Internasionale oorsig: Globale ekonomiese onweerswolke pak saam

David Malpass (Foto: Daniel LEAL/AFP)

Die president van die Wêreldbank, David Malpass, het Woensdag in ʼn toespraak aan die Amerikaanse kamer van koophandel gesê dat ʼn wêreldwye resessie nou onvermydelik lyk en dat dit veral stygende kommoditeitspryse weens die oorlog in Oekraïne is wat hiertoe bydra. Tydens die Wêreld- Ekonomiese Forum se byeenkoms die afgelope week in Davos, Switserland, het verskeie ekonome ook hulle vrees oor ʼn globale ekonomiese afswaai geopper.

Die bekende historikus en skrywer Niall Ferguson het die afgelope week in ʼn artikel vir Bloomberg ʼn vergelyking tussen huidige ekonomiese omstandighede in die wêreld en die omstandighede in die 1970’s getref. Volgens Ferguson is daar genoeg rede om te glo dat die Amerikaanse ekonomie, die wêreld se grootste, teen vroeg volgende jaar in ʼn resessie kan beland. Indien historiese ekonomiese patrone enigsins gevolg kan word, sal die huidige hoë inflasie deur ʼn resessie gevolg word en is stagflasie selfs moontlik.

Die Chinese premier Li Keqiang het Woensdag tydens ʼn noodvergadering in Beijing gesê dat die ekonomiese situasie in China dramaties versleg het weens die onlangse toename in Covid-19-gevalle. China se ekonomie is die tweede grootste ter wêreld. Volgens Li sal China nie meer sy groeiverwagting van 5,5% vir 2022 kan bereik nie en is daar ʼn goeie kans dat China in die huidige (tweede) kwartaal van 2022 negatiewe groei kan toon.

Daar was die afgelope twee maande ʼn skerp toename in werkloosheid in China, en die eiendomsmark, een van die groot drywers van ekonomiese groei die afgelope twee dekades, verkeer ook onder druk. Sou beide die wêreld se twee grootste ekonomieë in ʼn resessie beland, voorspel dit niks goed vir die res van die wêreld wat afhanklik is van uitvoere na die wêreld se grootste ekonomieë nie.

Volgens Ferguson is dit juis ontwikkelende lande wat die swaarste deur ʼn globale ekonomiese afswaai geraak gaan word. Die huidige globale ekonomiese uitdagings word vererger deur die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie en veral die ontwrigting wat inperkingsmaatreëls veroorsaak het. Die oorlog in Oekraïne en die gevolglike versteuring van internasionale handel, die gevolge van Westerse sanksies teen Rusland – veral op olie-, gas- en ander kommoditeitspryse – en daarmee saam die Chinese regering se drakoniese pogings, teen enige ekonomiese koste, om Covid-19 steeds heeltemal uit hulle land te hou, skep die perfekte storm vir ʼn algemene globale ekonomiese krisis.

Sowat 60% van arm lande in die wêreld sukkel tans om hulle buitelandse skuld terug te betaal. Die kans dat meer en meer lande die vermoë kan verloor om skuld terug te betaal, lyk waarskynlik. Dit dra verder by tot ʼn verswakking in die geldeenhede van arm lande en het nog meer inflasie tot gevolg.

Saam met globale ekonomiese probleme is daar ook ʼn groeiende toename in vrees vir politieke en maatskaplike onrus. Vrese vir voedseltekorte in verskeie wêreldstreke neem toe. Baie ontwikkelende en arm lande ervaar reeds ʼn tekort aan buitelandse valuta en die vermoë om noodsaaklike middele soos voedsel, brandstof en medisyne in te voer.

Die huidige politieke krisis in Sri Lanka kan ʼn voorloper wees vir wat in talle ander wêrelddele voorlê. Hoe langer die oorlog in Oekraïne voortduur, hoe groter raak die kans dat inflasie in Europa ook die meeste Europese lande in ʼn resessie kan dompel. Verder kan ʼn uitgerekte oorlog tot verdere voedseltekorte en hardnekkige hoë brandstofpryse lei.

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Die Duitse kanselier, Olaf Scholz, het Donderdag in Davos sy land direk verbind aan die noodsaak vir Oekraïne om die oorlog te wen. Ook die VSA is bereid om ʼn groter finansiële prys te betaal om te verhoed dat Rusland as oorwinnaar uit sy aanslag op Oekraïne wegstap. Vir die Weste is die oorlog ʼn morele en ideologiese stryd wat gewen moet word. Daarmee saam sal ʼn Russiese oorwinning, ná al die wapens wat aan Oekraïne verskaf is en al die sanksies wat teen Rusland ingestel is, vir die Weste ʼn groot vernedering wees. ʼn Lang en uitgerekte oorlog is dus tans die mees logiese vooruitsig. Daarmee saam kom hoër kommoditeitspryse wat Rusland help om die koste van die oorlog gedeeltelik te finansier terwyl dit regoor die wêreld inflasie bly aandryf.

