Internasionale oorsig: Virus en ekonomiese krisis gaan nie gou wyk

Anders Tegnell. (Foto: Stina Stjernkvist/TT News Agency via AP)

Die Sweedse viroloog Anders Tegnell het die afgelope paar maande wêreldbekend geword weens die alternatiewe strategie wat hy, as hoof van Swede se span wat die Covid-19-pandemie hanteer, bly volg het.

Terwyl daar die afgelope twee weke weer ’n toename in die voorkoms van die koronavirus in talle Europese lande, veral Spanje, maar ook onder meer Nederland, Duitsland, Frankryk, België en Pole was, is die aantal Covid-19-gevalle in Swede steeds aan’t afneem.

Tegnell het verlede week in ’n televisie-onderhoud aangevoer dat hy steeds oortuig daarvan is dat dit onmoontlik is om ’n siekte heeltemal uit te wis. Selfs met ’n teenmiddel sal dit baie moeilik wees om binnekort heeltemal van Covid-19 ontslae te raak. Hy verwag dus dat die virus sal bly opvlam, veral in lande waar streng inperkingsmaatreëls gegeld het. Sodra maatreëls verslap word, begin die virus weer versprei. In Swede verwag hulle egter nie dat die virus weer sal opvlam nie omdat daar nooit streng inperkingsmaatreëls was nie. Hy het ook sy twyfel daaroor uitgespreek of inperkingsmaatreëls enigsins kan bydra om die voorkoms van die siekte en veral sterftes in ’n land te verminder.

Intussen hang daar ’n donker wolk van ekonomiese probleme oor al hoe meer dele van die wêreld. Die drakoniese stappe wat regerings in Maart begin doen het, het die globale ekonomie sodanig ontwrig dat ekonomiese herstel toenemend uitdagend is, ten spyte daarvan dat maatreëls in baie lande verslap is. Daar word nou byna daagliks ’n styging in werkloosheid in lande oor die hele wêreld aangekondig. Intussen is daar meer waarskuwingsligte wat aangaan en wat daarop dui dat ekonomiese herstel langer gaan vat as wat ’n maand of twee gelede gehoop is.

Die Nasionale Bank van België het Donderdag aangekondig dat dié land se ekonomie in die tweede kwartaal van 2020 met 12,2% gekrimp het. Dit volg ná ’n inkrimping van 3,5% in die eerste kwartaal. Ook in Duitsland het die ekonomie met 10,1% gekrimp. Die Oostenrykse ekonomie het ook in die tweede kwartaal met meer as 10% gekrimp.

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die Amerikaanse departement van handel het aangekondig dat die Amerikaanse ekonomie tydens die tweede kwartaal met 9,5% in vergelyking met die tweede kwartaal van 2019 gekrimp het. Dit is die grootste ekonomiese inkrimping in een kwartaal in die VSA oor die afgelope 70 jaar van hedendaagse ekonomiese data-ontleding.

In Singapoer is aangekondig dat die werkloosheidskoers van 2,4% tot 2,9% gestyg het – die hoogste werkloosheidskoers in ’n dekade vir dié land. Singapoer is een van die lande in die wêreld met die laagste werkloosheidskoers.

In Spanje het die werkloosheidskoers tot 15,33% gestyg terwyl die regering in Brasilië bekend gemaak het dat 1,2 miljoen mense in dié land gedurende die eerste ses maande van 2020 hulle werk verloor het. In Italië is daar Woensdag bekend gemaak dat dié land nou in ’n diep resessie is met ’n verdere ekonomiese inkrimping wat in Junie ervaar is.

Dit is duidelik dat die koronavirus nog vir lank met ons gaan wees en dat die ekonomiese gevolge van drakoniese inperkingsmaatreëls wat deur regerings ingestel word selfs nog langer tot hoë vlakke van werkloosheid, armoede en lae ekonomiese groei aanleiding kan gee.

Die tweede golf begin Europa tref

Mense dra maskers op ‘n strand in Barbate in die suide van Spanje. (Foto: AP Photo/Emilio Morenatti)

Nuwe gevalle van die koronavirus het verlede week in Spanje verdubbel. Die getal mense wat tans daagliks in Spanje met Covid-19 gediagnoseer word, is ses keer meer as ’n maand gelede. Ook in Nederland, Duitsland, Frankryk, België, Pole en verskeie Oos-Europese lande is daar ’n toename in die voorkoms van die virus.

In die Ooste en die Stille Oseaan-gebied was daar die afgelope week weer ’n skerp toename in onder meer Japan, Hongkong, die Filippyne, Nepal, Indië en Australië. Daarteenoor het die getal nuwe gevalle in die VSA begin afplat, hoewel steeds op ’n baie hoë vlak.

In Duitsland is ’n skerp toename veral verbind met vakansiegangers wat na Spanje gereis het en gasarbeiders uit onder meer Roemenië wat die virus laat versprei het. In Australië was die getal nuwe gevalle die afgelope week 11 keer meer as die gemiddeld gedurende Junie.

Japan en Hongkong, twee lande wat net soos Australië lande is wat die verspreiding van die virus vinnig en doeltreffend gekeer het, het ook ’n skerp toename in nuwe gevalle aangemeld. Die vraag wat al hierdie lande nou moet beantwoord, is of hulle weer streng inperkingsmaatreëls moet instel.

Die Sweedse model was dalk wel die beste opsie

Mense kuier in ‘n kroeg in Stockholm, Swede. Foto: (AP Photo/David Keyton, File)

Terwyl daar die afgelope week in die meeste Europese lande ’n toename in die voorkoms van Covid-19 was, was daar ’n volgehoue daling in Swede. Dié land is gedurende April en Mei veral hard getref deur die verspreiding van die koronavirus met meer as 5 000 sterftes wat gedurende dié tydperk aangeteken is.

