#JongStemme: Jongmensbestaan op Orania

Deur Annemarie Pretorius

Annemarie Pretorius.

Ek en my man het die afgelope naweek lekker ontspan. Jong getroudes kan nie altyd ’n luukse wegbreek bekostig nie, maar Saterdae hou ons graag piekniek en drink lekker wyn wat ons ná ons wittebrood uit die Kaap teruggebring het.

Sondag na kerk maak ons ’n draai by my skoonouers. Hulle huis is nog in aanbou en elkeen wat al ’n huis gebou het, weet van die vele uitdagings wat daarmee gepaardgaan. Ons gesels oor die politiek, die onluste in Natal en elkeen wat hulle lyf op sosiale media dokter hou met opinies oor die Covid-19-inenting. Ons lag lekker oor dinge wat die afgelope week by die werk gebeur het. My familie woon ver, maar ons is geseënd om my man se hele gesin naby ons te hê.

Ons vertel my skoonouers van ’n oulike restaurant waarby ons Vrydagaand geëet het; ʼn klein plekkie wat onlangs naby ons huis oopgemaak het en die heerlikste vuuroondpizzas bedien. ’n Mens sit buite in so ’n tipe stegie tussen geboue en die restaurant bied ’n verskeidenheid sigare en wyn waaruit jy kan kies. Die vars basiliekruid wat op die pizzas gebruik word, groei net daar buite in ’n bedding. Dit voel amper of jy by ’n Franse kafee sit – heerlik!

Maandagoggend is dit opstaantyd. Ek sit die ketel aan en maak die gordyne oop. Dis nog koel, maar die son wat vroeër begin opkom, het al ʼn bietjie die ergste ysigheid van die winter weggedryf. Ek is dankbaar. Dis sommer asof die voëls ook deesdae meer luidrugtig in die boom buite ons kamervenster kwetter.

Werk en woon

Ek groet my man met ’n soen by die woonstel se deur voordat ek gou ’n bondel wasgoed in die masjien gooi. Ek wil dit op die draad kry voordat ek ook in die rigting van die kantoor aanstaltes maak. Manlief werk by ’n argiteksfirma en is mal oor sy werk.

Ek ry gewoonlik met die fiets werk toe. Ek werk soggens by ’n filosofiese “dinktenk” waar ek met navorsing in politieke- en gemeenskapsvryheid besig bly. Prakties beteken dit dat ek boeke lees en skryf oor die interessanthede wat ek raakloop. Ons organisasie gee maandeliks ’n publikasie uit waarvoor ek verantwoordelik is. Andersins werk ek as vryskuttaalversorger en -uitlegkunstenaar by ons plaaslike koerant.

Studies

Ek is vanjaar ’n eerstejaarstudent by Akademia en is besig met my BSocSci-graad (politiek, filosofie en ekonomie) wat mooi by my honneursgraad in kommunikasie aansluit wat ek in 2017 voltooi het.

Laatmiddag drink ek ’n lekker chai latte by my gunstelingkoffiewinkel saam met ’n vriendin. Natuurlik is ’n groot stuk wortelkoek nie te versmaai nie. Sy gesels oor haar werk in bemarking by ’n tegniese opleidingsentrum.

Woensdagaand is dit kroegvasvra by ’n kroeg wat ons graag saam met ons vriende besoek. Dis ook lekker om Saterdagmiddag daar uit te span en ’n koue bier te geniet saam met die rugby op die groot skerm.

Ek en my man hou daarvan om weekliks by ons gemeente se jeugbybelstudiegroep aan te sluit. Dis lekker om so in die middel van die week met ons vriende te gesels, ’n koppie koffie te geniet en saam meer uit die Here se Woord te leer.

Orania

Hierdie artikel skets waarskynlik so ’n tipiese beeld van ’n “normale” Afrikaner-jongmensbestaan dat dit die leser na alle waarskynlikheid begin verveel. Het u egter besef dat hierdie egpaar se lewe in Orania afspeel?

