Internasionale oorsig: ‘Die pandemie is verby’

(Argieffoto: Unsplash)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die afgelope week weer gesê dat hy nog nie gereed is om die einde van die Covid-19-pandemie aan te kondig nie. Die Suid-Afrikaanse regering het ʼn week vantevore ook gesê dat die Covid-19-bevelsraad vir eers behou word terwyl die pandemie na ʼn meer endemiese fase oorgaan. In werklikheid is dit egter duidelik dat min mense wêreldwyd nog Covid-19 as ʼn pandemie beskou. Die pandemie is verby.

In ʼn artikel in die New York Times van Mei 2020 het die opskrif gelui: “Wanneer sal die Covid-19-pandemie eindig? En hoe?” In hierdie artikel van twee jaar gelede het die mediese historikus dr. Jeremy Greene van Johns Hopkins-universiteit dit reeds duidelik gestel dat pandemies op een van twee maniere tot ʼn einde kom. Die een manier is die mediese metode waar die pandemie bestuur word tot op ʼn punt waar die voorkoms van die siekte en sterftes daal en dit nie meer krisisafmetings aanneem nie. Die ander manier waarop ʼn pandemie beëindig word, is wanneer die meeste mense eenvoudig nie meer die siekte vrees nie en self verby die pandemie tree. Dit is presies wat die afgelope paar maande wêreldwyd plaasgevind het.

Die afgelope week het daar meer as 500 000 mense per dag wêreldwyd positief getoets vir Covid-19. In die VSA het meer as 100 000 mense per dag positief getoets en in Frankryk meer as 120 000 per dag. In Australië was dit byna 30 000 per dag en omtrent dieselfde in Duitsland. Die getal mense wat positief toets, hou natuurlik sterk verband met ʼn land se toetsvermoë. In Tanzanië, Tsjad, Niger, Kameroen, Tadjikistan en nog talle ander lande het niemand die afgelope week positief vir Covid-19 getoets nie. Daar is natuurlik in al hierdie lande ook geen toetse uitgevoer nie. Mense toets veral in Westerse lande en in lande soos China positief vir Covid-19 omdat hulle verplig word om getoets te word vir reis, om mediese behandeling te ontvang, of ander doeleindes, en nie omdat hulle baie siek raak en uit eie wil getoets wil word nie.

Terwyl die WGO se data wys dat minstens 15 miljoen mense sedert Januarie 2020 wêreldwyd aan Covid-19 oorlede is, het dié organisasie ook die afgelope week gesê dat tweederdes van die wêreld se bevolking die een of ander vorm van immuniteit teen Covid-19 opgebou het.

(Foto: EMMANUEL CROSET/AFP)

Volgens ʼn navorsingsverslag wat meer as ʼn week gelede deur 14 Suid-Afrikaanse akademici bekend gestel is, het 98% van Suid-Afrikaners teen Mei vanjaar die een of ander vorm van immuniteit teen Covid-19 opgebou. Die vyfde vlaag van Covid-19 wat Suid-Afrika in Mei getref het, was drasties kleiner as met die vorige uitbrake. Dit kan enersyds toegeskryf word aan die hoë vlakke van immuniteit, maar ook die laer getal toetse wat gedoen is en die feit dat die huidige variant van die virus baie ligter is.

Dieselfde tendense is ook in die meeste ander lande wêreldwyd sigbaar. Terwyl inentings nie die oordrag van die virus verhoed nie, dra dit by tot ligter simptome. Die Omikron-variant het aan die einde van 2021 so vinnig wêreldwyd versprei dat die meeste mense wat nie ingeënt was nie, dit opgedoen het en so immuniteit ontwikkel het.

Nog belangriker egter is dat al hoe minder mense wêreldwyd ʼn vrees vir Covid-19 het en hulle handelinge daardeur laat lei. Daarom laat toets minder mense vir Covid-19 wanneer hulle verkouesimptome opdoen en is mense baie minder gesteld op sosiale afstand en om oordrag van die virus te probeer voorkom. Dit het die afgelope paar maande tot ʼn snelle toename in kudde-immuniteit oral ter wêreld gelei.

Prof. Marion Dorsey van die Universiteit van New Hampshire het die afgelope week ook gesê dat pandemies tot ʼn einde kom wanneer genoeg mense besluit die pandemie is verby. Dit het ná die Spaanse Griep gebeur en dit gebeur nou weer met Covid-19. Volgens haar is dit nie medici of organisasies wat besluit wanneer ʼn siekte van sy pandemiese na ʼn endemiese fase oorbeweeg nie, maar wel mense se gedrag wat daardie oorgang bepaal. Wanneer mense self ophou maskers dra en hulle nie meer aan voorstelle oor sosiale afstande en soortgelyke maatreëls steur nie, is dit die einde van die pandemie.

