Internasionale oorsig: Tyd vir VSA om uit Irak, Afganistan te onttrek?

(Foto: KURDISTAN 24 CHANNEL/AFP)

Die doel van verlede week se vuurpylaanvalle op Erbil, die hoofstad van die semi-outonome Koerdiese streek in die noorde van Irak, was baie duidelik. Sjiïete-groepe in Irak (die meerderheid van Irak se bevolking is Sjiïete) wou ʼn duidelike boodskap aan die Amerikaanse regering en Turkye stuur dat hulle nie meer in Irak welkom is nie.

Sedert die einde van die bloedige Irak-oorlog en die daaropvolgende stryd teen die Islamitiese Staat, raak dit al hoe duideliker dat die meeste Irakse burgers wil hê dat die Amerikaanse weermag heeltemal uit Irak moet onttrek.

Die Amerikaanse weermag het tans nog 2 500 soldate in die Koerdiese gebied en die belangrikste rede waarom Amerika nog nie finaal uit Irak onttrek het nie, is juis die Amerikaners se argument dat hulle nie wil sien dat Iran sy invloed oor Irak vergroot nie.

Naas Iran het Irak die tweede grootste Sjiïete-Moslem-bevolking ter wêreld. Terwyl Saddam Hoessein, ʼn Soenni-Moslem, jare lank die meerderheid in Irak onderdruk het, het sy verwydering deur die Amerikaners juis tot demokratiese verkiesings en gevolglik ʼn Sjiïtiese regering aanleiding gegee. Dat daar ʼn natuurlike verhouding tussen die Sjiïete van Irak en die Irannese regering sou ontstaan, maak net sin.

(Foto: US-ambassade in Irak/AFP)

Die Amerikaners handhaaf dus hoofsaaklik nog ʼn teenwoordigheid in Irak om groepe wat lojaal aan Iran is, te beveg. Onder Trump het die Amerikaners verskeie aanvalle in Irak op sodanige groepe aangevoor en dit het die Irakiërs se afkeer van Amerika verder laat toeneem. Terwyl die Amerikaanse weermag se teenwoordigheid in Irak egter deel is van die stryd met Iran, sal die VSA moeilik kan onttrek.

Die oorlog in Afganistan is die langste en een van die duurste oorloë waarin die VSA nog ooit gewikkel was. Terwyl interne spanning en verdeeldheid ook ʼn probleem in Irak is, is die situasie in Afganistan baie slegter. Daar beheer die Taliban groot dele van die land se grondgebied en word terreuraanvalle byna daagliks uitgevoer. Al wat die VSA se soldate tans doen, is om die weermag van Afganistan by te staan en op te lei. Uiteindelik sal die Afgane ook oplossings vir hul eie probleme moet vind aangesien die VSA nie vir altyd daar ʼn militêre teenwoordigheid kan handhaaf nie.

Die Amerikaners se teenwoordigheid in Irak en Afganistan het in albei lande ʼn ooreenstemmende gevolg, en dit is juis dat dit tot terreuraanvalle lei omdat groepe wat die VSA uit hul lande wil hê, met terreuraanvalle sal aanhou totdat die VSA onttrek. Die Amerikaners is met goeie rede bekommerd oor die magsvakuum wat kan ontstaan indien hulle finaal sou onttrek, maar ʼn finale onttrekkingstrategie behoort vir die nuwe Amerikaanse regering ʼn prioriteit te wees.

Italianers plaas hulle hoop op Draghi

Mario Draghi. (Foto: YARA NARDI/POOL/AFP)

In ʼn stap wat ʼn paar weke gelede nog totaal onmoontlik gelyk het, het die meeste politieke partye in die Italiaanse parlement verlede week hul steun toegesê aan ʼn nuwe tegnokratiese regering onder leiding van ʼn voormalige bankier, Mario Draghi. Politieke partye oor die hele politieke spektrum het hul steun toegesê aan Draghi nadat hy ʼn paar weke gelede deur die Italiaanse president versoek is om ʼn nuwe regering saam te stel. Italianers is veronderstel om eers oor twee jaar weer na die stembus te gaan.

Die 73-jarige Draghi was van 2011 tot 2019 president van die Europese Sentrale Bank (ESB) en het heelwat krediet gekry vir sy hantering van die eurokrisis in 2012 toe hy gesê het dat die ESB alles in sy vermoë moet doen om die euro te red. Voor dit was hy goewerneur van die Bank van Italië.

