Internasionale oorsig: Wat is Biden se strategie met Iran?

(Foto: Amerikaanse ambassade in Irak/AFP)

Pres. Joe Biden van die VSA se verrassende besluit verlede week om die Amerikaanse weermag opdrag te gee om lugaanvalle op Sjiïete-groepe in Sirië wat bande met Iran het, te loods, laat nuwe vrae ontstaan oor die kanse op sukses in Biden se poging om Amerika weer deel van ʼn kernooreenkoms met Iran, wat ook die spanning tussen die VSA en Iran moet help verlig, te maak.

Die regering van Iran het ʼn paar dae gelede ʼn aanbod van Europese regerings om ʼn gesprek tussen die VSA en Iran te fasiliteer, van die hand gewys. Iran eis dat die VSA sanksies wat deur die Trump-administrasie teen Iran ingestel is, moet begin kanselleer voordat enige gesprekke gaan plaasvind. Die Biden-administrasie weier om dit te doen. Dit het tot die huidige dooiepunt aanleiding gegee.

Verskeie progressiewe organisasies in die VSA het Woensdag ʼn brief aan Biden gestuur om hom te versoek om sy verkiesingsbelofte na te kom en die VSA weer deel van die kernooreenkoms – wat in 2015 tussen Iran en ander wêreldmoondhede, insluitende die VSA, gesluit is – te maak.

Intussen eis Republikeine in die Amerikaanse senaat dat Biden nog strenger teen Iran moet optree weens Iran se verbreking van die voorwaardes van die kernooreenkoms sedert Trump die VSA uit die ooreenkoms onttrek het. Biden is tans vasgevang tussen linkse aktiviste wat wil hê dat die VSA onmiddellik weer deel van die ooreenkoms met Iran moet word en die meer gematigde vleuel van sy party, insluitende senator Bob Menendez van New Jersey, die voorsitter van die senaat se komitee vir buitelandse betrekkinge. Menendez was self in die verlede ten gunste van sterker optrede teen Iran.

Nog ʼn uitdaging vir Biden is die sogenaamde Iran Nuclear Agreement Review Act wat in 2015 deur die Republikeine in die Amerikaanse kongres goedgekeur is en wat meebring dat enige kernooreenkoms met Iran gereeld deur die kongres hersien kan word. Die Republikeine sal dié wetgewing gebruik om oor enige ooreenkoms wat Biden moontlik met Iran wil aangaan, wag te hou.

Iran het tot die VSA se onttrekking in 2018 aan die vereistes van die ooreenkoms voldoen, maar het sedertdien, en veral die afgelope paar maande, heeltemal daarvan begin afwyk. Oor die afgelope twee weke het Iran selfs internasionale inspeksies van sy kernaanlegte begin beperk soos wat die land meer uraan verryk en veral Europese lande toenemend bekommerd is oor of die 2015-ooreenkoms nog gered kan word.

Intussen neem die konflik toe tussen die VSA en groepe wat deur Iran gesteun word in Irak en Sirië met verskeie vuurpylaanvalle op Amerikaanse teikens in Irak die afgelope paar dae en Amerika se lugaanvalle in Sirië verlede week.

In Iran verkeer gematigde politici onder groot druk met die meer ekstreme groeperinge wat veld wen met hul standpunt dat die VSA nie vertrou kan word nie, dat samesprekings met die VSA ʼn teken van swakheid is en dat Iran nie weer enige ooreenkoms met die Weste moet aangaan nie. Presies hoe die Biden-administrasie hierdie uitdagings die hoof gaan bied, is onseker.

Wittebrood nog nie verby vir Biden nie, maar…

Pres. Joe Biden. (Foto: Andrew Caballero-Reynolds/AFP)

Die afgelope week was Joe Biden reeds 40 dae lank president van die VSA. Die uitslae van vier verskillende peilings wat Woensdag in die VSA bekend gemaak is, wys dat pres. Biden die steun van tussen 50% en 57% van Amerikaanse kiesers geniet. Ten spyte daarvan dat sy steun die afgelope twee weke met tussen 3% en 5% in die meeste peilings afgeneem het, is dit steeds ʼn redelike sterk vlak van steun in ʼn land wat baie sterk verdeeld is. Daar is egter tekens dat baie kiesers onrustig is oor die Biden-administrasie se onvermoë om wesenlike beleid daar te stel en verkiesingsbeloftes na te kom.

Die afgelope week was veral die linkervleuel van die Demokratiese Party, en in die besonder senator Elizabeth Warren en die kongreslid Alexandria Ocasio-Cortez, heelwat in die nuus oor druk wat hulle op Biden en die Demokrate in die kongres plaas om deur ʼn beplande ekonomiese hulppakket kontantbetalings aan meer Amerikaners te betaal. Warren het selfs voorgestel dat ʼn welvaartbelasting oorweeg moet word.

