Hoe ek my wit skuld bely

Een van Potchefstroom se jaarlikse hoogtepunte is Aardklop – wat teen einde September / begin Oktober aangebied word. Dan deel ons Potchefstromers ons ruimte met duisende besoekers wat kom ‘klop’ en kom geniet wat die fees aan te bied het. Ek self woon hier en daar vertonings by en geniet verder net die fees so in die verbygaan. My vrou en haar vriendinne is natuurlik regte feesbeeste en hulle geniet wat voorkom.

Ek geniet altyd die diskoersreeks, gewoon omdat dit dikwels so prikkelend is en aanleiding gee tot intense gesprekke. Lekker opwindend en stimulerend.

Vanjaar se tema was die kwessie van identiteit in die SA samelewing. Die tweede gesprek (die Donderdag van Aardklop) het gehandel oor die debat wat ontstaan het oor die Grahamstadse filosoof dr. Samantha Vice se opspraakwekkende artikel oor wit skuld (“white shame”), naamlik dat wit mense skuldig moet voel oor die verlede en hulle uit die openbare gesprek moet hou. Dit het in die media gelei tot ’n hewige briefwisseling en meningswisseling vir en teen dié vertrekpunt. Prof. Anton van Niekerk van US se Dept. Filosofie het hom o.a. sterk daaroor uitgespreek en stem met dr Vice gestem op bepaalde punte. Prof Van Niekerk is na bewering in sy kantoor op Stellenbosch aangerand deur iemand wat nie met hom saamgestem het nie. Dié saak is op pad hof toe en sal sy eie verloop neem.

In die loop van die Aardklopgesprek het prof Van Niekerk en ook die filosoof van Wits, Eusebius McKaiser, die saak opnuut bespreek en dit het tot interessante meningswisseling, met ook sinvolle bydraes vanuit die gehoor, gelei. Die kern van die gesprek word mooi saamgevat in ’n artikel van Jan-Jan Joubert in Beeld van 12 Oktober 2011 (bl. 15) onder die opskrif “Hoe nou met wit skuld?”. Lees dit dus op Beeld se webblad.

Ek skryf vandag hieroor omdat ek in die loop van die gesprek moes besin oor waar ek staan. Moet ek as wit persoon ook skuldig voel oor die verlede? Moet ek my as gevolg daarvan uit die openbare lewe onttrek?

Dit is vir my duidelik dat ek ook ’n mate van skuld moet hê oor die voorregte wat ek in die proses gehad het. My ouers was ook arm en ons het dit nie aldag maklik gehad nie. Beslis nie. Ek dink nie altyd met vreugde terug aan my grootworddae nie, maar ek kon wel skool gaan en dit voltooi sonder oorlewings- en bestaansprobleme. Ek kon eet, speel, leer en met my fiets (wat ek self moes koop uit my werk as rakpakker in ’n winkel in Windhoek) ry waar ek wou. Ek was relatief veilig in die gemeenskap waar ek groot geword het. Ek kon universiteit toe gaan en klaar studeer alhoewel ek met groot skuld opgeskeep gesit het wat ek moes terugbetaal oor baie jare (ja, dit was moeilik in die vroeë jare van my huweliks- en gesinslewe).

Daar was dus geleenthede wat ek kon benut en waarby ek kon baat. Dit was nie altyd die geval met my swart en bruin broers en susters nie. Ek was dus bevoorreg hoe ek ook al daarna kyk.  Ek kon ’n toekoms bou op my kennis en my geleenthede. Ek moes wel hard werk en my pad langs die beroepsleer opwerk – dit het baie tyd en opoffering geneem. Baie van my swart en bruin broers en susters het nie hierdie kans gehad nie.

Wat doen ek dan om my skuld te ‘bely’? Ek en my vrou doen wat ons hand vind om te doen daar waar ons beweeg. As betrokkene by die woelinge oor Afrikaans is dit vir my ’n persoonlike passie om die foute wat in die verlede in en met Afrikaans gepleeg is (kan ek Soweto 1976 noem?), te probeer regstel deur die aktiwiteite van die Afrikaanse Taalraad. Ons as lede van die ATR probeer hard om versoening oor ons eie grense te bewerkstellig. Ons vorder goed, maar die werk is nog baie en die werkers min op die land. Maar ek doen wel íéts en dit dryf my in alles wat ek doen.

Of ek ’n skuldbelasting gaan betaal? Nee, ek gaan nie, want die regering benut nie die geld wat ek rééds as belastingbetaler betaal na behore nie. My ekstra belasting sal ook vermors word. Ek probeer wel ons huis- en tuinhulp se lewe makliker maak deur wat ons hulle betaal vir hulle dienste en wat ons bydra om hulle lewe te verbeter. Dit is waarskynlik heeltemal te min, maar dit lewer wel ’n bydrae. As ek natuurlik minder belasting kan betaal, kan ek meer aan hulle betaal … en ek het dan ook meer beheer oor die uitkoms van my geld.

Voel jy ook skuldig? Indien wel wat doen jy?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae