Hoe om u sakeonderneming staatsbestand te maak

dr-frans-cronje-afrisake-2018-06-05

Dr. Frans Cronjé, ʼn scenariobeplanner en die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), het Dinsdag op ʼn AfriSake-konferensie oor die tema in Pretoria nie enige doekies omgedraai oor die moeilike politieke waters waarin die plaaslike ekonomie hom tans bevind nie. Foto: Reint Dykema.

Die toespraak is deur dr. Frans Cronje by AfriSake se konferensie “Vooruitsigte vir staatsbestande sake – hoe firmas kan slaag wanneer die staat misluk” op 5 Junie in die Atterbury Teater in Pretoria gelewer: 

Wat is die oorsprong van die bedreigings teenoor ’n sake-eienaar of entrepreneur in Suid-Afrika in 2018 en wat moet hy of sy doen om die sakeonderneming staatsbestand te maak?

Ons begin by die risiko’s. Daar is vyf risikogebiede:

Die eerste is die regerende party en die bedreiging is hoofsaaklik gevestig in sy vormingsideologie. Die politieke ideologie van die regerende party word ondersteun deur die teorie van die Nasionale Demokratiese Revolusie. Dié teorie spruit op sy beurt uit Lenin se teorie van imperialisme dat die welvaart van koloniale magte slegs ontstaan het deur die uitbuiting van die gekoloniseerdes en is dus inherent onverdiend. In Suid-Afrika het die ANC dié teorie aangepas vir wat hy kolonialisme van ’n spesiale aard noem – die spesiale aard synde dat, anders as in baie ander dele van die wêreld, die koloniseerder ’n permanente deel van die samelewing geword het en nooit sal weggaan nie.

Die doel van die Nasionale Demokratiese Revolusie is om die koloniseerder van sy welvaart en alles wat daaruit voortvloei – sy onderwys, lewenstandaard, tuiste, eiendom en geleenthede vir vooruitgang – te onteien. Totdat dit gebeur het, hou die teorie stand, kan die revolusie nooit volkome wees nie.

Die party verstaan egter lankal dat om eenvoudig die kapitalistiese ekonomie te vernietig, so ’n kettingreaksie van negatiewe gevolge sou ontketen dat dit, op sy beurt, die revolusie sou vernietig. Die doel moet eerder wees om “die kapitalistiese ekonomie tot die revolusionêre agenda van die staat aan te wend”.

Dit is ’n stadige en inkrementele proses van die aanwending van regulasies, wetgewings en staatsmag om welvaart van die middelklasse en die sakegemeenskap onder staats- en partybeheer te bring. Die mynboubeleid, SEB-beleid, grondhervormingsbeleid en die beleid oor waterregte is almal voorbeelde hiervan.

Deel van die briljantheid van die NDR-teorie lê daarin dat waar enige beswaar teen die negatiewe gevolge van hierdie regulatoriese beleide geopper word, die persoon wat die besware maak, daarvan beskuldig sal word dat hy/sy die onverdiende status quo, wat tydens die koloniale era gevestig is, wil verdedig. Om die beleid hoegenaamd te bevraagteken, is op sigself bewys van die misdryf en dus word die nadelige gevolge van die beleid nooit genoegsaam ondersoek nie.

Die tweede is die politieke opposisie. Moet uself nie mislei oor waar die Demokratiese Alliansie nou staan nie. Dit is al minder ’n organisasie wat die belange van entrepreneurs en sakelui op die hart dra. Daar is goeie mense in die party en hulle doen hul bes, maar dit sou misleidend wees om enigiets anders te vertel as dat hulle elke dag veld verloor teenoor rasse-nasionalistiese faksies wie se vormingsideologie geensins verskil van dié van die ANC s’n nie.

Indien daar enige twyfel bestaan het oor waarheen die party oor beleid op pad is, behoort die onlangse twis oor die idee van wit bevoorregting selfs die skeptici te oortuig.

In ’n toespraak verlede maand het mnr. Maimane gesê dat die DA wit bevoorregting sou beveg. Daar is gesuggereer dat hy dalk nie volledig verstaan het waartoe hy sy party verbind nie, maar ek twyfel nie daaraan dat sy adviseurs presies weet wat die term in die Suid-Afrikaanse konteks beteken nie.

Wit bevoorregting beteken dat die blote feit van jou ras vertel dat jy onverdiende maatskaplike en ekonomiese voordele binne die samelewing ontvang, dat dié voordele jou toelaat om onderrig te ontvang, jou loopbaan te volg of jou besigheid te bestuur, en dat jy dié voordele slegs op grond van Suid-Afrika se koloniale en rassistiese verlede ontvang. Nóg erger is dat jou ontvangs van hierdie voordele jou nie net toelaat om vooruit te gaan nie, maar dat dit die rede is waarom swart mense arm is. Daaruit moet volg dat dit die rol van die staat is om tussenbeide te tree om “wit bevoorregting te konfronteer”, soos mnr. Maimane gesê het – om jou hierdie voorregte te ontsê.

