Is daar ’n rigting wat mense, groepe en tale inklusief erken?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Een van die redes waarom die DA in die laaste verkiesing relatief swak gevaar het, is die interne ideologiese stryd tussen die “klassieke” liberale, soos verteenwoordig deur Helen Zille, en dié wat meen die party moet ’n meer Afrikanistiese rigting inslaan sodat hy meer swart stemme kan kry.

Uit die debatte in Suid-Afrikaanse kuberruimtes sien ’n mens hoe baie lesers, veral Afrikaners, ’n agterhaalde siening van “ismes” het. Die interne stryd in die DA is ’n goeie illustrasie.

Tradisioneel is die Afrikaners en die liberalisme nie vriende nie. Ná wat ek wil noem ’n “proto-liberale” moment in die 19de eeu het die Afrikaners in groot meerderheid die liberalisme die rug toegekeer en ’n konserwatiewe nasionalisme omhels.

Die rede was eenvoudig dat die liberalisme waarmee die Afrikaners toenemend sedert die laat 19de eeu kennis gemaak het, op ’n wisselvorm van die Engelse imperialisme neergekom het. Die Engelse liberalisme het hom aan die oppervlak teen die Afrikaners se rassegevoel gekeer, maar dit grotendeels as rookskerm vir Brittanje se imperialisme op alle vlakke – ideologies, polities, kultureel en ekonomies – gebruik.

As jy as Afrikaner in die eerste helfte van die 20ste eeu ekonomies êrens wou kom, kon jy dit slegs deur middel van Engels doen. Duisende Afrikaners het só verengels. Die kerkleier dr. William Nicol het in die jare veertig van ’n “verlore geslag” gepraat.

Dalk die treffendste voorbeeld kom voor in die dagboek van lady Maud, vrou van die Britse ambassadeur in Suid-Afrika, sir John Maud.

In 1963 het Maud teen die uitdruklike wens van die Verwoerd-regering ’n veelrassige tuinparty gehou. In haar dagboek het die lady entoesiasties geskryf van die “triumphant success” – en daaraan toegevoeg “the first since the peasantry took over in 1948”. ’n Beter illustrasie van die vervlegting van die Engelse liberalisme en imperialisme kan ’n mens jou byna nie voorstel nie.

Die Afrikaners se vlugtige 19de-eeuse “proto-liberale”-oomblik het geswig onder die druk van die Engelse imperialisme. Sou die Afrikaners se afkeer van die liberalisme sónder die invloed van die imperialisme dieselfde gewees het? ’n Interessante vraag wat geen antwoord het nie.

Wat die Afrikaners in die proses nie besef het nie, is dat die liberalisme vele gesigte het, nie slegs ’n Engelse een nie. Op die Europese vasteland word byvoorbeeld iets heel anders onder die begrip verstaan. Dáár is dit grotendeels ’n aanduiding van jou ekonomiese benadering.

In Europa is daar tradisioneel drie breë benaderings, ofskoon elkeen ’n verskeidenheid bevat en die drie in mekaar oorloop. Dit is die liberalisme, die Christen-demokrasie en die sosialisme.

Liberale partye is ten gunste van die vrye mark en ’n beperkte staat. Sosialiste (of die verswakte vorm daarvan, bekend as die sosiaal-demokrate) wil groter staatsinmenging hê met die doel om maatskaplike gelykheid af te dwing.

Christen-demokrate is êrens tussen die twee, maar is tradisioneel veral maatskaplik konserwatief. (Ofskoon die woord “Christen” in die meeste van dié partye se name deesdae bitter min werklike inhoud het.)

In Amerika, weer, het die liberalisme en wat daar die “sosialisme” genoem word (wat eintlik maar op ’n gematigde soort sosiaal-demokrasie neerkom) saam in die Demokratiese Party beland waar hulle ’n heftige stryd teenoor mekaar voer.

