Internasionale oorsig: Alle oë op Skotse Nasionale Party, Konserwatiewes ná verkiesings

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Kiesers in die Verenigde Koninkryk het Donderdag in verskeie belangrike verkiesings na die stembus gegaan. Terwyl die meeste aandag op die streeksverkiesing in Skotland was, waar al 129 setels in die Skotse parlement op die spel was, is kiesers in Wallis ook na die stembus, terwyl munisipale verkiesings in meer as 140 munisipaliteite in Engeland plaasgevind het.

Twaalf burgemeesters in Engeland is ook Donderdag verkies. ʼn Tussenverkiesing in die Hartlepool-kiesafdeling het ook Donderdag plaasgevind nadat die Arbeidersparty se parlementslid vir dié kiesafdeling bedank het.

Die finale uitslag sal eers oor die naweek beskikbaar wees, maar Vrydagoggend is reeds aangekondig dat die Konserwatiewe Party van die Britse premier Boris Johnson die Hartlepool-tussenverkiesing gewen het. Dit is die eerste keer in 57 jaar dat die Konserwatiewe Party hierdie setel wen en bevestig die gewildheid van Johnson in veral armer, werkersklas-kiesafdelings waar die Arbeidersparty voorheen oorheers het.

Die Konserwatiewe Party het ook baie goed gevaar in munisipale verkiesings. Verlede week het die Britse media nog bespiegel oor die impak van twee sogenaamde skandale op Johnson se gewildheid. Dit volg ná bewerings dat hy donateurs se geld gebruik het om sy ampswoning in Downingstraat op te gradeer en bewerings dat hy verlede jaar sou gesê het dat hy nooit ʼn derde nasionale staat van inperking sou instel nie, al sou die liggame van duisende dooies ook begin ophoop.

Foto: Andy Buchanan/AFP

Dit is egter ná Donderdag se verkiesings duidelik dat Johnson se gewildheid in Engeland steeds baie sterk is. Die Konserwatiewe Party het ook in munisipale verkiesings beter as wat verwag is presteer en tientalle setels by die Arbeidersparty oorgeneem.

In Wallis en Skotland is daar egter baie minder steun vir Johnson. Terwyl dit algemeen aanvaar is dat die Skotse Nasionale Party die verkiesing in Skotland sou wen, moet die finale uitslag nog bekend gemaak word.

Die debat oor Skotse onafhanklikheid sal in die komende maande voortwoed en terwyl dit duidelik is dat die politieke breuk tussen Engeland en Skotland groter word, is daar tans geen rede om te glo dat ʼn tweede onafhanklikheidsreferendum in Skotland binnekort die seën van die Britse parlement sal geniet nie.

Oorwinning vir regse partye in Madrid

Pedro Sanchez. (Foto: VIOLETA SANTOS MOURA/POOL/AFP)

Twee regse partye in die Spaanse hoofstad het saam ʼn gemaklike meerderheid in die streeksverkiesing, wat Dinsdag daar plaasgevind het, behaal. Die sentrumregse Spaanse Volksparty (Partido Popular) het 45% van die stemme gewen, wat ʼn verdubbeling van sy steun sedert die vorige verkiesing in 2019 is. Steun vir die konserwatiewe Vox-party het tot 9% gegroei en saam sal dié twee regse partye nou die streekswetgewer kan beheer.

Streeksregerings in Spanje het aansienlike magte en daar was die afgelope 14 maande voortdurend ʼn gespanne verhouding tussen die linkse nasionale regering van die Spaanse premier, Pedro Sánchez, en die koalisieregering van die Madrid-streek. Die Volksparty se streeksleier, Isabel Díaz Ayuso, was sedert 2019 die president van die Madrid-streek en met die instelling van streng inperkingsmaatreëls verlede jaar in Spanje en in die hele Europa het Ayuso geweier om dieselfde in Madrid te doen.

