Internasionale oorsig: Soedan-staatsgreep terugslag vir stabiliteit in hele streek

‘n Groep vroue betoog teen die staatsgreep in Soedan. Minstens drie mense is reeds in die geweld dood. (Foto AFP)

Die militêre staatsgreep wat Maandagoggend in Soedan uitgevoer is, was die derde militêre staatsgreep binne drie maande in ʼn Afrikaland. Die gevolge van die staatsgreep is egter heelwat meer betekenisvol as dié van die vorige twee en het reg oor die wêreld reaksie ontlok. Die rede hiervoor is dat Soedan sedert die verwydering van die militêre diktator Omar al-Basjir in 2019 met die hulp van veral lande soos die VSA groot vordering na ʼn demokratiese bestel gemaak het.

Volgens die gerespekteerde Amerikaanse organisasie Freedom House was Soedan verlede jaar een van ses lande in Afrika wat vordering ten opsigte van basiese demokratiese beginsels gemaak het. Dit terwyl talle lande in Afrika verlede jaar groot terugslae ten opsigte van demokratiese vryheid ervaar het.

ʼn Stabiele, demokratiese Soedan kan ʼn groot invloed op Noordoos-Afrika as ʼn streek hê. Die vordering wat die afgelope twee jaar gemaak is, is egter deur Maandagoggend se staatsgreep uitgewis.

In Augustus vanjaar is ʼn militêre staatsgreep in Mali uitgevoer en in September in Guinee. Daar is reeds ʼn militêre diktatorskap in Tsjad. Dit beteken dat ʼn groot deel van die Sahel-streek nou deur militêre diktators regeer word. Dit is ook die enkele streek in Afrika wat die grootste uitdaging ten opsigte van Islamitiese terreur ervaar.

Daar is ook toenemende agteruitgang in die Horing van Afrika met Ethiopië se federale regering wat reeds vir byna 12 maande in ʼn oorlog met rebelle in dié land se Tigray-streek in die noorde gewikkel is. Dit het reeds tot ʼn groot vlugtelingkrisis aanleiding gegee en ook Ethiopië boer tans agteruit as demokrasie in Oos-Afrika.

Hoewel die Afrika-Unie (AU) Soedan Woensdag uit dié organisasie geskors het, is daar min hoop dat die land binnekort na ʼn burgerlike regering gaan terugkeer. Sedert Suid-Soedan ʼn dekade gelede van Soedan weggebreek het, is Soedan nou grootliks ʼn Moslem-, Arabiese land en vereenselwig die land sterk met die Arabiese wêreld. Soedan is ook steeds deel van die Arabiese Liga en die Organisasie vir Islamitiese Samewerking. Net soos wat Mali en Guinee nie deur skorsing uit die AU afgeskrik is nie, gaan Soedan se weermag waarskynlik ook nie daardeur afgeskrik word nie.

Soedan het vir 30 jaar vanaf 1989 tot 2019 onder die bewind van die diktator Omar al-Basjir gestaan. Sedert 2019 is die land deur ʼn soewereiniteitsraad, wat uit die weermag en burgerlike groepe saamgestel is, regeer. Die hoof van die weermag was die voorsitter van dié raad, maar die land het ʼn burgerlike premier gehad. Abdalla Hamdok was die afgelope twee jaar ʼn uiters bekwame premier en het Soedan stelselmatig van ʼn geïsoleerde, Islamitiese staat na ʼn sekulêre staat wat met die res van die wêreld saamwerk, omvorm.

Die weermag was veronderstel om binnekort die voorsitterskap van die soewereiniteitsraad aan ʼn burgerlike leier te oorhandig. Met die staatsgreep het die weermag egter duidelik bewys dat hy nie meer daartoe bereid is nie.

‘n Betoger met ‘n plakkaat met Abdalla Hamdok se gesig op (Foto: AFP)

Onder die leiding van Hamdok het Soedan se regering die afgelope twee jaar met veral Westerse lande, maar ook met lande in die Arabiese wêreld saamgewerk om die land se ekonomie en instellings op te bou. Veral die VSA het honderde miljoene dollar aan Soedan geskenk in die hoop dat Soedan as ʼn betroubare, demokratiese bondgenoot vir die Weste in die Horing van Afrika gevestig kon word.

Die Biden-administrasie het Maandag finansiële hulp van $700 miljoen aan Soedan opgeskort. Die Amerikaanse spesiale gesant vir Soedan, Jeffrey Feltman, het verlede week nog onderhandelinge tussen die weermag en burgerlike groepe in Soedan gelei in ʼn poging om die geskille by te lê. Die VSA het egter nie ʼn militêre staatsgreep verwag nie en is lelik onkant betrap toe die staatsgreep Maandag kort voor sonsopkoms uitgevoer is.