In Afrika was daar die afgelope 12 maande reeds staatsgrepe in vier lande. Maatskaplike krisisse kan tot groter politieke krisisse in nog Afrikalande lei. Ook in die Midde-Ooste, Asië en Suid-Amerika dreig konflik in talle lande soos wat inflasie miljoene mense tot op die randjie van hongersnood dryf. Pakistan ervaar ʼn ekonomiese en politieke krisis.

In Suid-Amerika ervaar verskeie lande reeds inflasie van meer as 10%. In Peru het geweld die afgelope paar weke tot die afkondiging van ʼn noodtoestand gelei. In Mexiko het die regering begin om maatskappye te verplig om voedselproduksie te verhoog terwyl betogings in lande soos Brasilië, Argentinië en Chili toeneem.

Waar gaan dit alles eindig? Ferguson verwag dat dit eers slegter sal gaan voordat dinge beter sal raak. Daar lê dus ʼn moeilike jaar of drie voor. Stabiliteit in kommoditeitspryse, internasionale handel en voorsieningskettings, normalisering van voedselproduksie en -verskaffing, en die hantering van armer lande se skuldprobleme is alles nodig om die huidige globale uitdagings die hoof te bied. Dit gaan nie binne ʼn dag of twee gedoen word nie.

Texas-skietery bevestig krisis van jong mans in VSA

(Foto: Jordan Vonderhaar/Getty Images/AFP)

Slegs tien dae nadat ʼn 18-jarige man in die Amerikaanse deelstaat New York tien mense by ʼn supermark doodgeskiet het, het nog ʼn 18-jarige man in Texas met twee semi-outomatiese vuurwapens wat hy net meer as ʼn week gelede aangekoop het, by ʼn laerskool ingestap en 19 jong seuns en dogters doodgeskiet.

Die skietvoorval Dinsdag in Uvalde, ʼn dorp met 16 000 inwoners net meer as 100 km van die grens met Mexiko, was die 27ste skietvoorval by ʼn skool in die VSA tot dusver vanjaar. Verlede jaar was daar 26 skietvoorvalle by skole in die VSA. Dit is duidelik dat skietvoorvalle by skole toeneem.

Terwyl die dood van 19 jong kinders ʼn vreeslike tragedie is, is dit belangrik om te besef dat skietvoorvalle in die VSA ook buite skole toeneem. Terwyl sommige aanvallers supermarkte en ander openbare ruimtes teiken, vind daar daagliks dodelike skietvoorvalle in veral groot Amerikaanse stede plaas. Data van die afgelope paar jaar toon ʼn voortdurende styging in skietvoorvalle in die VSA. Dit is dus nie net die skietvoorvalle by skole, waarvan ons veral dikwels in die media hoor, wat styg nie. In die meeste gevalle is dit jong mans wat die aanvallers is.

Daar is spesifieke persepsies oor al die skietvoorvalle, wat egter ook verkeerd is. Hoewel die aanvaller in Buffalo, New York, twee weke gelede deur ʼn wit jong man met rassistiese motiewe gepleeg is, het die meeste skietvoorvalle in die VSA niks met rassisme te make nie. Jong mans met gewere wat ander mense wil doodskiet is ook dikwels nie wit nie.

Uvalde is ʼn dorp met ʼn bevolking wat byna 80% van Latyns-Amerikaanse afkoms is. Die aanvaller, Salvador Ramos, was ook ʼn Latyns-Amerikaner. Etnisiteit en rasse-vooroordele het niks met die aanval te make gehad nie.

Daar is egter wel ʼn goue draad wat deur die profiel van ʼn oorgrote meerderheid van die aanvallers loop, of dit nou by skole, supermarkte, feeste of bloot op die strate van Chicago of in die moltreinstelsel van New York gepleeg word, en dit is dat die jong, manlike aanvallers duidelike sosiale afwykings toon. Tekens van sosiale vervreemding, depressie, uitsigloosheid, ʼn ontwrigte gesinslewe, die afwesigheid van ʼn sosiale kring en blootstelling aan gewelddadige videospeletjies is by die meeste aanvallers teenwoordig.

