Is jou pensioen veilig?

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Deur Marius Roodt

Daar is onlangs in die media baie gesê oor die kommer en onsekerheid oor die regering se planne met voorgeskrewe bates en of dié planne ’n wesenlike moontlikheid is of nie.

Wanneer dit kom by regeringsbesluite of beleid wat jou, jou lewensbestaan of jou gesin kan benadeel, is dit beter om altyd te versigtig te wees en die regering te glo.

En net omdat iets slegs deur die regerende ANC genoem is en nog nie as ’n wetsontwerp in die parlement ter tafel gelê is nie (om dan waarskynlik die een of ander tyd wet te word), beteken nie dat ’n mens selfvoldaan moet wees en nie alarm moet maak nie.

’n Uitstekende voorbeeld is die regering se voorgestelde beleid van onteiening sonder vergoeding (OSV). Dit was baie jare lank aan die rand van ANC-beleid, hoewel dit herhaaldelik by beleidskonferensies, ensovoorts, geopper is. Nou het die ondenkbare egter gebeur – die regering kan moontlik probeer om jou van jou eiendom te ontneem sonder om daarvoor te betaal.

En iets soortgelyks kan moontlik met voorgeskrewe bates plaasvind. Voorgeskrewe bates is so lank gelede soos 2012 as ’n moontlike beleid deur die ANC geopper. ’n Besprekingsdokument wat dié jaar op ’n partybeleidskonferensie gesirkuleer is, het voorgestel dat die regering “’n aansienlike deel van aftrede- en lewensversekeringsfondse reguleer” deur te vereis dat dit “in ondernemings in staatsbesit en/of ontwikkelingsfinansieringsinstellings belê word”.  Dit sou, volgens die dokument, goedkoop befondsing voorsien wat gebruik sou kon word om die infrastruktuuragterstand te help oorkom, besparings en ontwikkeling te bevorder en ’n sterker ekonomie te genereer.

Sedertdien is die aandag herhaaldelik, so onlangs as in hierdie jaar se ANC-verkiesingsmanifes,  op voorgeskrewe bates as ’n potensiële beleid gevestig. Enoch Godongwana, die party se hoof van ekonomiese transformasie, en Ebrahim Patel, die minister van handel en nywerheid, het ook albei in onlangse maande na voorgeskrewe bates verwys.

Soos ons by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) nou al ’n tyd lank waarsku, mag die regering moontlik nie ’n ander keuse hê as om aan pensioenfondse (en ander instansies wat jou geld bestuur) voor te skryf om (minstens ’n deel van) jou geld in projekte van hul keuse te belê nie. Die regering se geld raak eenvoudig op. Van die drie keuses wat hy het is ’n beleid van voorgeskrewe bates die waarskynlikste. Die regering kan nie belasting baie verder verhoog nie en, in die lig daarvan dat om internasionale uitleners soos die Internasionale Monetêre Fonds om hulp te nader sal beteken dat hy beheer van die beleid sal verloor, is dit ook moeilik om te glo dat dít sal gebeur.

Die regering sou ook geld kon begin druk om sy skuld te betaal, maar die gevolge hiervan is te afgryslik om te oorweeg.

Party mense het betoog dat ’n beleid van voorgeskrewe bates nie so vreeslik is nie en dat pensioenfondse wêreldwyd in reële bates belê, soos Leon Campher van die Vereniging van Besparings en Beleggings Suid-Afrika (ASISA) aanvoer. Hy sê ook dat die kwessie in Suid-Afrika is dat daar eenvoudig nie genoeg projekte is waarin belê kan word nie.

En daarin lê die moeilikheid. Indien Suid-Afrika belegbare ontwikkelingsprojekte gehad het, sou ’n beleid van voorgeskrewe bates nie nodig wees nie. En die waarheid is dat pensioenfondsbestuurders in ontwikkelingsprojekte sou belê indien die grondbeginsels sterk was. Kaapstad het, byvoorbeeld, onlangs sy eerste “groen” effek uitgereik. Soos Kirk Swart van Overberg Asset Management opmerk, is groen effekte dié wat met “klimaat- of omgewingsprojekte” verbind word.  Kaapstad se groen effek was oorvolskrewe omdat sy grondbeginsels (volgens Swart) goed (dit wil sê gekoppel aan bates) is en die mark vertroue in die Stad Kaapstad het om sy verpligtinge na te kom. Nog ’n voorbeeld is die Renewable Energy Independent Power Producer Procurement Programme (REIPPP), wat oor agt jaar R200 miljard in private kapitaal getrek het. Dit toon dat Suid-Afrikaanse infrastruktuurprojekte kapitaal kan trek, indien hulle aan sekere grondbeginsels voldoen. Dit is ’n ope vraag of Suid-Afrika se sukkelende ondernemings in staatsbesit (SOE’s), soos Eskom of SAL, aan hierdie beginsels voldoen. En indien nie, is dit geen wonder nie dat die voorskrywing van hierdie bates die enigste manier is waardeur hulle belegging sou kon trek.