Uit die 54 lande in Afrika is daar volgens Freedom House net sewe volwaardige demokrasieë, naamlik Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Mauritius, Ghana en die twee piepklein eilandnasies, Kaap Verde asook São Tomé en Príncipe. Benin en Senegal het verlede jaar hul status as vrye lande verloor.

Die staatsgreep in Soedan is ʼn groot terugslag vir die meer as 40 miljoen burgers van dié land wat nog vars herinneringe aan die diktatorskap van Al-Basjir het. ʼn Meer geïsoleerde Soedan beteken ook ʼn armer land met ʼn groter kans vir interne konflik. Dit is dan ook die rede waarom honderde duisende mense die afgelope paar dae teen die staatsgreep betoog het. Talle betogers is deur die veiligheidsmagte doodgeskiet.

Die staatsgreep was ook ʼn groot terugslag vir die Sahel-streek, die Horing van Afrika, die Afrika-Unie en die hele wêreld wat graag wil sien dat stabiele demokrasieë in Afrika gevestig moet word.

Brexit-stryd verskuif na Britse, Franse viswaters

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Franse owerhede het die afgelope week beslag gelê op ʼn Britse vissersboot nadat dié boot na bewering in Franse viswaters visgevang het. Hoewel die boot intussen aan die Britse owerhede oorhandig is, het die Franse minister vir Europese aangeleenthede, Clement Beaune, Donderdag egter gesê dat Frankryk ʼn geentoleransiebenadering teenoor Brittanje gaan volg omdat die enigste taal wat die Britte volgens hom verstaan die taal van slaankrag is.

Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die Britte net sowat die helfte van die visserspermitte aan Franse vissersbote wat in Britse waters wil visvang, toegeken het. Volgens die Brexit-ooreenkoms mag die Franse steeds in Britse waters visvang mits hulle vooraf ʼn permit daarvoor van die Britte gekry het.

Die visserybedryf maak slegs 0,02% van die Britse ekonomie en minder as 2% van die Franse ekonomie uit. Die Franse is egter bekend daarvoor dat hulle jaarliks baie vis in Britse waters vang en tydens die Brexit-onderhandelings was dit een van die laaste punte waaroor ʼn ooreenkoms bereik moes word. Uiteindelik is ooreengekom dat EU-lidlande se vissermanne steeds in Britse waters sal kan visvang, maar dat die kwota vis wat hulle mag vang jaarliks verlaag sal word en dat Brittanje dit in 2026 heeltemal sal kan uitfaseer, terwyl die EU dan invoertariewe op seekos uit Brittanje sal kan instel.

Die groter en selfs meer dringende kwessie wat egter die spanning tussen Brittanje en Frankryk aanvuur, is die Verenigde Koninkryk (VK) se behoefte om te heronderhandel oor doeanebeheer tussen Brittanje en Noord-Ierland wat deur die Brexit-ooreenkoms voorgeskryf word ten einde ʼn harde grens tussen Ierland (ʼn lid van die EU) en Noord-Ierland (deel van die VK) te verhoed. Die Britte dring daarop aan dat hierdie doeanebeheerreëling heronderhandel moet word, maar die EU weier om daaroor te onderhandel.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk (Foto: Ludovic MARIN / AFP)

Dit is na bewering veral die Franse president, Emmanuel Macron, wat vasskop dat die EU nie weer met die Britte oor die aangeleentheid moet onderhandel nie. Sou Brittanje eensydig uit die Brexit-ooreenkoms onttrek, wat tans sy enigste ander opsie is, sal dit noodsaaklik word om ʼn harde grens tussen Ierland en Noord-Ierland in te stel om handel tussen die EU en die VK te reguleer. Dit kan weer tot hernude konflik in Noord-Ierland lei.

Ten spyte daarvan dat die visserybedryf ʼn klein, kwynende bedryf in sowel Frankryk as Brittanje is, het dit egter nou die slagveld vir die volgende Brexit-stryd geword en word die uitreiking van visvangpermitte en die beslaglegging op Britse vissersbote as meganismes gebruik om mag te vertoon. Presies waar dit gaan eindig weet niemand nie, maar dit is duidelik dat die voortslepende Brexit-geskil die verhouding tussen die VK en die EU verder laat versleg en dat Brittanje en Europese lande soos Frankryk verder van mekaar wegdryf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Volwaardig… Met die ANC wat totaal oorheers en by hook and by crook bo bly. Indien een van die ander die pyp rook. Maar bygesê is selfs die grootste ekonomieë op aarde nie eintlik regtig egtig demokraties en sonder skelmstreke in die beheer van hul lande se beursies nie… In die VSA se geval in beheer van sy meta-skuld. Die Soedan-greep is bloot in lyn met Afrika se regeringstyl… ewige oorloë en die Weste wat die vure met geld blus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.