Italië-verkiesing: Onstuimigheid vir globalistiese EU-agenda

Italië se parlementsverkiesing het, soos reeds in meningspeilings wyd verwag is, ʼn swaai na regs opgelewer. Die regse alliansie het 44% van die stemme gekry, maar weens die kiesstelsel, wat groter partye en alliansies bevoordeel, het hulle ʼn volstrekte meerderheid setels in beide kamers van die parlement.

Giorgia Meloni (Foto: RICCARDO DE LUCA/ AFP)

Die groot oorwinnaar is daarby die Fratelli d’Italia (Broederskap van Italië) met hulle leier Giorgia Meloni, met 26% (teenoor 4% met die laaste verkiesing in 2018), terwyl haar alliansievennote, die Lega van Matteo Salvini en Forza Italia (Italië voorwaarts) van Silvio Berlusconi met 9% en 8%, onderskeidelik, heelwat swakker as laas gevaar het.

Die linkse alliansie, waarvan die Demokratiese Party met 19% die grootste vennoot is (asook die Groenes en ander linkses), het slegs 26% gekry. Die populistiese, anti-gevestigde orde Vyfsterbeweging, die groot oorwinnaar van 2018, het na talle binnegevegte en afsplitsings slegs 16% gekry en daarmee omtrent gehalveer. ʼn Nuwe sentristiese party, Azione (Aksie), het 8% gekry.

Die stempersentasie was met slegs 64% besonder laag. Talle kiesers was moeg vir die politiekery van die bekende hoofstroompartye, maar het ook nie kans gesien vir ʼn uitgesproke regse party nie. Dit was ook die eerste verkiesing na ʼn hervorming van die politieke stelsel, met ʼn heelwat kleiner parlement en ʼn kiesstelsel wat kiesafdelings en die proporsionele stem kombineer, iets wat alliansievormings begunstig het.

Meloni se sukses is veral daarop terug te voer dat sy onverbruik is en as enigste groter party nie deel van die ongewilde regering van Mario Draghi was nie. Sy het ook ʼn doeltreffende verkiesingsveldtog gevoer en omstrede uitsprake en radikale eise vermy, vergelykbaar met Marine Le Pen in Frankryk. Dat sy as jong vrou twee ouer alfa-mans, Salvini en Berlusconi, in ʼn alliansie kon inbind en hou was ook deel van haar sukses. Of die alliansie sy termyn gaan oorleef, sal die tyd moet leer.

Meloni is die eerste vroulike eerste minister van Italië, en haar toekomstige regering het groot werk wat voorlê na jare van stagnasie en halfhartige politiek wat geen duidelike lyn gevolg het nie. Die ekonomie bly in hierdie tye van inflasie en stagnasie ʼn prioriteit, asook die hantering van die voortgesette instroming van onwettige immigrante na en deur Italië. Twis met die Europese Kommissie en die se links-globalistiese beleid is amper onvermydelik, alhoewel Meloni na haar oorwinning versoening en gemeenskaplikhede beklemtoon het.

Vir die Europese Unie, meer spesifiek die Europese Kommissie (die hoogste gesag) met sy president Ursula von der Leyen, is dit die slegste uitkoms denkbaar en bring die globalistiese konsensus in gedrang.

Tot dusver kon die EU-kommissie, met die magtige Duitsland en Frankryk asook Italië onder Draghi wat die kommissie se rigting gesteun het, en die ander lande wat min of meer saamgaan omdat hulle afhanklik is van EU-fondse, konserwatiewe lande soos Hongarye en Pole isoleer. Met die nuwe regering van Italië, immers die derde grootste land van die EU in terme van bevolking en ekonomiese krag, sal dit nie meer so maklik wees nie.

Italië is, ten spyte van sy inherente politieke onstabiliteit, ʼn trotse en ou land met selfvertroue. Anders as haar vennote Salvini en Berlusconi, wat altyd ʼn goeie verhouding met Wladimir Poetin nagestreef het, staan Meloni by Oekraïne en behoort hier geen duidelike veranderinge te wagte te wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dries ·

Die behoudendes reg oor die wereld is besig om goed op te kom. Goeie nuus. Liberalisme is stadig besig om te vou

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoe nou? Die liberaliste veg dan teen Poetin.

Jacob ·

Republikein, liberalisme in sy huidige vorm staan die afbreek van identiteit voor. Sonder identiteit is mense ‘n “trop” wat maklik beheer word en van hul waardigheid en bestaansreg gestroop word. Ons sien dit ook in die hele siek, “woke” beweging waar almal op eierdoppe moet trap om tog net nie ‘n paar kleinsielige wesens te ontstel nie en waar die waarheid ‘n gemanipuleerde, voorafopgestelde naratief is wat geen ander mening toelaat nie.

Poetin is nie huidiglik die groot gevaar vir die wereld nie, maar eerder die WEF en die WEF ondersteunde EU. Volgens my beskeie mening sal die val van die EU een van die beste dinge wees wat met die wereld kan gebeur na Wereldoorlog II.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.