Tydens onlangse verkiesings in Australië, dele van die Verenigde Koninkryk, twee deelstate in Duitsland en die presidentsverkiesing in Frankryk was die pandemie byna glad nie meer deel van die politieke agenda nie. Die hantering van die pandemie is nie meer iets waaroor die meeste burgers in die meeste lande begaan is nie. Die oorlog in Oekraïne, globale ekonomiese probleme, klimaatsverandering en dreigende voedselkrisisse is vir mense oral ter wêreld tans belangriker as Covid-19.

Hoewel golwe van infeksies sal bly voorkom, mense aangemoedig sal word om teen Covid-19 in te ent en nuwe variante van die virus dopgehou sal word, is dit duidelik dat die pandemie verby is en dat dit nie gaan verander nie. Die wêreld het aanbeweeg – met goeie rede ook.

Oekraïense oorlog stuur op plofbare dooiepunt af

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Waarop stuur die oorlog in Oekraïne af? Die afgelope week het die Amerikaanse regering aangekondig dat gevorderde vuurpyllanseerders aan die weermag van Oekraïne beskikbaar gestel gaan word, terwyl die Duitse kanselier, Olaf Scholz, ook bevestig het dat Duitsland nog wapens aan Oekraïne gaan voorsien. Scholtz en die Amerikaanse president, Joe Biden, is albei steeds vas oortuig daarvan dat die Weste Oekraïne moet help om ʼn Russiese oorwinning in die oorlog te voorkom. Ook Brittanje en Swede het die afgelope paar dae wapens na Oekraïne gestuur.

Die probleem vir die Weste en die regering van Oekraïne is egter dat Rusland die afgelope tyd sy fokus en militêre strategie verskuif het en dat dit vrugte afwerp. Die Russiese weermag volg toenemend ʼn verskroeide-aarde-beleid waar dorpe en stede, eers in die suidooste en nou in die ooste van Oekraïne, volledig omsingel en vernietig word. Die stad Marioepol in die suide van Oekraïne is byna heeltemal deur die Russe vernietig, met duisende burgerlikes wat dood is en ʼn onbekende aantal soldate wat deur die Russe gevange geneem is. Die afgelope week was daar berigte van al hoe meer massagrafte wat in Marioepol gevind word, en die vrees bestaan dat die dodetal in dié stad tot 50 000 kan styg soos wat al hoe meer lyke gevind word.

Rusland se aanslag op die Donbas-streek, bestaande uit die twee provinsies Loehansk en Donetsk, het veral die afgelope twee weke dieselfde benadering begin volg met volledige dorpe en stede wat vernietig word en die Russe wat duidelik nie meer omgee hoeveel burgerlikes sterf nie. Die stad Sjewjerodonetsk was die afgelope week die grootste teiken van die Russe. Teen Donderdag is 90% van die stad se geboue reeds deur Russiese lugaanvalle in puin gelê, met duisende mense wat dood is.

Wolodimir Zelenski, president van Oekraïne. (Foto: Oekraïnse presidensie via AFP)

Toe die Russe aan die einde van Februarie Oekraïne binnegeval het, was die beplanning duidelik om die regering in Kiëf te ontsetel en daardeur seker te maak dat Oekraïne nie mettertyd by Navo of selfs die Europese Unie aansluit nie. Wladimir Poetin is reeds jare lank sterk gekant teen Oekraïne se verskuiwing na die Weste, en veral sedert ʼn pro-Westerse regering in 2014 aan bewind gekom het, dreig Poetin dat dit ʼn fout sou wees vir Oekraïne om sy rug op Rusland te draai. Die afgelope paar jaar het dit vir Poetin in ʼn obsessie ontaard om lande wat aan Rusland grens te verhoed om pro-Westerse posisies in te neem. Sy aggressiewe aanval in 2008 op Georgië is maar een voorbeeld daarvan.

Nadat die Russe gou besef het dat dit nie maklik gaan wees om Kiëf te beset en beheer oor die hele Oekraïne te neem nie, het die fokus verskuif na ʼn strategie om ʼn deel van die land te beset wat Rusland ʼn voetspoor in Oekraïne sal gee, maar wat Oekraïne ook ekonomies en militêr ernstig sal benadeel. Juis daarom het die Russe eers ʼn groot deel van die suidooste van Oekraïne verower en daardeur beheer oor die grootste deel van Oekraïne se kuslyn aan die Swartsee geneem. Die kans bestaan sekerlik nog dat Rusland sal probeer om die hele kusgebied en aanliggende stede te beset, wat ʼn aanslag op die belangrike hawestad Odessa sal behels.

