#JongStemme: Leer my hoe om te dink, nie wat om te dink

Deur Frans van Schalkwyk

Frans van Schalkwyk.

“Leer my hoe om te dink.”

Dit klink soos die woorde van iemand wat sukkel met akademie, maar wanneer ek dit sê, bedoel ek glad nie dat ek verstandelik sukkel nie, maar dit voel vir my as eerstejaarstudent of universiteite bietjie van die pad af dwaal wanneer dit kom by studente se opvoeding. Ek weet ek is maar skaars meer as ʼn maand in die koshuis op Stellenbosch, maar my ervaringe tot op hede is wat my gelei het om oor hierdie onderwerp te skryf.

Ek kan slegs praat oor my eie ervaring op Stellenbosch en dié van my vriende wat hier is, maar mens hoef nie ver te soek op die internet om te sien dat hierdie ’n universele probleem is nie.

Ons weet lankal dat dit nie meer op universiteit is soos jou ouers se herinneringe daarvan nie, maar dis nie die punt nie. Dit is egter hartseer dat so baie uitgesluit word onder die banier van inklusiwiteit. Ek dink nie die probleem lê noodwendig by die universiteit se beleide nie, maar wel by die studenteorganisasies wat die universiteit se studente bestuur en universiteitsbyeenkomste reël.

Politieke korrektheid is aan die orde van die dag en frases soos “O, nee, jy kan nie meer dít sê nie” of “Daardie stelling mag iemand dalk beledig,” word gereeld rondgeslinger. Tog dink ek die dieper effek van hierdie briek op jou vryheid, word onderskat.

Die idee is jy gaan universiteit toe op ’n heldhaftige missie om jou denke te ontwikkel, jou kapasiteit om jouself te artikuleer en op te hef tot op vlakke wat vir jou deure sal oopmaak in die toekoms. En as jy by die universiteit uitstap, gaan jy só bemagtig wees dat niks jou kan stop nie.

Hierdie manier van dink is onderworpe aan die idee dat die wêreld ʼn slegte, onderdrukkende plek is en dat jy óf onderdruk is óf jy is besig om die onderdrukker te wees. En daar is nie regtig iets wat jy daaraan kan doen nie, behalwe om daarteen protes aan te teken en jammer te sê vir die posisie wat jy in die samelewing beklee.

Die onlangse gebeure oor Stellenbosch se taalbeleid kan gekoppel word aan hierdie selfde probleem van uitsluiting. Ek stem nie saam met die rektor se standpunt dat die klagtes oor die taalbeleid slegs vir politieke gewin is nie. Ja, politieke partye het wel betrokke geraak, maar die aanvanklike klagtes het immers van Afrikaanssprekende studente af gekom. Dit stop egter nie by taal nie – daar is ʼn hele kultuur van vyandigheid teenoor enigiemand wat nie bereid is om in te val by ʼn postmodernistiese manier van dink nie, amper asof ʼn deel van die vryheid wat met student-wees gepaardgaan, van jou beroof word, en ek dink daar is ʼn geweldige groot groep studente wat voel hulle is besig om (onnodig) aan die kortste ent te trek en as gevolg daarvan nie ’n “regte” studentelewe kan ervaar nie.

My grootste probleem daarmee: ek dink nie dit is ʼn effektiewe manier om jongmense op te voed sodat hulle ten volle ontwikkel kan word en ʼn bate vir die samelewing kan wees nie.

Vrye denke, openlike gesprekke en debatte, werklike inklusiwiteit wat nie onmin saai nie… dít is idees wat ek dink nagejaag behoort te word. Universiteite is een van die beste plekke, indien nie dié beste plek, om dit te doen.

  • Frans van Schalkwyk is ʼn eerstejaarstudent in BCom regte aan die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Hoe leer mens ‘n kommunis-sosialis om ander menings so akkomodeer? Dit is ‘n breinaksie. Kan jy ‘n krokodil leer om ‘n jong bokkie of ‘n ou mank een in vrede te los? Al wat help is ‘n erge wapen en met ons wat die konsepte lief en sag teenoor roekeloos slu en baasspelerig probeer uitspeel, weet mos watter groep sou wen. Maar ons praat, praat, smeek, smeek, wonder, wonder…. Ons wil ondergaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.