Hoekom die Demokrate die John R Lewis-wet probeer wegsteek

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Dit is 2022 en die VSA se tussentermynverkiesings lê voor die deur. Die skelmstreke het reeds begin. Waagpolitiek tussen die twee partye is in volle swang en is walglik om na te kyk. Vraagstukke word opgeblaas, oordryf en sywaarts uitgebrei, en die Demokrate gee nie ʼn snars om of die stories wat hulle opdis waar of vals is nie. Donald Trump mag nie toegelaat word om te staan nie en alle hindernisse is in plek om ʼn stokkie voor sy veldtog te steek.

Gegewe president Joe Biden se mislukte leierskap (sy treurige waardeskattings staan op 34% soos op 14 Januarie), mislukkings om Covid-19 te beveg, stygende inflasie (nou 9,7%) en brandstofpryse, aanbodkettingkrisisse, minder werksgeleenthede, en onbeheerbare stygings in onwettige immigrasie, het die Demokrate niks om te wys vir hulle ampstermyn onder Biden nie. Om Trump dus te teiken, is in hul koppe vasgepen en ʼn voortsetting van hulle teistering van ʼn man wat nie meer in die amp staan nie maar steeds baie gewild is.

Die oproere by die Kapitool (gebou van die Kongres) op 6 Januarie is die volgende skelmstreek, gevolg deur die eufemisties benoemde “Vryheid om te Stem: John R Lewis-wet” – die volgende mors-van-tyd-stok om weereens die Republikeine by te kom, met die dooie perd genaamd rassisme.

Die Demokrate het niks uit hulle uiters onwettige Rusland- en Oekraïene-skelmstreke geleer nie. Die spesiale ondersoeker John Durham het dit as leuens onthul met sy beskuldigings teen Kevin Clinesmith, Michael Sussman en Igor Danchenko, wat almal in die DNC-verkiesingsveldtog betrokke was om Trump te ondermyn en te kriminaliseer.

Solank as wat die Demokrate die hoërhuis, die senaat en die Withuis beheer, al is dit net-net, sal hulle deur niemand tot verantwoording geroep word nie, en sal hulle aanhou om hul meerderheid te gebruik om wetsontwerpe en leuens deur te voer om beheer en mag te behou.

Hul mees desperate poging is die “Vryheid om te Stem: John R Lewis-wet”. Die Demokrate is vasbeslote om die wetgewing deur te voer, al beteken dit die afskaffing van die filibuster, al het hulle die filibuster 328 keer vanaf 2019 tot 2021 teen die Republikeine gebruik. Biden het op 11 Januarie tydens ʼn vergadering in Atlanta uitgevaar dat sy wetsontwerp ten doel het om stemonderdrukking en verkiesingsomvêrwerping uit te skakel, en om gelyke stemreg aan swart mense te voorsien.

Diegene wat hom teenstaan word dwarstrekkers, rassiste, segregeerders en plaaslike vyande genoem. Hy het selfs die appèlhof vir die verkiesingswette se tekortkominge blameer. Tog het Demokratiese state soos New York en Delaware (waar Biden bly) meer beperkende wette as wat hierdie wetsontwerp voorstel.

Terwyl Demokrate uitvaar teen Republikeine wat die wetsontwerp teenstaan, vertel hulle selde hulle kiesers wat die inhoud daarvan is. Volgens Nathaniel Rakich, What might democrats’ voting rights bill entail? (10 Januarie 2022), sal die wetsontwerp:

  • state verplig om ʼn uitgebreide en gelykvormige reeks kiesers-ID’s (met of sonder foto’s) van mandaatkiesers te aanvaar – byvoorbeeld debietkaarte, munisipale rekenings en bankstate;
  • state verbied om ʼn verskoning te eis om in absentia te stem;
  • state verplig om kiesers toe te laat om aanlyn vir ʼn absentia-stembrief aansoek te doen;
  • state verbied om te vereis dat absentia-stembriewe notarieel bekragtig word of getuie-handtekeninge te hê;
  • state verplig om mense toe te laat om op verkiesingsdag te registreer om te stem;
  • state verplig om mense toe te laat om aanlyn te stem;
  • Verkiesingsdag as nasionale vakansiedag verklaar;
  • die stemreg van mense wat aan ernstige misdade skuldig bevind, maar nie meer in die tronk is nie (insluitende diegene op parool en onder voorwaardelike vrylating) herstel;
  • van “Donker geld”-groepe (politieke spandering deur besighede sonder winsoogmerk) vereis om hulle donateurs bekend te maak;
  • openbaarmakingsvereistes skep vir politieke advertensies op Facebook en Twitter;
  • befondsing aan state vir die opgradering van verkiesingsinfrastrukture voorsien;
  • federale standaarde vir verkiesingstoerusting vestig;
  • die gebruik van papierstembriewe vereis;
  • vereis dat alle absentia-stembriewe wat teen verkiesingsdag geposstempel en binne sewe dae ontvang is, getel moet word;
  • … met sekere uitsonderings van kleiner of regsgebiede wat per pos stem;
  • … en ʼn verbod plaas op die verskaffing van water en kos aan kiesers in wagtoue;
  • state verplig om outomatiese kiesersregistrasie by die departement van motorvoertuie beskikbaar te maak;
  • ʼn diskrete beperking plaas op state se vermoë om kiesers van kiesersrolle te verwyder;
  • state toelaat om te kies of openbare befondsing vir raadsveldtogte in werking gestel moet word deur elke dollar wat ʼn kandidaat vanaf klein donateurs insamel met $6 vanaf die regering te ewenaar;
  • spesifieke kriteria vestig vir streeksherverdeling ter wille van regverdige kaarte;
  • verkiesingsbeamptes toelaat om te dagvaar wanneer hulle onverdiend uit ʼn amp ontslaan is;
  • Verhoogde beskerming bied teen intimiderende verkiesingswerkers;
  • die boetes vir knoeiery met stemrekords verhoog;
  • vereis dat meer verslae bewaar moet word na afloop van die verkiesing; en
  • kiesers toelaat om te dagvaar as hulle stemme nie getel is nie.

Wat regtig rassisties is, is om aan te neem dat minderheidsgroepe te dom is om kiesersdokumente (ID’s) te bekom, dat hulle weke nodig het om te stem, dat hulle nie toegelaat behoort te word om in toue te staan nie (ongeag hoe lank mense in die sneeu in toue moes staan om Covid-19-toetse gedoen te kry), en dat hulle gevoer behoort te word terwyl hulle in die stemtoue staan.

Republikeine noem dit ʼn oorlog teen kiesersintegriteit – ʼn radikale agenda om die regeringstelsel te verander en ʼn eenpartystaat doeltreffend te institusionaliseer.

Joni Ernst, Republikeinse senator, het aan die media gesê dat hierdie wetsontwerp ewe beledigend is as wat dit ʼn gefabriseerde krisis is – dit gaan “nie oor stemregte nie, maar oor die federalisering van plaaslike en staatsverkiesings”. “Dit is ʼn deursigtige strik vir die res van ons dat hulle probeer om permanente politieke mag te bekom.” Sy het ook die Demokrate se listige plan om ʼn “de facto-werkverskaffingsprogram vir politieke werkers te skep” afgekeur – poste vir politieke werkers, konsultante en meningspeilers wat met die belastingbetaler se geld finansier word.

Die Republikeine voel dat die wetsontwerp “dit makliker behoort te maak om te stem, maar moeiliker om te kul, [maar] hierdie Washington-Demokrate wil basies ons verkiesings oorneem. Die Demokrate se voorgestelde wetsontwerp sal gewilde kieser-ID-vereistes by verkiesings uitskakel.”

Voormalige pres. Barak Obama wens Biden geluk met sy inhuldiging (Foto: Olivier Douliery, AFP)

Daardie opperste rassetsaar, oudpresident Barack Obama, het, soos verwag, teenoor die Republikeine wat die wetsontwerp teenstaan, uitgevaar: “Dit lyk asof een van ons twee groot partye van voorneme is om stukke van die fondasie van ons demokrasie weg te kap.” Hy sê nooit wat in die wetsontwerp staan nie, terwyl dit eintlik deel is van die Demokrate se radikale agenda om die regeringstelsel te verander deur dit makliker te maak om te kul.

Deur om die filibuster as ʼn rasinstrument af te kraak wat in die verlede deur Suidelike senators gebruik is “om wetgewing rakende burgerlike regte te blokkeer en Jim Crow staande te hou”, het Obama dit gerieflik oor die hoof gesien hoe gereeld die Demokrate die filibuster oor die afgelope twee jaar gebruik het, tot so onlangs as 13 Januarie 2022.

