Hoe staan dinge in die Oekraïne-oorlog?

Oekraïense soldate met hul nasionale vlag op 4 Oktober 2022 (Foto: Anatolii Stepanov / AFP)

In November verlede jaar, toe die troepe van die Oekraïne merkwaardige suksesse sowel aan die Suid- en die Noord-front behaal het en die groot stad Cherson bevry het, het die hoop bestaan dat die gety gaan draai.

Die begin van die winter, asook die sterk verdedigingsstellings van die Russiese troepe, het gemaak dat die offensief egter nie voortgesit kon word nie. Almal het met spanning gewag vir die somer-offensief en die president van Oekraïne, Wlodomyr Selenski, het belowe dat die Russiese troepe uit die Oekraïne verdryf sal word. Veel hoop is ook gewek deur die swaar wapentuig wat Oekraïne van die Weste ontvang het.

Die offensief het egter geen noemenswaardige suksesse opgelewer nie, maar daar is gesê dat dit net voorhoedgevegte is en die groot wending op die kaarte is. Intussen, waar die somer al einde se kant toe staan, blyk dit duidelik te wees dat Oekraïne se offensief vasgeval het. Enkele kleiner dorpe en enkele vierkante kilometer grond is bevry, wat egter in ʼn groot land soos Oekraïne geen verskil maak nie.

Rusland het intussen sy taktiek verander deur die grond wat reeds verower is, ten alle koste te verdedig, eerder as om te probeer om meer grondgebied te verower. Nadat die aanvanklike doel van die oorlog – om die hele Oekraïne te verower en dit ʼn vasalstaat soos Witrusland te maak – misluk het, blyk dit nou dat die besetting van die grensdistrikte en die landbrug na die Krim-skiereiland vir Rusland genoegsame buit is om die oorlog tot ʼn sukses te verklaar.

Die situasie herinner tans amper aan die Eerste Wêreldoorlog. Die verowerde grondgebied word nou tot ʼn vesting uitgebou waaraan die vyandige soldate hulle verpletter. Dit geld veral vir die stad Bachmut op die grens van die Russies beheerde Donbas-streek, wat die Verdun van die Oekraïne-oorlog word (om dié strategies belangrike Franse stad is in die Eerste Wêreldoorlog verwoed met groot verliese aan beide kante geveg).

Terwyl Oekraïne as demokrasie nie onbeperk sy jongmanne kan opoffer nie en die steun vir die regering by te groot verliese kan omswaai in afkeur en protes, hoef Rusland se president Wladimir Poetin geen opposisie of opstande te vrees nie. Dit lyk asof hy alles beheer en die opstandelinge reeds in hegtenis geneem is. Ook die kortstondige hoop dat ʼn burgeroorlog, aangestig deur opstandige Wagner-huursoldate, Rusland kan verswak, het nie gerealiseer nie. Trouens, met die Wagner-soldate wat nou in Witrusland gestasioneer is, is daar altyd die moontlikheid dat hulle ʼn nuwe front in die noorde vanaf Witrusland sal open.

Intussen gaan lugaanvalle, ook deur hommeltuie, voort. Anders as vroeër gebruik ook Oekraïne nou hommeltuie vir lugaanvalle op Rusland self, maar die skade is sover nog beperk. Rusland is verreweg verhewe wat sy lugmag betref. Hulle aanvalle is gemik op sagte teikens en ook op kulturele erfenis.

Die ooreenkoms tussen die twee lande, bemiddel deur Turkye, dat Oekraïne graan kan uitvoer om honger in dele van die ontwikkelende wêreld te voorkom en wat ʼn jaar gelede gesluit is, is deur Rusland opgesê. Omdat Oekraïne so ʼn groot produsent van graan is, het die wegval van die uitvoer wêreldmarkpryse vir graan skerp laat styg, wat veral arm lande in Afrika benadeel het.

Rusland beweer egter dat ook dat wapens deur die vragskepe ingebring word en daarom word ook hulle nou aangeval. ʼn Vinnige einde aan die oorlog lyk nie in sig nie en geen kant is so verswak dat hy vir ʼn vredesonderhandeling sal vra nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Groen Ghoen ·

Interessante opinie. Die oorlog is egter tussen NAVO en Rusland. Onlangs het Jens Stoltenberg bevestig dat die oorlog eintlik in 2014 begin het. Angela Merkel het bevestig dat die Minsk verdrae nooit ernstig opgeneem is nie, maar gebruik deur NAVO is om vir tyd te speel en Oekraine te bewapen. Wat sal S.A. doen indien bv. Botswana of Mosambiek kernwapens en aanvalsmagte op sy grense versamel? Iewers rym die Weste se propaganda net nie meer nie.

Marthinus W ·

Sebastiaan skryf uit Duitsland, wat tans ekonomiese selfmoord pleeg, net om Amerika gelukkig te hou. Hy verstaan na meer as n jaar nog steeds nie die eintlike redes vir die konflik nie.

Andrew ·

Waar kom julle nog aan die snêrt oor die graan, “om honger in dele van die ontwikkellende wêreld te voorkom”? Die wereld het n oorskot en Oekriene het net n 3% mark aandeel wat in elk geval verkoop word en nie verniet aan die arm lande ghegee word nie? Dit wys hoe n neratief net gesê word en deur almal opgeeet word sonder om aandag te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.