Hoe lank moet Afrikaners nog ly onder die Kainsmerk?

Deur prof. Michael Heyns

(Argieffoto: Pixabay)

Het Afrikaners ʼn Kainsmerk ná al die rassisme van die apartheidsepisode? Is dit ʼn merk wat hul kinders en kindskinders in agtergeblewenes gaan verander? Gaan dit nie beter wees om uit die Afrikanerdom te bedank en ʼn volledig kosmopolitaanse individualisme te omarm nie?

Kollektief verantwoordelik?

ʼn Mens kan jou indink dat heelwat Duitsers hulself dieselfde vrae ná die Nazi-moorddadigheid afvra. Britte behoort die vrae te vra ná die empaaier-gierigheid. Die Zoeloe-koning het homself ook ná die afgelope weke se plundery in KwaZulu-Natal en Gauteng so iets afgevra. Hierdie groepe (en daar is baie meer) deel met mekaar dat hulle kollektief verantwoordelik gehou word vir sondes wat nie sommer net as foutjies afgemaak kan word nie.

Kain was gedoem om ʼn doellose swerwer op aarde te wees – verdryf van sy grond en met mense wat hom wou doodmaak. Die merkteken was om te keer dat hy inderdaad doodgemaak word (Genesis 4:12-15). In die Nuwe Testament is daar sprake van meer genade as net ʼn merkteken. ʼn Moordenaar wat besig was om te sterf, het die Here gevra om aan hom te dink, en word verseker dat hy in die paradys sal aanland (Lukas 23:43).

Maar “aanland in die paradys” vereis dat ons die anatomie van sonde (en daarmee saam skepping en verlossing) Bybels sal interpreteer en nie ʼn Gnostiese klankie daaraan gee nie.

Die Gnostiek het daarna gestreef om ware menslikheid wat volgens hulle in geestelikheid sentreer, uit ʼn wêreld van minder goeie liggaamlikheid te verlos. Hierdie verdeling het vir sommige gelowiges misleidend baie soos ʼn Bybelse verdeling tussen goed en kwaad gelyk. Openbaring 2:6 en 2:15 waarsku teen die Gnostiese sekte van die Nikolaïete wat reken dat dit heeltemal moontlik is om met die liggaam te sondig sonder dat die siel daardeur geraak sal word. (Sien ook 1 Timoteus 6:20 en Handelinge 8:4-25.)

Die eerste sonde waarvan ons weet (Adam en Eva s’n) was die idee dat mense soos God kan wees as hulle goed en kwaad kan ken (Genesis 2:16; 3:5-6,22). Die openbaarder van hierdie “evangelie” was die slang (so reg in Gnostiese trant van ʼn bemiddelaar). Die idee was dalk ook in Adam en Eva se agterkoppe dat hulle self, soos die Gnostiese demiurg (ʼn mindere skeppergod), die skeppers van fisiese goed en kwaad kan wees. Die Gnostiek funksioneer immers met die idee dat die mens ʼn “gevalle god” is wat self na die vleeslike kan omsien. Volgens hierdie denkwyse stel die Here self nie te veel in dit wat hier op aarde gebeur belang nie.

Verlore vryheid

Afrikaners se begeerte om hul ontneemde vryheid te herskep, is vir die meeste Afrikaners baie verstaanbaar. Apartheid was so ʼn poging om vryheid terug te kry – met ʼn tikkie Gnostiek daarin geroer. Die volk het ʼn plek naas God gekry om Suid-Afrika óór te maak volgens etniese ontwerp. In die proses het daar egter ʼn stelsel tot stand gekom wat uiteindelik moeilik met die Bybel se openbaring van wie God is, wie my naaste is, en wat reg en verkeerd is, versoen kon word.