Indien u ’n ooreenkoms tussen die wit bevoorregtingsteorie en die teorie van die Nasionale Demokratiese Revolusie sien, is dit omdat hulle wesenlik verwisselbare konsepte is – dat albei, in eenvoudiger taal, aan ouderwetse sosialistiese dogma toegeskryf kan word.

Konfrontering van swart armoede, of armoede ongeag van ras, is wat politici behoort te doen. Maar jy doen dit deur goeie skole te skep, betroubare infrastruktuur te voorsien, en belegging te trek om die ekonomie te laat groei en werk te skep. Daar is nie ’n ander manier nie. Om konfrontering van wit bevoorregting deur die staat toe te laat om in te meng met die onderwys, lewens en sakeondernemings van wit mense, bereik absoluut niks anders nie as om die hele samelewing armer te maak.

Die derde risikoterrein wat entrepreneurs in die gesig staar, ontstaan uit die groot georganiseerde besigheidsektor. Die Suid-Afrikaanse ekonomie is besaai met reusekorporatiewe monopolieë. Hulle gebruik hul finansiële spierkrag en nabyheid aan politieke leiers om beleide te bewerk (SEB, byvoorbeeld) wat dit vir kleiner firmas of beginbesighede baie moeilik maak om met hulle mee te ding.

Reusefirmas kan makliker as klein firmas die uitgawes verbonde aan hierdie beleide bekostig. Die groot firmas het die kapitaal, balansstate en administratiewe hulpbronne om hierdie koste te absorbeer – iets wat nie van kleiner firmas of beginbesighede waar is nie. Deur die kleiner firmas te dwing om in dieselfde regulatoriese raamwerk te bestaan, is groot georganiseerde besighede daartoe in staat om dié firmas se mededingendheid te verminder en hulle uit die mark te druk.

Die vierde bedreiging wat u in die gesig staar, is van die hoofstroom- en sosiale media.

Weens die greep wat dogmatiese, sosialistiese denke op die land het, word wat entrepreneurs doen, nie besonder hoog gewaardeer in die konteks van die openbare mening nie.

Mense wat werk skep, word dikwels in die media as uitbuitend voorgestel. Net so word entrepreneurs wat kapitaal vir die land voorsien, as hebsugtig en uitbuitend voorgestel.

Dit is ’n vreemde wêreld wanneer diegene wat so hard werk om die ekonomie te bou en geleenthede vir die armes en die werkloses te skep, as skurke voorgehou word. Dit terwyl die politici en aktiviste, wat in die pad daarvan kom en dit so moeilik maak om te slaag en te belê, as helde in die stryd teen armoede en werkloosheid beskou word.

Laastens kom ons by die regering self. In plaas daarvan om ’n positiewe omgewing vir belegging te skep, het baie beleide van die regering die teenoorgestelde uitwerking. Ek verwag/vrees dat die regering in die onmiddellike toekoms die volgende sal doen:

  • Om strenger rasseverpligtinge op u besigheid en dié met wie u sake doen, te plaas;
  • om pogings tot welvaartonttrekking deur regulering te versterk om u en u bedryf só te reguleer dat u gedwing word om minder eienaarskap van en beheer oor u firma te hê;
  • om eiendomsregbeskermings verder af te takel. Grond is eenvoudig die skerp kant van die wig wat, weens die historiese konnotasies daarvan, gebruik word om eiendomsregbeskermings verder te knou;
  • om strenger arbeidsregulasies in te stel en die koste van verhuring en die skep van geleenthede vir onervare en swak opgeleide mense te verhoog; en
  • om belastingkoerse te verhoog, hoofsaaklik deur onregstreekse en agterbakse belasting in die vorm van verskeie heffings en verwante belastings.

