#JongStemme: Identiteitspolitiek is demokrasie se grootste vyand

Hendré Cubitt bespreek identiteitspolitiek in hierdie week se #JongStemme-meningstuk. Foto: Verskaf.

Deur Hendré Cubitt

Identiteitspolitiek is wanneer mense van ’n spesifieke ras, godsdiens, geslag of etnisiteit polities saamdrom met die doel om dié eienskappe te bevorder, sonder enige kommer of inagneming van enige ander groter groep.

Identiteitspolitiek is nie verkeerd nie. Dit is naïef om te dink dat iemand nie sy identiteit as faktor sal gebruik wanneer hy sy politiese mening vorm nie. Die probleem kom egter in wanneer hierdie samedromming ʼn verkeerde beginsel as dryfkrag het.

Daar is twee vorme van identiteitspolitiek:

Die een fokus op gemeenskaplike eienskappe en doelwitte, die ander op ’n gemeenskaplike vyand. Dus, gemeenskaplike doelwitte teenoor gemeenskaplike vyand.

Dit is die tweede soort identiteit wat, na my mening, ’n donker wolk oor moderne politiek laat sak.

Ons sien dit in bewegings soos BLF (Black First, Land First) wat meer daarop uit is om ’n vyandige stans teen die wit Suid-Afrikaanse bevolking in te neem, pleks van op die vooruitgang van swart burgers en grondbesit te fokus. Andile Mngxitama, die beweging se leier, het al ’n omnibus aanhalings wat haat en vyandigheid aanhits.

Dit word ook gevind aan die anderkant van die politieke spektrum, met weerstandsbewegings soos Suidlanders, ’n beweging gebou op vreesaanjaende valse retoriek wat lede voorberei vir ʼn “rasseburgeroorlog,” wat klaar sukkel om as ’n samesweringsteorie te dien.

Ons vind dit in partypolitiek, wat verander het in ’n vuurspuwende skreewedstryd wat slegs registreer as wit geraas, in plaas van die samekoms van verskillende kulture, agtergronde en idees om die beste moontlike oplossings vir die groter bevolking se probleme te vind. Polariserende, partydige leiers wat vandag heers, gesimboliseer deur partye se plakkate voor die verkiesing, wat verwar kon word vir ’n oproep tot oorlog in plaas van ’n slagspreuk, is ’n produk van dié tydperk.

Hierdie vermenging van politieke mening en jou identiteit het gelei dat mense in ’n konstante stans van verdediging en aanval is, in plaas van gesprek. Elke beweging om ’n minderheidsgroep se kwessies en vrese in die kollig te plaas, moet ’n teenbeweging hê van mense wat voel asof hul identiteit die slagoffers in die verhaal was. Hierdie slagoffermentaliteit kan enige verandering of vordering kniehalter – of dit nou die verdediging van die ou landsvlag is of die oproep tot gewelddadige grondbeset.

In Steven Livitsky en Daniel Ziblatt se boek How Democracies Die: What History Reveals About Our Future stel hulle twee vereistes vir demokrasie om op die lang termyn te oorleef:

  1. Wedersydse verdraagsaamheid (Partye moet mekaar as min of meer geloofwaardig sien, nie as ’n eksistensiële bedreiging vir die samelewing nie).
  2. Institusionele verdraagsaamheid (Partye moet die regering toelaat om te funksioneer in een of ander instemmende manier).

Daar is ’n plek vir partye aan beide kante van die politieke spektrum – van konserwatief tot liberaal – om te bestaan in moderne politiek, soos die EFF en die VF Plus. Daar is ook ’n plek vir identiteit om ’n rol te speel in politiek, maar na my mening is ons besig om teen ’n gladde helling af te gly en só ons demokrasie benadeel.

Daar is ’n tyd vir identiteitsgroepe om bymekaar te kom wanneer daar teen hul gediskrimineer word as ’n klas, maar die doel van hierdie bewegings kan slegs as moreel beskou word as hulle poog om die politieke impak van identiteit te verwyder, en dit nie afdwing nie.

Suid-Afrika sal slegs kan vooruit beweeg as ons begin luister na verskillende menings in plaas daarvan om elke teenstrydige mening as ’n aanval te sien. As ons begin agterkom dat die persoon van wie ons dalk nie so baie van hou nie, ook af en toe ’n goeie argument kan hê. Die dag as ons begin luister om te verstaan, in plaas daarvan om te reageer, kan ons dalk die beste Suid-Afrika moontlik skep – ’n Suid-Afrika wat multikulturalisme kweek, motiveer en uiteindelik vier.

  • Hendré Cubitt, is ʼn tweedejaarstudent in regte aan die universiteit Stellenbosch en Afrikaanse debatvoerder wat In 2019 die Nasionale Universiteit Dink of Sink-debatskompetisie gewen het.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert

Die skrywer het blykbaar meer inligting oor die politiek as ek, in dat hy die potensiaal vir rassekonflik net sien as ‘n valse samesweringsteorie, volgens my evaluasie is dit ‘n definitiewe moontlikheid.
Boonop is multikulturalisme besig om te misluk oral op aarde, al hoe meer mense besef dis onwerkbaar, maar nou ja, die Kapenaars beleef nog nie die werklike nuwe Suid-Afrika nie, hulle sal hierdie kennis eers iewers in die toekoms verwerf, wanneer dit vir hulle ook te laat is.

lewies

Die belangrikste beginpunt is om die voordeel van produktiwiteit in Suid-Afrika aan sekere vakbonde te verkoop. Hierdie beginsel word baie selde as ‘n oplossings gesien vir loonverskille en stakings. Dit blyk makliker te wees om te staak vir diensvoordele as om slimmer en ‘n bietjie harder te werk om produtiwiteit te verhoog, terwille van die groei van die ekonomie . ‘n Filosofie wat die ekonomie die minste skade sal aandoen.

Judge Dredd

Wel die teenoorgestelde – “identiteitlose politiek” werk ook nie.

Hierdie “identiteitlose politiek” verwag samesmelting van verkillende groeperings/sienings/tale/kulture/waardes/Tradisies/gelowe maar jaag dan sy eie voorkeur sienings/taal/kultuur/waardes/Tradisies/geloof of nie, na.
Die meerderheid “identiteitlose politiek” word dan afgedwing op minderhede en die wat hul taal/kultuur/waardes/Tradisies/geloof wil behou.

Dit lei tot meer geweld en minder “vrede”.

skurweberg

Die politiekelandskap in Suid-Afrika vandag is deur ‘n filosofie gekaap, geslyp en geformeer wat geslagte kwadraat gaan neem om te verander.

Akhenatha

As die wêreld maar so eenvoudig was…