Adam en Eva was verkeerd as hulle gedink het dat die Here God nie belangstel in die dinge wat Sy skepping aanvang nie. Hy het hulle in die aandwind kom soek ná hulle van die boom geëet het. Hul dwaling is nie ongestraf gelaat nie. Fisies is hul egter nie aan hul eie lot oorgelaat nie. Hy het vir hulle klere gegee (Genesis 3:7-21), en gevolglik is ʼn Gnostiese verwydering van God uit die wêreld op al hierdie punte verkeerd.

Dit kan soms vir Afrikaners voel dat hul met ʼn Kainsmerk rondloop; net teen mense beskerm wat hulle wil doodmaak (en dalk ook nie eens heeltemal nie). Hulle verloor hul grond en voel doelloos oor die aarde versprei … swerwend. Maar die Kainsmerk en Kainslot was nie Adam en Eva s’n nie, al was hulle ook sondaars soos Kain. Die Kainsmerk en Kainslot hoef ook nie die Afrikaanse merk en lot te wees nie.

Voorwaarde vir voortbestaan

Voortbestaan sal wel van enkele voorwaardes afhang: Die “volk” kan nie ʼn demiurg word wat identiteit – en goed en kwaad – skep nie. Die gesin waaraan ek behoort hoef byvoorbeeld nie net uit Afrikaners te bestaan nie, en hoef nie alleenlik Afrikanerwaardes te reflekteer nie. Die kerk waaraan ek behoort kan nie ʼn volkskerk wees nie. En, gaan dit nie uiters moeilik wees om ʼn volledige staat waarvan net Afrikaners burgers is tot stand te bring nie?

Ons sal na God moet luister wat met ons is en ons herskep: ʼn Hedendaagse modegedagte is dat menswees ʼn spiritualiteit afsonderlik van ons liggaamlikheid vertoon. Christelikheid het te make met ʼn mistieke opstyg na eenwording en ʼn gesprek met God. God is dus verwyderd van hierdie ondermaanse waar (oorbodiglik) net dogmaties óór Hom gepraat word – ʼn gepratery wat ook nie orals toegelaat kan word nie omdat dit aanstoot kan gee. Godsdiens het dus weinig te make met die morsige liggaamlike waar praktiese oorlewing in ʼn tyd van Covid-19 en ʼn beleerde Afrikaan(s)wees vereis word. Moderne mense is eintlik maar liggaamlik op hul eie. Vertrou eerder die wetenskap. Klink dit alles nie baie Gnosties nie?

Herskep in Christus

Die Bybel leer ons die teenoorgestelde: Voordat ons met en oor God praat, kom soek Hy ons en praat met ons. Hy sê: Die hele skepping, wat liggaamlikheid en ook Afrikaanswees insluit, is goed (Genesis 1:31). Met Christus is alles herskep sodat dit kan aanhou goed wees, maar dan moet Afrikaanswees inderdaad ʼn herskeppingsgestalte toon van mense se talige en kulturele identiteite.

  • Professor Michael Heyns is viserektor (akademie) by Aros, ’n Christelike hoëronderwysinstelling in Pretoria wat onderwysers oplei. Hy was vroeër aan die NWU se Skool vir Filosofie verbind en spesialiseer in kultuurkritiek vanuit ’n reformatories-Christelike perspektief. Hy is ook medewerker van Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MT ·

Beste Michael,

Die Kainsmerk en -slot waarmee sommige Afrikaners, volgens jou, kwansuis rondloop, is ‘n selfopgelegde kruis (in teenstelling met die kruis wat Jesus aan Sy dissiples voorhou) en is bloot die resultaat van dekades se breinspoeling deur die sg vry-denkende akademici, die liberale massa media, en knie-buigende susterskerke wat ‘n byderwetse god geskep het, en nou aanbid.

Maar God Sy Dank, nie alle Afrikaners het die geloof van humanisme aangeneem nie. Vir daardie klein groepie Afrikaners is die totstandkoming van ‘n Afrikanerstaat presies so moontlik soos wat ‘n see gekloof is en honderde-duisend mense droogvoets daardeur gestap he.

