Internasionale oorsig: Berade bevestig globale verdelingslyne

Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika maak deel van Brics uit. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die afgelope week is die Brics-beraad deur China aangebied met die vyf staatshoofde van die Brics-lande wat per videoverbinding oor globale uitdagings vergader het. Hierdie naweek vergader die leiers van die G7-lande in Beiere in die suide van Duitsland. Staatshoofde en leiers van die Statebondslande het in Kigali, Rwanda, bymekaar gekom, terwyl die staatshoofde van die 27 Europese Unie-lidlande in Brussel vergader het. Intussen is ʼn nuwe groepering van vier lande, die I2U2, wat op belangrike sake in die Midde-Ooste en Wes-Asië wil fokus, deur die VSA bekend gemaak.

Dit is duidelik dat die wêreld tans in ʼn netwerk van ingewikkelde alliansies organiseer. Die Chinese president Xi Jinping het tydens die Brics-beraad sy afkeer van die Weste se hantering van die Russe se aanslag op Oekraïne duidelik gemaak. Xi wil sien dat Brics ʼn voertuig raak om ʼn sterk teenstem vir Westerse hegemonie in die wêreld te wees. Die uitbreiding van Brics-lidmaatskap is een van die sake wat die afgelope week bespreek is.

Nie alle Brics-lidlande is egter ewe gemaklik hiermee nie. Brasilië is ʼn historiese bondgenoot van die Weste, en dié land se president, Jair Bolsonaro, het onlangs tydens die beraad van die Amerikas in Los Angeles juis bande tussen sy land en die VSA versterk.

Indië het die afgelope paar jaar ook sy bande met die Weste versterk. Saam met die VSA, Japan en Australië is Indië ʼn lid van die Quad-groep wat militêre samewerking in Asië en die Stille Oseaan-gebied bevorder, juis met ʼn fokus op Chinese aggressie in die gebied. Daar was die afgelope tyd ook groeiende spanning tussen China en Indië oor betwiste gebiede in die Himalaja-gebergtes.

Die Indiese eerste minister, Narendra Modi, het ook die naweek na Duitsland gereis om op uitnodiging van die Duitse bondskanselier, Olaf Scholz, aan die G7-beraad deel te neem. Indië is ook een van vier lande wat volgende maand aan die I2U2-inisiatief sal deelneem. Die ander lande is Israel (die ander I in die naam) en die Verenigde Arabiese Emirate en die VSA (wat die twee U’s verteenwoordig). Dié vier lande sal volgende maand tydens die Amerikaanse president, Joe Biden, se besoek aan die Midde-Ooste en Wes-Asië vergader om oor ekonomiese en veiligheidsamewerking te praat.

Geen van hierdie berade, nuwe groeperinge en alliansies se doel is werklik om ernstige geskille wat tans wesenlike ekonomiese en veiligheidsbedreigings vir die hele wêreld inhou, op te los nie. Dit is eerder ʼn stryd om die beskerming van eie belang, ʼn stryd om globale invloed en ʼn stryd tussen botsende idees en ideologieë. Dit beteken egter ook dat groot magsverskuiwings oor die volgende paar jaar in die wêreld moontlik is. Die moontlikheid bestaan ook dat dit tot meer konflik en selfs groter oorloë gaan lei.

EU-uitbreiding gaan groter Oos-Europese invloed beteken

Die Europese parlement. (Foto: Kenzo TRIBOUILLARD/AFP)

Die Europese parlement het Donderdag ná afloop van ʼn twee dag lange beraad ten gunste daarvan gestem om Oekraïne en Moldawië as kandidaat-lede van die Europese Unie toe te laat. Dit beteken dat Oekraïne en Moldawië se proses om toelating tot die EU nou amptelik kan begin. Intussen was die staatshoofde van drie Balkan-lande, Serwië, Albanië en Noord-Masedonië, ook die afgelope week in Brussel om oor EU-lidmaatskap te praat.

Voordat Rusland besluit het om met sy oorlog teen Oekraïne te begin, was daar heelwat verdeeldheid onder EU-lidlande oor die uitbreiding van EU-lidmaatskap na meer lande in Oos-Europa. Albanië, ʼn land met ʼn Moslem-meerderheid, het noue bande met Turkye, maar sal groot ekonomiese voordeel uit EU-lidmaatskap put. Serwië is ʼn bondgenoot van Rusland en een van slegs enkele lande in Europa wat steeds weier om die oorlog te veroordeel, maar ook dié land kan heelwat ekonomiese voordeel uit EU-lidmaatskap put. Serwië het al in 2009 om EU-lidmaatskap aansoek gedoen. Noord-Masedonië se lidmaatskapaansoek word tans deur Bulgarye geveto weens ʼn historiese geskil tussen dié twee lande.

Die kultuurverskille tussen lande in Wes- en Oos-Europa het al tot baie spanning in die EU gelei. Lande in Sentraal- en Oos-Europa is meer konserwatief as die meeste Wes-Europese lande en het in baie gevalle ook ʼn ander benadering oor Europa se verhouding met die VSA, China en selfs Rusland. Die optrede van twee van Europa se vinnig groeiendste ekonomieë, Hongarye en Pole, die afgelope tyd wys dat lande in Sentraal- en Oos-Europa, soos wat hulle ekonomies suksesvol raak, nie meer deur Wes-Europese leiers voorgesê gaan word nie. Binne die EU word Pole en Hongarye tans, soms in die openbaar en soms agter die skerms, in talle gevalle deur ander lidlande in die streek soos Roemenië, Bulgarye, Slowakye, Tsjeggië en Slowenië ondersteun. Sou EU-lidmaatskap na meer lande in die streek uitgebrei word, sal die magsbalans in die EU toenemend na oos verskuif.

Die afgelope paar dekades word konsensus binne die EU dikwels deur Frankryk en Duitsland onderhandel en dan op ander lidlande afgedwing. Dit was een van die redes vir Brittanje se groeiende afkeer in die Europese Unie. Pole en Hongarye se toenemend selfgeldende ingesteldheid binne die EU kan veroorsaak dat lande in Sentraal- en Oos-Europa in die toekoms met meer selfvertroue optree, en Duitsland en Frankryk se oorweldigende invloed in EU-besluite kan daarmee saam afneem. Uitbreiding van EU-lidmaatskap na meer Oos-Europese lande sal hierdie proses verder laat versnel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Die magspel tussen die tanende Weste en die opkomende Ooste word nou fel. China weet dat hy gaan val indien Rusland nou die onderspit delf. Wie gaan wen? Op die ou einde wen die lande met die grootste en jongste bevolkings altyd.

Marthinus W ·

Duitsland se openbare uitsaaier ARD het die afgelope paar dae gekla oor die G7. Dit kos amper 200 miljoen, vir net twee dae, en almal bly in ‘n luukse hotel. Ook, word baie resolusies uitgevaardig, maar die geskiedenis wys dat niks daarvan werklikheid word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.