Ayuso het sedert 2019 in ʼn koalisie met die liberale Ciudadanos Party (Party van die burgery) geregeer, maar ná Dinsdag se verkiesing sal sy nou ʼn makliker koalisievennoot in die nasionalistiese, konserwatiewe Vox-party kan vind. Ayuso is tans een van die gewildste politici in Spanje en daar word reeds bespiegel dat sy binne die volgende paar jaar die premier van Spanje kan word.

Dinsdag se verkiesing in Madrid het primêr gefokus op inperkingsmaatreëls in die stryd teen Covid-19. Sánchez se streng maatreëls is baie ongewild en sy linkse koalisieregering het die afgelope maande reg oor Spanje steun verloor. Ayuso en die Volksparty het hul veldtog in die aanloop tot die streeksverkiesing op een woord, vryheid, gebou en kiesers gevra om te kies tussen groter vryheid (en dus minder inperkingsmaatreëls) en die streng maatreëls wat deur Sánchez voorgestel word.

Ayuso het restaurante, kroeë en winkels verlede jaar oopgehou, terwyl streng inperkings oor die hele Europa gegeld het. Ekonomiese data wys dat die ekonomie van die Madrid-streek (wat die stad en omliggende gebiede insluit) die afgelope paar maande vinniger herstel het as dié van ander streke in Spanje.

Dinsdag se verkiesingsuitslag kan selfs aanleiding gee tot nóg vervroegde verkiesings in ander streke van Spanje soos wat die druk van gewone burgers, wat sat is vir inperkingsmaatreëls, toeneem.

Israel probeer Iran-ooreenkoms keer

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/AFP)

Terwyl ʼn vierde ronde van onderhandelinge tussen die VSA, Rusland, China, Iran en verskeie Europese lande die afgelope week in Wene, Oostenryk, plaasgevind het, het Israel voortgegaan om die Amerikaners daarvan te probeer oortuig om nie toegewings aan Iran te maak wat kan meebring dat Iran wel in die toekoms sy uraanverrykingsprogram kan uitbrei nie.

Verlede week het topamptenare van die Israelse regering en weermag Washington DC besoek en in gesprekke met pres. Joe Biden, die Amerikaanse minister van buitelandse sake en verskeie hooggeplaaste amptenare in die Withuis aangevoer dat ʼn terugkeer na die 2015-kernooreenkoms met Iran sal verseker dat dié land teen 2030 ʼn kernwapen kan vervaardig.

Israel is veral gekant teen die opskorting van sanksies teen Iran omdat dit volgens hom miljarde dollar in die hande van revolusionêre magte in Iran sal plaas wat tot ʼn verhoogde betrokkenheid van Iran in Sirië, Libanon en Irak kan lei.

Volgens mediaberigte in Israel het dié land se regering egter die afgelope week begin aanvaar dat die VSA en ander lande wel binnekort ʼn nuwe kernooreenkoms wat grootliks met die 2015-ooreenkoms sal ooreenstem, met Iran sal sluit. Iran het volgens die Internasionale Atoomenergie-agentskap alle vereistes van die 2015-ooreenkoms getrou nagekom totdat die VSA hom in Mei 2018 aan die kernooreenkoms onttrek het. Verskeie Europese leiers het ook die afgelope tyd gesê dat hoewel Israel rede het om oor Iran se steun aan groepe in Sirië en Libanon bekommerd te wees, daar genoeg rede is om te glo dat ʼn ooreenkoms met Iran wel dié land sal verhoed om ʼn kernbom te ontwikkel.

Nog ʼn probleem wat Israel met die 2015-ooreenkoms het, is die sonsondergangklousules wat bepaal dat beperkings op Iran se ballistiese missielprogram teen 2023 opgeskort sou word en dat beperkings op sy gevorderde sentrifuge-program teen 2024 opgeskort sou word. Dit is nog onduidelik of daar in die nuwe ooreenkoms weer sulke klousules sal wees.