Dit is ’n werklik beswarende lys struikelblokke wat u die hoof moet bied. Daar is baie ontleders wat ons sal vertel dat dinge nou sal verbeter, maar ek het egter sedert Desember genoeg gesien om te sê dat ek nie dink dat dit in die onmiddellike toekoms sal gebeur nie. Dus, indien kleinsake-eienaars hulle verbind het tot Suid-Afrika en wil help om ’n sukses daarvan te maak, sal ek hulle aanraai om die volgende strategiese opsies te oorweeg:

  • Die eerste is om versigtig te wees vir besigheid met die regering. Dit mag vir ’n tydjie lonend wees, maar indien daar ’n wending teen u kom, kan u heeltemal uitgeskakel word;
  • Die tweede is om lugtig te wees vir baie groot firmas. Hulle sal ook onder politieke druk teen u draai en al meer kwaadwillig teenoor u handel, veral om u onder druk te plaas om u neer te lê by die rassedogma van die staat;
  • Die derde is om lig te loop vir u blootstelling aan vaste bates en belegging in Suid-Afrika. Sulke bates is veral kwesbaar vir regulatoriese en ander ontvangste deur die staat. Elke sakeonderneming is natuurlik uniek en daar is ongetwyfeld ruimte vir vaste beleggings – ek sou net versigtig wees indien my hele besigheid heeltemal afhanklik was van en blootgestel was aan so ’n belegging;
  • Die vierde en verwante punt is om versigtig te wees om ’n alleenstaande Suid-Afrikaanse besigheid te wees. Probeer om u kliëntebasis buite ons land se grense te diversifiseer om u risiko te beperk indien die plaaslike sakeomgewing in die tydperk voor ons skielik negatief raak.

Die ideale posisie om dan in te wees, sou waarskynlik wees om ’n klein of middelgrootte firma met beperkte transaksies met die staat of georganiseerde besigheid te hê wat meer op intellektuele as op vaste kapitaal staatmaak en wat dienste verskaf aan ’n kliëntebasis binne sowel as buite Suid-Afrika.

Wanneer ’n klein sakeonderneming struktureel behoorlik geposisioneer is, dink ek daar is ’n paar ander dinge wat hy behoort te oorweeg om die onderneming nog stewiger te maak:

  • Die eerste hiervan is om nie deel van die probleem te word nie. Indien u nie ’n slagoffer van die rassemanipulasie-dekrete van die staat wil word nie, moet u sover moontlik probeer om nie daaraan te voldoen nie of u voorsieners en vennote te dwing om dit te doen nie. Weer eens is die briljantheid van die NDR-tipe beleid dat die slagoffer die beleid op homself van toepassing begin maak. Ek weet dat hier wetlike en regulatoriese struikelblokke is en ek is simpatiek daarteenoor. Maar op ’n tydstip moet ’n mens uit beginsel ’n standpunt inneem.
  • Die tweede is om aktief betrokke te wees in die beleidsomgewing. Sluit aan by dié organisasies wat vir die regte goed baklei. Sluit by hulle almal aan. Soos om te belê in groepe soos AfriSake of om ’n vriend te word van die IRV (lees meer hieroor by irr.org.za) is van kritieke belang – ons gee om wat met klein sakeondernemings gebeur en baklei baie hard vir hulle (debietorders maak dit alles moontlik).

Saam het ons ’n geweldige impak, maar as u nie betrokke raak nie, is daar niemand anders wat vir u sal opstaan nie.

  • Dr. Frans Cronje bestuur die sentrum vir risiko-ontleding – ’n dinktenk van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. SMS IRR na 32823 om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Eish ·

Meesterlike artikel!
Die deurtrek van beleid na die praktyk is onverbeterlik.
Ek is grensloos beïndruk met die skrywer!

Dankie baie ·

Dankie vir ‘n uitstekende stuk. Die meerderheid is nou in entitled mode en gaan nie daarvan kan afsien nie. terwyl die ekonomie leeggeplunder is en die basis om te bou ontbreek want die meerderheid jonges kry nie goeie skoolopvoeding nie. So die situasie is onomkeerbaar. Al wat ons oor het om te doen is om self beskikking te bewerkstellig deur hopelik die VF+. As dit nie gedoen kan word nie dan is daar geen meer hoop nie.

Digitale besigheid ·

Ons moet plaaslik en by mekaar koop, en onsself oplei deur aanlyn leer om digitale besigheid te doen met die buiteland.

Sakeman ·

Ek laat my werknemers verniet aanlyn leer by coursera en edx in e handel en nuwe tegnologie, dit werk uitstekend, ons kan nou met oorsese kliente goed besigheid doen.

JAN ·

Baie dankie vir die logika.
Dis juis van toepassing op die nuwe NHI projek.
Niks daarvan maak sin nie behalwe twee feite. 1. Dat dit deel uitmaak van die Ramaposa beleid van Bate beslaglegging en 2. omrede die R60 duisend miljoen se opgepotte rykdom van privaat blankes siekefondse.

Die vergaderings is net bedoel om die bates en laste te onderskei. Die Staat wil nie laste onteien nie. Net so met die NHI mediese dienste soos al die ander
Ongelukkig het die mediese fondse in lottos verander met reuse sogenaamde administrasie winste.
Onteiening is niks anders as blanke bate beslaglegging nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.