#JongStemme: Die 2020-oorlog

Deur Aninke Stroebel

Aninke Stroebel.

Die jaar 2020. Meer as sewe miljard mense. Almal mense met drome, planne en verwagtinge, want dit is mos ’n nuwe jaar. ’n Nuwe hoofstuk. Min het ons geweet dat hierdie hoofstuk beslis nie sou lyk soos een wat uit ’n sprokiesverhaal kom nie.

Dit laat my terugdink aan ’n kortverhaal wat ons in die Afrikaanse klas tydens my graad 10-jaar gelees het. Die storie het afgespeel in die jaar 3000. ’n Jong meisie met die naam Bateliefie het alleen saam met haar sieklike moeder gewoon; haar pa en broer was weg om in die oorlog te veg. Skole het nie meer bestaan nie, en elke graad het aanlyn onderrig ontvang. Water was skaars – sy moes daagliks die water dophou om te verseker dat hulle dit spaarsamig gebruik om ’n tekort daarvan te verhoed. Indien sy wou uitgaan, moes sy ’n masker dra om die besoedelde lug te oorleef.

Dié verhaal het ek twee jaar gelede gelees. Twee jaar gelede het ek gedink hierdie storie is absoluut verregaande. Min het ek geweet dat hierdie verregaande moontlikheid selfs nader is as die jaar 3000. Want aanlynskool is ’n realiteit weens Covid-19, maskers het al ’n nuwe mode geword. Water- en elektrisiteitsvoorsiening is glad nie wat dit in Suid-Afrika moet wees nie en ’n oorlog is beslis aan die gang… Miskien nie fisiek nie, maar wel emosioneel.

Elke dag is ’n konstante geveg teen negatiewe gedagtes. ’n Geveg teen oorweldigende emosies. ’n Geveg teen onsekerheid. ’n Geveg teen vrees. Alles wat normaal is – of eerder was – is van ons weggeskeur. Al daardie drome, planne en verwagtinge is vir eers opsy geskuif.

Almal van ons tree as soldate op in hierdie oorlog. Die verskil is net jy veg slegs vir jou eie oorlewing. Elke dag staan jy voor die keuse: Gaan ek veg en as oorwinnaar uit die stryd stap, of gaan ek terugstaan en die geveg verloor.

Ek is tans in matriek. Die jaar 2020 was veronderstel om een van die beste jare van my lewe te wees. ’n Jaar waar alles waarvoor ek die laaste twaalf jaar gewerk het, bymekaar moes kom. ’n Jaar waar ek kon uitsien na dieselfde “voordele” en “laastes” wat elke matriekleerder voor my ervaar het en ná my gaan ervaar.

En ja, ek weet – daar is erger dinge in die lewe. Daar is mense wat baie meer geraak word deur hierdie jaar as wat my 18-jarige verstand ooit sal verstaan. Steeds bly die geveg vir my swaar. Baie dae stap ek as verloorder uit die stryd. Daar is dae wat ek voel of ek versmoor in dit wat om my aangaan. Dae wat ek voel dat al wat ek wil doen, is huil. Dae wat ek myself probeer oortuig dat hierdie slegs ’n nagmerrie is waaruit ek enige oomblik gaan wakker word.

Maar dan is daar weer dae wat ek die geveg oorwin. Wat ek kans sien vir dit wat voorlê. Wat ek die goeie in die jaar raaksien. Dae wanneer ek weer glo dat ek ’n verandering kan maak in die deurmekaar wêreld. Wanneer ek uitsien om ’n masker te kies wat pas by dit wat ek gaan aantrek.

Die realiteit van die saak is, ons is almal besig om ’n emosionele 2020-oorlog te veg, en dit is alles behalwe ’n maklike oorlog. Daar gaan dae wees wat jy verloor en dae wat jy as absolute oorwinnaar uit die stryd stap. Dit is nie ’n maklike oorlog nie en dit het ook nie ’n spesifieke einddatum nie. Die oorlog van 2020 is vol onsekerhede, dit kweek vrees en dit is beslis nie ’n sprokiesverhaal nie.

Maar die einde hiervan sal wel aanbreek. Ons sal weer sterker word en ons sal weer kans kry om sprokiesverhale te lees of selfs ervaar. So vir nou: hou aan veg, want die einde kom dalk gouer as later.

  • Aninke Stroebel is tans in matriek en hoofdogter van die Hoërskool Standerton. Sy is passievol oor skryf en mal daaroor om met mense te werk en haar droom is om eendag, waar sy kan, ‘n verskil in mense se lewens te maak. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lollapot ·

Pragtige bemoedigende boodskap Aninke! Ek voel nie meer alleen in hierdie oorlog nie, ek weet ons veg saam . . . Mag ons ELKE dag as oorwinnaars uittree!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.