Hy redeneer simplisties en dwaas dat die wetsontwerp die reg om te stem beskerm, en laat dit blyk of Republikeine die reg om te stem teenstaan:

“Intussen het regeringswetgewers in 49 state meer as 400 wetsontwerpe bekendgestel om stemme te onderdruk. Ons het sekere van hierdie wetsontwerpe al in die verlede gesien: wetgewing wat kiesers ontmoedig om ʼn stem uit te bring, insluitende rasminderhede, lae-inkomste kiesers en jongmense. Ander het dit weer ten doel om sekere stemgebiede verskillend te behandel, en só ʼn stel reëls op te stel vir die kiesers wat in stede woon, teenoor ʼn ander stel reëls vir mense wat in meer konserwatiewe, landelike dele woon.”

Dit is ’n leuen. Verkiesingshervorming in daardie state is bedoel om kullery te verminder.

Obama gaan voort: “Laastens, en miskien die skadelikste, het ons wetgewing gesien wat probeer om mag bo verkiesingsprosesse te laat geld, insluitend die vermoë om verkiesingsuitslae te sertifiseer. Hierdie partydige pogings om stemvernietiging is iets wat ons nog nooit vantevore in moderne tye gesien het nie, en dit verteenwoordig ʼn ernstige bedreiging vir die basiese demokratiese beginsel dat alle stemme regverdig en objektief getel moet word.”

Dit is natuurlik leuens, want die sertifisering van verkiesingsuitslae is grondwetlik, met die Demokrate wat dit regdeur hulle geskiedenis van twyfelagtige verkiesingsuitslae gebruik het. Hillary Clinton het steeds nie die verkiesing aan Trump oorgegee nie. Stacey Abrahams het nog nooit oorgegee aan goewerneur Kemp van Georgia nie.

Biden se doel is om enigeen wat teen die Demokrate stem van burgerregte te ontneem. Hy het selfs die DOJ (departement van justisie)-personeel verdubbel om sy pogings namens hom te hanteer en kiesers teen intimidasie te beskerm. Die Demokrate wil die stuipe kry dat die hoërhuis hom daartoe verbind om hierdie wetsontwerp te stuit. Geen wonder New York se goewerneur probeer hard om 800 000 onwettiges te laat stem nie. In 2020 het die Demokrate die koronavirus gebruik om die verkiesings te steel, gegewe Trump se gewildheid; daarom is die bedoeling van hierdie wetsontwerp om “die steel” te institusionaliseer, en te verseker dat Demokrate verkiesings tot in ewigheid kan wen, en die VSA doeltreffend ʼn eenparty dominerende land te maak.

Die feit dat die wêreld se grootste sogenaamde demokrasie weier om sy verkiesingswetgewing in plek te kry, terwyl baie Derdewêreldlande hulle sʼn vervolmaak het, is ʼn aanduiding dat daar geen politieke begeerte is om dit te doen nie, gegewe die feit dat die Kieserregtewet reeds vyf keer aangepas is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Human ·

“I just want to find 11780 votes, which is one more than we have, because we won the state.”

MT ·

But during the trip, Mr Biden said he had “had the great honour of being arrested with our UN ambassador on the streets of Soweto” while trying to reach the civil rights leader on Robben Island. The town of Soweto is more than 760 miles (1,223km) from Robben Island.

At a black history awards brunch in Las Vegas last week, he also said Mandela had thanked him for his efforts.

“He threw his arms around me and said, ‘I want to say thank you,'” Mr Biden told onlookers. “I said, ‘What are you thanking me for, Mr President?’ He said: ‘You tried to see me. You got arrested trying to see me.'”

Dirk Mostert ·

Goeie artikel. Amerikaners, veral demokrate is nie engeltjies nie.

Pieter9 ·

Weereens ‘n uitstekende artikel deur Rhoda; die demokrate is onbloot en leierloos – Trump se aanlyn sosiale platform het reeds meer as R150 miljard beleggings getrek… Hoofstroom media en linkses natuurlik stil daaroor – interessante tyd aan die kom.

Anna-marie ·

Dankie Rhoda vir ‘n gebalanseerde artikel. Altyd bly as ek sien daar is iets nuuts van jou om te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.