Ek erken, menslik gesproke onmoontlik. Maar…

Werner ·

MT, jy slaan die spyker op die kop. Dis goed om oor sulke belangrike dinge te dink en filosofeer, maar wyl party debatteer oor die onmoontlike Afrikanerstaat, leef ander dit reeds prakties uit. En glimlag maar net. Sonder ‘n Kainsmerk. En bou.

annie ·

Gnostiese… demiurgie… Hoe skrik ek my nou dood… Waar bou julle die nuwe toring van Babel… bankrekno… Gou dat ek my geldjie soontoe kan pos… of anders ek is verlore… Snik… Smokkel met die Woord is sonde, dominee, het jy dit geweet? Om aan te voer dat Afrikaners seker soos Kain behoort te moet voel en dan te troos dat ons nie so hoef te voel nie… Maar tog… Watter bog! Bou dominee bou!

OW ·

Dit gaan niks help,jy val die prof aan nie.Die skrywe handel oor vrae wat die prof vra.Dit gee ‘n geskiedkundige oorsig van die afrikaner se posisie en word dan vergelyk met die gnostiek wat ‘n eerste tot sesde eeuse beweging was wat veral op die christelike godsdiens geteer het.Hy sê duidelik die Kainsmerk en kainslot hoef nie die Afrikaanse lot en merk te wees nie.Die laaste deel herskep in Christus bied die oplossing,en die meeste mense wat ek ken, het aanbeweeg en klou nie aan die verlede vas nie.

MT ·

Herskepping (Geestelike) van die Afrikaner (en enige ander persoon ) IN Christus is slegs moontlik deur ‘n Helige Gees-gewerkte sondebesef,, opregte bekering en ‘n wederbaring in Jesus, gevolg deur ‘n intieme daaglikse wandel (heiligmaking) met Hom.

Dit is nie wat Michael hier bepleit nie. Hy vra vir ‘n kulturele herskepping van Afrikanerwees, om heel moontlik akkomoderend (lees agteroor buig tot in ewigheid) te wees teenoor almal wat gegrief voel deur die bestaan van Afrikaners.

Want dis tog maar waaroor alles gaan; ‘n groep mense wat op grond van hulle gemeenskaplike taal, etnisiteit, kultuurwaardes en unieke lewensbeskouing ‘n doring in die vlees is van die globaliste en humaniste wat hard werk om elkeen te oortuig om homself/haarself te herskep in iets/iemand wat universeel aanvaarbaar is en geen aanstoot aan geen persoon gee nie.

OW ·

Ek stem volkome met jou eerste paragraaf saam,en gesien in die lig van wat jy daar sê:God is nie afrikaans,engels of gekoppel aan een of ander kerk,kultuurgroep of mensegroep nie.Hy is verhewe bo dit alles.Een van die instruksies wat God aan die dissipels van Jesus gee,is dat hulle mekaar moet verdra en dit gaan wyer as net vir die dissipels van Jesus.God sê ook dat”sover dit van julle afhang,leef in vrede met alle mense”Ek glo nie die prof bedoel dat jy jou afrikaner kultuur moet opgee en agteroor buig om dit te verwesentlik nie,maar dat ‘n Geestelike herskeppingsgestalte moet plaasvind,want in Christus Jesus is alles herskep.

Boomspan ·

Baie dankie vir die artikel… dit was bietjie bo my vuurmaakplek en redelik akademies maar baie gepas as dit uit die pen is van ‘n geleerde professor. As afrikaanssprekende wat my lewe lank probeer vlug van die afrikaner”dom” kon ek aanklank daarby vind. Ek is trots op my taal en op waar ek vandaan kom en ek is ook trots om ‘n Suid Afrikaner te wees maar ek is ook ‘n christen en om ‘n christen te wees is ‘n inklusiewe iets waar daar geen skeiding tussen ras en geslag is nie. Almal is een in Christus. (Galasiërs 3:28)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.