Biden het tydens sy eerste week of twee in die Withuis tientalle uitvoerende bevele gebruik om verskeie beleidsrigtings van die Trump-administrasie ongedaan te maak. Dit het veral op immigrasie, omgewingsake en die pandemie gefokus. Die belangrikste gevolge van sy immigrasie-veranderinge was dat die bou van ʼn grensmuur tussen die VSA en Mexiko gestaak is; optrede teen onwettige immigrante versag is; die aansoekproses vir vlugtelingstatus vergemaklik is; en die getal vlugtelinge wat jaarliks vir asiel in die VSA in aanmerking sal kom drasties verhoog is.

Wat omgewingsake betref het Biden die bouwerk aan die Keystone-pypleiding tussen Kanada en raffinaderye in die VSA stopgesit wat onmiddellik tot duisende werksverliese en groot ongelukkigheid in Kanada en verskeie Amerikaanse deelstate, waar die projek werk geskep het, aanleiding gegee het. Streng omgewingsregulasies, veral ten opsigte van die ontginning van natuurlike hulpbronne, is ingestel en die VSA het weer by die Parys-klimaatooreenkoms aangesluit.

Wat die pandemie betref het Biden, al sou hy dit nie self erken nie, grootliks die werk van die Trump-administrasie voortgesit deur die opening van meer sentrums waar Amerikaners ingeënt kan word en die aankoop van meer entstowwe by Amerikaanse farmaseutiese maatskappye. Anders as Trump het Biden egter wel streng maatreëls ingestel, soos dat maskers in openbare ruimtes wat aan die federale regering behoort, gedra moet word.

Biden se grootste belofte sedert hy verlede November verkies is, was egter ʼn enorme ekonomiese hulppakket van 1,9 biljoen Amerikaanse dollar. Ná meer as 40 dae in die Withuis slaag Biden egter nog nie daarin om die hulppakket deur die kongres goedgekeur te kry nie, met heelwat toutrekkery tussen die senaat en die huis van verteenwoordigers. Dit kan waarskynlik nog weke neem voordat die wetgewing wat die hulppakket goedkeur deur die kongres aanvaar sal word.

Een rede hiervoor is natuurlik al die tyd wat die kongres aan die verhoor van oudpres. Trump bestee het. Dit het kosbare tyd verspil. Dit het ook veroorsaak dat dit langer neem om pres. Biden se nominasies vir belangrike poste, veral in sy kabinet, te bevestig.

Uit die 1 250 posisies wat Biden moet vul, het hy nog net 58 mense benoem, wat die ergste slakkepas tot nog toe vir benoemings deur ʼn nuwe president is. Verskeie belangrike poste in sy regering is tans vakant.

Biden se eerste mislukte benoeming het ook hierdie week in die kongres afgespeel toe Neera Tandem, Biden se benoeming as sy begrotingshoof, haar onttrek het nadat dit duidelik geword het dat sy nie die steun van 50 senators sou kon kry nie.

Biden se uitdaging is om sy eie stem tussen die eise van verskillende belangegroepe te vind. Tans maak die linkse vleuel van die Demokratiese Party die hardste geraas. Daar is verskeie senatore in die Republikeinse Party wat reeds kompromisooreenkomste met Biden – veral met betrekking tot die hulppakket – wou sluit, maar hy het dit tot dusver van die hand gewys, juis omdat hy bang is om sy linkse steunbasis te vervreem.

Terwyl die linkses in die Demokratiese Party tevrede kan wees met Biden se immigrasie-, omgewing- en regulatoriese beleid tot dusver, is dit reeds duidelik dat daar krake tussen die meer gematigde en linkse groepe in die kongres is met Ocasio-Cortez wat vroeër in die week teen die sogenaamde “konserwatiewe Demokrate” te velde getrek het.

Wat buitelandse beleid betref, heers daar steeds onsekerheid oor hoe Biden die spanning met Iran, Rusland en China gaan hanteer. Heelwat kopsere lê vir sy minister van buitelandse sake voor in hul sogenaamde poging om Amerika se “terugkeer na die internasionale verhoog” te verseker.

Intussen maak Biden staat op die verswakte posisie van die Republikeinse Party, die verdeeldheid tussen die Republikeine en Amerika se uitstekende inentingsprogram om sy steunvlakke hoog te hou. Die vraag is egter hoe Amerikaners teen volgende jaar hierdie tyd, wanneer die veldtogte vir die middeltermynverkiesing begin, oor Biden gaan dink. Dit kan ʼn bepalende faktor wees vir of die Demokrate in volgende November se verkiesing beheer oor die senaat en huis van verteenwoordigers gaan behou.

Biden se eerste 40 dae was middelmatig. Hy het daarin geslaag om nie Trump te wees nie – iets waarvoor die kiesers wat vir hom gestem het, gevra het, maar Biden het ook nog nie daarin geslaag om die Amerikaners se verbeelding aan te gryp nie. Hoewel dit tot dusver nog nie nodig was nie, kan hy nie vir altyd op die wittebroodsfase staatmaak om sy steunvlakke by kiesers te behou nie.

