#JongStemme: Boere-erfenis eerste (BEE)

René van der Vyver

Is jy dalk so keelvol soos ek om BEE oral te sien, te hoor en te voel? Tereg so, want “Black Economic Empowerment”, of SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging), word immers in ons kele afgedruk. Ek het daarom vandag ʼn daadwerklike besluit geneem om ʼn nuwe betekenis aan die afkorting te gee – wat elke dag kan dien as herinnering dat dit ʼn onaanvaarbare beleid is en dat ons ryk erfenis nie vergete mag word nie.

Jy sien, “BEE” word altyd onder die vaandel van “voorheen benadeeldes” geopper. Was enigiemand wat jonger as 27 jaar is en wat deur “BEE” bevoordeel word, al ooit benadeel in Suid-Afrika? Nee. Trouens – as jy 27 jaar of jonger is en jou vel is lig van kleur, dan is jý die een vir wie studie-, sport-, beurs- en werkgeleenthede in gedrang is. As die “BEE”-aanhangers egter in die verlede wil delf, kan die term “voorheen benadeeld” nie onregverdig gebruik word om net na ʼn spesifieke tydperk in die verlede te verwys nie.

Daarom die afkorting se nuwe betekenis: Boere-erfenis eerste (BEE). Suid-Afrika se geskiedenis begin en eindig nie by apartheid soos baie politici voorhou nie. Maar goed, aangesien dit voorgehou word as die wegspringblok vir alle kwale in Suid-Afrika, kom ons begin daar … Suid-Afrika het in die apartheidsjare hoë hoogtes bereik, soos snelle ekonomiese groei en die oprigting van laerskole vir verskeie kultuurgroepe, met onderrig in hul moedertaal wat nooit vantevore as akademiese taal ontwikkel is nie. Daar het ook gruwels plaasgevind onder die beleid van apartheid (1948 – 1994). Dit het gekom omdat die Afrikaners wou regeer en nie weer onder iemand anders se regering wou staan ná die Britte se drakoniese oorheersing nie.

In die 1930’s, met die Groot Depressie, was Afrikaners baie arm, maar hulle het die FAK, Reddingsdaadbond en meer begin. In 1914 se Rebellie het die groot getal Afrikaners wat geweier het om in die Eerste Wêreldoorlog vir die Britte – die vyande van ʼn oorlog slegs 12 jaar tevore – teen die Duitsers te veg, baie swaar gekry. In die Anglo-Boereoorlog van 1899 – 1902 het die Boere tot die bittereinde geveg, selfs onder die verskroeideaardebeleid. Ingevolge hierdie beleid het die Britte plase, met vee en al, afgebrand en vroue en kinders in haglike konsentrasiekampe gegooi – waar minstens 34 000 gesterf het.

Die Afrikaners het hierna met niks begin nie om hard te werk en te bou. Hulle bou toe Sanlam, Volkskas, die Helpmekaarbeweging en meer. In 1835 – 1838 het Suid-Afrika se grootste weerstandsbeweging teen kolonialisme plaasgevind: die Groot Trek. Duisende Afrikaners het die vreemde, onbeskaafde Afrika binnegetrek om van die Britte se onregverdige oorheersing in die Kaap te ontsnap. Hulle moes alles wat hulle opgebou het, in die Kaapkolonie agterlaat en het met net osse en ʼn wa weggetrek op soek na ʼn plek waar hulle vry kon wees. Hulle moes bloedige gevegte verduur, maar dit was die prys wat hulle betaal het om in ʼn nuwe, vry land vooruit te gaan. Voor dit, sedert 1652, het ons voorvaders, van verskillende herkoms, een groep geword wat Suid-Afrika aangeneem het as hul enigste vaderland en pionier-boere geword het in harde Afrika.

Ons kan selfs teruggaan na die wrede vervolging van Protestantse Christene in Frankryk, wat daartoe gelei het dat talle van hulle na Suid-Afrika gekom het, maar ek dink die Afrikaner-erfenis in Suid-Afrika sedert 1652 is totaal voldoende om my punt te staaf: wie is nou eintlik “voorheen benadeeld”?

En wie word nou deur “BEE” bevoordeel? Is dit nie maar net baantjies vir boeties nie? Die minder bevoordeeldes, ongeag hul ras, bly minder bevoordeel, en diegene wat uitstyg bo hul omstandighede word óf gekniehalter deur “BEE”, óf beledig en gestereotipeer as gevolg van “BEE”.

Daarom, in plaas daarvan om myself elke keer op te werk as ek “BEE” en “voorheen benadeeldes” lees, gaan ek eerste my “voorheen benadeelde” Boere-erfenis onthou en trots wees op hoe ons bo dit uitgestyg het. Ek gaan SEB (die swaarkry-erfenis van boere) gebruik om myself daaraan te herinner dat ons wortels in Suid-Afrika met bloed en sweet vertroetel is om, oor vier eeue hier, sterk te groei.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dirk Mostert ·

Daar is hoop. Nie alle jeugdiges is deel van die verlore, gebreinspoelde generasie nie.

Dries ·

Daar is niks so mooi soos ‘n pragtige meisie wat behoudend is nie en haar uitspreek teen als wat teen haar volk gefabriseer word in n vyandige wereld nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.