’n Regime van voorgeskrewe bates sal mense ook armer maak. Toe Suid-Afrika in die 1960’s, 1970’s en 1980’s ’n beleid van voorgeskrewe bates gehad het, was die opbrengs altyd laer as dié van ekwiteite. In die 1970’s was die gaping massief – die gemiddelde opbrengs op ekwiteite in daardie dekade was byna 25%, in vergelyking met sewe present vir voorgeskrewe bates. ’n Mens kan iets soortgelyks verwag indien die regering vandag voorgeskrewe bates sou instel. Mense sal langer moet werk of armer aftree.

Die gevaar wat voorgeskrewe bates vir die welvaart van Suid-Afrikaners inhou is ernstig. Pensioenfonds- en ander batebestuurders sal onverantwoordelik wees om nie hul kliënte van hierdie gevare bewus te maak nie, en dit is ook onverantwoordelik van hulle om nie alarm te maak oor hierdie bedreigings nie. ’n Aantal persone (fondsbestuurders en ander) het teen voorgeskrewe bates betoog, maar hierdie stemme moet sterker opgaan en moet eenstemmig wees. Indien pensioenfonds- en ander batebestuurders die beste belange van hul kliënte voor oë het, moet hulle reguit praat teen hierdie wesenlike en dreigende gevaar.

  • Marius Roodt is die reklamehoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder. Besoek IRV se webwerf uit te vind hoe om die instituut se werksaamhede te ondersteun. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JA ·

Ja nee alles net maniere om hul hande op witmens eiendom en geld te kry, net soos wat hul ons expats probeer tax. Lol, voetsek, ekt lankal te veel gegee aan afrika.

Haarmald ·

Die bose regering het monopolie op hulle breedvoerige projek om letterlik alles te plunder.

Expat ·

My pensioen is veilig oorsee. Maak seker om nie net fisies nie, maar ook wel finansieel te emigreer. SARS kan gaan bars hulle kry nie my geld nie.

Kallie ·

SARS het maaitjies in die buiteland wat jou dophou. Hulle weet alles van jou.

Drikus Kotze ·

Wat het ons al gegee? Plaasmoorde vat lewens, een van die hoogste belasting koerse ter wêreld, (want as jy nie belas word vir jou verdienste nie, moet jy op alles wat jy koop 15% BTW betaal, om nie eers te praat van branstofheffings, tol-belastings, eiendomsbelastings, boedelbelastings en die lysie gaan maar net aan en aan).Wat moet ons nog gee? Ons voorsorg fondse, pensionfondse (voorgeskrewe bates), ons mediese fondse (nasionale gesondheidsverekering) en grondonteiening sonder vergoeding, ons opleidingsinstansies en skole. Dan bly daar nog net een item oor op die regering se lys, naamlik; ONS GELOOF! – Dan het die kommunistiese ANC, 367 jaar tot niet gemaak. Wie moet ons hiervoor bedank – die vorige Nasionale Party met sy JA – stem oorwinning!

Expat ·

@Kallie – gaan lees die wetgewing oor FINANSIELE emigrasie. Dit behels die totale afsluiting van jou belasting pligtigheid teenoor SA waneer jy permanent emigreer. Mense wat nie die moeite doen om hulle belasting af te sluit nie kan wel aanspreeklik gehou word.

Jared ·

Gewone, werkende mense word dikwels deur hulle werkgewers gedwing om aan die korporatiewe pensioenskema te behoort. Myns insiens moet almal wat gedwing word, dadelik werk daarvan maak om die absolute minimum per maand by te dra wat jou werkgewer toelaat. Vat dan die geld wat jy spaar, en belê dit dringend in die buiteland. So ook moet almal wat vrywillig in SA uittree-annuiteite belê, dadelik hulle bydraes staak en ook eerder buitelandse beleggings maak, terwyl jy nog kan.

Adviseurs wat vir die groot versekeraars werk, gaan jou weliswaar afraai, maar onthou: Hulle het gevestigde belange om jou te keer want dan verloor hulle kommissie. Selfs ‘n 10% per jaar groei in jou Suid-Afrikanse UA gaan niks beteken as die rand val na 20, 30 of 40 teen die dollar nie. Kyk wat het in Zimbabwe gebeur.

George in Bloem ·

Niks en niemand is veilig met hierdie spul korrupte onbevoegde narre in beheer nie…..net mooi bokkerol.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.