Swede het per capita die sesde meeste sterftes weens Covid-19 ter wêreld met net België, die Verenigde Koninkryk, Spanje, Italië en Peru wat meer sterftes het. Op die oog af kan dit dus lyk asof Swede se strategie om nie soos ander Europese lande in Maart en April streng inperkingsmaatreëls in te gestel het nie, misluk het.

Die afgelope paar weke is daar egter ’n voortdurende afname in sterftes weens Covid-19 in Swede en die afgelope week is daar daagliks slegs een of twee mense in dié land weens die siekte oorlede.

Owerhede in Swede glo dat verskeie ander lande se per capita-sterftes oor ’n paar maande van nou af hoër as die Sweedse syfer sal wees. Daar word allerweë aanvaar dat die virus reeds wyd deur Swede versprei het, juis omdat daar nie streng inperkingsmaatreëls was nie, asook dat immuniteit teen die virus in Swede veel hoër as in ander lande is.

Steeds geen duidelikheid hoe virus begin versprei het nie

(Foto: Ng Han Guan/AP)

Meer as agt maande nadat mense in die stad Wuhan, China, siek geword het en daar uiteindelik bepaal is dat hulle ’n nuwe koronavirus onder lede het, is dit steeds onduidelik presies hoe die virus ontstaan het en hoe dit na mense versprei het.

Jamie Metzl, ’n voormalige lid van die Nasionale Veiligheidsraad in die VSA, amptenaar in die Clinton-administrasie en lid van die Wêreldgesondheidsorganisasie se internasionale raadgewende komitee, het die afgelope week ’n beroep op die VSA en ander lande wat deur die pandemie geraak is, gedoen om meer indringend vrae te vra oor presies wat laat verlede jaar in Wuhan gebeur het.

Metzl vergelyk die verspreiding van die nuwe koronavirus met ’n kernmissiel wat per ongeluk deur ’n land afgevuur word en die dood van 650 000 mense veroorsaak. Volgens Metzl, ’n kenner op die gebied van biologiese oorlogvoering, nasionale veiligheid en internasionale gesondheidsbedreigings, is daar steeds baie rede om te glo dat die Chinese owerhede nie die waarheid praat nie.

Die Wuhan Instituut vir Virologie is die enigste vlak 4-fasiliteit in China. ’n Vlak 4-virologielaboratorium hanteer patogene wat die gevaarlikste vir mense is. Voordat die huidige virus ontstaan het, was die naaste soortgelyke virus wat nog in die wêreld voorgekom het, een wat in 2012 by ses mynwerkers in ’n myn in die Yunnan-provinsie, sowat 1 600 km van Wuhan af, gevind is. Drie van die mynwerkers is uiteindelik oorlede en daar is vasgestel dat die virus van vlermuise in die myn na die mynwerkers oorgedra is.

Sedertdien is daar by die Instituut vir Virologie in Wuhan navorsing oor dié virus gedoen. Die vraag wat Metzl en ander navorsers in die VSA nou vra, is: Hoe is dit moontlik dat ’n virus soortgelyk aan die een wat in 2012 gevind is, skielik sewe jaar later na mense oorgedra word in die enigste stad in China waar die ander virus sedert die 2012-uitbreking ondersoek is?

ʼn Werker loop tussen beddens in ʼn konferensiesentrum wat tydelik omskep is in ʼn hospitaal vir pasiënte met die koronavirus in Wuhan, China. (Foto: Chinatopix, AP)

Die Chinese regering se verduideliking dat die virus deur ’n reeks interaksies tussen mense en diere of deur vleismarkte begin versprei het, maak dus nie sin nie. Sou dit die waarheid wees, maak dit nie sin waarom die virus aan die einde van 2019 slegs in Wuhan versprei het en nie ook in ander Chinese dorpe en stede nie.

In ’n artikel in die Wall Street Journal voer Metzl aan dat die teorie dat viroloë in Wuhan toetse, en selfs eksperimente, met die virus gedoen het en dat dit toe uit die laboratorium ontsnap en na mense versprei het, baie meer sin maak. Dit is selfs moontlik dat die Chinese in Wuhan die virus op mense getoets het om te bestudeer waarom dit so gevaarlik is toe dit soos ’n veldbrand deur die res van Wuhan begin versprei het.

Hoewel ’n span van die Wêreldgesondheidsorganisasie intussen begin het om die aangeleentheid te ondersoek, is hulle opdrag so geformuleer dat hulle baie moeilik by die ware toedrag van sake gaan uitkom. Dit is reeds bekend dat die Chinese alle bewyse van die toetse wat by die laboratorium in Wuhan gedoen is, vernietig het.

Die grootste uitdaging vir baie lande is die omvang van hulle handelsbande met China. Dit het egter die afgelope paar weke duidelik geraak dat daar afgesien van die Amerikaners ook in Europa, Kanada, Australië en nog lande stemme opgaan wat vir ’n meer omvattende, onafhanklike ondersoek vra. Dit is egter ’n ope vraag of die waarheid oor wat verlede jaar in Wuhan gebeur het ooit bekend sal word. Wat wel toenemend bekend is, is dat al hoe meer lande in die wêreld vertroue in die Chinese verloor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Swede is die enigste land wat hul nié deur ‘Die Virus’ laat beheer nie.
Die Res is tot stilstand geskok en deur ‘Die Virus’ beheer. Swak.
‘n Skuldige China gaan skotvry kom, want ‘Die Virus’ is ‘n politieke speelbal. Laakbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.