Internasionale oorsig: Skietstilstand maar geen vrede

Vuurpyle word van Gasa-stad na Israel afgevuur.
(Foto: Mahmud Hams/AFP)

Net minder as twee weke sedert die Islamitiese terreurgroep Hamas sy eerste vuurpyle op Israel afgevuur het, is ʼn skietstilstandooreenkoms laat Donderdag tussen dié groep en Israel bereik.

Meer as 4 000 vuurpyle is die afgelope twee weke uit die Gasa-strook na Israel afgevuur terwyl Israel se weermag ʼn groot aantal geboue en ander teikens in die Gasa-strook gebombardeer het. Byna 250 mense is in die afgelope elf dae se geweld dood. Dit was die ergste geweld in sewe jaar tussen Israel en die Palestyne en hoewel ʼn skietstilstandooreenkoms bereik is, is Israel en die Palestyne waarskynlik verder van mekaar verwyder as wat hulle in dekades was, en is langtermynvrede tans ʼn byna onmoontlike doelwit.

Die skietstilstandooreenkoms wat vroeg Vrydagoggend in werking getree het, is deur Egipte onderhandel met Katar en die Verenigde Nasies wat ook tot die bemiddeling bygedra het. President Joe Biden van die VSA het die skietstilstandooreenkoms verwelkom en gesê sy regering sal met ander lande saamwerk om die Gasa-strook weer op te bou, op voorwaarde dat Hamas, wat deur die Amerikaners as ʼn terreurgroep geklassifiseer word, daarvan weerhou word om weer vuurpyle te bekom. Daar word allerweë aanvaar dat Iran die Palestyne bystaan in die verkryging en bou van vuurpyle.

Terwyl nie Israel of Hamas as wenners uit die stryd tree nie, het Israel belangrike suksesse bereik soos die vernietiging van tonnels wat deur Hamas gebruik is om vuurpyle en ander militêre toerusting te smokkel. Israel se lugaanvalle het ook talle leiers van Hamas gedood en belangrike infrastruktuur van dié groep vernietig. Daarteenoor het Hamas bewys dat hy ʼn skrikbewind kan voer deur vuurpyle op verskeie dorpe en stede regoor Israel af te vuur.

Palestyne dra ‘n man weg nadat hy onder die puin van ‘n gebou in Gasa gered is. Die gebou is tydens ‘n Israelse lugaanval platgevee (16 Mei 2021) (Foto: Mohammed Abed/AFP)

Vir Hamas, en die Palestyne in die algemeen, lê die grootste oorwinning egter in die propagandastryd met steun wat wêreldwyd gemobiliseer is deurdat Israel as die aggressor uitgebeeld word. In die VSA was daar die afgelope dae veral ʼn swaai in steun na die Palestyne onder lede van die Demokratiese Party in die Amerikaanse Kongres. Hoewel ʼn groot meerderheid van Amerikaanse kongreslede steeds bondgenote van Israel is, het daar sonder twyfel groter steun vir die Palestyne na vore getree.

Hamas sê dat dit steeds sy doelwit is om die staat van Israel uit te wis en ʼn Moslem-regering vir die hele gebied daar te stel. Solank Hamas dus daarin slaag om die steun van ʼn meerderheid van die inwoners van die Gasa-strook te geniet, is ʼn vredesooreenkoms tussen Israel en die Palestyne onmoontlik.

Die idee van twee aparte state wat deur die Oslo Akkoorde en verskeie rondes van Amerikaans-geleide onderhandelinge daargestel is, geniet al hoe minder steun onder Palestyne en Israeli’s. Niemand weet egter wat die alternatief is nie. Die Palestyne slaag tans nie eens daarin om ʼn verkiesing te hou sodat nuwe leiers verkies kan word nie.

Terwyl die skietstilstandooreenkoms ʼn einde aan die vuurpylaanvalle en lugaanvalle gebring het, is daar steeds geen hoop vir vrede tussen Israel en die Palestyne nie. Die probleem met Israel se besetting van dele van die Wesoewer en Palestyne se eiendomsreg in Oos-Jerusalem en die Wesoewer is steeds onopgelos. Die Gasa-strook word deur Israel en Egipte afgesluit, juis weens veiligheidsbedreigings uit die gebied.

Om vrede tussen Israel en die Palestyne te kan bereik, sal Hamas sy terreurstrategie moet beëindig, of die Palestyne in Gasa sal ʼn ander regering moet verkies. Israel sal die ontwikkeling van meer Joodse nedersettings in die Wesoewer moet staak en die eiendomsreg van Palestyne in Oos-Jerusalem moet respekteer. Daarmee saam sal die leierskap van die Palestyne en Israel met groter erns ʼn mandaat om vrede te sluit van hulle mense moet kry. Slegs wanneer beide partye ernstig aan vredesonderhandelinge wil en kan deelneem, kan die internasionale gemeenskap ʼn bemiddelingsrol speel. Intussen is die vraag eerder: Hoe lank voordat ʼn insident, waarskynlik in Oos-Jerusalem, weer die geweld laat opvlam, Hamas weer met aanvalle uit Gasa begin en Israel met lugaanvalle daarop reageer? Een jaar, vyf jaar of tien jaar?

