat vanaf klein bote wat buite hawens geanker is, afgevuur word, is ’n ander manier. Ook kan kernwapens in klein houers op vragskepe versteek word en deur middel van ’n elektroniese sein ontplof word; en, indien alle ander middele uitgeput is, kan dit selfs deur ’n oskar vanaf ’n naburige staat vervoer en ontplof word. Voorts kan kernstate ook van fopwapens (dummies) gebruik maak ten einde ’n toekomstige aanvaller te oortuig dat ’n staat se kernarsenaal aansienlik groter voorkom as wat dit werklik is.

Ondanks die herrie oor die ontwrigtende uitwerking van hipersoniese missiele op die strategiese stabiliteit tussen kernstate, blyk dit dat daar weinig rede tot kommer is. Die vernaamste aannames onderliggend aan vrese oor hipersoniese missiele kan maklik besweer word, veral indien ons begryp hoe betreklik maklik dit vir kernstate is om hul tweede slaanaanvalsmagte ontrefbaar te maak. Vandag, soos vantevore in die kernera, is vrese oor “die komende kernoorlog” uiters oordrewe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Therese ·

Insiggewende artikel (bo die vuurmaakplek), met die laaste sin uiters gerusstellend!

Adeline ·

Wel nou is my vraag – as al die beskikbare geld en finansies in die “Black matter” in verdwyn waar staan ons land in die (afwesige) weermag en sy “voorraad” om ons land te verdedig teen oorlog?

Simon ·

Ek stem tot ‘n mate saam, maar,,,,Daar is alyd ‘n maar en as jy ‘n militere strateeg is wat sy sout werd is, is daar ook daai mooi Engelse woord :”Deception”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.