Internasionale oorsig: Somber vooruitsig vir globale ekonomiese groei

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sê Suid-Afrika moet dringend hindernisse wat in die pad van private belegging staan, verwyder. (Foto: Oliver Douliery/AFP)

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het die afgelope week sy kwartaallikse vooruitsig vir globale ekonomiese groei bekend gemaak. Volgens die IMF wankel die wêreldekonomie toenemend onder die druk van die oorlog in Oekraïne, China se uitdagings met Covid-19 en inflasie in verskeie lande, veral in die VSA en Europa, wat alles ʼn negatiewe uitwerking op internasionale handel en ekonomiese groei het.

Die Amerikaanse departement van handel het Donderdagmiddag bekend gemaak dat die Amerikaanse ekonomie in die tweede kwartaal met 0,9% gekrimp het. Dit volg ná ʼn inkrimping van 1,6% in die eerste kwartaal van die jaar. Die inkrimping in die tweede kwartaal is erger as wat ekonome verwag het, en dit voorspel niks goeds vir die VSA se ekonomiese vooruitsigte vir die res van die jaar nie.

Volgens die IMF word globale ekonomiese groei van 3,2% nou vir vanjaar, en slegs 2,9% groei vir volgende jaar, verwag, wat heelwat laer is as wat die voorspelling drie maande gelede nog was. Dit is veral ʼn skerp afname in groei in China, die VSA en Europa wat tot kommer aanleiding gee.

Inflasie veroorsaak tans ʼn skerp styging in rentekoerse wêreldwyd wat tot ʼn afname in ekonomiese groei, maar ook hernude vrese vir ʼn moontlike skuldkrisis, lei. Die kombinasie van hoë inflasie, verswakkende verbruikersentiment en wisselvalligheid in die globale voorsieningsketting strem tans die globale ekonomie. Die oorlog in Oekraïne vererger die situasie en vrese dat die oorlog nog lank kan voortsleep, beteken dat verwagtinge vir ekonomiese groei vir volgende jaar ook al hoe slegter lyk.

Ekonome verwag wel dat die Amerikaanse ekonomie in die derde kwartaal sal groei. ʼn Lae werkloosheidskoers van slegs 3,6% is die een stukkie goeie nuus vir die VSA. Die Federale Reserweraad het die afgelope week rentekoerse vir ʼn tweede keer met 0,75% verhoog. Rentekoerse in die VSA is vanjaar nou reeds met 2,25% verhoog en nog verhogings word verwag wat tot laer verbruikersbesteding aanleiding sal gee.

Benewens inflasie en stygende rentekoerse jaag die onsekerheid wat deur die oorlog in Oekraïne veroorsaak word en vrese oor ʼn tekort aan gas tans die kommer oor ekonomiese groei aan. Die Verenigde Koninkryk gaan na verwagting binnekort in ʼn resessie beland en in Duitsland sê ekonome dat dié land op die rand van ʼn resessie is. Die IMF het Duitsland se groeiverwagting vir vanjaar afwaarts aangepas tot 1,2%.

Die kombinasie van swak of geen ekonomiese groei nie en hoë inflasie gaan oor die volgende paar maande en moontlik ook in 2023 ernstige globale ekonomiese uitdagings skep. Die IMF waarsku dat die globale ekonomie binnekort op die rand van ʼn resessie kan wees en dat selfs die laer groeiverwagtinge van die IMF vir die wêreld nie eers bereik kan word nie.

Volgens die IMF is multilaterale samewerking as oplossing nou nodig. Die grootste risiko vir globale ekonomiese groei is geo-ekonomiese fragmentasie en met die spanning tussen die VSA en China wat nie opgelos word nie en die oorlog in Oekraïne wat voortduur, kan sodanige fragmentasie globale ekonomiese uitdagings laat toeneem.

Russiese ekonomie begin pyn van sanksies voel

Russiese president Wladimir Poetin tydens ‘n mediakonferensie by die Kremlin. (Foto: Mikhail Klimentyev/Sputnik/ AFP)

Volgens ʼn nuwe studie wat die afgelope week deur die Yale-universiteit in die VSA bekendgestel is, begin Westerse sanksies teen Rusland ernstige ekonomiese gevolge vir dié land inhou. Invoere het sedert die uitbreek van die oorlog met 80% afgeneem met ernstige tekorte aan onderdele, tegnologie en ander noodsaaklike produksie-insette wat reeds ontstaan. Sowat 1 000 buitelandse maatskappye, wat byna 40% van die Russiese bruto binnelandse produk verteenwoordig, het reeds uit die land onttrek.