In die Afrikanerstad wat ons bou hou ons oor naweke piekniek langs die Oranjerivier. My skoonouers se huis bou hulle self, sonder die gebruik van goedkoop arbeid. My man werk vir die argiteksfirma wat oor drie dekades die meeste van die geboue in Orania ontwerp het. Ek werk by die Vryheidstigting wat aan die voorpunt van die Afrikaner se vryheidsdenke staan en ons slagspreuk lui: Om iets te kan dóén, moet jy dit eers dínk! Smiddae, behalwe vir my studies, is ek gewoonlik met huishoudelike take besig – skottelgoed, wasgoed, maaltye voorberei en huisskoonmaak is take wat nooit regtig afgehandel word wanneer ’n mens self al jou arbeid verrig nie, veral nie as die wind soms hier so waai nie. My vriendin doen bemarkingswerk vir Bo-Karoo Opleiding, ’n tegniese opleidingsentrum in Orania wat vanjaar al aan meer as 100 studente gehalteopleiding bied om bouers, loodgieters en elektrisiëns te word.

Hierdie egpaar se lewensverhaal kon netsowel in enige ander stad in die wêreld afgespeel het: Singapoer, Stockholm of Sydney, maar nie sommer in ’n Suid-Afrikaanse stad nie. In watter stad in Suid-Afrika sou dit vir ʼn vrou veilig wees om met haar skootrekenaar in ’n rugsak op haar fiets werk toe te ry? Só braaf is ek nie. Selfs ’n piekniek in die meeste openbare parke in Suid-Afrika is ’n waaghalsige uitstappie. Dit het egter vir Afrikaners “normaal” geword om agter geslote deure, veiligheidshekke, in hulle motors, afgesluit van hulle gemeenskap te leef.

Normale lewe

Oor twee weke sal dit reeds drie jaar wees wat ek in Orania woon. Sal u my glo as ek sê dat my fiets nog nooit in hierdie tyd ʼn slot gehad het nie? In ’n gemeenskap waar mense mekaar ken en respekteer, en mekaar se besittings ken en respekteer, sal dit nie normaal wees om iemand se fiets te steel en daarmee rond te ry nie. Dit sal nie eintlik vir enige Afrikaner “normaal” wees om ooit iemand anders se besittings te steel nie – dit is ver verwyderd van die waardes, wat diep in ons geloof waarmee ons grootgemaak word, gewortel lê.

In ander stede in Suid-Afrika is Afrikaners nie die meerderheid nie, en daarom is dit moeilik om Afrikaners se waardes en beginsels hier te laat geld. In ’n dorp waar Afrikaners gekonsentreerd woon, kan ons egter makliker ons Christelike waardes en beginsels handhaaf. Hier is ons bestaan eintlik régtig heel normaal.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MT ·

Hallo Annemarie,

Dankie vir ‘n lekker-lees stuk.

Geniet jou lewe in Orania, en mag hierdie lekker Afrikaner-wees wat jy so raak beskryf, sy weg terug vind na die Afrikaner-bannelinge in die NSA.

Kirst ·

Daar was gister ‘n Bybelse kommentaar wat intussen verwyder is en waarby ek aanklank gevind het. Kom ek verduidelik hoekom. My skoonsuster en haar man en twee kinders is Nieu-Seeland toe amper drie jaar gelede. Dit is een van die mees sekulêre lande in die wereld. Toe ek vir my vrou sê hoe moeilik dit vir hulle moet wees dat hulle kinders ‘n meerderheid nie-gelowige vriende het daar, sê sy dit is dalk waarom hulle daar is – om ander te bekeer. Persoonlik verkies ek dit om tussen Christene te wees en dat my kinders saam met kinders op skool is en maats het wat ook in Christenhuise grootword, maar my vrou het ‘n punt beet…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.