Amerikaners wil optrede teen China sien

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Een aspek van die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, se buitelandse beleid waarmee ʼn meerderheid van Amerikaners tevrede was, was die sterk standpunt wat hy ingeneem het teen China en spesifiek die Chinese se aggressiewe optrede teen minderhede; China se aanslae teen ander lande in Asië; die Chinese se hantering van die pandemie; en China se onbillike handelspraktyke. Presies hoe pres. Biden sy verhouding met China gaan bestuur, is nog onduidelik, maar ʼn peiling wat die afgelope week bekend gemaak is, wys dat Amerikaners baie negatief is oor China.

Volgens ʼn jaarlikse peiling wat deur die gerespekteerde peilingsagentskap Gallup gedoen is, het slegs 20% van Amerikaners ʼn positiewe beeld van China. Dit is 13% laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar en is die skerpste afname nóg in een jaar.

Minder Amerikaners het tans ʼn positiewe beeld van China as wat die geval was ná die Tiananmenplein-slagting van 1989 waarin die Chinese regering tot soveel as 10 000 opstandiges doodgemaak het.

Verskeie Amerikaanse deelstate het sedert Januarie wetgewing aanvaar om handel met China te beperk en om Chinese maatskappye te verhoed om in hul deelstate handel te dryf. Daar is egter steeds nie ʼn duidelike plan van die federale regering oor hoe die VSA se verhouding met China gestruktureer moet word nie. Die VSA het verlede jaar bykans 400 miljard dollar se produkte en dienste uit China ingevoer. Daarteenoor het die Chinese net sowat 110 miljard dollar se produkte en dienste uit die VSA ingevoer. Die handelstekort wat die VSA met China het, neem jaarliks toe. Sowat 15% van Amerika se staatskuld is ook aan die Chinese verskuldig.

Afgesien van die groot handelstekort is Amerikaners ook baie bekommerd oor China se inperking van Hongkong se outonomie en heers ernstige vrese dat China een of ander tyd Taiwan gaan aanval en dat die VSA nie gereed is met ʼn strategie om dit te voorkom of om Taiwan by te staan nie.

Die Politieke Raadplegende Konferensie van die Chinese Volk het Woensdag begin met die Chinese wetgewer, die Nasionale Volkskongres, wat terselfdertyd sy jaarlikse sitting hou om wetgewing en beleid van die Kommunistiese Party goed te keur. Dié wetgewer het eintlik maar net ʼn rubberstempelfunksie. Dit word allerweë verwag dat die Chinese oor die volgende paar dae op strenger optrede teen die pro-demokrasiebeweging in Hongkong en teen Taiwan sal besluit en dat China se uitbreiding van sy weermag, sy aansprake op die Suid-Chinese See en sy grensgeskille met sommige buurlande sal opskerp. Intussen het Westerse lande soos die VSA nog geen duidelike teenstrategie hiervoor ontwikkel nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

China het die momentum. Amerika kan nie Iranese olie-uitvoere na China stop nie. Chinese hoë-tegnologie soos die kritiese halfgeleiers is tans nog nie so goed soos die Amerikaanse produkte nie maar dit is net ‘n kwessie van tyd. Die Pearl River Delta is die wêreld se fabriek. In Souff êffreeka, bv., sou Naspers en die JSE maar droewig sonder Tencent gelyk het. Indien die Amerikaners versuip in hul skuldgedrewe papier-ekonomie (spekulatiewe bates met weinig konkrete waarde) gaan China onstuitbaar wees – omrede die VSA en Europa se produksiegeriewe en tegnologie in China is. Dieselfde as hier in ANC-by-the-Vaalsewage-River: Al wat nog eintlik kompeterend is, is net die landboubedryf en tot ‘n mate mynbou. Maar een van die dae is dit “Boer Soek “n Plaas…..”

Therese ·

Amerikaanse politiek en nuusdekking is ‘n sirkus en klug .
Trump se Withuis is as chaoties bestempel toe poste heel begryplik vakant was na sy onverwagte, verrassende oorwinning, maar Biden word oorgesien.
Met die algemeen ongeloofwaardige dubbele standaarde van die hoofstroommedia in gedagte behóórt die sagte hantering van die Biden-administrasie nie te verbaas nie.
Sonder om te blik of te bloos beweer (lieg) Biden dat geen Covid-entstof beskikbaar was met sy oorname nie, en hoofopskrifte met foto’s van Biden waar hy die entstof ontvang ‘n maand voor sy inhuldiging skitter in hul afwesigheid!
Elke woord van president Trump is getel en geweeg en veroordeel deur joernaliste wat by tye herinner het aan ‘n trop hiënas.
Biden is “middelmatig” juis omdat hy nie soos sy voorganger kán wees nie.

annie ·

Dis maar swaar as oompie weier om sy leesbril te dra, maar wel sy masker om die plestiek-surgery weg te steek. Iran is ‘n turksvy want Trump was reg soos sy muur, wat nou afgebreek behoort te word. Dis nie dat Biden nie Iran happy wil hou nie, die geldjies van die Joodjies in die VSA is sy probleem. Die ou garde is na gruwelike vuilspel tuis terug in die kussings, maar kom nou agter die wèreld is ‘n totaal ander plek met ander game-reèls. En om so sonder sy loopraam… alweer Trump…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.