Die afgelope week het die IMF aangekondig dat hy verwag dat die Russiese ekonomie vanjaar met 6% gaan krimp. Rusland maak sedert die uitbreek van die oorlog sy ekonomiese data op ʼn selektiewe manier bekend.

Ook Rusland se uitvoere het die afgelope ruk skerp gedaal en olie-, gas- en metaaluitvoere het skerper gedaal as wat Russiese data laat blyk. Stygende pryse het egter as buffer vir die gevolge van hierdie daling gedien.

Olie-uitvoere het van Mei tot Junie met 13% gedaal, maar Rusland se inkomste daaruit het vanweë die hoër oliepryse effe gestyg. Dit geld ook vir gasuitvoere.

Volgens die Yale-verslag het ʼn begrotingstekort reeds in Rusland ontstaan met die Poetin-regime wat vir die skerp afname in produksie en verbruik probeer vergoed deur verskeie groot bestedingsprogramme van stapel te stuur.

Vervaardiging in Rusland het in Junie met 4,5% gedaal. Motorvervaardiging was 89% laer as ʼn jaar gelede, wat wys dat Westerse sanksies teen Rusland, en die gevolglike verbod op die uitvoer van onderdele soos mikroskyfies na Rusland, baie suksesvol is. Die vervaardiging van vragmotors het met 40% gedaal, hysbakke met 60%, yskaste met 52%, veseloptiese kabels met 80% en loodbatterye met 22%. Dit is duidelik dat die Russiese vervaardigingsektor ernstige skade weens die sanksies ly.

Bewerings deur die Poetin-regime dat Rusland se ekonomie goed vaar, is volgens alle beskikbare data eenvoudig nie waar nie. Ook die Duitse Instituut vir Internasionale en Sekuriteitsaangeleenthede het onlangs ʼn verslag gepubliseer wat daarop dui dat die Russiese ekonomie reeds in die moeilikheid is. Volgens dié verslag het dit sowat drie maande geneem vir Westerse sanksies om ʼn wesenlike uitwerking te hê, maar dat dit duidelik is dat voorsieningskettingprobleme en die skerp daling na vraag die Russiese ekonomie, en veral sy vervaardigingsektor, reeds in ʼn krisis gedompel het.

Dié instituut verwag dat die Russiese ekonomie weens die oorlog en Westerse sanksies wesenlik gaan verander. Die Russe gaan meer proteksionisties word en die staat se rol in die ekonomie gaan nog meer toeneem. Dit beteken dat die Russiese ekonomie meer primitief gaan word omdat toegang tot Westerse tegnologie reeds heeltemal aan die opdroog is.

Westerse sanksies hou egter ook negatiewe ekonomiese gevolge vir Europa en die VSA in. Die Weste is oortuig daarvan dat hierdie gevolge, veral die styging in die koste van gas en olie en selfs moontlike energietekorte, korttermyngevolge gaan wees, terwyl sanksies teen Rusland langtermyngevolge vir die Russiese ekonomie gaan inhou.

Gerard DiPippo van die Sentrum vir Strategiese en Internasionale Studies in Washington D.C. sê dat die langtermyn- ekonomiese posisie van Rusland “beroerd” is en dat tekorte aan masjinerie, onderdele en belangrike tegnologie groot skade oor die volgende paar jaar aan Rusland se vervaardigingsbedryf gaan berokken.

Namate Wes-Europa alternatiewe vir olie en gas uit Rusland vind, sal Rusland ook sukkel om genoeg nuwe klante vir sy olie en gas te vind. Die Russiese sentrale bank het ook onlangs aangekondig dat hy verwag dat die Russiese ekonomie vanjaar en volgende jaar gaan inkrimp.

Die groot vraag is egter of sanksies die Kremlin se benadering tot die oorlog en moontlike vredesluiting met Oekraïne gaan beïnvloed. Tot dusver lyk dit nie of ʼn resessie en selfs ernstige ekonomiese probleme Poetin en sy regering se benadering gaan verander nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Wat anders as ekonomiese pyn het ‘slim’ staatshoofde verwag toe hulle bykans drie jaar gelede met die uitbreek van die groot griep die ganse wêreld toegemaak het vir besigheid?!
Nou word hoofsaaklik die Oorlog in Oekraïne blameer vir hul dwase stommiteite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.