Ramos is as kind weens ʼn spraakgebrek geboelie. Hy het sonder ʼn pa grootgeword. Hy kon nie daarin slaag om goeie vriende te maak of om ʼn meisie te kry nie. Die laaste jaar of twee van sy lewe (hy is tydens Dinsdag se skietery deur ʼn polisieman doodgeskiet) was dié van ʼn uitgeworpe alleenloper wat homself probeer bewys het. Een manier waarop hy dit probeer doen het, was deur twee semi-outomatiese wapens op sy 18de verjaardag te koop en daarmee op sosiale media te spog. Daarna het hy seine begin stuur dat hy iets met die wapens beplan. Sy laaste groot daad in sy soeke na erkenning was om by ʼn skool in te stap en 19 onskuldige jong kinders en twee onderwysers in die oë te kyk en hulle eenvoudig dood te skiet. Ramos se profiel vergelyk baie goed met die meeste aanvallers in skietvoorvalle regoor die VSA die afgelope paar jaar.

The Wall Street Journal verwys na hierdie tendens as ʼn gevolg van kulturele erosie. Veral jong mans in die VSA het ʼn diepliggende sosiale en geestelike armoede. Al meer jong mans voel vervreemd van ʼn stelsel waar jy een kant toe geskuif word indien jy nie aan sekere maatstawwe voldoen nie. Die groeiende verval van gesinne en die krimpende rol van kerke en ander organisasies waarin jong mense tot hulle reg kan kom, speel volgens dié koerant ook ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van ʼn groterwordende groep jong mense wat deur geweld selfverwesenliking wil bereik, al kos dit hulle hul lewens.

Pres. Joe Biden praat oor die massaskietery tydens ‘n geleentheid by die Withuis. (Foto: Stefani Reynolds / AFP)

Die afgelope paar dae is die debat in die VSA, soos ná elke soortgelyke skietvoorval, egter oorheers deur linkse drukgroepe se aandrang op strenger wapenbeheer. Hoewel wapenbeheermaatreëls kan help, is dit nie die enigste oplossing nie. Goeie agtergrondondersoeke wanneer iemand ʼn wapen wil aankoop is nodig, en Demokrate en Republikeine onderhandel reeds daarvoor. Ramos het egter geen kriminele rekord gehad nie, het geen sielkundige behandeling ontvang nie en sou moeilik deur die konvensionele stelsel as ʼn risiko opgetel kon word.

In Florida het Republikeine ʼn paar jaar gelede die ouderdom waarop iemand ʼn wapen mag aankoop van 18 tot 21 verhoog. Dit mag in ander deelstate sinvol wees, maar sal uiters beperkte voordele inhou.

Ander beperkings, veral op semi-outomatiese gewere en hoëkapasiteitmagasyne, behoort ook deur politici versigtig oorweeg te word. Dit is egter dwaas, en dikwels polities opportunisties, om te dink dat streng wapenbeheer skietvoorvalle soos dié in Uvalde en Buffalo sal voorkom.

Daar is sowat 400 miljoen vuurwapens in private besit in die VSA. Meer as 99,9% hiervan word op verantwoordelike wyse gebruik. In talle ander lande soos Switserland, Finland en Kanada is daar ook baie hoë vlakke van wapenbesit sonder die soort geweldpleging wat in die VSA plaasvind.

Die geweldpleging in die VSA is ʼn sosio-maatskaplike probleem. Meer en meer jong mans se totale vervreemding van ʼn samelewing wat hoë eise stel maak van hulle potensiële geweldenaars. In arm Midde-Oosterse en Noord-Afrika-lande het Islamitiese terreurgroepe al herhaaldelik bewys watter lieflike teelaarde uitsigloosheid vir die werwing van jong mans vir geweldpleging is.

Debatte oor wapenbeheer skep geldinsamelings- en publisiteitsgeleenthede vir politici. Die ware debat oor waarom jong mans gemotiveer word om jong kinders af te maai word egter nie gevoer nie. Solank dit nie gebeur nie en solank die sosiale krag wat mense binne gemeenskappe tot selfverwesenliking toegang gee nie weer aangeskakel word nie, sal die skietvoorvalle voortduur.

Die breuk tussen stedelike en landelike kiesers is ʼn breuk tussen globalisme en lokalisme en ʼn breuk tussen individualisme en ʼn fokus op die krag van ʼn interafhanklike gemeenskap. Dit is egter ook ʼn breuk tussen die sentralisering van mag en ekonomiese aktiwiteit en die afwenteling van mag en ekonomiese ontwikkeling na die platteland.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.