Intussen het Rusland suksesvol daarin geslaag om beheer oor meer as 90% van Loehansk en Donetsk te verkry. Die Russe beset tans 20% van Oekraïne se grondgebied. Naas Sjewjerodonetsk het die Russe die afgelope week ook die stad Lysytsjansk beset en daarmee beheer oor die grootste oorblywende magsentrums in die Donbas-streek verkry.

Die strate van Bucha is met puin besaai (Foto: ARIS MESSINIS/AFP)

Die omvang van die skade aan infrastruktuur en lewensverlies neem toe, veral nadat die weermag van Oekraïne aanvanklik daarin geslaag het om die Russe se opmars in die Donbas te stuit. Meer as 8 000 soldate van Oekraïne word tans deur die Russe in haglike omstandighede in Loehansk en Donetsk aangehou, en vrese neem toe dat nog duisende soldate wat tans omsingel word in die laaste deeltjie van die Donbas wat steeds deur Oekraïne beheer word, ook deur die Russe gevange geneem sal word. Tussen 50 en 100 soldate van Oekraïne sterf tans daagliks in die konflik. Volgens verskillende beramings is daar reeds tussen 3 000 en 11 000 soldate van Oekraïne in die oorlog dood. Duisende soldate word vermis en daarom is dit moeilik om te bepaal hoeveel dood is. Meer as 200 000 kinders en ʼn onbekende aantal volwasse Oekraïners is ook reeds onder dwang vanuit besette gebiede na Rusland geneem en daar in afgeleë dorpe afgelaai om te oorleef.

Daar is onsekerheid oor die getal Russiese soldate wat reeds dood is, maar dit word op tussen 15 000 en 30 000 geskat. Dit sluit in Russiese separatiste uit die suide en ooste van Oekraïne wat aan die kant van die Russe veg.

Die Russe se sukses die afgelope weke om beheer oor ʼn groot deel van die suidooste en die ooste van Oekraïne te verkry, hou verband met die konsentrasie van duisende Russiese soldate in ʼn baie kleiner gebied. Rusland het tans baie meer soldate en baie meer wapens waarmee die een dorp ná die ander omsingel en ingeneem word. Die Russe skroom ook nie om ʼn hele dorp te vernietig ten einde beheer daaroor te kry nie.

Die vraag is vir hoe lank Westerse lande kan aanhou om wapens en ammunisie aan Oekraïne te verskaf. Daarmee saam bestaan daar twyfel oor die kwessie of Oekraïne genoeg soldate beskikbaar gaan hê om nog vir lank met die stryd aan te hou, en of die moreel van sy soldate nie ʼn keerpunt in die oorlog kan veroorsaak nie.

Terwyl Rusland heelwat groter verlies aan wapentuig en manskappe gely het, blyk dit dat die Russe nie daaroor begaan is nie en dat Rusland se inkomste uit olie, weens stygende oliepryse, dit vir die land moontlik maak om die oorlog aan te hou finansier. Sou ʼn tekort aan Russiese manskappe ontstaan, sal Rusland waarskynlik oorweeg om alle Russiese mans bo ʼn sekere ouderdom te verplig om tot die stryd toe te tree.

Die Russiese president Wladimir Poetin (Foto: Mikhail Klimentyev / SPUTNIK / AFP)

Waarin Rusland tans slaag, is om Oekraïne ekonomies te destabiliseer. Deur beheer oor die Donbas te verkry waar die meeste nywerhede in Oekraïne geleë is, slaag die Russe daarin om ʼn belangrike ekonomiese lewensaar van Oekraïne te beheer. Die oorname van Marioepol en groot dele van die Swartsee se kusgebied maak uitvoere vir Oekraïne ook heelwat moeiliker. Die land se ekonomie sal dus moeilik kan herstel indien hy permanent beheer oor die Donbas-streek en die streek om die Swartsee sou verloor.

Verder is dit Poetin se doel om te verhoed dat Oekraïne ʼn stabiele demokrasie moet wees wat dit vir die land moontlik sal maak om by Navo en die Europese Unie aan te sluit. Hoe meer hy Oekraïne destabiliseer, hoe beter slaag hy in sy doel. Deur die huidige gebiede in die suide en ooste te beheer, kan Poetin aanhou om die res van Oekraïne te saboteer.