Draghi verskil drasties van talle van sy voorgangers en van die meeste huidige politieke leiers in Italië weens sy strak, oncharismatiese persoonlikheid en die feit dat hy min belangstelling het in publisiteit en die voortslepende politieke drama waaraan Italianers reeds gewoond geraak het.

Draghi is deur president Sergio Mattarella uit aftrede opgekommandeer om Italië te help regruk. Draghi het duidelik geen ander behoefte as om presies dit te doen nie. Vanuit die staanspoor was dit duidelik dat enige politieke leier wat sy regrukprojek nie sou steun nie of wat met allerhande eise sou kom, deur die bykans desperate Italiaanse volk verwerp sou word.

Draghi geniet dus tans, sowat twee weke nadat hy die eerste minister van Italië geword het, ongekende openbare steun en min teenkanting van politieke partye. Die politiek in Italië word reeds jare lank gekenmerk deur onderduimse rugstekery, korrupsie en politieke leiers wat meer begaan is oor hoeveel volgers hulle op sosiale media het as oor hoe die land se probleme reggeruk moet word.

Die uitdagings wat Draghi in die gesig staar, is enorm. Italië se staatskuld is buite beheer, met ekonomiese herstel wat steeds stadig is. Binne enkele weke verval die regering se verbod op afleggings wat sowat ʼn jaar gelede ingestel is, en grootskaalse afleggings by maatskappye wat reeds onder druk verkeer, word verwag. Intussen moet daar in die Italiaanse parlement konsensus bereik word oor hoe fondse uit die Europese hulppakket aangewend gaan word om die ekonomiese skade van die pandemie teen te werk.

Italië se gesondheidsorgbedryf verkeer ook onder enorme druk en die inentingsprogram het teen ʼn slakkepas afgeskop. Tog het ʼn groot meerderheid van Italianers vertroue dat Draghi op elkeen van hierdie terreine oplossings sal skep.

Draghi is ʼn diep gelowige Christen en hy slaag meesterlik daarin om gesag af te dwing onder ʼn ongedissiplineerde politieke klas wat nog drie of vier weke gelede mekaar met platvloerse beledigings in die parlement probeer stil skree het.

Italië het steeds die derde grootste ekonomie in die Europese Unie (naas Duitsland en Frankryk) en die agtste grootste ekonomie ter wêreld. Die land se uitdagings is egter baie ernstig en dit gaan ʼn baie goeie leier met wye steun verg om oor die volgende paar weke dié land na beter vaarwaters te stuur. Draghi mag dalk net daardie leier wees.

Frankryk tree in vir familieboere

(Foto: John MACDOUGALL/AFP)

Daar is die afgelope tyd binne die Europese Unie hewig debat gevoer weens die huidige hersiening van die landboubeleid deur die EU. Wynboere in Europa word tans teen oorkommersialisering en massaproduksie beskerm deurdat nuwe wynplase van ʼn beperkte grootte jaarliks toegelaat word, familieboere finansieel ondersteun word en enige boer sy totale wingerde met nie meer as 1% per jaar mag vergroot nie.

Dit het tot nou bygedra tot die behoud en beskerming van die klein wynboer in lande soos Frankryk, Duitsland, Spanje en Italië. In ander lande soos die VSA en Australië word familieboere in die wynbedryf, maar ook ander bedrywe, toenemend uitgekoop deur groot maatskappye wat suiwer op massaproduksie fokus en dit vir klein familieboere al hoe moeiliker maak om te bly voortbestaan.

Die leiers van die Europese Kommissie wou die huidige beperkings in Europa verslap, wat die deur sou oopmaak vir groot maatskappye om ook met massaproduksie te begin. Die Franse regering het egter verlede week ʼn stokkie daarvoor gesteek.

Tydens verhore by die EU het die Franse wynboer Thierry Coste gesê dat ʼn verslapping van die reëls tot die produksie van ʼn Coca-Cola-tipe wyn kan lei soos wat met massaproduksie in ander lande gesien kan word. Die Franse is veral bekommerd oor die gevolge vir gesinne en plattelandse gemeenskappe indien groot maatskappye toegelaat sou word om wynplase op groot skaal oor te neem. Die Franse is deur Spanje ondersteun met die Spaanse regering wat gesê het dat deregulering van die bedryf tot die einde van familieboerderye aanleiding sal gee, wat katastrofiese gevolge vir die Europese platteland sal inhou.