Die Biden-administrasie het verlede week gesê dat hy die huidige onderhandelings oor ʼn kernooreenkoms met Iran as slegs ʼn eerste stap beskou en dat hy wil sien dat daar verdere onderhandelings met Iran moet wees om te verseker dat dié land nie ʼn destabiliserende effek in die Midde-Ooste sal hê en ʼn gevaar vir Israel spesifiek sal inhou nie.

200 jaar ná Napoleon se dood wonder Frankryk oor sy nalatenskap

Frankryk se president Emmanuel Macron en sy vrou Brigitte by Napoleon se praalgraf tydens ‘n seremonie ter viering van die 200ste herdenking van sy dood. (Foto: Christophe PETIT TESSON /POOL/AFP)

Frankryk het die afgelope week die dood van een van die grootste Franse leiers van alle tye, Napoleon Bonaparte, gedenk. Napoleon is op 5 Mei 1821 in die ouderdom van 51 oorlede. Nadat Napoleon se magte in Junie 1815 in die Slag van Waterloo verslaan is, is hy deur die Britte na St. Helena-eiland geneem waar hy sy laaste jare in slegte omstandighede en grootliks in isolasie deurgebring het.

Sy dood het skokgolwe deur Europa gestuur, en die Britte het die skuld vir sy swak gesondheid gekry. Volgens Napoleon se dokter is hy aan maagkanker dood, maar daar is tot vandag onsekerheid oor die rede vir sy dood.

Napoleon se oorskot is ná sy dood eers deur die Britte op St. Helena-eiland begrawe. Dit is egter in 1840 deur koning Louis Philippe na Frankryk geneem waar hy in die Saint-Jérôme-kapel begrawe is. ʼn Spesiale praalgraf is daarna in Les Invalides in Parys vir hom ingerig en Napoleon se oorskot is in 1861 daarheen verskuif waar dit vandag nog is.

Pres. Emmanuel Macron het Woensdag, op die 200ste herdenking van Napoleon se dood, by dié praalgraf met sy groen granietbasis en grafsteen van rooi kwarts oor Napoleon se nalatenskap gepraat. Daar heers vandag steeds groot respek in Frankryk vir Napoleon se militêre vernuf en sy politieke vermoë.

Die wyse waarop Napoleon uit ʼn klein dorpie tot ʼn dominante rol tydens die Franse Revolusie kon uitstyg en uiteindelik Frankryk tot militêre oorheersing regoor Europa kon lei, geniet steeds in Frankryk en ook in die res van Europa erkenning. Macron het Woensdag ʼn fyn balans probeer handhaaf tussen die heldestatus van Napoleon en sy rol in die herinstel van slawerny in 1802 in Frankryk, en natuurlik die enorme bloedvergieting, lewensverlies en onderdrukking wat deur Napoleon se oorloë veroorsaak is.

Die debat oor Napoleon se nalatenskap sal nog lank in Frankryk voortduur, maar dit was die afgelope week steeds duidelik dat daar onder baie Franse ʼn groot heldeverering vir Frankryk se grootste militêre leier van alle tye is.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Dié mense wat so graag vir Katalonië, Skotland en Québec wil laat afstig vanaf Spanje, die Verenigde Koninkryk en Kanada, moet almal net 1 week deurbring in dié swak bestuurde SA met sy totale minagting vir minderheidsgroepe. Hulle sal terugkeer na hulle lande en in trane jammer sê dat hulle wou afstig. Lewensomstandighede in daardie lande is miljoene keer beter as in SA. Hulle beleef hoogstens bietjie taaldiskriminasie in Katalonië, maar Katalaans en Spaans is so verwant soos Afrikaans en Nederlands, so waarom kla hulle so? Dan ook, Spanje, die Verenigde Koninkryk en Kanada is SONDER: beurtkrag regstellende aksie plaasmoorde… Lees meer »