In Suid-Afrika was die politieke teenstelling tot betreklik onlangs tussen (Afrikaner-) konserwatisme en (Engelse) liberalisme. Sedert die jare tagtig is dié teenstelling toenemend vervang met liberalisme teenoor sosialisme.

Die saak word vertroebel deur die feit dat die sosialisme by ons steeds meer vermeng word met Afrikanisme, wat voorheen in ’n bitter ideologiese stryd teen mekaar gewikkel was. In die struggle-tyd is die ANC op topvlak allengs oorheers deur lede van die SAKP, wat die Afrikanistiese vleuel met verloop van tyd heeltemal uitgewerp het.

Maar die wettiging van die ANC/SAKP in 1990, wat saamgeval het met die ineenstorting van die Sowjet-ryk, het die interne dinamiek in die alliansie volledig omver gewerp. Die “suiwer” sosialiste is in ’n bestaanskrisis gedompel, en veral in die bewindstyd van pres. Thabo Mbeki het die Afrikaniste opnuut meer ideologiese suurstof gekry.

Dit het twee gevolge gehad. Die eerste was die opkoms van ’n sosialisties-Afrikanistiese vleuel, verteenwoordig deur mense soos Ace Magashule, en die tweede die ontstaan van ’n ideologies “suiwer” Afrikanistiese party soos die EFF.

Die proses word weliswaar vertroebel deurdat veral die Afrikaniste binne en buite die ANC onlosmaaklik verbind word met korrupsie en staatskaping. Dit is dus nie slégs ’n ideologiese stryd nie, maar ook ’n konflik oor toegang tot die soustrein, tot ’n vermoë om vryelik te “eet”.

Teenoor dié sosialisties-Afrikanistiese (nasionaal-sosialistiese, as ’n mens moedswillig wil wees) benadering staan nou twee ander rigtings.

Die eerste is die “klassiek” liberale rigting van Zille. Zille, afkomstig uit ’n Duits-Joodse gesin wat in die jare dertig uit Nazi-Duitsland ontsnap het, het saam met haar aanhangers redelik goed daarin geslaag om die liberalisme van sy Engelse imperialistiese wortels te bevry.

Sy is met ’n Afrikaner getroud, en deur my persoonlike kennis van haar (ek het haar al in die vroeë tagtigs as kollega-verslaggewer in die parlement leer ken) weet ek haar liberalisme kan nie meer as ’n verteenwoordiger van die Engelse imperialisme beskou word nie. Haar soort liberalisme word deur drie sake gekenmerk:

  • ’n Gematigde verbintenis tot die kapitalisme;
  • ’n Afkeer van rassisme in al sy vorms (wit én swart); en
  • ’n Gewilligheid om etniese minderheidsgroepe (soos die Afrikaners) te erken, in aanmerking te neem en tegemoet te kom.

Die probleem is dat dieselfde man wat Zille aangewys het om haar as DA-leier op te volg, Mmusi Maimane, nie slegs ’n liggewig is nie, maar hom op sleeptou laat neem het om ’n meer Afrikanistiese rigting in te slaan met die oog op ’n groter aandeel van die swart stemme. In die proses het die DA sy “klassieke” liberalisme verwater, en in die laaste verkiesing die prys daarvoor betaal.

Maar daar ís nog ’n rigting: ’n egte Christen-demokrasie. Dis ’n rigting wat die Bybelse waardes van maatskaplike geregtigheid verbind met maatskaplike konserwatisme en wat mense, groepe en tale se bestaan op ’n inklusiewe manier erken, sonder om dit tot ’n absolute dogma te verhef.

Dis die rigting wat, onder meer, grotendeels deur die Solidariteit-familie voorgestaan word.

Die Zille-liberalisme en die Solidariteit-rigting is nie onversoenbaar nie. Hulle is inderwaarheid natuurlike bondgenote.

Dit sou goed wees as Afrikaners presies weet waarvoor die rigtings táns staan voordat hulle teen dié of daardie rigting te kere gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

Ons weet presies wat dit sal behels… die herotwerp van die wawiel met meer plek in die wa vir nog meer van die beste. Om Solidaiteit uit te wil bou tot ‘n betaalkanaal-party is die dwarrel voor die storm. Dink enigeen nog dat in hierdie land die ANC afsonderlike ontwikkeling met Afrikaners weer aan die stuur van sake met soet Afrikaanssprekendes as toegangskaartjie, gelate toe sal laat, sonder ingrepe. ‘n Mens moet redelike sterk muti drink om so te hallusineer.

marco polo ·

Die fout wat die DA gemaak het, was om te probeer om n nasionale party te wees, dit moes gehou het wat dit het in die Weskaap en gestreef het vir groter outonomie vir die streek, selfs tot onafhanklikheid. Ek is ook al meer oortuig dat die heil van die Afrikaner nie soseer in n volkstaat gekry gaan word nie, of nog minder in ontwikkelingsnodusse in gebiede waar ons by verre die minderheid is. Ons kan ook nie meer n rasgebaseerde selfbeskikking najaag nie, dit gaan geen ondersteuning van die buiteland kry nie. Wat ons wel oor moet besin is om n gebied te kry waar beskaafde mense met beskaafde waardes soos beskaafdes lewe, ongeag hulle ras, en waar ras nie die kriteria is vir ebige iets nie, maar net meriete. Die enigste plek wat die potensiaal het vir so iets, is weereens die Weskaap. Maroela, kan julle hierdie mening asb plaas sonder om my weer te sensor.

Deon ·

‘n Volkstaat sal als behalwe rasgedrewe wees. Mense van kleur bly waar hulle is, en kan in die voorspoed deel. Alternatiewelik is die WesKaap ‘n opsie. Trouens, ruimtelike selfbeskikking in ankergebiede gaan meer rasgedrewe en selfsugtig wees.

Nico K ·

Konserwatief word in Afrikaner kringe outomaties as “goed” gesien en liberalisme as “sleg”. Maar dit is ‘n groot veralgemening en nie so eenvoudig nie. Om ‘n voorbeeld uit die geskiedenis te neem, dit was die liberales in Engeland wat aan die Boere se kant was dwarsdeur die 1800’s en die konserwatiewes wat deurentyd probeer het om Afrikaner gebiede te annekseer.

Dirk ·

Goed uiteengesit en verduidelik Leopold. Marco polo se kommentaar is egter die realiteit en daarom is dit so dat indien die Solidariteit rigting nie net op wit Afrikaner gerig was nie dan sou ek met jou stelling kon saamstem dat die Zille en Solidariteit rigting versoenbaar is, tans is dit egter alles behalwe versoenbaar!

Rupert Ashford ·

Ek hou van jou tussenvoegsel van “nasionaal sosialisme ” om te verwys na die Afrikanistiese sosialisme. ????

Jan ·

“n Mening nie goed nagevors nie, vol eie oortuigings en nie akkurate stellings. Het meer verwag.

Andreas ·

Jan, ek ervaar Leopold nou weer heel anders, ‘n man met vele talente, geskiedskrywer, ontleder, of andersins, diep denker, deeglik, ek wou nog juis by hom, so tong in die kies hoor, of hy van Excel gebruikmaak as hy als so sit en uit filter.

Andreas ·

Jan, so terloops, het Mmusi maar by Dr Leopold kom aanklop vir advies.

chrisp ·

Milti-kulti bly ‘n liberale(soos ons die term in RSA ken) droom .

In ‘n demokrasie tel die meerderheid en hulle wys die pad vir die land aan.Westerse lande met westerse norme en standaarde sal dit net in ‘n demokrasie westers kan hou solank hulle die meerderheid is en bly.Sodra hulle daardie meerderheid verloor sal die westerse land wees soos die nuwe meerderheid bepaal .Voorbeelde is alreeds sigbaar in westerse lande waar gebiede,streke of stede reeds deur ‘n nuwe meerderheid verander is.Die RSA is ook ‘n sprekende voorbeeld.

Liberale in die westerse wereld is die rede vir sy ondergang . Homogene lande in die weste word deur liberale regerings verander in heterogene lande wat sy toekomstige ondergang te danke gaan he aan juis hierdie dromers.Gaan kyk wie stel almal gelyk dws gelyke uitkoms vir alle mense,dit bestaan nie.Mans is nie gelyk aan vrouens nie ,ens.Gelyke geleenthede is nie van belang nie slegs uitkoms(SEB,BEE,kwotas, ens).

Ek sal nie verder verduidelik wat die rede vir die verval van die westerse/kapitalistiese stelsel is nie ,Maroela plaas bloot nie sekere redenasies nie.

GB ·

Die vraag of daar n rigting is wat mense, groepe en tale inklusief erken en of daardie rigting met die liberalisme of konserwatisme langs loop, is vir ons tans maar bloot van akademiese belang.

Daar is magte hard aan die werk om n einde aan die Afrikanerdom te maak.

En of ons nou n konserwatiewe houding inslaan of n meer liberale houding, dit gaan geen verskil aan hierdie magte maak nie.

Gert ·

Onder Zille se leiding het die DA hom uitgespreek ten gunste van groter welsynstoelae, grondhervorming, en meer inmenging van die staat in opvoeding, alles dinge wat teengestaan word deur ware liberaliste en voorgestaan word deur sosialiste. Ek weet hierdie kommentaar gaan weer verwyder word, maar ek moet dit net doen. Die DA is sterk sosialisties nes hulle rolmodel die ANC.

Petrus ·

Solidariteit is ‘n vakbond. Dis ook sosialisteie en belemmer die vrye mark stelsel. Eskom en SAL sal nooit geprivatiseer word nie, want dit druis in teen werkers se regte. Hoe nou gemaak?

aj ·

Sukses resep vir minderhede.

Massas mense (majorities) het nog nooit iets substansieël bygedra tot die verbetering van die lot van die mensdom, nie.

Substansiële byraes was afkomstig van BEGAAFDE individue en BEGEESTERDE groepies.

Belê tyd en energie in VINDINGRYKE SLIM mense wat boonop BEGEESTERD is!

In hierdie moderne era van ingrypende verandering wil ek nie graag vasgevang sit binne massas agterlikes (majorities) nie. Ondergang is hul lot!

‘Wees nie sterk en onbeweeglik soos die eike nie … want hulle breek en val …. in die groot storms! Wees eerder soos die buigbare riete wat gaan lê in die storms ….. maar opstaan as die wind gaan lê!”

Stephan de S ·

Ek herkou nog aan die artikel.
Twee dinge teen die einde vd artikel nl sosiale geregtigheid en bybelse gesinswaardes lui by my sover n klokkie. Die ware staat het net een taak : om geregtigheid aan elke burger te laat geskied maw geregtigheid is n nr een saak. In die lig vd afbraak van alle waardes in die liberale agenda,behalwe diè vd vrye individu, is die verskansing vd rol van die huwelik, die gesin en die gemeenskap(pe) met hul taal en kultuur kern belangrik. Dus Leopold , jy het n sterkpunt beet, dankie.Dit is twee punte wat op die agenda moet bly……ten alle tye.

JAN ·

Soltchenitzen her die waarheid beskryf oor lewensverwagting:prognose
Dis afhanklik van geestelike krag . nie fisiese voorspoed nie. ń Boom met verrotte kern kan onmoontlik nie bly staan nie. googloer
Die Volk en nasie sal sal sy Heiland moet leer ken…letterlik.

Hans Richardt ·

Inklusiwiteit en uitsluiting? Ons moet inklusief met taal en skole, maar wetgewing soos oor raskwotas, regstel aksie en BBBEE sluit uit. Waarom wil ek dus oor enige-iets inklusief wees? A nee a Leopold, hou op polities korrek te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.