Nog ʼn terugslag vir demokrasie in Kaukasus-streek

Nika Melia. (Foto: Vano Shlamov/AFP)

Die polisieklopjag vroeg Dinsdagoggend by die hoofkantoor van die grootste opposisieparty in Georgië, die Verenigde Nasionale Beweging, en die inhegtenisname van dié party se leier, Nika Melia, is ʼn groot terugslag vir die enigste ware demokrasie in die Kaukasus-streek en Wes-Asië.

Georgië is sedert die Roos-revolusie in 2003 ʼn volwaardige demokrasie met ʼn goeie verhouding met Westerse lande en die droom om uiteindelik by die Europese Unie en Navo aan te sluit. In 2019 het ʼn politieke krisis in dié land ontstaan toe die regerende party ʼn Russiese parlementslid genooi het om die parlement van Georgië toe te spreek. ʼn Meerderheid van mense in Georgië, veral opposisielede, is sterk gekant teen die normalisering van verhoudinge met Rusland solank twee provinsies van Georgië deur Rusland beset word.

Verlede jaar se verkiesing in Oktober in Georgië het wel vry en regverdig plaasgevind met die Georgiese Droom-party, wat sedert 2012 die land regeer, wat die verkiesing met ʼn heelwat kleiner meerderheid gewen het. Sedertdien boikot opposisiepartye parlementsittings en vind daar gereeld groot betogings in die hoofstad, Tbilisi, plaas.

Verlede week het die eerste minister van Georgië, Giorgi Gakharia, bedank nadat hy die inhegtenisname van Melia wou vertraag juis om politieke onrus te voorkom. Leiers in die Georgiese Droom-party wou egter hê Melia moet in hegtenis geneem word op vae aanklagte dat hy in 2019 gewelddadige betogings georganiseer het.

Irakli Garibashvili is Maandag as nuwe eerste minister ingehuldig en hy het dadelik ʼn harde benadering jeens die opposisie voorgestel. Die gevolg was Dinsdagoggend se klopjag met ʼn groot aantal polisielede wat op Melia se kantoor toegesak en hom in hegtenis geneem het. In ʼn toespraak in die Georgiese parlement later die dag het Garibashvili gesê dat die reg sy gang moet gaan, maar dat hy wel bereid is om met opposisiepartye oor hul ongelukkighede te praat.

Intussen het duisende opposisielede Dinsdag in Tbilisi teen die inhegtenisneming van Melia betoog. Georgië was die afgelope paar jaar ʼn demokratiese baken in ʼn streek waar outoritêre regerings die norm is. Hoewel Armenië ʼn swakkerige demokrasie het, is daar in ander lande in die streek soos Azerbaidjan, Rusland en die Oekraïne byna geen demokratiese tradisie nie. Armenië het die afgelope week sy soveelste politieke krisis beleef met die weermag wat eis dat dié land se staatshoof moet bedank en betogings wat daagliks plaasvind.

Daarteenoor het daar die afgelope 17 jaar in Georgië ʼn indrukwekkende demokrasie begin ontstaan met vry en regverdige verkiesings, ʼn veelpartystelsel en sterk, onafhanklike burgerlike instellings. Binne slegs enkele jare is korrupsie in die staatsdiens in Georgië grootliks uitgeroei. Georgië is die afgelope paar jaar herhaaldelik voorgehou as ʼn voorbeeld van ʼn land uit die voormalige Sowjetunie wat daarin kon slaag om ʼn suksesvolle oorgang na Westerse demokrasie te maak. Indien die huidige krisis verder verdiep, sal Georgië egter hierdie eer kwyt wees. Daar is reeds uit sommige Westerse lande oproepe dat sanksies teen Georgië ingestel moet word indien die regeringsparty voortgaan met sy klaarblyklike heksejag teen opposisieleiers.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dirk Mostert ·

Die VSA kan gerus ook ophou om sy neus in Sirie se sake te steek. Een van die regime-verandering operasies wat nie geslaag het nie.

Rupert Ashford ·

Wel die hele Arab Spring was die VSA onder die “leliewit” Obama administrasie wat hulle neus in die hele Arabiese wereld ingesteek het. Libie, Sirie, Yemen almal nou groot gemors. In Egipte moes hulle toe maar weer die ou geykte staatsgreep-metode gebruik om te keer dat die Muslim Brotherhood nie oorneem en die hele streek in groot oorlog dompel nie, maar dit lyk of Biden lus is om dit sommer nou self te doen met sy “spesiale” soort diplomasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.