Dit raak dus duideliker dat die oorlog nie binnekort tot ʼn einde gaan kom nie. Die kanse is goed dat Westerse leiers nog vir maande kan aanhou om wapens aan Oekraïne te verskaf in ʼn poging om die Russiese magte ten minste terug te stoot.

Vir Poetin gaan dit nie oor beheer van die Donbas en sy nywerhede nie, en nog minder oor die regte van Russe wat daar woon. Dit gaan vir hom oor beheer van ʼn streek van waar hy voortdurend die res van Oekraïne kan destabiliseer. Rusland se beheer van die suide van Oekraïne gaan weer daaroor om Oekraïne te verhoed om ekonomies te herstel.

Sou die Russe tevrede wees met beheer oor die hele Donbas en die dele van die suide van Oekraïne wat tans onder hulle beheer is, beteken dit glad nie ʼn einde aan die oorlog nie. Terwyl Oekraïne waarskynlik nie vinnig sal opgee om verlore grondgebied terug te wen nie, kan ʼn jare lange lae-intensiteit-oorlog, soos wat reeds tussen 2014 en Februarie vanjaar in die oostelike dele van die Donbas geheers het, voortduur. Dit sal egter meebring dat die heropbou van Oekraïne, die terugkeer van vlugtelinge en die ekonomiese herstel van die land vir jare vertraag kan word. So ʼn scenario sal presies in Poetin se hand speel en sal Rusland eintlik juis help om sy doelwit te bereik, naamlik om Oekraïne te verhoed om by Navo aan te sluit.

ʼn Uitgerekte oorlog, wat tans die mees logiese scenario is, beteken ook ʼn meer plofbare situasie in die hele Oos-Europa tussen die Weste en Rusland. Die ekonomiese oorlog tussen die Weste en Rusland sal aanhou verdiep en ons almal raak, maar ook die militêre stryd kan gevaarlik bly en groot risiko’s vir vrede in die hele Europa inhou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lourens CFG ·

Dit is al lankal verby, is net die regerings en wgo wat dit “lewendig” hou vir hul agendas.

Anel ·

Die hele wêreld weet die sogenaamde pandemie is verby. Dis nog net hier waar hulle nie die memo gelees het nie, of dalk nie verstaan nie. Seker nog ongelukkig omdat hulle hoogs verwagte 5de vlaag toe geen vlaag was nie. En nou word ons nog aan ‘n lyntjie gehou tot Augustus en dan sal daar, deur ander, oor ons gesondheid besluit word! Laat ons normaal aangaan met ons lewens en gooi tog die vieslike maskers weg. ASSEBLIEF!! Los die wat dit wil dra.
Verder, probeer vergeet van die oorlog! Ek het nooit geweet dat Okraine die wêreld so onderhou nie. Dat dit so ‘n ryk land is nie! Nie as mens kyk hoe armoedig hulle lewe nie. Dalk sien ons nie alles soos dit is nie!!!

Treurwilger ·

Dit is die “ positiewe toetse” van mense met géén griepsimptome wat die wêreldwye histerie aangeblaas en lewend gehou het vir bykans drie jaar.
Herstelsyfers op die agtergrond geskuif.
Wat ‘n klad op die hele mensdom, maar verál medici wat opgesweep is in die tragiekomedie van maskers en handewas.

Nettie ·

Ja-nee. Die regering maak homself nou net belaglik deur vas te klou aan maskers en sanitasie en ander regulasies. Veral onder skole is dit net ‘n skreiende skande.

Wielspore ·

Ek stem saam die pandemie is verby en staaf my mening op grond van ervaring. Ek is 57 jaar oud, mans persoon met tipe 2 diabetes. Op 02 Mei sien ek ‘n Dr omdat ek Covid simptome het, die Covid toets wys negatief, bly twee dae by die huis, gebruik pyn pille vir hoofpyn, hoesmedikasie en verkoue bruis tablette. Die medikasie verlig die ongemak en die lewe gaan aan. Is terug werk toe en sien weer ‘n Dr op 12 Mei omdat die simptome nie wil verbeter, Covid toets is weer negatief, drie dae later is ek 100%, net bietjie moeg. Op 18 Mei bel die mediese instansie my, jammer jy was Covid positief op 02 Mei, die verkeerde resultate is vir my gegee. Behalwe vir ‘n ergere hoofpyn en moegheid was die Covid niks anders as ‘n jaarlikse griep. Ja, ek is ingeent met pfizer, 2 spuite, gaan binnekort vir die booster. Thumbs up, Covid is nie ‘n doodsvonnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.