Wanneer jou vriendelike buurman jou vyand se vriend is

Inwoners van Gasa-stad het Vrydag vroegoggend die strate ingevaar nadat ‘n skietstilstand in werking getree het. (Foto: Mohammed Abed/AFP)

Een van die meer ontstellende aspekte van die afgelope twee weke se geweld in Israel was die konflik wat in verskeie dorpe en stede in Israel uitgebreek het toe Jode en Arabiere wat reeds vir dekades saam in Israel woonagtig is, mekaar die stryd aangesê het. In die werkersklasdorp Lod het die burgemeester die situasie as ʼn klein burgeroorlog beskryf en moes die polisie en weermag betrokke raak om die situasie te ontlont.

Jong Arabiese mans het Joodse huise met vuurbomme bestook en vyf sinagoges is aan die brand gesteek. Jode het in reaksie daarop weer verskeie Arabiere aangeval. In baie gevalle was dit mense wat mekaar ken en wat reeds jare lank saam in dieselfde dorpe woon, wat mekaar aangeval het.

Sowat 21% van Israel se bevolking is Arabiere, hoofsaaklik Moslems, maar ook Christen-Arabiere. Die meeste van hierdie Arabiese burgers van Israel het ʼn sterk solidariteit met die Palestyne in die ooste van Jerusalem, die Wesoewer en die Gasa-strook.

Die geweld in Lod het uiteindelik tot Haifa en verskeie ander dorpe met gemengde bevolkings soos Nasaret, Bat Yam en natuurlik Jerusalem uitgebrei en is as die ergste geweld tussen Jode en Arabiere in Israel in baie jare beskryf. Bendes jong Arabiere het Joodse winkels aangeval terwyl Joodse bendes Arabiere se winkels aangeval het. Uiteindelik het die geweld ook fisies geraak en is baie mense beseer. Een duisend grenspolisielede moes die situasie onder beheer bring.

In reaksie op die geweld is daar die afgelope paar dae pogings deur verskeie groepe aangepak om die sensitiewe bindingsfaktore wat die afgelope dekades daartoe bygedra het dat Jode en Arabiere reg oor Israel grootliks in vrede kon saamwoon, te herstel. ʼn Meerderheid burgers van Israel wil sien dat Jode, Christene en Moslems in vrede saamwoon, maar weens die aanvalle uit Gasa het die vrese van baie Jode die afgelope tyd tot wantroue bygedra. Vir baie Jode is die probleem dat hulle Arabiese bure vriende van hulle grootste vyande – die Palestyne in die Gasa-strook – is.

Arabiese Israeli’s assosieer sterk met die Palestyne in die Wesoewer en die Gasa-strook. Daarteenoor sien die meeste Jode in Israel die Palestyne in veral die Gasa-strook as terroriste wat vuurpylaanvalle op Israel loods. Terwyl ʼn nuwe regering nog in Israel saamgestel moet word, lê daar ʼn moeilike tyd voor vir mense wat woonbuurte, werkplekke en ander ruimtes daagliks met mekaar deel, om in vrede saam te leef.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Spook

Die klomp Palestyne moet kwalifiseer vir n Oscar. Die ou op die draagbaar is vol stof, maar hy was definitief nie onder die puin nie. As hy was, was hy nie meer met ons nie.
Hamas is soos die boelie wat eerste slaan, en dan gaan kla as hy terug geslaan word.
Israel het nou die “baseplates” vasgeskiet, nou moet hulle “firebase” gooi.

Therese

Die feit dat Biden onmiddellik met bewindsoorname finansiële skenkings aan die Palestyne/Hamas hervat het, nadat dit wyslik en met gepaardgaande vier jaar van vrede deur sy voorganger stopgesit is, is tog ook werd om genoem te word.
Die militêre aanvalle uit Gasa is onmoontlik sonder groot ‘skenkings’ van Amerikaanse belastingbetalers aan die Palestyne en óók Iran.
(inligting verkry vanaf Sky News Aus)

Human

Sky News Australia behoort aan die regse groep, Rupert Murdoch`s News Corp Australia. Net soos Trump versprei hul die leuen sonder ophou met die wete, dat die liggelowiges(gullibles) en armes van gees, die snert glo en dan propageer as die alfa en omega van die reine waarheid.